Om te skryf
Uitgewer: Van Schaik
ISBN: 9780627029875
Om te lees is ’n subjektiewe ervaring. So ook is dit om te skryf. LitNet het twee menings van die nuwe en bygewerkte Om te skryf gevra. Hier is Marlies Haupt s’n.
Elke aspirantskrywer het al gehoor: “Lees, lees, lees. En lees dan nog meer.” Daar is nie ’n beter manier om te leer skryf as by mense wat reeds weet hoe nie. Juis daarom bied Om te skryf die ideale wegspringplek vir aspirantskrywers wat wil leer skryf deur oor kenners se skouers te loer.
Die eerste hersiene uitgawe van Om te skryf (Mei 2017) het pas uit Van Schaik Uitgewers se stal verskyn en sluit volgens die samestellers nou meer relevante Suid-Afrikaanse tekste in. Dié gids is geskoei op die klassieke werk Writing prose deur Thomas S Kane en Leonard J Peters.
In Om te skryf is voorbeelde van goeie skryfkuns in verskillende style deur bekende plaaslike sowel as oorsese skrywers, joernaliste en akademici opgeneem. Die idee is dat die skryfstukke in Om te skryf jou nie net lei nie, maar inspireer. Terwyl jy ’n gesoute skrywer se werk lees, sien jy hoe om op ’n unieke en ander wyse waar te neem, maar ook hoe ’n kenner uitdrukking gee aan dit wat hy of sy sien, hoor, ruik, voel en proe. Die gids slaag dus in hierdie primêre doel: dit bied die aspirantskrywer ’n skatkis vol goedgeskrewe tekste deur ervare skrywers by wie hulle kan leer.
Die gids bestaan uit tien hoofstukke met verskillende temas en fokusse en bevat ook ’n woordelys agter in. Laasgenoemde is nuttig omdat spesifieke terme waarvan nie almal die betekenis sal ken of onthou nie, ingespan word in die vraag- en besprekingsgedeelte wat ná elke teks volg. Die vrae moedig die aspirantskrywer aan om na te dink oor die leser en doelwit van elke teks, die organisering van die woorde en sinne, asook die woordkeuses in die teks.
Hierdie “begriptoetse” aan die einde van die tekste sal egter nie in almal se persoonlike smaak val nie. Antwoorde op die vrae word nie voorsien nie en dalk is daar ’n vraag waaroor jy as aspirantskrywer werklik gaan kopkrap. Hoe nou gemaak? Moet egter nie die waardevolle inleiding voor elke hoofstuk onderskat nie. Hierin vervat is ’n oorsig, deur kenners geskryf, oor die spesifieke skryftema, styl en kenmerke wat in die onderskeie tekste van elke hoofstuk aan bod kom. Jy gaan hier reeds baie oor die skryfkuns leer.
Hoofstuk 1 skop af met “Skryf oor jouself”. En leser (of aspirantskrywer), ek sal maklik die hele gids op grond van EB White se “Nog ’n keer na die meer” in hierdie hoofstuk aanbeveel. Ek het onlangs ’n soortgelyke ervaring as White gehad en het dae lank gewonder hoe ek my ervaring sou kon verwoord. Nou weet ek hoe. (Die feit dat daar nog baie jare se skryfoefening vir my voorlê voor ek dit so meesterlik soos White sal kan doen, is nie nou ter sake nie.)
In hoofstuk 2, “Skryf oor ander: Die karakterskets”, beeld Hanlie Retief die speurder Mike Bolhuis in “Oorgehaal soos ’n .38 Special” so goed uit dat dit vir my gevoel het asof hy in my eie sitkamer sit. En danksy Dana Snyman se “Die Hel se poort is oop” (hoofstuk 3: “Skryf oor plekke en dinge: Beskrywing”), bevind jy jou in die beginjare van die Hel; skrik jy saam met die mense wanneer hulle vir die eerste keer mense van die “buitewêreld” teëkom. Nataniël se verhaal “Sneeu” (hoofstuk 4, “Skryf oor gebeure: Vertelling”) is op die koop toe nog ’n rede om Om te skryf aan te skaf. Ek gaan egter nie die storie verklap nie.
Thabo Mbeki se toespraak “Ek is ’n Afrikaan” lui gepas hoofstuk 5, “Skryf oor idees en oortuigings: Kommentaar” in. Sportliefhebbers gaan gek wees oor Pieter Redelinghuys se “Sportterme 101” in hoofstuk 6: “Skryf om te definieer” en voortaan lugtig vir Ingelse sportterme wees. In hoofstuk 7 loer jy oor die skouers van ervare skrywers soos Hannelie Booyens, Koos Kombuis en Johann Maarman, wat jou leer hoe om te skryf om te oorreed.
Die pure lekkerte van hierdie skryfgids lê in die breë seleksie van tekste en style wat daarin opgeneem is. So leer Anastasia de Vries jou in hoofstuk 8 hoe om ’n storie te begin én te eindig. Jy sal dalk dink dis maklik om hoofstuk 9, “Skryf oor kuns en media”, oor te slaan. Maar om krities oor kuns te skryf, leer jy aan die hand van Danie Marais, Koos Bekker en Flannery O’Connor, is ook om anders te kyk.
Terwyl ons land in ’n droogte gedompel is, word Toast Coetzer se “Dit reën” in hoofstuk 10, “Styl: Van nader bekyk” soos ’n versugting wat op papier lewendig word.
Sou ek die gids aanbeveel? Vir seker. Is dit genoeg om jou te leer skryf? Nee. Jy sal baie meer en wyer moet lees en verskillende skryfgidse moet raadpleeg. Om te skryf moet egter ’n plekkie op elke aspirantskrywer se rak hê, want waar gaan jy in een boek geleentheid kry om oor meer as 100 ervare skrywers se skouers te loer?
Lees ook:
Om te skryf: Veral in Afrikaans! Veral in Afrikaans! Herschelle Benjamin "Die boek dek verskeie areas van skryf oor jouself tot skryf oor die wêreld – kuns, media, om te definieer, om te oorreed en om te vertel. Met wye aspekte oor taal, kultuur en ervarings maak hierdie boek dit ook meer as lekker om nét as prosa te lees vir vermaak." |
The post Om te skryf: Leer terwyl jy oor kenners se skouers loer appeared first on LitNet.