Image may be NSFW.
Clik here to view.
Huldigingswoord: Hein Viljoen
Antjie Krog se Mede-wete is ’n sterk en ontstellende bundel, oorspronklik en vindingryk. Die digter ondersoek ’n wye reeks aktuele kwessies, veral politiek en rasseverhoudings (soos in die skrynende reeks "Bediendepraatjies”). Die bundel is oorweldigend (en baie moedig) in die wyse waarop dit die kwessies van bevoorregting, wit-wees en inherente rassisme aan die orde stel. Dit is fel betrokke poësie – baie naby aan die aktualiteit.
Die teks ontgin ’n wye reeks taalregisters op ’n byna argeologiese wyse. Taal word – op die voetspoor van Paul Celan na die Groot Brandoffer – gebreek en hersaamgestel, so asof die bestaande (standaard)taal te swaar dra aan 'n ideologiese ballas, uitgedien geraak het en daarom nuut uitgevind moet word. Deur sy/haar mede-wete en mede-pligtigheid is die leser betrokke by hierdie ontdekkingstog. 'n Soort meedoënlose woordspel kenmerk die bundel – ’n voorneme as’t ware om meer as een betekenis op ’n slag uit te druk en betekenis ekspressionisties uit te vergroot, soos in die gedig by Mandela se dood of in die gedigte oor die geliefde. Deur sy volgehoue (taal-) eksperimentering is die bundel vergelykbaar met Marlene van Niekerk se bundel, Kaar.
Relasionaliteit (die verbondenheid van ek, wêreld en die Ander) staan sentraal in die bundel, oortuigend verwoord byvoorbeeld in "om 'n mens kos te gee" (bl. 44). Kwessies van ouer word en doodgaan word ook ondersoek – soos in die aangrypende vers oor die pa se begrafnis. Andersyds val die klem op die so-heid van die syn (wat bykans gelyk is aan goddelikheid), soos in "'n dogtertjie in die tuin", (bl. 52) of "'n eland staan by die kuil" (bl. 54). Die slot van hierdie gedig lui:
bedroef sit ek
en kyk na die eland die berg en die lug so niks
kan ek onthou van die ontniks waaruit ek kom
so niks verstaan ek van die niksheidsnoute waarheen
ek op pad is – haglik in hiernamaalsflardes krap-
krap ek toevallende gaatjies na die Groot Goddelike Niets
Uit hierdie ervaring van die niksheid en die alles blyk ook dat die mede-wete van die bundel ‘n indringende besinning is oor (familie)verhoudings in ’n baie wye sin van die woord.
Die gewaagde en intense aanpak van die politiek van skuld, die verskeidenheid en veelstemmigheid daarvan en die uiters vernuwende eksperimentele gebruik van die taal maak Mede-wete 'n waardige ontvanger van die Hertzogprys – ’n besondere prestasie in 'n jaar waarin verskeie puik bundels meegeding het om die prys.
Meneer die voorsitter, ek versoek u nou om die Hertzogprys vir Poësie aan Antjie Krog te oorhandig vir haar digbundel Mede-wete.
Stellenbosch
21 Junie 2017
Video van Antjie Krog se toespraak:
The post Akademiepryse 2017: Hertzogprys vir poësie aan Antjie Krog – commendatio appeared first on LitNet.