Wat is die kerntaak van ’n onderwyser? Is dit om die kinders toe te rus met die nodige kennis, vaardighede en houdings om hulle voor te berei vir die uitdagings waarmee hulle in latere jare gekonfronteer sal word? ’n Onlangse studie het getoon dat daar deesdae soveel druk op onderwysers is om sélf te presteer en aan sekere verwagtinge te voldoen dat daar dalk te min energie oorbly om op die leerders in hul klas te fokus.
Gesprek van Estelle Kruger met Milton van Wyk oor sy artikel saam met Lesley le Grange:
Performatiwiteit as verskynsel in die onderwys
Wat was jou ervaring in die onderwysprofessie voordat jy die akademie betree het?
Voordat ek my MEd- en D-studies begin het, en tans op ’n deeltydse basis navorsing by die universiteit doen, het ek nie net die verwikkelings en veranderings wat die onderwys ondergaan het en die gepaardgaande veranderings in die rol van die onderwyser waargeneem nie, maar ook eerstehands ervaar. My identiteit as navorser gee my nuwe filosofiese lense op die onderwys. Alhoewel baie van die verantwoordelikhede van die onderwyser nog steeds ooreenstem met die tradisionele kerntaak van die onderwyser – dit is om die kinders toe te rus met die nodige kennis, vaardighede en houdings om hulle voor te berei vir die uitdagings waarmee hulle in latere jare gekonfronteer sal word – het daar tog ’n subtiele verandering ingetree. Daar het ’n verskuiwing plaasgevind vanaf die opvoedende aard van onderwys na die performatiewe aard daarvan. Binne die performatiewe beleidsraamwerke is daar toenemend druk op onderwysers om te strewe na uitnemendheid. Onderwysers voel die eise van performatiwiteit aan hul professionele lywe. Hulle voel kwesbaar en uitgelewer aan die staat se beheer oor die onderwysprosesse en sy uitkomste. Hulle voel ook magteloos sonder dat hulle hulself deeglik kan verdedig of hul optredes kan verduidelik.
Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het hierdie navorsing van jou geïnspireer? Hoe het jy bewus geword van die “gruwels van performatiwiteit” (soos Ball1 dit noem) en die implikasies daarvan in die onderwys?
My belangstelling in hierdie studie spruit uit my geleefde ervarings van die onderwys. Ek het deur my onderwysloopbaan eerstehands bepaalde kritiese dilemmas ervaar. Van die dilemmas is dat die betekenis van onderwys radikaal verander het en dat dit uitsluitlik gemik is op prestasie, uitsette en effektiwiteit. In my daaglikse praktyk moes ek ’n ooreenkoms aangaan tussen die tipe onderwys waarin ek glo en die tipe onderwys wat in die praktyk van jou verwag word. Dit het beteken dat die teorie wat ek tydens my onderwysopleiding bestudeer het opsy geplaas moes word en dat ek akademiese uitnemendheid moes nastreef soos verwag deur die skoolstelsel binne ’n kultuur van performatiwiteit. Ek het beleef hoedat hierdie “gruwels van performatiwiteit” wat my oortuigings, waardes en onderrigpraktyke uitgedaag het, die basis vorm van ’n persoonlike stryd. Ek het gevoel dat ek net ter wille van produktiwiteit of uitsette waardeer word. My PhD het hieruit gespruit.
Hoe sou jy die konsep “performatiwiteit” in 25 woorde verduidelik aan belangstellende skoolhoofde om hulle meer betrokke te kry by die probleem?
Performatiwiteit kan omskryf word as ’n benadering in die onderwys wat klem lê op prestasie/uitsette. Daarom die gedurige regulering van onderwysers se werk in die vorm van dophouding (surveillance).
Veronderstel jy is ’n skoolhoof ... Hoe sal jy performatiwiteit en die negatiewe effekte daarvan bestuur in die werksituasie?
Soos in die geval van onderwysers, is die skoolhoof ook ‘vasgevang’ binne ’n kultuur van performatiwiteit. Dit gee aanleiding tot die sogenaamde “skoenlapper-onder-’n-speld”-beeld. In plaas van die verwagting dat hulle leidende katalisators van die hedendaagse inligtingsgemeenskap behoort te wees, is skoolhoofde dus ook slagoffers sowel as oortreders in die performatiewe werksomgewing. Skoolhoofde bevind hulle in ’n posisie waar hulle druk op onderwysers moet uitoefen om te presteer. Die skoolhoof sal beslis besonderse takt aan die dag moet lê om performatiwiteit en die negatiewe effekte daarvan in die werksituasie te kan bestuur. Hy/sy sal as ’n veranderingsagent moet optree deur ’n ondersteunende skoolklimaat, wat gekenmerk moet word deur medemenslikheid en warm verhoudings, te vestig. Daardeur mag hy/sy verseker dat alle personeellede deurlopend gemotiveerd sal wees om hul verantwoordelikhede na te kom.
Hoe dink jy kan die positiewe doelwitte van performatiwiteit gebalanseer word met die negatiewe uitkomste in die werklikheid?
Dit sal waarskynlik ’n lang uitgerekte en moeilike proses wees om van die terroristiese oorheersing van performatiwiteit in die onderwys ontslae te raak. Nietemin mag kreatiwiteit ’n sinvolle oplossing wees om die positiewe doelwitte van performatiwiteit met die negatiewe uitkomste in die werklikheid te balanseer. Ek dink die invoer van ’n agenda vir kreatiwiteit mag dalk ’n “teengif” verskaf vir performatiwiteit. Deur kreatiwiteit gelyk te laat loop met performatiwiteit, met ander woorde om vir onderwysers meer ruimte en vryheid te gee in die onderrig van die kurrikulum, sal beslis baie waardevol vir onderwysers wees. Maar hulle leerders sal (steeds) goeie resultate moet behaal!
Dit blyk uit julle artikel dat “onderwys gedefinieer word op grond van die bydrae wat dit in ekonomiese terme mag lewer”. Wat sou jou alternatief hiervoor wees?
Binne ’n performatiewe skoolkultuur word die kerndoel van die skool, naamlik om die potensiaal van die leerders te ontsluit, dikwels uit die oog verloor. In hierdie geval moet daar ’n kopskuif gemaak word: die onderwys in die skool behoort opvoedend te wees; dit is om die leerders volledig toe te rus vir die wêreld van die volwassene.
Wat is jou eie ervaring daarvan dat onderwysers deur die skoolbestuur “dopgehou” moet word? Hoe sou ’n skoolhoof eerder onderwysers kan motiveer om hulle eie gedrag volgens geïnternaliseerde sosiale norme te reguleer?
Binne ’n performatiewe skoolstelsel sal dit vir die skoolhoof nie ’n maklike taak wees om onderwysers te motiveer om hulle eie gedrag te reguleer nie. Ek reken dat skoolhoofde die meer suksesvolle onderwysers op die personeel kan vra om nie net onderpresterende onderwysers te mentor nie, maar ook hulle prestasie gedurig te moniteer.
Wat is volgens jou die voordele en nadele van moniteringsisteme wat toenemend beheer oor onderwysers se arbeidslewe verkry?
Enkele voordele mag die volgende insluit: Dit kan goeie onderwysers uitdaag om nuwe maniere te vind om nog beter prestasies te lewer. Ook kan dit onsuksesvolle onderwysers dwing om meer gefokusde, hoër kwaliteit onderrig te gee. Een van die nadele mag wees dat, omdat daar van onderwysers verwag word om meetbare uitsette/prestasies te lewer, hulle nie meer aangemoedig word om ’n rasionaal vir die praktyk te hê nie.
Dit blyk dat selfbeheer en -bestuur lei tot selfregulering waarin onderwysers self verantwoordelikheid aanvaar vir hulle prestasie. Is daar al heelwat skole in Suid-Afrika wat volgens hierdie beginsel werk?
Ek is nie seker hoeveel skole volgens hierdie beginsel werk nie. Immers (dink ek) is daar nie empiriese getuienis dat dit wel die geval in Suid-Afrika is nie. Uit die studie is dit duidelik dat die gedagte van selfregulering meer prominent raak in onderwysers se werk waarin onderwysers toenemend gedwing word om hulself en hulle werk te regverdig. Selfregulering beweeg dus onderwysers om tot selfbesinning oor te gaan.
In ’n ideale wêreld – hoe sou jy die gehalte van opvoeder-outonomie sien, hoe sou dit manifesteer op plaaslike vlak? Wie kan iets daaraan doen om by hierdie ideaal uit te kom? Kan beheer deur inligtingoordrag daartoe bydra?
’n Ideale wêreld waarin opvoeder-outonomie gedy, sal ’n onderwysstelsel wees soos dié van Finland wat gegrond is op gelykheid, buigsaamheid, kreatiwiteit, onderwysprofessionalisme en vertroue. Die Finse onderwysprofessie geniet ’n hoë graad van vryheid in kurrikulumbeplanning en onderwysers word dus nie beskou as tegnici van die staat wat die kurrikulum volgens streng voorskrifte moet uitvoer nie. Klaskamer-onderrig word beskou as ’n onafhanklike, hoë status professie wat die beste sekondêre skoolleerders trek. In die Finse samelewing het die onderwysprofessie nog altyd groot openbare respek en agting gehad. Ouers vertrou onderwysers as professionele persone wat weet wat die beste vir hulle kinders is.
Watter verrassings het jy gekry in hierdie navorsingsprojek?
Die navorsingsresultate van vorige studies in verband met die geleefde ervarings van laerskoolonderwysers binne ’n kultuur van performatiwiteit in die Suid-Afrikaanse konteks is minder goed gedokumenteer. Omdat daar tans relatief min studies plaaslik uitgevoer is wat ondersoek instel na die heersende performatiewe klimaat, blyk daar ’n belangrike leemte te wees. Hierdie empiriese studie maak dus ’n besonderse bydrae tot hierdie veld van ondersoek, want dit het gepoog om die leemte in ons bestaande kennis en begrip van performatiwiteit as verskynsel in die onderwys aan te spreek.
Soos reeds vermeld, spruit hierdie studie uit my belewenisse as ’n laerskoolonderwyser. Ten einde die navorsingsprojek doelgerig te laat verloop, is daar besluit om ’n fenomenologiese navorsingsbenadering te volg. Een van die rolle van ’n fenomenologiese navorser is om te streef om sy/haar eie ervarings tydens dataontleding “opsy te skuif” of “in hakies te plaas”. Ek het gevind dat met die studie was dit onmoontlik om myself van die studie te skei, want terwyl ek die navorser in hierdie studie is, bly ek ook ’n diensdoenende laerskoolonderwyser. Terwyl ek elke poging aangewend het om die impak van my belewenisse in die navorsingsproses te verminder, sou dit akademies oneerlik wees om te aanvaar dat hulle geen uitwerking sal hê nie. Daarom het ek besluit om die probleem van “om myself van die studie te skei” aan te gryp deur my denke en belewenisse gelyk met dié van die deelnemers te laat loop. Die gebruik van “beteueling” het my toegelaat om te konsentreer op my deelnemers terwyl dit my terselfdertyd daardie plek gegee het wat ek nodig het om my stem te laat hoor. Ek was beter in staat om die individuele ervaringe wat vertel is wat soortgelyk aan myne is, te hoor.
Wat het jy as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van jou bevindinge?
Ek het die studie geniet. Dit was grootliks ’n persoonlike reis, en ook ’n poging tot beter begrip van my ervarings binne die kultuur van performatiwiteit.
Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison?
Die volgende navorsingsprojek sal ’n fenomenologiese studie wees wat fokus op die geleefde ervarings van een of twee laerskoolonderwysers binne ’n kultuur van performatiwiteit.
1 Ball, S.J. 2003. The teacher’s soul and the terrors of performativity. Journal of Education Policy, 18(2):215–28.
The post Leerders se behoeftes versus die druk op onderwysers om self te presteer appeared first on LitNet.