AVBOB het ’n nuwe poësiekompetisie met die tema Ek wou nog sê ... geloods. Gedigte kan in enige van Suid-Afrika se amptelike tale ingeskryf word en skrywers ontvang R300 vir elke gedig wat gekeur word vir publikasie op die kompetisiewebwerf. In die volgende onderhoud vertel AVBOB meer oor hierdie omvangryke projek.
Poësie … die taal van die hart. Hoe ironies is dit nie dat sowel AVBOB as Madiba 99 jaar gelede gebore is nie? Julle word volgende jaar 100 – dis ’n rare prestasie vir ’n Suid-Afrikaanse maatskappy.
Ek dink die ooreenkoms strek selfs verder, in dié opsig dat AVBOB nog altyd volksbesit was: die maatskappy het immers geen aandeelhouers nie – die besigheid word dus reeds die afgelope 99 jaar geheel en al deur sy polishouers besit.
Dis ’n mooi beskrywing – “volksbesit”. En nou stuur julle ’n poësieprojek van stapel waarin julle die mense van elke taalgroepering uitnooi om betrokke te raak. Waarom doen julle dit?
Dis eintlik heel eenvoudig: nes ons besigheid aan ons mense behoort, net so is ook poësie volksbesit. Die feit dat ons almal verskillende tale praat, is bloot toevallig – ons het almal iets om te sê, maar as ons dit in een stem met poësie kan sê, des te beter.
Waar het die gedagte ontstaan? ’n Borgskap vir poësie is immers ’n uiters ongewone borgskap.
Soos almal weet, doen AVBOB basies twee dinge: ons bied begrafnisversekering vir daardie dag wanneer ’n geliefde ter ruste gelê moet word, en dan hanteer ons boonop die begrafnis waartydens ons die familie met troos en berading bystaan. En jy weet, wanneer mense in rou is, is daar absoluut géén verskil tussen ons nie. Almal kry ewe seer. Mens staan dikwels stom voor die aanslag van verlies, en dán kan ’n ander se woorde stem gee aan jou verdriet, jou gemis. Dis hiér waar ons glo die poësieprojek ’n ongelooflike verskil gaan maak.
Want mense het woorde van bemoediging nodig tydens die rouproses?
Presies, en mense smag boonop na begrip – hulle wil weet hulle is nie alleen nie. En daardie tipe vertroosting of medelye, het ons besef, kan niémand so goed in woorde uitdruk as digters nie. Hulle doen dit al vir eeue.
Beteken dit dat die projek eksklusief op lykdigte gaan konsentreer, dit wil sê gedigte wat oor die dood gaan?
Allermins. Om te sterf – wat ons almal gaan doen – beteken inmiddels dat jy geleef het. Die projek fokus op daardie perfekte sirkelgang tussen lewe en dood, déúr al die seisoene, wat ons leer om afstand te doen, te laat gaan.
En dít alles gebeur in die formaat van ’n kompetisie wat uitloop op die AVBOB Prys vir Poësie?
Korrek. Die kompetisie skop 1 Augustus af en bly tot einde November oop vir inskrywings – ’n hele vier maande dus. Die wenners word aanstaande jaar in die koers van Februarie-Maart aangekondig.
Ek dink dis belangrik om ter wille van die lesers te vra: Wie kan inskryf?
Wel, aangesien poësie volksbesit is, kan enigiemand inskryf, hetsy jy al vantevore werk gepubliseer het of nie. Die inskrywings moet egter nuwe werk wees wat nog nêrens anders voorgelê of gepubliseer is nie.
En hoe/waar skryf mens in?
Besoek eenvoudig www.avbobpoetry.co.za, registreer jou profiel, maak jouself vertroud met al die bepalings en voorwaardes en volg die eenvoudige stappe om jou gedig aanlyn in te dien.
En ek verstaan daar’s ’n geldjie betrokke vir elke gedig wat gekeur en op die webtuiste geplaas word?
Dis korrek – dis ’n klein aansporing van ons kant om dankie te sê – en vir die feit dat Suid-Afrikaners daardie gedig dan mag gebruik tydens die rouproses, want dís waaroor die projek gaan. Al die besonderhede is natuurlik op ons webtuiste beskikbaar.
Maar die projek het selfs meer om die lyf, nie waar nie?
Ons is baie opgewonde oor een van die uitvloeisels van die poësiekompetisie, naamlik die publikasie van 100 nuwe gedigte volgende jaar met AVBOB se eeufeesviering. Dié bundel sal bestaan uit die werk van vooraanstaande Suid-Afrikaanse digters wat in sowel die oorspronklike inheemse tale as ’n Engelse weergawe daarvan gepubliseer sal word. Ek meen dis die eerste keer dat só iets op só ’n groot skaal in Suid-Afrika onderneem word. Jy sal met ander woorde gedigte in Afrikaans, Zoeloe en, sê nou maar, Sesotho naas hulle in Engels vertaalde weergawes kan lees.
En die titel van die bundel?
Ek wou nog sê. Of op Engels: I wish I’d said.
Dis ’n aangrypende titel … Ek wou nog sê. En ek verstaan julle gaan bekende digters opdrag gee om die meeste van die gedigte te skryf, maar julle beoog ook om van die kompetisie-inskrywings te plaas?
Dis reg. Minstens 20% van die gedigte sal uit kompetisie-inskrywings kom. Dis natuurlik ’n uitstekende geleentheid vir ongepubliseerde digters om naas die groot name gepubliseer te word.
Indien mense aan die kompetisie wil deelneem, hoe moet hulle te werk gaan om in te skryf en waar kan hulle meer inligting daaroor bekom?
Indien mense wil deelneem, kan hulle die volgende webwerf besoek: www.avbobpoetry.co.za.
The post AVBOB-poësiekompetisie: Ek wou nog sê ... appeared first on LitNet.