Dertig jaar later, nadat 61 Suid-Afrikaners van wie die meeste Afrikaners was, in 1987 Dakar toe is om met die ANC in gesprek te tree, het die spook van onafgehandelde sake van drie dekades weer sy kop uitgesteek tydens ’n seminaar om die Dakar-besoek van destyds te herdenk.
’n Hewige bekgeveg het die afgelope naweek tydens die laaste gesprek van die seminaar losgebars toe Breyten Breytenbach ’n knuppel in die hoenderhok gegooi het. In sy laaste toespraak het hy skerp te velde getrek teen die huidige stand van sake in die land.
Hy is onder andere vanuit die voorsitterstoel ondersteun deur Theuns Eloff, een van die Dakariete wat destyds met die ANC in gesprek getree het en tans uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting is.
Dit is moeilik om na die naweek se Dakar-reünie wat op die Spier-landgoed buite Stellenbosch gehou is, ’n klinkklare gevolgtrekking te maak van die Dakar-beraad se gevolge en die daaropvolgende onderhandelings vir ’n demokratiese Suid-Afrika.
Vir sommige Dakariete soos Breyten Breytenbach en Theuns Eloff is die land se wiele vinnig besig om af te val as dinge so aangaan. Ander meen weer die prentjie is glad nie so donker nie.
Mense soos Hermann Giliomee, wat ’n geruime tyd al skepties is oor die uitkoms van Dakar, deel ook mense soos Breytenbach en Eloff se kommer oor veral taalregte en die vrese van minderhede wat voel hulle is nie welkom in die land nie.
Aan die ander kant van die spektrum is daar diegene soos André Odendaal, voormalige lektor van die Universiteit van Wes-Kaapland, en oud-regter Johann van der Westhuizen wat luidkeels beswaar gemaak het teen Breytenbach en Eloff se stellings. Hulle meen daar moet gefokus word op nie-rassigheid en ’n beter Suid-Afrika.
Die vonk in die kruitvat was toe Breytenbach en Eloff tydens die laaste besprekingsessie skerp te velde getrek het teen, onder andere, die afskaling van Afrikaans en hulle het gewys op die vrese van minderhede in die land.
Van der Westhuizen het dit bestempel as ’n totale aanslag uit die stoel terwyl van die ander Dakariete hul gedistansieer het van sekere uitlatings wat Eloff en Breytenbach gemaak het.
Breyten het nie met woorde gespeel nie. Hy het onder meer na die Universiteit Stellenbosch verwys as “daardie Nazi-universiteit anderkant die bult”. Hy het later gesê hy vra verskoning en vervang die term Nazi-universiteit met Matzi-universiteit.
Hy sê die skuld kan nie net voor die deur van die ANC-regering gelê word nie. Dit is nie die ANC wat besig is om Afrikaans op Stellenbosch dood te maak nie, maar sommige akademici wat die taal daar help vermoor. Dit is niks anders as verraad nie, het hy gesê. “Ek gaan nie name noem nie, maar almal weet wie dit is”.
Eloff het dit veral gehad teen die grondwet wat nie in die praktyk nagekom word nie.
“Ons is besig om uitmekaar te val,” het Breyten gesê. “Ek sal probeer om dit so helder en duidelik as moontlik te sê, maar wanneer mens dit doen, verklaar jy jouself irrelevant in die oë van sommige.”
Hy het gesê hy sal sonder enige twyfel enige tyd weer doen wat hy gedoen het as hy kon kies, maar hy deel nie die sentimente van diegene wat glo minderhede in die land moet stilbly ter wille van ’n groter saak nie.
Almal in die land is minderhede, het hy verder gesê. “Ons is sitting ducks. Word sitting ducks dan nie toegelaat om te kwaak nie?" wou hy weet. "Waarom glo ons dit is verkeerd as ons in ons eie taal praat oor dinge wat verkeerd is? Watse nonsens is dit? Wat de hel moet Afrikaanse Afrikane dan doen?" het hy gevra.
Hy het gewaarsku dat die sentrum besig is om mee te gee. Nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Daar is ’n gebrek aan morele leierskap. Dit is tyd om dit te erken en ter wille van diegene wat ná ons kom oor te begin.
“Kyk na die politiek in Frankryk en wat aangaan in Soedan, die Kongo en Egipte.”
Volgens Breytenbach is die land verder terug as 30 jaar gelede. “Genoeg is genoeg.”
Volgens Odendaal het die laaste gesprek van die seminaar die vorige dag se konsensus aan skerwe laat spat. “Ek kan my op geen manier daarmee vereenselwig nie.”
Die ANC-veteraan Aziz Pahad en sy broer Essop Pahad, wat ook die Dakar-reünie bygewoon het, was net so verontwaardig oor die bydraes van Eloff en Breytenbach.
Hulle het beswaar gemaak omdat die bespreking oor die saak heel laaste op die agenda was en sê daar is nie behoorlik daarvan kennis gegee nie. Essop het gesê die seminaar eindig met meer vrae as antwoorde en die laaste sprekers se bydraes was vir hom ’n teleurstelling. Hy het voorgestel dat die gesprek op ’n later stadium verder gevoer moet word.
Waaroor die Dakariete dit wel eens was, is dat Suid-Afrika in elk geval nie kon voortgaan op die koers van destyds nie.
Of die land hom tans bevind in ’n seisoen van herfs wat vinnig in ’n koue winter kan verander en of Suid-Afrika op die vooraand is van ’n nuwe lente is skynbaar iets waaroor daar nog lank gedebatteer sal word.
Die groep Suid-Afrikaners wat die ANC destyds onder moeilike omstandighede 30 jaar gelede in Dakar ontmoet het om die weg te help baan vir ’n nuwe Suid-Afrika was in baie opsigte dapper gewees.
Hopelik sal daar ’n nuwe geslag dapper Suid-Afrikaners na vore tree om die sake waaroor daar 30 jaar gelede nie konsensus verkry kon word nie, en steeds by baie mense spook, op ’n verbeeldingryke manier aan te pak.
As Dakar se konferensiegangers van drie dekades gelede gebruik kon word om die legitimiteit van die apartheidsregime te ondermyn, kan mens maar net hoop ’n nuwe geslag kry dit reg om te keer dat die sentrum van ’n land wat onder staatskaping gebuk gaan, nie meegee soos wat Breytenbach waarsku nie.
As dit nie gebeur nie sal konferensies van die aard net soos 30 jaar gelede nie veel meer wees as gebare en simbolisme met weinig substansie nie.
The post Van Dakar tot Stellenbosch 30 jaar later appeared first on LitNet.