Mense wat weet, blyk te vertel dat ons as geestelike wesens twee keer per dag vir ’n paar minute moet stil raak, dat ons ons oë moet sluit en aan niks of aan die goeie of aan gebed of aan God moet dink.
Mense wat weet, wíl blykbaar vertel wat die stil-word aan hul gees en liggaam byvoeg; wil getuig van die waarde en die waarheid wat agter die sluiting van die oë skuil …
Half-sewe op ’n weeksdag-oggend sit ek en staar oor die nagemaakte houtvloer in ons slaapkamer, op na die gebakte kleikruis teen die geteëlde muur aan die oorkant bokant die bad. Die kruis, wat ook ’n kersblaker kan wees, is diep rooibruin warm aan die buitekant, maar die eens smaragagtige geglasuurde binnekant is donker, die getuienis van ’n aantal lang kersbrand-aande.
Die kleikruis lyk nie meer nuut nie.
Terwyl die klanke uit die res van die huis en ’n duif se wakkerword hier vlak naby die venster skielik skril klink, maak ek my oë toe om stilte te gaan soek; om stilte te gaan versoek. Op die pad na stilwees word ek bewus van die kromheid van my geboë skouers en Moeder se woorde wat orent spring …“jy moet regop sit”. Ek trek my asem in, trek my maagspiere op en kruis my bene voor my op die vloer en my hande op my skoot. Ek sit regop en haal diep asem, maar meeste van die nuwe lug val saam met ’n sug terug na die atmosfeer; meermale en sonder keer.
Net so, spontaan sonder enige aarseling in die gemoed, vind ’n klompie gebedsgedagtes hul pad na my mond en begin ek praat met Hom; hier en daar en oral rond. Ek sit verstom wanneer ’n “stem” my voortvarende versoeke demp en die woorde van vra en gee min raak op die weg na stilte; stilte sodat ek moet luister. Eers na niks en dan na meer.
“My gedagtes is vir jou genoeg, My genade is vir jou gegee; gaan leef vandag daarmee.”
‘n Frons kom sit diep bokant my oogkas weens die martelende angs vir nood en tekorte wat weereens kom kuier. Die stilte, luister en verwagting vir, van en uit Sy Woord word daardeur verbreek en my gemoed draai, my binneste word bevange en ek klem my hande en my bene wanneer ek aan vriende en kennisse in hul timmertyd dink: “Here wees asseblief met D… en F… en F… en K … en T… en S… en … asseblief Here, gee uitkoms en rigting en vrede.”
Ek dink aan die son wat netnou uit die ooste oor die Bolandse berge gaan skyn en die skokfeit dat ek, soos in ou geloofsgebruike, reeds baie jare sonder beplanning of rede my oë tog na die ooste sluit; dat ek nie aan Daniël in sy bo-kamer of aan ’n gebedsmatjie in ’n tempel of moskee of sinagoge op daardie oomblikke dink nie, maar dit net doen.
Die woordlose beredenering van die reg of verkeerd daarin word egter beëindig deur denke aan ons seuns: “Here wees asseblief met Wessel en Hendri; wees met Wes by die werk en mag Hendri sy dag geniet; pas hulle op Here en asseblief … bring ons vanaand weer saam tuis.”
“Waarmee kan ek jou skoonheid vergelyk – jou sagte vel en fyn plooitjies agter jou ore en …” en so met die soet reuk van my lieflike wederhelf wat nog vars om en by my hang, waar ek op die rand van die bed sit, dink ek met ’n glimlag aan haar.
Die warm gedagtes word egter skor vervreem deur beelde van voos straatvrouens wat hardhandig voor ’n dwelmhuis onder in Parow van ’n voertuig af weggestamp word! Die staar van hul lewelose oë en die spierwit grynslag van hul buitelandse meesters, wat soos vlooie op ’n siek hond teen die motors leun, ontspoor die dankbaarheid wat my hier veilig laat voel het. Ek dink daaraan dat ek nie meer elke dag lus het om empatie met stukkende tandelose mense te hê nie, dat die vuilheid van die wêreld te veel raak en dat ek sommer elke wettelose bestuurder en motorfietsryer wil …
“Here…, dankie dat ek vanoggend weer my oë voor U kan sluit.”
Deur die donkerte van my sig
sien ek U troon en die gerib en die Lig
en soos ’n Jakob van ouds,
staan ek aan die voet van U leer
voor die wydgespande vlerke van goud,
met gewapende engele wat my keer,
engele, wat U vereer …
The post Wanneer ek my oë sluit appeared first on LitNet.