Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Die storie kies jou: 'n Gesprek oor Kunste Onbeperk se volgende Teksmark

$
0
0

Sommige mense meen teater is in ’n krisis en vir dié mense is daar nie genoeg vernuwing in die teater-industrie nie. Te veel herhalings van oeroue stukke sien die lig, terwyl daar min debuutwerke op die planke gebring word. Vir diegene wat egter die teaterbedryf fyn dophou, sal dit opmerklik wees hoeveel nuwe werk daar eintlik geskep word en dit deur ’n variasie van nuwe stemme. En terwyl daar plek is vir die konvensionele stukke, sien ons in die bedryf hoe konvensionele (ou) stukke saam met nuwe stukke ’n volronde teaterervaring bied, veral op feeste.

Daar is egter altyd ruimte vir nuwe tekste om ontwikkel te word en Kunste Onbeperk skep ’n platform waar dit kan gebeur.

Die Kunste Onbeperk-projek, Teksmark, word vanjaar vir die tweede keer aangebied. Dit gee aan skrywers en teatermakers  ̶  opkomend of gevestig  ̶  die geleentheid om hul werk aan ’n paneel van kenners voor te lê. Daarna word ’n paar tekste gekies om vir verdere ontwikkeling.

Die teks wat in 2016 gekies is om verder ontwikkel te word deur die hulp van NATi (Nasionale Afrikaanse Teaterinstituut) en die Baxter-teater, is Amee Lekas se Die dans van die Watermeid. Lekas het in 2014 gegradueer aan die universiteit van Stellenbosch se drama-department en woon tans in Willowmore.

Die regie vir Die dans van die Watermeid gaan gedoen word deur Jason Jacobs. Jacobs is vanjaar deur Kunste Onbeperk vereer as ’n opwindende nuwe jong stem in die teaterbedryf. Hy het ook vanjaar drie stukke op die planke by die KKNK gehad, wat myns insiens jong teatermakers aanmoedig om werk te skep en nie bang te wees om dit in hul eie stem te doen nie.

Mercy Kannemeyer het met Amee Lekas en Hugo Theart (uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk) oor Teksmark gesels.

Hugo Theart

Waar het die idee vir Teksmark vandaan gekom?

Ons wou ’n mark vir tekste skep waar skrywers die geleentheid kry om hul idees en werk persoonlik aan mense voor te lê. Die persoonlike aanslag is belangrik om aan mense jou idee te verkoop. Daar was in die verlede ’n klomp kompetisies, en Teksmark is nie ’n kompetisie nie. Jy kry die geleentheid om jou idee aan mense in die industrie voor te lê en sodoende ook die mense wat teater befonds te ontmoet.

Die gedagte agter Teksmark is om vervaardigers, teaters en feeste bymekaar te kry en die hoop is dat hulle kan saamwerk om ’n teks en ’n produksie te ontwikkel.

Amee Lekas

Wat het jou aangemoedig om vir Teksmark in te skryf?

Vir my het dit op daardie stadium gevoel soos ’n laaste poging om in die industrie in te kom en om my voet in die deur te kry. Ek het nie besef dat ek sou skryf nie en ek het daarin bietjie meer vryheid gevind as om te speel. Ek het ook gehou daarvan dat jy net jou idee kon instuur, dit was nie nodig vir ’n volledige teks nie. Daar is ’n tipe vryheid daarin. Die moontlikheid van ’n leerproses het my ook aangemoedig. Ek het goeie mentorskap ontvang en kon regtig leer uit die ervaring.

Wat is jou advies aan opkomende skrywers?

Ek sou sê wees jouself. Erken jou agtergrond en skryf stories wat na aan jou hart lê. Jy moet absolute geloof hê in wat jy skryf en waaroor jy wil praat. Dan sal die gehoor jou glo. ’n Mens kan so maklik vergeet waarvandaan jy kom en waarvandaan ek kom, het my verlossing gebring.

Waaroor gaan Die dans van die Watermeid?

Die dans van die Watermeid gaan oor verkragting. Ek het ’n unieke manier gesoek om daaroor te praat. Ek het dit steurend gevind hoe algemeen verkragting geraak het, veral hier in die dorpie waar ek vandaan kom. Die dorpie is so rustig en voel amper heilig, maar eintlik is verkragting een van ons grootste euwels. En die feit dat ons so gemaklik oor verkragting praat, was my grootste probleem. Dit was amper ’n normale gesprek en iets soos “hoe gaan dit met jou”. Ek wou daardie verskynsel onder die loep neem. Ek was bekommerd oor hoe gemaklik ons geraak het met die nuus van verkragting en ek wil hê mense moet die erns van die saak sien. Ek wou dit op ’n manier vertel wat eie aan my dorp is – ek meng die bygelowe met realiteit. Die watermeid is half mens, half dier en dalk sal dié mitiese figuur ons red.

Hoe lank het jy met die idee vir Die dans van die Watermeid rondgeloop?

Toe ek gehoor het van Teksmark, het ek geweet ek moet iets skryf. Die idee en tema is iets waaroor ek sal aanhou praat, tot iemand my hoor. Ek was desperaat en bietjie gedruk om my voet in die industrie te kry. En toe het die watermeid my gered en ek glo met enige storie kies jy nie die storie nie, die storie kies jou.

Het jy altyd gedink jy sou vir die teater skryf?

Nee, ek het gedog ek sou ’n beroemde aktrise wees! Ek het nooit gedink my werk is goed genoeg nie, maar nou geniet ek dit om met tekste te worstel. Dis ’n wonderlike voorreg om vir die teater te kan skryf en ek is dankbaar, want ek voel ek het my plekkie in die industrie gevind.

Wat dink jy is nodig vir die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse teaterbedryf?

Dis nodig dat meer vroue se stemme gehoor word, ons is stadig maar seker besig om in daardie rigting te beweeg. Ons kort ook verskillende soorte stemme, met verskillende ritmes, verskillende maniere van praat en variante van Afrikaans. Ons sal daar kom. Daar is soveel van Afrikaans wat nog nie ontdek is nie – iets soos Willowmore se plattelandse manier van praat. Daar kort nog meer tekste in daardie stem. Daar is nie net een manier van Afrikaans praat of een manier van ’n storie vertel nie.

In Suid-Afrika moet ons ook nooit ophou om unieke maniere te vind om sosiale kwessies aan te pak nie. Teater is vir mense ’n manier om genesing te vind. Mense kom teater toe om te ontvang en hulle soek nuwe antwoorde. Teater moet oplossings bied vir dit waarmee ons land sukkel. Ons is in gesprek met mekaar – die karakters met die gehoor.

Meer inligting oor Teksmark kan gevind word by http://kunste.org.za/teksmark/, asook by http://kunste.org.za/kunste-onbeperk-bied-tweede-teksmark-aan/.

The post Die storie kies jou: 'n Gesprek oor Kunste Onbeperk se volgende Teksmark appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>