On Record - Popular Afrikaans Music & Society, 1900–2017
Schalk van der Merwe
Uitgewer: African SUN MeDIA
ISBN: 9781928357117
Schalk van der Merwe gesels met Naomi Meyer oor sy niefiksieboek On record wat pas by African SUN MeDIA verskyn het.
Schalk, mense sal jou dalk reeds ken weens ’n program wat jy ’n ruk gelede op RSG aangebied het. Wil jy iets hiervan vertel?
Die program was ’n uitvloeisel van my navorsing en was ’n poging om dit op ’n toeganklike wyse aan die publiek bekend te stel. Ek was nogals verras oor hoe positief dit ontvang is.
Jou navorsing op die terrein van Afrikaanse musiek het ook aanleiding gegee tot die publikasie van jou boek On record. Waar het jou belangstelling in musiek begin?
Dit kom al van kindsbeen af. Ek het op vroeë ouderdom klavier begin speel en daarna kitaar en uiteindelik op baskitaar geëindig. Ek het as werkende musikant al oor die jare baie vrae gehad rondom die aard van die Afrikaanse musiekbedryf en die betekenis daarvan in mense se lewens. Ek het eers in 2008 begin dink in die rigting van akademiese navorsing oor Afrikaanse musiek nadat ek ’n boek Composing apartheid geresenseer het. Dit het my laat besef dat ek my musiekloopbaan in ’n meer akademiese konteks kan inspan.
Jou navorsing handel oor veel meer as net musiek. Dit handel oor die geskiedenis van Afrikaanse musiektydperke (jy baken dit af as die begin in 1900 en die einde van die studie in 2017). En jou agtergrond as dosent in die geskiedenis by die US sluit hierby aan. Waarom hierdie tydperk, en wat staan vir jou uit juis in die geskiedenis van die Afrikaanssprekende en die geskiedenis van die Afrikaanse mense sedert 1900 tot nou?
Die eerste klankopnames van musiek met ’n Afrikaanse konneksie is in 1900 gemaak, so dit was ’n logiese beginpunt. En aangesien daar altyd dinge aan die gebeur is in die musiekbedryf, het dit sin gemaak om maar die fokus tot so onlangs as moontlik te hou. Daar is natuurlik vele temas wat in 117 jaar opduik. Ek dink die belangrikste storie is een van normale mense se doen en late tydens fases van ingrypende sosiale veranderinge. Natuurlik het apartheid ’n rol gespeel, asook die kulturele skeiding van wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes. In die postapartheid konteks is die Afrikaanse kultuurbedryf ’n geweldig interessante wese om te bestudeer en iets wat ’n groot impak het op kwessies van taal en identiteit.
Afrikaans dra swaar aan bagasie, juis weens geskiedkundige faktore. Hoe, dink jy, het die geskiedenis van hierdie land sy musiek beïnvloed? Of dalk is dit ’n veels wye vraag – dalk is dit die kern van jou studie?
Musiek (en natuurlik ander vorme van kuns) is iets wat die samelewing weerspieël. Selfs ’n popliedjie met oppervlakkige lirieke is ook op ’n manier betekenisvol. Wat die invloed van Suid-Afrika se geskiedenis op Afrikaanse musiek betref: ja, dit is grootliks die kern. Sensuur, politiek, sosiale druk, apartheid, rassespanning, diensplig, rebellie, Afrikanernasionalisme – dit is alles faktore wat ingespeel het op Afrikaanse (en natuurlik ook Suid-Afrikaanse) musiek. Dis bietjie moeilik om dit alles hier kortweg saam te vat!
Vertel asseblief iets van elkeen van die tydperke van die sewe afdelings waarmee jy jou boek afbaken: die studie skop af in die hart van die Anglo-Boereoorlog, en loop dan tot vandag. (Terloops, ek vra jou as geskiedkundige: Hoekom die studie juis hier afskop, by die ABO / Suid-Afrikaanse oorlog? Is dit dalk die kern en oorsprong van Afrikanernasionalisme?)
Die eerste “fase” kyk na die eerste opnames van die volksliedere van die destydse Boererepublieke. Dit was bloot die eerste opnames met ’n Afrikaanse konneksie en is gemaak deur Europese sangers tydens die ABO en was ’n vae teken van Europese simpatie met die Boere. Kort daarna, in 1906, sien mens die eerste opnames in Afrikaans self, deur Afrikaanssprekendes, in Londen. Die eerste deel van die boek bekyk hierdie vroeë figure en hoe hulle opnames en profiele gestrook het met ’n ontluikende Afrikaneridentiteit. Ek kyk ook na vroeë radio-uitsendings.
Dan kyk ek in die tweede deel na die 1930’s en ’n “nuwe” vorm van Afrikanernasionalisme en die spanning tussen organisasies soos die FAK en boeremusiek. Dit is ’n baie interessante, dog “digte” dekade in veral Afrikanergeskiedenis en die musiek van die tyd weerspieël baie heterogene elemente.
Deel drie behandel die invloed van die Tweede Wêreldoorlog op die plaaslike musiekbedryf en uitsaaiwese, asook die jare kort na die oorlog, wat die beginfase van apartheid insluit en die sosiale gevolge daarvan, insluitend hoe dit musiekuitvoering edm beïnvloed het.
Dan kyk ek na die invloed van rockmusiek vanaf die middel-1950’s, asook vroeë musikale voorbeelde van verset teen die dominante narratief van Afrikanernasionalisme in Afrikaanse musiek tydens die hoogtepunt van apartheid. Ek spandeer ook tyd aan Musiek-en-Liriek, en die daaropvolgende jare van musiekontwikkeling. Dan ook Voëlvry en die spanning tussen alternatiewe Afrikaanse musikante en die hoofstroom van die tyd. Dan, laastens, kyk ek na die postapartheid era en goed soos die insulariteit van die hoofstroom, nostalgie, alternatiewe Afrikaanse musiek, ens. Ek wil nou nie als hier verklap nie...
Lewer jou boek waarde-oordele oor die Afrikaanse musiekbedryf – soos dat dit sentimenteel is, of teruggryp na nostalgiese verledes, of dat dit net spookasem is wat bang is om sosiale kommentaar te lewer? Of hoe het jy jou studie benader?
Ek noem in die inleiding dat een van die hoofmotiverings vir die boek was dat ek wou uitvind hoekom slegte Afrikaanse musiek so goed vaar. Dit is miskien nie die beste vertrekpunt vir iets wat veronderstel is om ’n objektiewe studie te wees nie. Ek het natuurlik agtergekom dat dit ’n baie ingewikkelde vraag is, en dat daar redes is vir sentimentaliteit, oppervlakkigheid, of bloot ’n neiging weg van sosiale kommentaar. Uiteindelik was dit juis hierdie tipe liedjies wat my die meeste geïnteresseer het, aangesien dit op sigself betekenisvol is. Die boek poog om hierdie goed in konteks te plaas.
En wat het jy, deur middel van die bestudering van die geskiedenis en hulle musiek, van ’n nasie geleer? Of dalk net: waargeneem?
Afrikaners – en ek gebruik die woord hier om te verwys na wit Afrikaanssprekendes, wetende dat dit ’n term met bagasie is – is nie ’n homogene groep nie en het baie uiteenlopende lewensbeskouings wat nie soseer te doen het met opvoedingsvlak, klas, geloof, ens nie. Dan is daar ’n lang geskiedenis van uitsluiting van bruin en swart Afrikaanse musikante as dit kom by die opneem van Afrikaanse musiek, ten spyte van groter getalle moedertaalsprekers. Die feit dat die Afrikaanse musiekbedryf, soos enige ander bedryf, winsgedrewe is, beteken dat Afrikaanse musiek onder ’n spesifieke groep Afrikaanssprekendes bemark word – dit maak ekonomiese sin, maar tog veroorsaak dit spanning.
Is Afrikaanse musiek alleen op ’n eiland? Indien wel, is dit volhoubaar? Gaan die dam toeslik? Indien nie, hoe beleef jy dit? Enige waarnemings of kommentaar hierop?
Daar is baie interessante goed wat besig is om te gebeur in Afrikaanse musiek. Die invloed van die digitale era, met “downloads” en “streaming”-platforms, is beduidend en sommige kunstenaars benut dit baie goed, terwyl ander meer tradisionele media verkies. Laasgenoemde is op lang termyn dalk nie volhoubaar nie. Ek is wel opgewonde oor Afrikaanse musiek – daar is baie musiek daar buite waarvan ek regtig hou en wat relevant is vandag. Maar daar is ook snert, net soos in enige ander musiekbedryf op die planeet.
Jy weet natuurlik baie van musiek, omdat jy self musiek maak. Vertel asseblief van die musiekinstrumente wat jy bespeel en in watter groepe of bands jy self optree?
Ek is nou al sewe jaar lank Karen Zoid se baskitaarspeler. Verder het ek my eie band, Bed on Bricks, en speel ook gereeld blues saam met Gerald Clark. Oor die jare heen het ek al saam met vreeslik baie kunstenaars gespeel – dis iets waarvoor ek baie dankbaar is. Ek maak ook klankbane so nou en dan, en dan speel ek ander instrumente, soos kitaar en klavier ens. En ek het nogals baie “shaker” gespeel in ons onlangse vertonings by die KKNK toe Zoid en die Gereformeerde Blues Band saamgespeel het!
Na watter musiek luister jy graag?
Ek dink ek het nogals ’n wye musieksmaak. Ek is mal oor Wes-Afrikaanse musiek van kunstenaars soos Bombino, Toumani Diabaté en Bassekou Kouyate. Dan hou ek van klassieke rock soos Led Zeppelin. Ek hou van punk en ook klassieke musiek. Ek is mal oor plaaslike musiek, van maskanda tot boeremusiek. Omdat ek betekenis vind in selfs die oppervlakkigste popmusiek (al is dit bloot vanuit ’n antropologiese perspektief), kan ek nogals baie hanteer, al hou ek nie daarvan nie!
The post On record: ’n onderhoud met Schalk van der Merwe appeared first on LitNet.