Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Van rolkonflik tot regverdigheid in die gesin

$
0
0

Amanda Gouws, SARChi Leerstoel in Geslagspolitiek (Universiteit Stellenbosch), reageer op Deon Vos en Philip van der Westhuizen se LitNet Akademies-artikel (Opvoedkunde): "Rolkonflik by getroude manlike onderwysers vroeg in die 21ste eeu".

Inleiding

Op 11 Mei 2017 is daar ’n studie met die titel “Rolkonflik by getroude manlike onderwysers vroeg in die 21ste eeu” deur Deon Vos en Philip van der Westhuizen in LitNet Akademies (Opvoedkunde) gepubliseer. Ek is versoek om kommentaar te lewer oor “vroulike rolkonflik”. Dit is egter nie moontlik om dit te doen sonder om die bogenoemde studie oor manlike rolkonflik in ag te neem nie.

Vanuit die literatuur wat deur feministiese navorsers vir so ’n projek gebruik sou word is daar bepaalde probleme met die studie wat op die volgende aannames berus: (1) dat dit slegs mans in die gesin is wat rolkonflik ervaar, (2) dat die gesin noodwendig ’n kerngesin is met ’n manlike broodwinner aan die hoof en (3) die stilte oor versorging. Ek sal op al drie hierdie aspekte reageer.

Amanda Gouws (Foto: verskaf)

Rolkonflik in die gesin

Rolkonflik is vanuit ’n feministiese vertrekpunt ’n uitgediende konsep omdat dit inkoop in die idee dat daar spesifieke rolle vir mans en vroue is en dat dit basies die binêre (twee-polige) verhouding tussen manlik en vroulik versterk, eerder as bevraagteken. Tweedens koop dit in op die idee dat alle huwelike heteronormatief is en maak dit enige ander huweliksvorms (soos gay huwelike) of heteroseksuele lewensmaats wat saam woon, maar nie getroud is nie, onsigbaar.

“Rolkonflik” onder mans ontstaan omdat iemand anders in die huisgesin ook “rolkonflik” ervaar. Dit is gewoonlik die ander lewensmaat. In die ekonomiese kondisies waarin Suid-Afrikaners tans leef is dit onmoontlik vir gesinne om finansieel te oorleef as albei vennote in die huwelik nie werk nie. Dit is dus baie moeilik om rolkonflik te verstaan as dit nie ondersoek word as iets wat verhoudingsverwant (relational) is nie, en waar albei persone probeer om die konflik te skik. Dit help nie om net na die een kant van die vergelyking te kyk nie.

Die kerngesin as norm en die man as broodwinner

Die kerngesin is nie die norm in Suid-Afrika nie [https://www.moneyweb.co.za/archive/fractured-families-a-crisis-for-south-africa/] (afgelaai, 23 Mei 2017). Daar is meer enkelouergesinne waar enkelmoeders die broodwinners is. Daar is ook drie-generasie-gesinne waar die ouma baie van die versorgingswerk doen. Dit is slegs onder blanke Suid-Afrikaners dat die kerngesin nog die norm is. Dit verklaar hoekom die studie dit moeilik vind om die resultate van swart gesinne te verklaar en dit dan aan kultuur toeskryf. Dit werk met die verkeerde aannames.

Vir ’n wetenskaplike studie om die broodwinnermodel uit die Bybel te regverdig is onvanpas en dra by tot oud-modiese en seksistiese idees oor die man as hoof van die huishouding en vroue wat basies hul rolle moet verstaan. (Dit is dan ook die eerste aanbeveling – dat almal hulle rolle moet verstaan.) Die gebruik van die Bybel is ook totaal onwetenskaplik.

Die baie insiggewende literatuur oor manlikheid (masculinity) behoort geraadpleeg te word. Dit sal bydra tot ’n baie beter begrip van hoe manlikheid gevorm word en die uitdagings wat mans ervaar juis omdat daar wegbeweeg word van vorms van manlikheid wat mans tipeer as “broodwinners en gesagsfigure”. Daar kan hoegenaamd nie van geslagsgelykheid gepraat word en dan argumenteer word dat hierdie rolle gehandhaaf moet word nie. In die moderne huisgesin waar daar ’n onderhandelde verdeling van arbeid is, is die “rolle” vloeibaar en gebaseer op vertroue tussen lewensvennote. Manlike onderwysers wat aan hierdie rolle bly vasklou sal ook nie in staat wees om seuns (en dogters) te sosialiseer om meer buigsaam te wees in terme van wat hulle van hul eie huwelike verwag nie. 

Nog ’n vraag wat gevra moet word is oor die afdwinging van gesag in gesinne deur die vaderfiguur en die tipe dissipline wat gehandhaaf word deur die broodwinnermodel. Is dit die uitgediende idee van outoritêre dissipline (met ander woorde “Pappa weet die beste” en daarom maak ons soos hy sê?) Dit dra nie by tot enige gesinslid se sielkundige welwees nie.

Grafika: Wikipedia

Die stilte oor versorging

’n Studie deur Statistiek Suid-Afrika (STATSA) in 2000 in al nege provinsies met ’n proefgroep van 8 546 huishoudings en 14 306 respondente (6 616 mans and 7 690 vroue) het gewys dat mans slegs 73 minute aan huiswerk spandeer terwyl vroue 173 minute daaraan spandeer. Aan versorgingswerk spandeer mans vyf minute and vroue 44 minute. Selfs al is daar ’n huishulp wat huiswerk doen spandeer vroue nog steeds twee keer soveel tyd aan huiswerk as mans. Vir egpare wat kinders onder die ouderdom van sewe het, spandeer mans 12 minute aan versorging en vroue 87 minute. ’n Soortgelyke studie deur STATSA in 2010 het gewys dat vroue gemiddeld vier ure per dag aan versorging en huiswerk spandeer en mans slegs twee ure.

Swangerskap plaas vroue in ’n baie meer weerlose situasie as mans. Mans word selde voor dieselfde keuses gestel as vroue wanneer gesinne swanger raak (en dit geld vir vroulike onderwysers sowel as die vroue van manlike onderwysers wat loopbane van hul eie het). Dikwels word swangerskapsverlof nie outomaties toegeken nie, of daar word van vroue verwag om drie maande na die geboorte van die baba terug te wees by die werk. Baie min mans neem vaderskapsverlof (wat minder as ’n week beloop). Voorts stel baie werkplekke nie kindersorgfasiliteite beskikbaar nie en dit plaas ekstra druk op gesinne, maar meer dikwels op ma’s wat die spit moet afbyt as kindersorg nie beskikbaar is nie.

Dit gaan dus nie soseer oor rolkonflik nie, maar hoe besluite geneem word met inagneming van elke persoon in die gesin se werk, verpligtinge en die verdeling van arbeid in die huishouding. Aangesien mense met mekaar in verhoudings staan behoort alle besluite verhoudingsverwant te wees. Die idee van “rolkonflik” kan nie die verhoudingsverwante-besluite verdiskonteer nie. Dit gaan dus eerder oor regverdigheid in die gesin as oor hoe mans hul “rolkonflik” oplos met inagneming van almal se behoeftes. Dit is nie net mans wat ondersteuning by die huis nodig het nie.

Wat navorsing wys is dat huweliksprobleme groter raak as vroue hul werk opgee om kinders groot te maak en geen erkenning daarvoor kry nie. Bitterheid en ontevredenheid met die huwelik tree ook in as vroue wat werk voel dat hulle meer as hul deel van die huiswerk en versorgingswerk moet doen. Een van die grootste probleme rondom versorgingswerk is dat daar geen finansiële vergoeding vir versorging in die gesin is nie, alhoewel dit werk is. Die idee bestaan dat tyd vir versorging elasties is – met ander woorde, dit maak nie saak hoeveel tyd vroue aan versorging spandeer nie. Hulle moet dit doen totdat dit klaar is. In hul middeljare versorg vroue dikwels hul kinders sowel as ouers wat nie meer na hulself kan kyk nie.

Een van die belangrikste feministiese beginsels is “die persoonlike is polities” (the personal is political) en dit beteken dat wat ook al in die private sfeer van die huisgesin gebeur, polities van aard is – besluite in die huisgesin bepaal of en hoe daar gediskrimineer word, en teen wie, en hoe mense se lewenskanse bevoordeel of benadeel word. Die navorsing (wat relatief oud is) het ’n gulde geleentheid gemis om die hele kwessie van botsende verwagtings van lede van huisgesinne te ondersoek en die uitdagings wat mans en vroue ervaar te problematiseer, eerder as om die Bybel as ’n gesaghebbende bron te gebruik.

The post Van rolkonflik tot regverdigheid in die gesin appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>