Om te skryf
Uitgewer: Van Schaik
ISBN: 9780627029875
Om te lees is ’n subjektiewe ervaring. So ook is dit om te skryf. LitNet het twee menings van die nuwe en bygewerkte Om te skryf gevra. Hier is Herschelle Benjamin s’n.
’n Mens sou dink dat na matriek, die einde van jou verpligte skoolloopbaan, almal in staat sou wees om te kan skryf. Van briewe, dagboekinskrywings, transaksionele briewe, e-posse tot die skryf van ’n opstel oor ’n onbekende swart-en-wit prentjie wat so gedurig in ’n Afrikaansvraestel voorgekom het.
Op skool word die tegnieke van skryf en liefde vir boeke van ’n jong ouderdom ingegraveer. Maar met die toenemende kompetisie van tegnologie in ons alledaagse lewens is dit byna ’n verlore stryd vir stowwerige boeke, blou Bic-penne en stories skryf om te vertel om ’n vuur! Dit is waar ek die klem op byna plaas omdat, selfs met al die voordele wat saam met die internet en tegnologie gekom het, die ou tradisionele vorm van literatuur en die skep van literatuur nog steeds ’n belangrike plek in almal se lewens het. Ons almal weet wat ’n gedig van Breyten Breytenbach, Bibi Slippers en Ronelda Kamfer aan die hartsnare kan doen. Of ’n boek van Marlene van Niekerk. ’n Drama deur Willem Anker. Selfs die liedjies van Koos Kombuis en Spoegwolf. Moenie eers praat van die belangrikheid dat ’n Afrikaanse televisiereeks soos Die Boekklub die sukses geniet wat dit doen nie. Dis nie die vorm of medium wat ter sprake is nie, dis die woord "skryf" wat nog steeds wêrelde kan oopmaak.
Ek het tot vandag toe nog ’n paar briewe waarin ’n ou geliefde my uitskel omdat ek haar hart gebreek het. Sulke goed is tydloos! Boeke wat geskryf is deur die meesters van Afrikaanse literatuur, soos Opperman en Van Wyk Louw, staan my kamer vol en as daar ooit ’n brand sou ontstaan, is hulle beslis die eerste om uit te kry!
Ek sal myself nie as ’n boekwurm voordoen nie, maar ’n digbundel en ’n koppie tee is soms die beste medisyne na ’n lang dag. Maar dis net ek. En uitgewers neem alles in ag wanneer hulle nuwe boeke publiseer. Hulle weet daar is ’n klein mark van mense wat wel nog ’n boek sal gaan koop en lees en dat daar ook ’n groter jonger mark is wat eerder ’n fliek sal gaan kyk of artikels/blogs/webtuistes sal lees eerder as ’n gedrukte boek. Sommige glo selfs dat hulle genoeg “lees” op Facebook en genoeg “skryf” op WhatsApp! In hierdie geval het Van Schaik-uitgewers, volgens my, ook geweet dat daar ’n behoefte aan meer skrywers, digters en verdere literatuur-akademici in Afrikaans is. En ook dat die standaard en gehalte van skryf nog steeds belangrik móét wees in die uitgewerswese. Dus ’n boek soos Om te skryf.
’n Groepie ambagsmanne besluit om ’n boek te skryf met die titel Om te skryf. Op die oog af kan dit gesien word as ’n belediging vir my wat al jare klaar is met skool en myself ook voorgee as ’n jong aspirantskrywer, maar dan onthou ek die Engelse gesegde: “Don’t judge a book by its cover”. In hierdie geval ... die titel! En my ma sê altyd niemand is te oud of te slim om nog te kan leer nie.
Hierdie groepie ambagsmanne wat Bun Booyens, Hanlie Retief, Johann de Lange, Kay Karriem, Amanda de Lange, Dana Snyman en meer insluit, kom bymekaar om ’n boek aanmekaar te sit wat ons die geleentheid gee om mooi te kyk na die tegnieke wat hulle benut en in hulle eie werk toepas. Jy sien sowaar vakmanne aan die timmer met elke uittreksel in die onderskeie hoofstukke. Die hoofstukke begin logies. Elke uittreksel/skryfstuk het ’n inleidende paragraaf wat meer agtergrond gee oor die skrywer of die skryfstuk onder bespreking. Na die uittreksels is daar vrae vir die leser oor die doelwitte, organisering, sinne en woordkeuse in die voorafgaande leesstuk. Dit word opgevolg met die belangrikste fasette vir die leser om daarmee sy/haar eie skryfwerk te verbeter deur óf aan voorstelle vir hul eie skryfwerk te dink óf om die tegniek van skryf wat toegepas is in die leesstuk te gebruik om hul eie styl te verbeter. Tegnies kan dit gesien word as ’n skryfhandboek in ’n skryfklas of in ’n leesgroep. Maar die gehalte van die boek is van so aard dat selfs ek die boek kon geniet en daaruit kon leer. Ek is seker dit sal so wees vir enige Jan Rap en sy maat.
Die eerste hoofstuk is “Skryf oor jouself” met uitsonderlike uittreksels van Caryn-Ann Nel met “Liewe ekke, op 16 jaar” wat geskryf is as ’n brief aan haar 16-jarige self, asook Jeanne Goosen se “Brief” wat ’n uitmuntende stuk prosa is waarin sy skryf oor haarself deur die oë van haar ma. Die hoofstuk gaan verder om die leser in te lig oor die verskillende maniere om oor jouself te kan skryf soos bv ’n woordskets/portretskets. Die volgende hoofstuk is “Skryf oor ander: die karakterskets” met ’n suksesvolle vertaalde weergawe van Theophrastus, Griekse kommunikasiekundige en filosoof, se “Die inhalige vent” en “Die papbroek”. Die boek dek verskeie areas van skryf oor jouself, tot skryf oor die wêreld – kuns, media, om te definieer, om te oorreed en om te vertel. Met aspekte oor taal, kultuur en ervarings wat gedek word, is hierdie boek ook meer as lekker om nét as prosa vir vermaak te lees. Dit is beslis waarin ek verval het. Maar aan die einde van die boek word jy herinner, met ’n hoofstuk oor die metodiek en ’n handige woordelys waarin sekere terme verduidelik word, dat hierdie ’n lees-en-leer-ervaring van die hoogste gehalte is. Met die lees van die uittreksels soos die karakterskets van Benito Mussolini, ’n ou, fascistiese leier van Italië, geskryf deur Denis Mack Smith en vertaal deur Marnus Hattingh, asook ’n uittreksel uit Chris Barnard se Christiaan Barnard, Een Lewe, 1969, gekies deur Bun Booyens, is die leser ’n bedorwe brokkie voor ’n sjokoladerak in ’n supermark. Al verskil is dat in hierdie boek mag hy/sy almal kry (of altans almal eet).
Die groepie ambagsmanne oa Adriaan Basson, Bertie du Plessis, Erika de Beer, Francois Griebenouw, Koos Bekker en Yvonne Beyers wou iets skep oor hoe om in Afrikaans te skryf op die grondslag van Thomas S Kane en Leonard J Peters se klassieke Writing Prose: Techniques and Purposes. Sommige van die beste tekste is vertaal terwyl ander vervang is deur Afrikaanse voorbeelde met dieselfde strekking. Hier en daar het die skrywers die temas vars en by media-tegnologie gehou. Die groep skrywers het hulself sowaar goed van hul taak gekwyt en het my opnuut laat besef hoekom my liefde vir skryf en skep verder strek as enigiets anders in my eie vakmanskap-sak! Ek het met tye gehuil, gelag en die lang lys emosies geniet soos ’n kind vir die eerste keer op ’n draaiwiel of tydens ’n besoek aan Ratanga Junction! Meer belangrik, dit is ’n riem onder die hart dat daar nog sulke boeke geskryf word en nooit hoop opgegee word op ’n jonger geslag wat ook wil skryf nie. Met die hulp van hierdie boek sal hulle definitief besef dat hulle kan skryf en hoe om nog beter te raak daarin. Want ons het beslis nog skrywers, digters, skeppers en denkers nodig wat strek oor ’n wye ouderdomsgroepe, kulture, rasse, politieke oortuigings en stand van Afrikaans-wees. Veral in Afrikaans! Ja-nee ... veral in Afrikaans!
Lees ook:
Om te skryf: Leer terwyl jy oor kenners se skouers loer Marlies Haupt "In Om te skryf is voorbeelde van goeie skryfkuns in verskillende style deur bekende plaaslike sowel as oorsese skrywers, joernaliste en akademici opgeneem. Die idee is dat die skryfstukke in Om te skryf jou nie net lei nie, maar inspireer." |
The post Om te skryf: Veral in Afrikaans! Veral in Afrikaans! appeared first on LitNet.