Helen Zille het enige taktiese voordeel wat die DA gehad het in die aanloop tot die 2019-verkiesings met 140 karakters op ’n slag uitgewis. Nie net dit nie, sy het haar eie nalatenskap as die eerste demokratiese DA/DP-leier wat die ideaal van ’n nierassige party kon lewer, onherstelbaar geskaad.
Die eerste twiets waarin sy kolonialisme geprys het, kon dalk nog afgemaak word as oorentoesiasme na haar oorsese reis. Haar keuse om daai twiets in daaropvolgende artikels en dies meer te verdedig, dui egter op ’n ingesteldheid wat aansienlik minder onskuldig is. Die meriete van haar argument oor kolonialisme is nie nou ter sprake nie. Die uitslag van die dissiplinêre verhoor is wel.
Wat ’n gesoute politikus soos Zille moes besef het voordat sy haar tot sosiale media gewend het, is dat enige omstrede uitspraak wat sy maak, op die party waaraan sy behoort sou reflekteer. Daar is nie so iets soos ’n private politieke uitspraak deur ’n openbare politieke figuur nie. Selfs indien sy nie voor die eerste twiet besef het dat haar uitsprake omstrede is nie, moes sy dit besef het uit die reaksie daarop.
Die uitslag van die dissiplinêre verhoor laat gemengde gevoelens. Sy is geskors vanuit alle partypolitieke aktiwiteite, maar behou haar posisie as premier van die Wes-Kaap. Waarskynlik beskou sy dit as ’n oorwinning, maar dit is ten beste ’n Pirrhiese oorwinning. Die DA het heelwat steun en legitimiteit onder swart kiesers verloor oor die twiets en die gewaande traagheid waarmee die DA daarop reageer het. Daar is ongelukkigheid onder wit kiesers omdat hulle reken dat Zille niks verkeerd gedoen het nie, en onregverdig behandel is. Daar word verder wyd bespiegel dat daar druk op Maimane geplaas was deur ryk, wit skenkers om Zille te behou of hulle geldelike steun te verloor. Of dit korrek is, is onseker. Dis vir seker aanduidend van ’n persepsie dat die DA maar net ’n gesofistikeerde vorm van blackface beoefen, met Maimane as die front en Zille steeds as die persoon wat die besluite (en beursie) agter die skerms beheer. Zapiro beeld dit uitstekend uit, met ’n skets waar Maimane agter die stuur van ’n motor sit, chauffeurpet op die kop. Zille sit agterin, selfoon in die hand, en sê: “Laai my by my dissiplinêre verhoor af. Jy hoef nie te wag nie, ek sal laat weet wanneer jy my kan optel.”
Dit skaad Maimane se beeld as leier van die DA, iets waarop die ander politieke partye dadelik gespring het. Die meeste Zille-ondersteuners voel natuurlik vere vir Maimane se beeld. In werklikheid beteken verminderde steun vir Maimane verminderde steun vir die DA. Die grootste onontginde mark vir nuwe kiesers vir die DA is onder swart kiesers. Hulle sal nie ligtelik stem vir ’n party wat onder die gewaande duim van ’n koloniale apologeet en, in die woorde van Malema “unreformed racist”, staan nie.
Die EFF het natuurlik alreeds reageer op die uitslag van die verhoor. Hulle verklaring maak dit duidelik dat hulle geen alliansie of koalisie meer het met die DA nie. Dit beteken dat in al die munisipaliteite waar die DA voorheen op EFF-steun kon staatmaak, hulle nou op twee fronte moet veg: teen die ANC en teen die EFF. Die grootste ramp vir die DA se 2019-ambisie is ’n moontlike verbetering in ANC-EFF-verhoudinge. Dit sal waarskynlik nie gebeur nie, maar een ding is seker: die EFF het, myns insiens korrek, die situasie interpreteer as dat hulle nie meer die DA nodig het om munisipaliteite oor te neem nie.
Daar is heelwat kritiek wat teen Malema en sy EFF geopper kan word. Dat hulle toondoof is en nie die barometer van die nasie se temperatuur kan lees nie, is nie deel daarvan nie. Hulle weet presies waar en wanneer om politieke munt te slaan. Zille-gate het hulle genoeg ammunisie gegee tot in 2019. Elke dag dat Zille langer ’n openbare amp beklee (en ’n selfoon besit), gee hulle toenemend meer politieke kapitaal.
Die DA kon waarskynlik in 2019 die regerende party geword het. Zille het egter seker gemaak dat die party die marathon mank-mank binnegaan, teenoor ’n jong, fikse atleet wat nog nie ’n kiesersvoet verkeerd gesit het nie. Die verkiesing is effektief op ’n silwer skinkbord aan die EFF gegee.
Dis nie net die DA wat dan die prys betaal nie. Dis die hele land. En dìt is Zille se sonde wat nie vergewe kan word nie.
The post Zille-gate: Die EFF sê dankie appeared first on LitNet.