Ek was in standerd 5 (1976) op Laerskool Dr GJ Joubert in die Strand toe ek bewus geword het van die landwye studenteprotes teen Afrikaans in skole. Ek was in my kinderlikheid vreesbevange om Hoërskool Gordon in Somerset-Wes toe te gaan (1978), ná wat ek gehoor het: dat die traangas en sjambokke die leerlinge huilend huis toe laat hardloop het. Na 1976 was daar elke jaar ’n opvlam van protes op skole in Junie.
Ons het so ’n groen woordeboek gehad op skool waarin die k-woord was. Dié woordeboek was daardie 1978/80 die sneller gewees vir leerderprotes op skool. Die polisie het traanrook geskiet en daar was vir weke nie klas nie. Daar was baie studenteleiers in die Hottentots-Holland wat seer gekry het, sommige fisies, ander sielkundig. Baie se lewe het nie uitgedraai wat hulle en selfs hul ouers sou voorsien het nie.
Maar soos ’n aronskelk (varklelie) uit modder groei, was daar ook die soet en die suur. Tyd heel wonde, al bly die letsels. En oor dekades kom ’n tyd vir baie van die rolspelers vir afsluiting. Haat kon vir sommige nie vir lank gedra word nie. En vergifnis is en was soms net ’n tree of twee ver. Ek skryf hierdie storie vir Jeugmaand 2017.
Sweet pêrel op haar heuningbruin gelaat. Sy moes maar eerder ’n donkerbril saamgebring het, dink sy - vir die son, maar ook vir die fyn stof wat die westewindjie so in wolkies oor die grafte oppiets. Die twee van hulle is alleen hier tussen die honderde grondhope en enkele grafte met hul marmerstene.
Die man sit nou half vooroor. Sy rolstoel is langs ’n eenvoudige graf staan gemaak. Die vygies op die graf het seker nie soveel blommetjies soos sy baie gedagtes waardeur hyself seker nou strompel nie. Leonara kyk die man in die rolstoel peinsend aan. Sy oorgroot vlootbloubaadjie hang oor benerige skouers. In sy hande hou hy ’n blomruiker met krom vingers vas. Leonora staan so ’n entjie terug. Die westewindjie bring ’n effense byt in die lug en dra ook die klanke van die Broadlandspark-buurt van ver oor die vlakte tot hier. Sy is spyt dat haar pa Lionel vandag nie hier kan wees nie. Nie net om te sien nie, maar meer om te kon luister.
Sy sou hom kon vertel van die Nuwe Suid-Afrika. Dat die Kanaan, soos hy kleintyd aan haar vertel het, uiteindelik hier is. Dat die kinders van die Hottentots-Holland en ook die hele land nou baie meer geleenthede het om iets van hul lewe te kan maak. Hy sou só trots gewees het, dink sy. ’n Glimlag speel om haar mondhoeke. Maar, Ma Zetta het hom een oggend in sy rolstoel dood aangetref. Dit was vyftien jaar gelede. Twee dae voor President Nelson Mandela op die Ellispark-stadion, saam met die seëvierende Springbokspan, die William Webb Ellis-rugbytrofee triomfantlik omhoog sou hou, het sy uitgeteerde liggaam die gees gegee. Toe die rugbywêreld tot barstens toe van trots saam skree, het Lionel Vermeulen al stokstyf in AVBOB se yskas gelê. So tasbaar soos haar pa se gees in die euforie van al daardie feesvieringe was, so sterk voel sy dit vandag weer.
Dit was haar Ouma Nellie, onthou sy, wat die Vermeulen-familie in hul smart getroos het met haar soms wyse woorde: "Lionel is nou gesond. Hy ly nie meer nie. So laat ons wat agterbly nou liewerste bekommerd wees oor wat ons elkeen te doen staan in die nuwe land met sy opportunities. Lionel het nie verniet gesterwe nie, so laat julle ook nie verniet lewe nie."
Sedert haar geboorte was haar pa al in sy rolstoel. Sy het hom nie anders geken nie. Toe was haar wêreld altyd rondom die groot wiele van sy rolstoel of aan sy lewelose voete wat onder die kombers uitgesteek het. Saans as hy bed toe gaan, het sy die gebreide wolkouse met die twee tossels oor sy voete getrek. Daarna het sy haar onder sy armholtes in genestel sodat hy vir haar slaaptydstories kon lees. Sy het toe nooit vrae gevra oor waarom haar pa in ’n rolstoel sit nie, net later gewonder oor hoekom Ouma dan gesê het: "Lionel het nie verniet gesterwe nie."
Haar ma het later so bietjie-bietjies vertel; dat haar pa verlam is in ’n motorongeluk in sy matriekjaar. Dat ’n Casper-kar hom raak gery het. Dit was al. Op hoërskool het sy die storie maar in druppel-hoofstukke by haar pa se enigste suster, haar gunsteling-tante, Auntie Merle, gehoor. Dis nou as haar tannie se galoppie-Toyota Corona oor naweke dit uit Stellenbosch tot in die Strand kon maak.
Dit was eers in haar matriekjaar dat sy die volle storie gehoor het: Oor 1976, oor die landwye opstand van leerlinge teen Afrikaans. Hoe Kaapse leerlinge die voorbeeld van hul Transvaalse skoolmaats gevolg het en klasse ontwrig het. Hoe die skoolkinders op Somerset-Wes die woordeboeke, wat die gewraakte k-woord in gehad het, opgeskeur of uitgebrand het of op die die skool se asbesdakke gegooi het.
Na die laaste pynlike paragrawe in die slothoofstuk het sy in haar tante se kombuis voor die Aga-stoof geluister: "Jou pa Lionel was volgens die regime se mense een van die hoof-opstokers, een van die voorbokke.” Die polisie het haar pa ’n "moelikheidmaker" genoem.
"Hoe weet Auntie Merle dit alles, so presies?" het sy toe gevra.
Waarop sy antwoord: "Want ek was dáár," met so ’n gepynigde uitdrukking in haar oë. "Ek en nog skoolmaats het oor die N2 huis toe gevlug toe die polisie by die fence van die Somerset-Wes begraafplaas kom park het. Ons het in die donker sementtonnel onder die N2 weggekruip. Van daar af kon ons die donshaelskote hoor. Traanrook het oor die skool gehang.
"Die paaie na die dorp is toegemaak - oor die klipgooiery en polisiekarre wat so op en af gejaag het. Twee skoolseuns het tjank-tjank by ons kom wegkruip en vertel Lionel lê daar in Garden Village se stofstraat. Dat die mapoozas (polisie) se Casper hom getrap het.
"Jou pa het glo reg voor ’n polisiekar wat ’n groep skoolkinders gejaag het, gaan staan," het haar tante gesê. "Hy is raakgery. Sy rug het baie erg seergekry.
"Lionel het nie weer opgestaan nie. Die enigste en laaste keer wat hy met alle mag wou opstaan was toe jou ma, daar op Gustrouw-plaas, met jou geboorte gesukkel het."
Dis reg, sy onthou. Haar pa kon nie weer opstaan nie. Hy het sy dae by die huis deurgebring. Sy disability allowance en Ma Zetta se haarkapster-salaris het die pot aan die kook gehou.
"Jou pa was trots op jou," het haar ma altyd met ’n sagte, maar hartseer glimlag beklemtoon. Sy was en is ook trots op haar pa. Hy was ’n held ...
Haar pa sal hom seker nou doodlag vir haar vet boude, maar dis sý skuld omdat hy haar altyd met wholenut Cadbury-slabs gespoil het. Maar dié soetgoed het haar ook deur nagte se opsit met haar studies gedra. Dit was nie net haar pa se fisieke lyding wat haar gemotiveer het om ’n verpleegster-uniform te dra nie. Dit was ook sy gesukkel met al die bagasie van die verlede. Dit het hom ’n somber mens gemaak, altyd in homself gekeer. Wanneer hy dronk was, was hy ’n moeilike entjie mens, maar andersins was hy ’n lieflike pa, ’n goeie man vir haar ma.
Nou wil sy wat Leonora is ook mense help om nie net hul waardigheid te behou nie, maar ook om die lelike dinge in hul lewe te verwerk, te begrawe. Om te vergewe of vergifnis te vra, meen sy, is om gesond te word en weer te lewe.
Leonora werk al nege jaar by die tehuis vir bejaardes. Sy werk in die saal waar die verswakte pasiënte lê, diegene wat in die skemer van hul lewe sommer baie liefde en ekstra bystand nodig het. Om darem waardig aan die lewe totsiens te kan sê. Sy geniet hierdie werk sommer baie. Soms sit sy ure by haar pasiënte, al is dit net om na al hul vertellings te luister.
Dis was veral die 79-jarige wewenaar, Gerhard Viljoen, wat sowat tien jaar gelede nog ’n sekuriteitsmaatskappy op Somerset-Wes bedryf het, se stories wat haar vasgenael gehou het. Parkinson’s het hom nou in sy stofpad beet. Hy verseg om deur iemand anders as Leonora gehelp te word. Wanneer sy die dag met verlof is, is hy soos ’n steeks donkie, sweer haar kollegas. Etenstye voer Leonora hom met die grootste geduld. Hy is lief om voor die venster in sy ruim kamer te sit. Regop staan, kan hy nie meer, al wil hy so graag. Oor die lewe het hulle twee die afgelope vier jaar al tot in die diepste vesel gesels. Ook oor, soos hy dit stel, "om wáárlik totsiens te kan sê."
Vanoggend was hy soos ’n kind, angstig gereed om na hierdie windverwaaide begraafplaas te kom. Die groot kleurvolle bos blomme moes sy al gister vir hom by die Koöp-sentrum in die Strand gaan afhaal het.
’n Vrouestem ruk haar uit die warmte van haar gedagtes. Sy kyk glimlaggend na die effens grys vrou wat na hulle toe aangestap kom. Voor haar bors hou sy ’n bos varklelies.
"Hallo Ma!" roep Leonora. "Kom laat ek ma voorstel aan Oom Gerhard. Ma weet, van wie ek Ma so baie vertel het. Hy het blomme vir pa se graf gebring!"
Die twee vrouens wag, elk met ’n meelewende glimlag die man in. Hy het intussen met ’n groot gesweet sy rolstoel self omgedraai en sukkel-sukkel nou stadig nader. Sy grys hare hang yl oor sy bleek gesig wat nou al ’n lagie stof op het. Met sy knopperige hande probeer hy met groot moeite die rolstoel in die nou gangetjie tussen die grafte en deur die stofwolk deurstuur.
Hy byt half op sy kunsgebit.
Dis amper so moeilik, dink hy met ’n pyngedagte, soos toe hy destyds met die Casper in daardie stofstraat langs die begraafplaas agter die arme skoolkinders moes aanjaag ...
The post 76 ruikers: ’n soort storie vir Jeugmaand 2017 appeared first on LitNet.