Met die oorgang na demokrasie was Suid-Afrika op die kruin van vernuwing. Ons grondwet was een van die mees liberale en gevorderde grondwette ter wêreld, indien nie dié mees liberale en gevorderde nie. Ons wetenskaplikes en vernuwers het die voortou geneem op verskeie gebiede. Ons ontwerpers, beide in klere en in binnenshuise dekor, was gesog in Parys en Milaan. Mark Shuttleworth was die naam op almal se lippe. Madiba en die Arch was gesog in elke internasionale politieke arena vir hul wysheid en insig.
Ons sportsterre, toegelaat om vir die eerste keer in ’n lang tyd internasionaal te skitter, het gewys waartoe ons in staat is. Rugby. Sokker. Atletiek. Krieket. Noem dit maar, ons het die kruin van sukses gery. En ons leiers het Suid-Afrikaanse uitnemendheid gevier.
Suid-Afrika was sonder twyfel die leier in Afrika. Onder Mbeki het die Afrika-renaissance begin floreer. Vir die eerste keer in ’n lang tyd was Afrika, en Suid-Afrika spesifiek, geassosieer met uitnemendheid eerder as korrupsie. Terwyl Mbeki ’n leier was met vele probleme, was hy tog steeds een met visie.
Skaars 20 jaar later, en ons is terug in dieselfde situasie as wat ons tydens apartheid was. Ons sterre moet Suid-Afrika verlaat as hulle wil skitter. Jan-Hendrik. Trevor. Charlize. Ryk. Feitlik die hele Springbok-rugbyspan speel vir oorsese klubs, waar hulle aansienlik meer verdien as wat hulle tuis sou kon kry. Wayde en Caster is omtrent nog die enigste atlete wat agterbly, en ek is seker daarvan dis ook maar net ’n kwessie van tyd voor hulle waai.
Ons politici het ’n bespotting geword, en dis geen troos om te wys na Amerika en Brittanje en Rusland nie. Dis nie goeie geselskap om in te wees nie. Ons het ’n bespotting geword, net nog ’n karikatuur van die korrupte Afrika-despot.
Ons sosiale-sorg-program, Sassa, vir jare die regerende party se troefkaart tydens verkiesings, is aan flarde. Ons sit met ’n minister wat dit skynbaar as haar werksomskrywing beskou om ons armstes so vinnig as moontlik sonder hulp te laat, en om uitbetaling van die welsynsorg sover as moontlik in die wiele te ry.
Ministers en parlementslede wat hul werk met integriteit en eerbaarheid wil doen, word so vinnig moontlik van ontslae geraak. Dié wat leeglê en slaplê word bevorder en meer verantwoordelikheid (en groter toegang tot die staatskas) gegee.
Die gaping tussen die armes en die rykes word al groter. Tradisioneel was opvoeding nog altyd die voertuig om uit armoede te kom en ’n beter lewe te bekom. Maar wat is aan die gang met opvoeding in ons land? Slaagsyfers word verlaag, eerder as dat standaarde verhoog word. Dit kos seker nie ’n opvoeder om te verstaan dat daar meer geld en tyd en opleiding in ons onderwysers moet ingaan as ons beter opleiding vir ons kinders verwag nie. Ons moet meer onderwysers oplei en hulle beter betaal as ons verwag ons kinders moet ’n behoorlike opvoeding ontvang. Wat tans gebeur, is dat goeie onderwysers uit een gebied geneem word na ’n ander gebied waar hulle die leerders vir ’n week onderrig. Dan word die leerders weer teruggestuur na hul gewone onderwyser wat dalk nie die nodige vaardighede het om daai kinders op te lei nie.
Een week uit ’n jaar is ’n pleister op veelvuldige frakture. Dit help nie. Dit doen die kinders ’n onreg aan, en dit frustreer die onderwysers wat nie op hul eie klasse kan konsentreer nie.
Ons moet seker maak dat ons kinders al die hulpmiddels het wat hulle benodig om te leer. Dit beteken handboeke moet in die klaskamers wees en nie lê en stof vergader in departementele stoorkamers nie. Dit beteken kenners, nie politici nie, moet op ’n kurrikulum besluit en daarby hou. Daar kan nie elke paar jaar geheen-en-weer word oor leerplanne nie.
Om slaagsyfers te verlaag, laat dalk die statistieke goed lyk, maar dit doen niks om ons kinders se opvoeding te verbeter nie. Tans kan ’n leerder net een keer in ’n fase druip. ’n Fase is drie jaar. As ’n kind dus een keer gedruip het, word hy outomaties die volgende twee jaar gepromoveer ongeag of sy punte goed genoeg is of nie. Dit is dus moontlik vir ’n leerder om tot in matriek te vorder sonder om een keer te slaag.
En dan verwag daardie kinders om universiteit toe te gaan.
Hoe gaan vernuwing gebeur as leerders nie eers die basiese vaardighede onder die knie het nie? Hoe gaan ons wetenskaplikes produseer as leerders aangemoedig word om wiskundige geletterdheid te neem eerder as suiwer wiskunde? Hoe gaan ons vernuwers oplewer met ’n slaagsyfer van 30%?
Belangriker: hoe gaan kinders aan daai siklus van armoede ontsnap as hulle nie kan staatmaak op ’n behoorlike opvoeding nie?
Middelmatigheid word gevier. Uitnemendheid word toenemend gestraf. Prysuitdelings by skole is ’n foltering, eerder as ’n viering van prestasie. Dit lyk en voel al hoe meer asof die doel is om soveel kinders as moontlik ’n sertifikaat vir iets te gee, eerder as om die kinders wat uitblink te beloon. Behoede ons tog dat een of ander bloedjie wat nie werk nie, se gevoelens seergemaak word omdat hy nie ook ’n sertifikaat kan huis toe neem nie.
Middelmatigheid word beloon. Om korttermyn politiese doelwitte te bereik, en om populistiese stellings te maak, werk dit uitstekend. Op langer termyn kan ons dit egter nie bekostig nie. Ons maak ’n bevolking van funksioneel geletterdes groot, met verwagtings dat hulle die wêreld gaan verower terwyl hulle beswaarlik die tien vingers op hul hande kan tel.
Ons is ’n land met talentvolle, belowende jongmense. Hulle wil leer. Hulle wil vorentoe gaan. Dit het tyd geword dat politici padgee uit opvoeding, en opvoeders toelaat om op te voed.
Dan kan ons weer uitnemendheid ervaar op alle terreine van ons samelewing. Dan kan ons op lang termyn ons jeug en ons land red.
The post Vier en beloon ons middelmatigheid ten koste van vooruitgang? appeared first on LitNet.