Naòmi Morgan het die regie en vertaling behartig van die produksie Die klein prinsie wat eersdaags by die Vrystaat Kunstefees te sien is. Dié woordkunsproduksie is ’n verwerking van die Franse teks Le petit prince wat in 1943 deur Antoine de Saint-Exupéry geskryf is. Die verhaal is sedertdien in nie minder nie as 329 tale vertaal. Naomi Meyer gesels met haar oor die produksie.
Naòmi, Die klein prinsie is vanjaar by die Vrystaat Kunstefees en jy het die vertaling (uit Frans) behartig. Hoekom? Hoekom vertaal en hoekom hierdie vertaling?
Die klein prinsie is een van my lieflingsboeke. Toe ek ’n student was, het ons nog aanhalings uit ons kop geleer; ek het vir ’n tyd lank sekere aanhalings daaruit gereeld in gesprekke gebruik. Dit was ook die eerste boek wat ek vir myself gekoop het toe ek in 1980 ’n au pair in Parys was. Ek wou dit altyd graag vertaal, maar toe word André Brink se vertaling in 1994 met groot sukses gepubliseer; dit is waarskynlik die meeste mense se verwysing. Ek het toe op ander vertaaltekste gekonsentreer.
In 2016 wou ek ’n onderwerp voorlê vir ’n konferensie oor hervertaling, ’n belangrike domein in vertaalstudies, wat in Februarie 2017 by die Centrum voor Literatuur in Vertaling in Gent, België, aangebied is. Om te kan teoretiseer oor hervertaling impliseer dat daar meer as een vertaling van ’n teks in ’n spesifieke taal moet wees. Die navorsing wat ons by die Afdeling Frans gedoen het ter voorbereiding van ’n ensiklopedie van literêre vertalings in die taalpaar Frans-Afrikaans, het getoon dat ’n jong taal soos Afrikaans min hervertalings het, veral in vergelyking met groot vertaaltale soos Pools, Hongaars, Engels en Hebreeus. Hierdie tale het dikwels tot 15 vertalings van een teks, terwyl ons geen Franse teks kon opspoor waarvan daar meer as twee vertalings in Afrikaans was nie. Een van hulle was Die klein prinsie, want Brink se vertaling was nie die eerste een nie – JPL Krige het dit reeds in 1957 vertaal. Twee vertalings was egter steeds ’n skrale oes vir ’n konferensie oor hervertaling; ek het toe onthou van my ou droom om die teks te vertaal, en het dit toe gekoppel aan twee projekte: Afrikaanse onderskrifte vir die 2015 Marc Osborne-film, en ’n nuwe Afrikaanse vertaling van die bronteks as woordkunsproduksie by die Vrystaat Kunstefees. Waar die Brink-vertaling in die eerste plek ’n “stil” vertaling vir lesers is, is my vertaling gedoen om hardop deur ’n woordkunstenaar gelees te word. Omdat vertaling vir my in die eerste plek ’n klankoefening is (ek probeer die bladmusiek van die bronteks suksesvol transponeer na die klank van die teikenteks), sou ek byvoorbeeld eers my vertaling as ’n oudioboek op CD beskikbaar wou stel. Met dieselfde woordkunstenaar, natuurlik: die onvergelykbare Chris van Niekerk.
Maar praat hierdie prins nie Frans nie, en is hy nie so gebore nie? En as hy Afrikaans praat, moet dit spore van die taal van sy herkoms bevat? Ek vra jou dus oor die prins se taalidentiteit, as jy meen dat hy hieroor beskik.
O ja, die lieflike prinsie is so Frans as kan kom – hy is so gebore, en hy is selfs in meer as een opsig ’n Franse prinsie: hy is eintlik die kreatiewe kind wat die skrywer, Antoine de Saint-Exupéry, self eens was, en Saint-Exupéry kom uit ’n adellike familie, hy het ’n titel, hy is ’n hertog. Na die voortydige dood van sy vader het die gesin uiteindelik die herehuis wat hul woning was en hul familiegrond verloor. Saint-Exupéry sou sy lewe lank hunker na die paradys van sy jeug.
Die boek het lesers so betower dat daar ’n behoefte was om dit in hul hartstale te lees. Vertaling gaan vir my in die eerste plek nie om begrip van die bronteks nie, maar daarom om die bronteks te laat resoneer in jou moedertaal, wat die enigste taal is wat so ’n emosionele reaksie by die leser ontlok. Die klein prinsie is vandag een van die mees vertaalde boeke in die wêreld. Die laaste beskikbare syfer was 329 tale, maar dit het waarskynlik ook al verander.
My vertaling bevat geen spore van die prinsie se Franse herkoms nie: die teks word voorgelees, dus sal Franse woorde tussenin net ’n hindernis vir die woordkunstenaar wees. Die teks bevat net een verwysing na Frankryk, wanneer die loods sê: “Almal weet dat wanneer dit twaalfuur die middag in die Verenigde State is, die son oor Frankryk ondergaan. As ’n mens binne ’n minuut Frankryk toe kon gaan, sou jy ’n sonsondergang kon sien. Ongelukkig is Frankryk veels te ver.”
Die ontmoeting tussen die loods en die prinsie speel natuurlik af in die Sahara-woestyn. My prinsie praat net Afrikaans. Maar alle vertalers voel natuurlik die gemis van die oorspronklike teks; ons weet wat noodwendig verlore gegaan het, maar ons raak ook opgewonde oor die bietjie wins wat ons soms taalkundig maak!
Jy is ook verantwoordelik vir hierdie produksie se regie. As regisseur van ’n produksie is jy ’n stuk se visuele skrywer en jy beduie die lens na wat jy die gehoor se oë wil laat sien. In hierdie stuk: wat is dit, wat moet hulle sien of nie sien nie?
Die klein prinsie onderneem twee reise: ’n kosmiese reis en ’n aardse reis. Op die verskillende asteroïdes en op die aarde ontmoet hy kleurvolle karakters. Die produksie word aangebied in die Bloemfonteinse Planetarium, waar die twee reisverhale in twee ruimtes vertel word: Chris van Niekerk sit voor in die planetarium en lees by ’n lessenaar – hy is, soos Saint-Exupéry, die loods en die skrywer, maar hy is ook die klein prinsie, soos wat die gehoor aan sy geel serp sal kan sien. Die klein prinsie en die loods is die jonger en ouer weergawes van die skrywer. Hierdie aardse ruimte is eintlik nie belangrik nie, want wat ’n planetarium aan sy besoekers bied, is ’n koepel en sitplekke wat laat sak kan word sodat die aandag op die hemelruim gevestig is. Dit is teen hierdie koepel dat kosmiese beeldmateriaal geprojekteer sal word. Die klein prinsie is natuurlik ’n geïllustreerde boek wat, net soos ’n strokiesprent, nie sonder prente gelees kan word nie. Vir die illustrasies gebruik ons Chris van Niekerk se eie, bekroonde foto’s wat abstrak eerder as realisties is. Die foto’s is geselekteer om iets van die teks te weerspieël. Ons doen dus weer die eksperiment van die oop en die toe luislang; ek sou graag wou hê dat die gehoor probeer om die bekende karakters en tonele in die abstrakte fotoweergawe te sien:
Toe ek ses jaar oud was, het ek eenkeer ’n pragtige prent in ’n boek oor oerwoude, met die titel Ware Verhale, gesien. Dit was van ’n luislang wat ’n wilde dier insluk. Dit is hoe die prent gelyk het.
In die boek het daar gestaan: “Luislange sluk hul prooi heelhuids in, sonder om dit te kou. Daarna kan hulle nie meer beweeg nie en slaap ses maande lank terwyl die dier verteer.”
Ek het baie oor gebeure in die oerwoud gedink en het toe met ’n kleurpotlood my eerste tekening gemaak. My tekening nommer 1. Dit het só gelyk:
Ek het my meesterwerk vir die grootmense gewys en hulle gevra of my tekening hulle bang maak.
“Hoekom sal ’n hoed ’n mens bang maak?” het hulle geantwoord.
My tekening was nie van ’n hoed nie. Dit was van ’n luislang wat besig was om ’n olifant te verteer. Ek teken toe die binnekant van die luislang sodat die grootmense kon verstaan. Hulle het altyd verduidelikings nodig. My tekening nommer 2 het só gelyk:
Die grootmense het my aangeraai om tekeninge van oop en toe luislange te laat staan en eerder te konsentreer op aardrykskunde, geskiedenis, rekenkunde en grammatika. So het ek op 6-jarige ouderdom ’n luisterryke loopbaan as skilder opgegee. Ek is ontmoedig deur die mislukking van my tekening nommer 1 en my tekening nommer 2. Grootmense verstaan nooit enigiets vanself nie, en dis uitputtend vir kinders om altyd weer te moet verduidelik.”
My kriptiese derde vraag verwys na iets wat my in die toneelstuk se beskrywing opval. Daar is iemand in die oorspronklike verhaal van die klein prinsie wat nie gesien word in die boek se sketse nie. Wie is dit en hoe word hy in die stuk by die Vrystaat Kunstefees sigbaar?
Saint-Exupéry het baie meer sketse en skilderye gemaak as die illustrasies wat vir Die klein prinsie gebruik is. Een van die interessantste sketse vir my is een waarin die hand van die tekenaar/loods/skrywer gesien kan word. Hierdie nederige en gesuggereerde teenwoordigheid herinner ons daaraan dat ’n belangrike karakter in die verhaal, die loods, nêrens te siene is nie. Ons weet dat vliegtuie vir die verteller te moeilik is om te teken, maar met mense het hy nie ’n probleem nie, want al die asteroïdebewoners is daar. Dit is amper asof hy die loods nie teken nie, omdat dit ’n selfportret sal moet wees. En dan verloor die verhaal miskien vir hom sy universele karakter?
Chris van Niekerk gaan nie noodwendig soos ’n loods aangetrek wees nie (die verhaal speel ses jaar na die ontmoeting met die prinsie af – hy is nie meer in die Sahara nie), maar daar sal voorwerpe op sy lessenaar wees wat die gehoor daaraan herinner dat hy eintlik ’n vlieënier is, soos die wonderlike ou stofbril wat op die plakkaat gesien kan word en wat uit ’n antieke winkel op Hermanus kom. Chris is ’n ekwivalent vir Saint-Exupéry: Chris lees en neem foto’s, Saint-Exupéry skryf en skilder boekillustrasies. Die twee werk aktief aan dieselfde boek!
Noudat ek hierdie vraag gevra het, is ek by die skrywer, Antoine de Saint-Exupéry. Hy was wérklik ’n vlieënier. Dink jy hy staan as skrywer voor die storie se lens? Was die boek ’n soort betrokke joernalistiek (hy was immers joernalis ook, of hoe?), of was dit iets anders? Maak dit saak?
Ja, hy was ’n vlieënier, en dié was sy laaste boek. Hy het dit in Amerika geskryf terwyl hy gewag het vir ’n opdrag om weer te kan toetree tot die Tweede Wêreldoorlogstryd (hy was eintlik te oud om nog te vlieg, en hy het soveel vliegongelukke gehad – jy sien op foto’s die letsels op sy gesig). Ek dink nie dis betrokke joernalistiek nie, dis meer misties – hy het geleidelik al hoe meer filosofies begin skryf. Hy was ook baie gelowig, en baie mense sien religieuse elemente in die verhaal, soos die lang toneel oor lewende water in hoofstuk 25: “Ek dors na daardie water, het die klein prinsie gesê, gee my water om te drink ...” Ek dink hy staan voor die storie se lens, ja. En ek dink dit maak baie saak, want dis asof hy ’n voorgevoel gehad het dat hy nie die oorlog sou oorleef nie (hy is afgeskiet deur ’n Duitse vlieënier met die naam Horst Rippert, wat baie spyt was toe hy ontdek wie in die ander vliegtuig was). Hierdie is met ander woorde laaste woorde. Daar is miskien niks belangriker nie.
Waaroor handel die bekende storie van Antoine de Saint-Exupéry vir jou?
Ek het al so baie van en oor Saint-Exupéry gelees dat ek deur al hierdie leeservarings beïnvloed word wanneer ek Die klein prinsie lees. Ek dink dit gaan oor die intense verlange wat ons soms het na die kind wat ons nie meer is nie, ’n verlange na onskuld, opregtheid, maar ook geloof, hoop en liefde. Ek dink dit gaan, soos baie van sy boeke, en veral sy romans, oor die vroeë dae van posvliegtuie, die sogenaamde Aéropostale, oor kameraadskap, ware vriendskap en hoe hard ’n mens eintlik daarvoor moet werk (ons het die lesse van die jakkals nou broodnodig: op Facebook maak jy met die druk van ’n knoppie vriende met mense wat jy van geen kant af ken nie). Maar ek dink ook daar is ’n versteekte boodskap vir sy vrou, Consuelo, in die boek. Hy kon vroue nie weerstaan nie, en het kopieë van die manuskrip vir sy ander vriendinne ook gegee, maar daar is elemente in Die klein prinsie wat net op Consuelo van toepassing is. Sy het van San Salvador af gekom, ’n land van vulkane, soos die prinsie se planeet. En sy was asmaties, hoewel sy nooit veel simpatie by Saint-Exupéry gekry het nie! Die roos benodig mos ’n klokglas en ’n skerm ...
Vertel my meer van die ruimte waar die vertonings plaasvind – die Planetarium. Van die lekkerte, die uitdagings en die besondersheid daarvan.
Die Planetarium is op ’n heuwel genaamd Naval Hill in Bloemfontein geleë, dus is ’n mens in die stad, maar ook bokant die stad. Jy styg ’n bietjie op om daar te kom; jy ry noodwendig deur die Franklin-wildreservaat; daar is diere en die reuk van stof – nie die Sahara nie, maar darem. Die lekkerte is dat dit doodstil is daar bo, en dit stem ooreen met ’n beskrywing in Hoofstuk 24: “Ek was nog altyd lief vir die woestyn. Jy gaan sit op ’n sandduin. Jy sien niks. Jy hoor niks. En tog is daar iets wat in stilte skyn ...”
Daar is nie eintlik uitdagings nie, behalwe as daar ’n kragonderbreking gaan wees, soos verlede jaar! Die Planetarium word baie goed bestuur, en ons leen die Odeion Skool vir Musiek se verhoogbestuurder, Leon Snyman, vir die hele Planetarium-program. Leon het vele talente: hy het verlede jaar ’n prys gewen vir sy eie produksie, Fly me to the planets. Hy doen die tegniese versorging van my produksie, want die foto’s moet aangepas word vir die koepel. Ek dink nie daar is nog iewers in die land ’n ruimte soos hierdie Planetarium vir hierdie spesifieke produksie nie.
Vertel my asseblief ’n paar praktiese dinge van hierdie vertoning: wanneer dit plaasvind, wat dit kos en vir wie dit geskik is.
Daar is drie vertonings: op 18 Julie om 20:00, 20 Julie om 19:30 en 21 Julie om 10:00. Dit kos R100, maar daar is ’n paar plekke op die galery vir R80 (met beperkte sig), en dit is geskik vir alle ouderdomme, veral vir volwassenes, omdat dit eintlik ’n allegorie is.
Waarna sien jy spesifiek uit by die Vrystaat Kunstefees? Jy sal moet help – die program is omvangryk.
Dit gaan ’n wonderlike fees wees, maar ’n mens het verskeie lewens nodig om alles wat jou interesseer te kan bywoon. Herman van den Berg sing tydens die “Fees van die sintuie”, waar Etienne van Heerden die gasspreker sal wees. Daar is ’n wonderlike, uitgebreide filmfees; Vivaldi se Vier seisoene met ’n verbasende kombinasie van instrumente; die stilfilm Nosferatu met lewende klavierbegeleiding; ’n vol en interessante boekeprogram; Fado by die Aasvoëlklub buite die stad; Mozart se Requiem in die Anglikaanse katedraal waar Tolkien gedoop is; die wonderlikste dramas denkbaar ...
Noem asseblief enigiets waarvan mense moet weet as dit oor die Vrystaat Kunstefees handel. Ek dink daaraan dat min mense besef die Sterrewagteater is ’n werklik-funksionerende sterrewag, of dat die program uit soveel verskillende komponente bestaan – hierdie is ’n oop vraag. Dit maak dit dalk moeilik, dus kan jy gesels oor enigiets anders waarvan mense moet kennis neem as hulle fees toe kom (termostatiese kleredrag is van belang?).
Op die oomblik het Bloemfontein matige weer, maar hulle voorspel ysige toestande vir volgende week, so bring maar iets van alles. Mense moet oor praktiese dinge dink: parkeerplek is altyd ’n probleem, so moenie jou produksies te op mekaar kies nie. Al sou dit vloei by die ingange, neem toegangsbeheer ook tyd – reken dit in. Moet egter nie as gevolg van hierdie oorwegings net op die kampus bly nie – daar is fantastiese produksies in ander, veilige en mooi opgeknapte teaters in die stad, soos die Stadskouburg, André Huguenet, Sand ... en daar is natuurlik ’n groot verskeidenheid produksies in die Planetarium.
Die klein prinsie
Vrystaat Kunstefees
18, 20 en 21 Julie 2017
Met: Chris van Niekerk
Teks: Antoine de Saint-Exupéry
Vertaling en Regie: Naòmi Morgan
Musiek: Leon Snyman
Vervaardiger: Planetarium
Prys: R100
Duur: 60 minute
Hier is nog inligting oor die vertoning: http://www.vrystaatkunstefees.co.za/events.aspx?EventID=1080.
The post Die klein prinsie by die Vrystaat Kunstefees: ’n onderhoud appeared first on LitNet.