Op Dinsdag 1 Augustus het belangstellendes en belanghebbendes by die parlementsgebou aangemeld vir die eerste dag van die openbare sittings oor die opspraakwekkende Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Catrina Wessels gee ’n oorsig van die dag se gesprekke.
Op Dinsdag 1 Augustus het belangstellendes en belanghebbendes by die parlementsgebou aangemeld vir die eerste dag van die openbare sittings oor die opspraakwekkende Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid, onder die vlymskerp leiding van die voorsitter, Joanmariae Louise Fubbs, het dié dag voorleggings oor die wetsontwerp aangehoor vanuit die geledere van akademici, regspraktisyns, uitgewers en regtebestuurorganisasies soos Dalro (Dramatic Artistic and Literary Rights Organisation) en Samro (Southern African Music Rights Organisation).
Sadulla Karjiker, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se Anton Mostert Leerstoel vir Intellektuele Goederereg, was eerste aan die beurt en het met die intrapslag gewaarsku dat hy sterk taal sou gebruik om sy misnoeë met die bestaande wetsontwerp uit te spreek. Hy het inderdaad nie doekies omgedraai nie. Die formulering van die wetsontwerp is volgens hom só swak dat hy dit nie ’n slaagsyfer sou gegee het as ’n student dit as opdrag by hom ingedien het nie. Die gebrekkige en lomp taalgebruik het tot gevolg dat selfs goedbedoelde bepalings nie in die praktyk sal werk nie. Die wetsontwerp getuig vir hom van die minagting van outeursreg en druis in teen een van die basiese beweegredes vir outeursregbeskerming, naamlik die beloning van intellektuele arbeid en die aansporing tot die skep van toekomstige outeursregwerke. Wetgewing behoort regsekerheid te skep en ekonomiese groei aan te moedig, maar hierdie wetgewing het volgens hom die teenoorgestelde uitwerking. Dit erodeer outeursreg en dien ’n knou toe aan diegene wat daarop staatmaak.
Tobias Schonwetter van die Universiteit van Kaapstad se Eenheid vir Intellektuele Goederereg se voorlegging was in skerp kontras met dié van prof Karjiker. Daar is wel formuleringsfoute, het hy toegegee, maar dit is iets wat volgens hom maklik reggestel kan word. In die breë voel hy positief oor die rigting waarin die wetsontwerp Suid-Afrika se outeursregstelsel neem. Sy benadering is meer toegangsgedrewe. Sy uitgangspunt is dat die outeursregstelsel gemik behoort te wees op die bied van breë toegang tot outeursregwerke, veral in die konteks van Suid-Afrika as ontwikkelende land, en nie te sterk behoort te fokus op die toestaan van beperkte monopolieë wat kommersialisering moontlik maak nie.
Hierdie ideologiese verskil verklaar waarom Schonwetter ’n voorstander is van die instel van die begrip fair use.
Fair use is ’n oop benadering tot uitsonderings op en beperkings van die eksklusiewe regte van die outeursreghouer. Dit is nie, soos fair dealing, beperk tot spesifieke toegelate gebruike soos verslaggewing of navorsing nie, maar ’n algemene vergunning om outeursregwerke sonder toestemming te gebruik indien daardie gebruik aan sekere vereistes voldoen. Fair use word in die VSA gebruik as ’n verweer teen outeursregskending, terwyl Suid-Afrika, soos die VK, met fair dealing werk. Die onderskeid tussen fair use en fair dealing is ’n tema waarby daar herhaaldelik tydens die dag se verrigtinge stilgestaan is. Dit is heel gepas, aangesien dié onderskeid van kritieke belang is vir die outeursregstelsel en die bedrywe wat daarop staatmaak.
Sean Flynn, ’n Amerikaanse akademikus en verteenwoordiger van die Global Network on Copyright User Rights, het tydens sy voorlegging ’n lansie vir fair use gebreek – veral uit die perspektief van die vinnige tempo van tegnologiese ontwikkeling en die geleenthede wat dit vir entrepreneurskap en vernuwing bied.
Van die bevindings van hierdie studie is ’n gemiddelde afname in boekverkope van 33% en dreigende werksverlies in die uitgewersbedryf van 30%, wat op nagenoeg 1 250 voltydse werke neerkom.~ Ekonomiese-impakstudie deur PricewaterhouseCoopers |
Die voorstanders van die instel van fair use was egter beslis in die minderheid. Volgens Samro sal die instel van fair use sonder die nodige kontroles daartoe lei dat outeursregwerk misbruik word ten koste van die skeppers daarvan. Samro-lede, van wie die meerderheid tussen die ouderdomme van 15 en 35 jaar is, het nie die middele om hof toe te gaan om hul outeursreg af te dwing nie. Dit is ’n lang, duur, en dus ontoeganklike proses. Ook die Suid-Afrikaanse Instituut vir Intellektuele Goederereg (SAIIPL), ’n verteenwoordigende liggaam van regspraktisyns wat hulle met die intellektuelegoederereg bemoei, het gemaan teen die ondeurdagte invoer van die Amerikaanse fair use in die Suid-Afrikaanse regstelsel. Die bestaande fair dealing-uitsonderings kan volgens die SAIIPL eerder in samewerking met tersaaklike bedrywe ontwikkel word.
Naas fair use maak die wetsontwerp ook voorsiening vir spesifieke kopiereguitsonderings vir opvoedkundige doeleindes. Opvoedkundige instellings mag hiervolgens dele van outeursregwerke sonder toestemming en sonder vergoeding by hul voorgeskrewe materiaal insluit, asook ’n hele handboek kopieer indien dit uit druk is of nie beskikbaar is om teen ’n redelike prys aan te koop nie.
Beide Dalro en die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa) het hul kommer uitgespreek oor die potensieel verreikende ekonomiese impak wat hierdie uitsondering mag hê. Pasa het tydens hul sessie ’n ekonomiese-impakstudie voorgelê wat op versoek deur PricewaterhouseCoopers (PwC) gedoen is. Hierdie studie dui aan dat grootskaalse finansiële verliese vir die uitgewersbedryf (en indirek vir outeurs) in die vooruitsig is indien hierdie uitsonderings regskragtig word. Van die bevindings van hierdie studie is ’n gemiddelde afname in boekverkope van 33% en dreigende werksverlies in die uitgewersbedryf van 30%, wat op nagenoeg 1 250 voltydse werke neerkom.
Wat duidelik was uit die dag se voorleggings, is dat ’n billike balans tussen die belange van gebruikers en die regte van outeurs en outeursreghouers gevind moet word. ’n Algemene gevoel was dat die bestaande weergawe van die wetsontwerp nog nie daarin slaag nie. Samro se uitvoerende hoof, Nothando Migogo, en ook die Kopieregalliansie, ’n nuutgevormde vereniging van verskeie rolspelers in die literêre wêreld en musiekbedryf, het daarop gewys dat die inhoud van die wetsontwerp sterk leun in die guns van die gebruikers van outeursregwerke, en dit ten koste van outeurs en outeursreghouers. Dit blyk dat daar ’n verskuiwing van fokus is na die belange van die gebruiker en weg van die regte van die outeur of outeursreghouer. (Om na ’n gebruiker se “regte” te verwys, soos wat in die wetsontwerp gebeur, is volgens verskeie van die dag se bydraers onvanpas en verwarrend.)
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Intellektuele Goederereg het in hul kundige en ewewigtige bydrae beklemtoon dat die bepalings van die wetsontwerp billik en werkbaar moet wees. Die bestaande formulering van verskeie bepalings in die wetsontwerp gee aanleiding tot regsonsekerheid en verwarring oor praktiese implikasies. Daar moet volgens die SAIIPL ook herbesin word oor die breë uitsonderings en beperkings van die eksklusiewe regte van die outeursreghouer wat deur die wetsontwerp voorgestel word.
Alle partye is dit eens dat die Wet op Outeursreg bygewerk moet word. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg is dus waarskynlik hier om te bly. Hoe dit uiteindelik sal lyk, moet egter nog bepaal word.
Ná nog twee dae se openbare sittings sal die portefeuljekomitee oor verdere stappe besluit. Hulle kan die wetsontwerp onveranderd aanvaar, of wysigings vereis, of opdrag gee dat ’n volledig nuwe wetsontwerp geskryf word.
Dit was bemoedigend om te sien hoe aktief die portefeuljekomitee met die belanghebbendes se voorleggings omgegaan het. Kritiese vrae is deur die LP’s gestel en sommige belanghebbendes is uitgenooi om verdere skriftelike voorleggings en voorstelle in te stuur ter verbetering en verfyning van die wetsontwerp.
Die Departement Handel en Nywerheid, van waar dié wetsontwerp afkomstig is, is ook gevra om oor ’n aantal sake te verantwoord.
’n Mens kan net hoop dat die nodige balans in die proses gevind sal word.
Lees ook:
The Copyright Amendment Bill: an interview with Sadulla Karjiker
"For me, as Chair of Intellectual Property, the Bill presents an attack on intellectual property law from a basis of ignorance. It has the potential to create great uncertainty going forward. It comes down to abolishment of property rights and the depreciation of intellectual property as an economic driver."
Is skrywers se outeursregte in gedrang?
"Sinvolle outeursregwetgewing, en die effektiewe toepassing daarvan, is van sentrale belang vir die gesonde funksionering van die uitgewersbedryf, ’n bedryf wat toegespits is op die maak van boeke en die kweek van ’n sterk leeskultuur."
The post Op soek na balans: ’n dag by die openbare sittings oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg appeared first on LitNet.