Onlangs skryf Jason Lloyd taamlik breedsprakig in twee van sy rubrieke oor die Suid-Afrikaanse politiek. (Sosialisme en die ANC, 5 Julie en Politieke aspoestertjies, 20 Junie. (http://www.litnet.co.za/sosialisme-en-die-anc/ enhttp://www.litnet.co.za/politieke-aspoestertjies/)
Hy verwys na “… jong swart sosiaal-demokrate in die ANC … Kapitalisme/neoliberalisme … wit liberale ... kapitalistiese verhoudings … wit monopoliekapitaal …” ensovoorts, sonder om dié begrippe in die konteks waarbinne hy dit gebruik, te motiveer.
Cyril Ramaphosa is bv “…deur wit monopoliekapitaal ingesluk …” en ’n “ neoliberal ”. In ’n ander paragraaf is Ramaphosa weer ’n “… skatryk sosiaal-demokraat …”
Verder het “… die DA se liberale ’n problematiese verhouding met ras ...” terwyl sy wit ondersteuners “konserwatief” is.
Dit alles is nogal ’n mondvol, om die minste daarvan te sê. En dan sluit Lloyd sy jongste rubriek af met die volgende blink idee: “Dus: hoe maak ons sosialisme ’n werklikheid? Wat ons nodig het, is kapitaal en goedopgeleide staatsamptenare, dan kan sosialisme werk.”
Netso, sê hy. Sorg vir genoeg kapitaal en knap staatsamptenare en sosialisme werk. Nou wonder ek net, hoekom het die magtige USSR en al die Oosblok-lande van destyds en China nóóit agtergekom dat dit só eenvoudig is om sosialisme te laat werk nie?
Nog ’n ding: Waar gaan die kapitaal vandaan kom? Sosialisme = geen insentief = geen wins = geen belasting.
Of hoe?
Dirk Rigter
The post Jason Lloyd se sosialistiese utopie appeared first on LitNet.