Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Keuses en gevolge: ontleding van ’n gebeurtenis

$
0
0
  1. Inleiding

’n Mens wonder onwillekeurig oor watter soort keuses ’n rol sou gespeel het by die tragiese ongeluk waarin Philip Volschenk¹ oorlede is. In die koerantberig daaroor (Die Burger, 7 April 2017) word verwys na ’n misdadiger wat die seun se selfoon gryp, waarna eersgenoemde in ’n bewegende trein spring met Philip wat hom volg. Philip se lyk is later tussen die treinspore gevind. ’n Jongman met potensiaal het sinloos gesterf. Hoe moet ons hierdie tragiese gebeurtenis verstaan en vertolk? Waarom kom ander slagoffers in soortgelyke situasies dalk min of niks oor nie? Blote toeval kon tog sekerlik nie hier ’n rol gespeel het nie?

Bron: Die Burger, 7 April 2017

Op die oog af lyk dit asof Philip spontaan uit noodweer opgetree het. Daar was nie genoeg tyd vir Philip beskikbaar om ’n weldeurdagte besluit te neem en die risiko’s van die moontlike uitkomste logies teen mekaar op te weeg nie. Was sy besluit dus ’n impulsiewe besluit? Of suboptimaal of selfs irrasioneel? ’n Bepaalde besluit is op die tydstip wanneer dit geneem word volgens die interne verwysingsraamwerk van die besluitnemer altyd rasioneel, al kom dit vir eksterne waarnemers voor asof die besluit irrasioneel sou kon wees. Philip het dus volgens sy eie insig ’n rasionele besluit geneem. Volgens die teorie van visuele waarneming en figuuragtergrond-waarneming was die figuur (maw die dief) prominent en oorheersend in Philip se waarnemingsveld, met die gevolg dat die agtergrond (die gevaarlike situasie om sonder die hulp van sy vriend in ’n bewegende trein te spring) ’n sekondêre rol in die besluitnemingsproses gespeel het. Die kanse is egter goed dat affek of emosionaliteit (in hierdie geval ’n emosie van woede omdat iemand sy kosbare selfoon gegryp het) die rasionaliteit van Philip se besluit (om die dief te volg deur in ’n bewegende trein te spring) direk kon motiveer.

Hoe beïnvloed emosionele faktore dus rasionele besluitneming? Dit kan selfs gebeur dat traumatiese gevolge op rasionele besluitneming volg, terwyl onweldeurdagte besluitneming positiewe uitkomste tot gevolg het.

Die dinamika van wilsbesluite is kompleks, maar terselfdertyd relevant, omdat die kwaliteit van die motivering wat tot ’n besluit aanleiding gee, die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Hierdie voorbeeld skep die konteks vir die bespreking wat volg oor dilemmas wat uit alledaagse besluitneming kan ontstaan.

 

  1. Doel van artikel

In hierdie artikel word eerstens ’n gebeurtenis uit die werklike lewe by wyse van terugskouing beskryf. Die gebeurtenis bevat verskeie elemente van besluitneming wat met risiko gepaard gaan en is ’n gebeurtenis wat ek persoonlik meegemaak hetis. Tweedens word die dinamiese besluitnemingsprosesse en uitkomste wat met die gebeurtenis verband hou, deur konsepte uit die besluitnemingsteorie toegelig en ontleed, soos die rol van intensionaliteit en rasionaliteit tydens besluitneming, die aard en beskikbaarheid van inligting waarop besluite gebaseer word, asook die assessering van inligting en bewyse as ’n basis vir rasionele besluitneming. Gevolgtrekkings word dan gemaak oor die implikasies wat die bevindings van hierdie ontleding vir soortgelyke alledaagse situasies kan inhou.

 

  1. Enkele teoretiese beginsels

’n Keuse is ’n opsie wat uit ’n reeks alternatiewe gekies word. Die uitkoms van die keuse word bepaal deur die omstandighede in die omgewing, wat in baie gevalle slegs gedeeltelik aan die besluitnemer bekend is (Peterson 2009).

Keuses (hetsy goed of swak) oefen ’n invloed uit op alle mense se daaglikse lewens. In Macbeth sien ons duidelik hoe swak keuses wat met hoë ambisie en swak karaktertrekke gepaard gaan tot tragiese gevolge aanleiding gee.

3.1 Kompleksiteit van keuses

Ratner en Herbst (2005) wys daarop dat indien positiewe uitkomste van ’n besluit nie absoluut seker is nie, selfs die beste besluit tot onbevredigende resultate aanleiding kan gee. ’n Persoon wat dus volgens sy eie oordeel die beste opsie kies, maar vind dat die keuse negatiewe uitkomste lewer, word deur ’n dilemma gekonfronteer wanneer ’n volgende keuse gemaak moet word. Moet dieselfde opsie gekies word wat aanvanklik die beste kans gehad het om suksesvol te wees, maar terselfdertyd teleurgestel het, of is ’n ander, minder bekende alternatief tydens ’n tweede keuse ’n beter opsie?

3.2 Belangrikste besluitnemingsteorieë

Volgens Peterson (2009) is daar twee hoofrigtings wat die spektrum van algemene besluitnemingsteorieë opsom: eerstens die beskrywende besluitnemingsteorie waarin aandag gegee word aan die wyse waarop besluite geneem word, en tweedens die normatiewe besluitnemingsteorie waar op die vereistes vir rasionele besluitneming gefokus word. Die vraag of dobbelaars byvoorbeeld meer of minder behoort te dobbel is ’n normatiewe vraag, terwyl die vraag hoekom dobbelaars dobbel ’n beskrywende besluitnemingsvraag is. In die praktyk kom daar egter heelwat oorvleueling voor tussen die twee hoofrigtings, veral wanneer navorsing oor die motivering van besluitneming in die prentjie gebring word.

In ’n benadering wat bogenoemde oorvleueling in ’n sekere opsig uitskakel sê Mishra (2014) dat die vier belangrikste teoretiese modelle op die gebied van rasionele besluitneming onderskeidelik die voorkeurteorie (utility theory), vooruitsigteorie (prospect theory), risikosensitiwiteitsteorie en die heuristiek is. Hierdie vier teorieë beskik almal oor hul eie kenmerkende voor- en nadele wat die voorspelling en verklaring van besluitnemingsprosesse in die werklike lewe betref.

  • Voorkeurteorie

In die voorkeurteorie (met sy oorspronklike fondamente in die vakrigting Ekonomie) formuleer die navorser ’n reeks aksiomas of kondisies van voorkeur. Hierdie aksiomas vorm ’n voorkeurstruktuur (Fishburn 1970). Die uitgangspunt is dat ’n individu sy/haar keuses konsekwent kan rangorden op grond van ’n unieke voorkeurstruktuur.

  • Vooruitsigteorie

Die vooruitsigteorie fokus op die neem van besluite wat met risiko gepaard gaan. Besluitneming word op oordele gebaseer, en oordele is die assessering van die eksterne fisiese- en sielkundige omgewing van ’n individu. Nugtere oordeel word bemoeilik onder toestande van onsekerheid. Interne konflik ontstaan wanneer ’n besluitnemer se oordele met sy waardes en doelstellings bots wanneer keuses uitgevoer moet word.

3.2.3 Risikosensitiwiteitsteorie

’n Basiese premisse van die risikosensitiwiteitsteorie is dat die neem van risiko's nie noodwendig irrasioneel, roekeloos, selfvernietigend of patologies van aard is nie (Mishra 2014). Alle besluitnemers is van tyd tot tyd geneig om risiko’s te neem. In die risikosensitiwiteitsteorie word gepropageer dat riskante besluitneming eerder 'n aanpassingsreaksie is op verskeie omgewings- en maatskaplike veranderlikes met inagneming van die ontwikkelingstadia van en individuele verskille tussen besluitnemers.

Die heuristiek is “die kuns om deur logiese redenering stap vir stap ’n bepaalde waarheid te vind” (Schoonees ea 1972:239). Heuristieke is kognitiewe kortpaaie wat bewustelik of onbewustelik deur ’n besluitnemer gevolg word. Dit is gevolglik duidelik waarom die klassieke standpunt steeds geldig is dat heuristiese besluitneming ’n groter mate van fout-element bevat as rasionele besluitneming.

  • Besluitneming in die werklike lewe versus laboratoriumnavorsing

Besluitneming in die werklike lewe verskil beduidend van besluitneming in gekontroleerde laboratoriumsituasies, omdat die veranderlikes wat by besluitneming in die werklike lewe ’n rol speel, meer kompleks en minder kontroleerbaar is. Die resultate van besluitnemingsnavorsing soos in die laboratorium verkry, moet dan na werklike lewensituasies ekstrapoleer word, wat op sigself ook problematies is (Mishra 2014).

  • Paradokse en besluitneming

’n Paradoks is ’n stelling wat van ’n gangbare denkpatroon afwyk, maar nie as onjuis bewys is nie (Bisschoff 2013). ’n Denkbeeld word deur middel van ’n paradoks op ’n ongewone manier geformuleer. Dit is die stylmiddel van die denker, digter en profeet, terwyl die redenaar, wetenskaplike en rasionalis min daarvan gebruik maak.

In die geval van die morelegeluk-paradoks (moral luck paradox) sê Thomas Nagel ’n besluitnemer is volkome verantwoordelik vir sy besluitneming en die gepaardgaande risiko’s. Verantwoordelikheid en geluk staan dus teenstrydig teenoor mekaar. As voorbeeld word die “baba en die badwater”-situasie gebruik. Sou ’n moeder nalaat om die kraan toe te draai en die vertrek verlaat, waarna haar baba verdrink, is sy moreel aanspreeklik en nalatig. Indien sy egter betyds terugkeer en die kraan toedraai net voordat die baba verdrink, is daar geen dramatiese gevolge van haar besluit nie, en “niks” het na regte gebeur nie. Haar gedrag sal ook nie as moreel afkeurenswaardig deur die omgewing beoordeel word nie, en dit is juis hier waar die paradoksale effek van die argument ter sprake kom.

 Volgens die morelegeluk-paradoks is verskillende grade van nalatigheid almal ewe afkeurenswaardig, ongeag die negatiewe uitkomste of afwesigheid van negatiewe uitkomste van die gebeure. Indien ’n persoon nalatig was, is dit bloot ’n kwessie van geluk of die uitkoms katastrofaal is of nie is nie. Dit is gevolglik irrasioneel om ’n persoon op grond van blote toeval meer of minder aanspreeklik te hou. Die besluitnemer bly dus ten volle verantwoordelik vir sy besluitneming. Die attribusie van persoonlike verantwoordelikheid vereis dus hiervolgens dat ’n individu te alle tye volkome beheer oor sy optrede moet uitoefen (Clark 2007:135).

  • Motivering van besluitneming

Die kernvraag wat ontstaan by die motivering van wilsbesluite is waarom bepaalde besluite geneem word. Wat is die doelwit of rede (bewustelik of onbewustelik) wat tot ’n bepaalde besluit lei? Die onderstaande agt teoretiese benaderings bied ’n goeie oorsig oor die werk wat op hierdie terrein gedoen word:

  • Dissonansie. Botsende gedagtes oor besluite (of dissonansie) is ’n belangrike motiverende faktor by besluitneming. Dissonansie kan aanleiding gee tot ongemak en spanning in die bewussyn. Dissonansie neem gewoonlik toe namate die onderwerp van besluitneming belangriker word vir die besluitnemer of indien die botsende gedagtes toeneem in intensiteit of indien die besluitnemer se vermoë om te rasionaliseer beperk word.
  • Kongruensie. Die teenoorgestelde pool van dissonansie is ’n scenario waar die besluitnemer se houdings, opvattings, waardes en belangstellings by mekaar aansluiting vind en gevolglik besluitneming vergemaklik. Dissonansie word dus beperk, en daar is ’n relatiewe balans of kongruensie en gevolglik minder spanning tussen hierdie inhoude in die bewussyn.
  • Toewyding (commitment) is ’n persoonlike ingesteldheid om op ’n bepaalde manier op te tree. Toegewyde besluitnemers voer gewoonlik hul besluite uit. Vrees vir sosiale verwerping of kognitiewe dissonansie kan ’n bydrae lewer tot die verstewiging van toewyding.
  • Sekerheidseffek. Indien ’n bepaalde uitkoms verseker is, word risiko verminder en word besluitneming vergemaklik. Besluitnemers verkies om risiko eerder uit te skakel as om dit bloot te beperk.
  • Besluitneming-ondersteuningsydigheid. Tydens die herroeping van ’n besluit wat in die verlede geneem is, is besluitnemers geneig om op grond van geheueverwringing die gevolge van besluite uit die verlede as die beste uitkomste voor te hou. Die besluitnemer voel dus goed oor sy besluite wat in die verlede geneem is, en daar is minder gronde vir selfverwyt of -bejammering.
  • Bevestigingsydigheid. Wanneer die besluitnemer ’n hipotese as basis vir ’n besluit geformuleer het, word voorkeur aan inligting gegee wat die hipotese bevestig. Teenstrydige inligting wat nie die hipotese bevestig nie, word gerieflikheidsonthalwe geïgnoreer.
  • Skaarsheidbeginsel. ’n Item wat skaars is, of moeilik bekombaar is, kan by ’n besluitnemer die idee van verlies skep indien die item nie bekom word nie. Omdat spyt altyd te laat kom, word die behoefte om die item te bekom verder versterk.
  • Die sink-koste-effek (sunk-cost effect). Indien ’n swak besluit reeds geneem is, is besluitnemers dikwels geneig om met die gevolge van die swak besluit saam te leef en om verdere uitgawes en tyd te bestee om dit wat nie werk nie, reg te stel, hoofsaaklik om die etiket van mislukking te vermy.

 

  1. Terugskouing

Die metode van ondersoek wat in hierdie artikel gebruik is, is hoofsaaklik op terugskouing gebaseer. By terugskouing word ’n situasie of ’n gebeurtenis ontleed en  geïnterpreteer nadat dit plaasgevind het. Die waarnemer kyk dus terug in die verlede om ’n gebeurtenis in heroorweging te neem of om daaroor te reflekteer.

Terugskouing as ’n metode van ondersoek verg ’n hoë mate van integriteit en etiese oortuiging van die waarnemer. Terugskouingsydigheid kan hier problematies wees. Feite en gebeurtenisse kan op ’n selektiewe wyse hanteer word . Dit geld vir onafhanklike waarnemers sowel as waarnemers wat direk by die gebeure betrokke was. Sydigheid kan by laasgenoemde sterk genoeg wees om die waarnemer se herinneringe sodanig te beïnvloed dat die wanindruk geskep word dat die waarnemer die uitkomste van die gebeurtenis inderwaarheid voorspel het.

 

  1. Ontleding van ’n spesifieke gebeurtenis

5.1 Omskrywing van gebeurtenis-ontleding

Volgens Reber en Reber (2001:681) is ’n gebeurtenis-analise die ontleding van gebeure oor verskynsels in die natuurlike omgewing in teenstelling met laboratoriumsituasies. Die definisies in English en English (1970:504) en die Psychology Dictionary beklemtoon ook die studie van gedrag wat met lewensgetroue situasies geassosieer word.

Die konstruk situasie-analise of situasionele logika is deur die filosoof Popper na vore gebring, en verwys na ’n proses waardeur die sosiaal-wetenskaplike probeer om ’n probleemsituasie te herkonstrueer ten einde die besluite wat die betrokkenes geneem het, beter te probeer verstaan.

Die sistematiese ontleding van gebeurtenisse is ook ’n integrale deel van die studieveld van die vakrigting geskiedenis. Historiese ontleding behels die interpretasie en verklaring van gebeurtenisse, dokumente en prosesse. Geskiedenis word die beste verstaan nie bloot as ’n opeenvolging van feite nie, maar eerder as ’n reeks mededingende narratiewe wat hulself tot kritiese interpretasie leen. Die doel is om ’n betroubare en geldige narratief oor ’n onderwerp te ontwikkel wat gebaseer is op die beskikbare inligting oor die onderwerp. Dikwels word vrae gevra soos hoe en hoekom ’n bepaalde gebeurtenis plaasgevind het soos dit wel plaasgevind het.

In enige gebeurtenis-ontleding moet teen reduksionisme gewaak word, maw die neiging tot oorvereenvoudiging van ’n komplekse saak deurdat oorsake, motiewe of gevolge tot ’n enkele faktor gereduseer word. In leketaal neem dit gewoonlik die vorm aan van “basies kom dit neer op ...” of “is die werklike rede nie bloot ...”. Dit is ’n poging om historiese gebeurtenisse te vereenvoudig wat andersins oorweldigend kompleks is.

Een bepaalde manier om die slaggat van reduksionisme te vermy is om ’n historiese gebeurtenis chronologies te ontleed na aanleiding van die oorsake van die gebeurtenis, die verloop daarvan, asook die uiteindelike gevolge daarvan.

5.2 Terapeutiese waarde van gebeurtenis-ontleding

Refleksie oor ’n gebeurtenis wat in die verlede plaasgevind het, kan as ’n faset van ’n lewensoorsig (life review) gesien word. ’n Lewensoorsig word gedoen deur ’n persoonlike ervaring uit die verlede te herbesoek, oor die ervaring te dink en te reflekteer met die doel om die betekenis(se) daarvan by die huidige lewensomstandighede te herintegreer. Die lewensoorsig is die kritieke punt waar die verlede en die hede ontmoet. ’n Gebeurtenisontleding is gevolglik ’n terapeutiese vorm van persoonlike terugskouing wat in dieselde kategorie val as begeleide outobiografie, mondelinge geskiedenis, die verhaalkuns of selfs dagdromery.

 

  1. Beskrywing van die Buffelsbaai-seekajakroei-gebeurtenis

6.1 Oorsake van die gebeurtenis

Buffelsbaai is ’n gewilde vakansiebestemming ongeveer 20 km van Knysna af. By geleentheid het ’n groep van vier roeiers besluit om (met twee enkel- en een dubbelformaatseekajakke) na die dolfyne te roei wat net agter die breek van die branders hul verskyning gemaak het. Die kajakke was almal splinternuut en is kort voor die gebeurtenis deur die verspreider van hierdie besondere handelsmerk aan die eienaar (R¹) verskaf. R¹ was in ’n dubbelkajak saam met roeier nommer twee (R²), terwyl roeier nommer drie (R³, die skrywer hiervan) en roeier nommer vier (R⁴) in twee enkelkajakke geroei het. Die strand van Buffelsbaai waarvandaan die drie kajakke en die vier roeiers vertrek het, verskyn op foto 1.

Foto 1. Vertrekpunt van die kajakroeiers (Foto deur skrywer verskaf)

Roeiers R¹ en R³ was roeiers met vorige seekajakervaring, terwyl R² en R⁴ onervare was met geen ondervinding van seekajakroei nie. Nadat die gebruik van die roeispane en stuurmeganismes verduidelik is, het die vier roeiers op die voorafbepaalde roete vertrek. Veiligheidsbaadjies is nie as ’n voorsorgmaatreël nodig geag vir die kort dolfynroete nie.

6.2 Verloop van die proses

Dit was laaggety tydens die vertrek;, die breek van die branders was relatief laag en ’n gegewe punt agter die breek van die branders is redelik maklik bereik. Die dolfyne het egter van hul roete afgewyk en koers gekies diepsee toe. ’n Besluit oor die aanpassing van die roete was gevolglik noodsaaklik, en die besluit is geneem om na die bekende “verste sigbare rots” (slegs met laagwater sigbaar) te roei, ongeveer tussen 1 en 2 km vanaf die vertrekpunt op die strand in die rigting van Buffelspunt (foto 2).

Foto 2. Die verste rots sigbaar waarom geroei sou word. Riwwe van Buffelspunt in die voorgrond. (Foto deur skrywer verskaf)

Die roete om die rots by Buffelspunt is met kajakke veiligheidsonthalwe slegs vanaf die Buffelsbaai se hoofstrand bereikbaar, as gevolg van die breekpatroon van die golwe en die ligging van groot rotse direk aan die oostekant. Die korter direkte terugroete vanaf die groot rots na die kuslyn wanneer die gety draai, is ’n feitlik onbegonne taak vir roeiers met min of geen ondervinding nie. Die prominente rotsriwwe tussen die land en die verste sigbare rots waarom geroei is, is duideliker op foto 3 sigbaar.

Die roeiers het sonder ’n verdere omhaal van woorde na hul onmiddellike mikpunt vertrek, naamlik die verste sigbare rots by Buffelspunt.

Alles het vlot verloop, nieteenstaande ’n haai se vin wat kort-kort regs van die roeiers bo die oppervlak van die water verskyn het, en wat skynbaar ongestoord in dieselfde rigting as die roeiers aan die swem was.

Foto 3. Rotsriwwe tussen verste rots en die land sigbaar by Buffelspunt (Foto deur skrywer verskaf)

Die draaipunt van die roete is bereik. Die twee enkelkajakke (R³ en R⁴) het ’n wyer trajek om die rots gevolg met die dubbelkajak (R¹ en R²) aan die binnekant. Die seewater rondom die rots was ’n diep kokende maalkolk van bewegende en terugtrekkende strome en skuim en uiters gevaarlik vir die kajakke in die onmiddellike omgewing van die rots.

Op daardie tydstip het die dubbelkajak skielik skuins na agter begin oorhel, met die voorpunt wat teen ’n hoek van ongeveer tussen 20 en 30 grade in die lug op steek. R¹ het in die water beland en aan die agterkant van die kajak vasgehou met kop en skouers wat bo die waterlyn uitsteek. R² kon in die kajak bly sit, terwyl R³ stadig nader aan die dubbelkajak geroei het om te bepaal wat die oorsaak van die sinkende kajak was.

Daar moes teen elke prys verhoed word dat die dubbelkajak nader beweeg aan die siedende maalkolk rondom die groot rotspunt wat gelyk het of dit dreigend naby aan die kajakke was. Besluitneming moes blitsvinnig plaasvind. R³ het oorweeg om ’n poging aan te wend om die dubbelkajak waaraan R¹ steeds vashou, weg van die rotspunt te roei. Geen raakkontak is gemaak nie, omdat die gewig van die dubbelkajak saam met R¹ se gewig wat agter aan die dubbelkajak vashou, net eenvoudig te veel was. Ons was in ’n skaakmatsituasie. Geen veiligheidsbaadjies was beskikbaar nie, daar was haaie in die omgewing, en uitswem deur die gevaarlike breek van die branders direk kortpad in die rigting van die rotsriwwe (kyk foto 3) met hoogwater wat aan die kom was, was ’n uiters riskante opsie vir R¹ en R².

Die deinings het hoër geword met die gety wat aan die draai was, en die suisings op die oop see was almal aspekte wat kommunikasie verder bemoeilik het. Toe R³ oor die deinings kyk om na R⁴ te soek was daar geen teken van R⁴ (’n onervare roeier) te bespeur so ver as met die blote oog gesien kon word nie.

Sekondes het soos ure gevoel. Daar was geen realistiese opsies oor om die situasie te beredder nie.

Skielik verskyn ’n skiboot in die deinings ongeveer 100 m weg van die drama wat besig is om te ontvou. Die boot is besig om stadig verby te vaar op pad na die lanseerstrook by Buffelsbaaistrand wat bereik moet word voordat die gety te hoog is om die boot op die sleepwa te lanseer. R³ en R² swaai dramaties met hul roeispane na links en regs om die skipper se aandag te strek. Die boot vaar steeds stadig weswaarts voort terug na Buffelsbaaistrand. Al hoop wat R³ nog oor het, is om ’n skril wolwefluit (’n tongkrul tussen die boonste- en onderste voortande waardeur die lug vanuit die longe geforseer word) saam met die swaaiende roeispane te gebruik, waarop dit voorkom asof die skiboot tog stadiger vaar. Verdere skril fluite volg en saam met handgebare word aan die skipper nieverbaal oorgedra dat sy hulp dringend benodig word.

Dit is uiters gevaarlik vir die skipper om sy boot te naby aan die maalkolk rondom die rotspunt te stuur. R¹ besluit om die sinkende dubbelkajak aan die drywende enkelkajak vas te bind, waarop R² en R³ op die skiboot sou klim, terwyl R¹ sou probeer om die sinkende dubbelkajak met behulp van die drywende enkelkajak landswaarts te roei. R⁴ (onervare roeier) het intussen eenvoudig op die oop see verdwyn.

Die skipper deel ons mee dat hy stadig by ons wou verbyvaar omdat hy die roeispaantekens verkeerdelik as ’n waarskuwing geïnterpreteer het dat ons besig was met scubaduik in die groot rots se omgewing. Die skril wolwefluit en handbewegings het hom egter tot ander insigte gebring. Die skipper raak al hoe meer bekommerd oor die inkomende gety. Ons lig hom in van R⁴ wat eenvoudig “verdwyn” het. Die skipper besluit dat ons almal op die uitkyk vir R⁴ moet wees.

Die terugvaart het begin. ’n Paar honderd meter verder word R⁴ opgemerk wat teruggeroei het om “hulp te gaan soek”. Omdat daar geen verbale kommunikasie tussen die ander drie roeiers met R⁴ was tydens eersgenoemde se besluit om terug te keer en hulp te gaan soek nie, het R⁴ nie soos nodig parallel met die kuslyn agter die breek van die branders na Buffelstrand teruggeroei nie, maar met ’n boog weswaarts reguit na die rotsriwwe en die breek van die groot branders – ’n uiters gevaarlike onderneming vir ’n roeier sonder ervaring en ’n reddingsbaadjie, omdat die groot branders ’n seekajak in ’n splitsekonde van agter af kan oorspoel en omkeer. Nadat R⁴ deur die skiboot opgepik is, het R² die skipper gevra om om te draai om na R¹ te soek. Ten spyte van die gevaar van die inkomende gety het die skipper genadiglik sy boot omgedraai. R¹ is verder die diepsee in gevind waar die sterk seestrome hom en die twee kajakke stelselmatig in die rigting van Brenton-on-Sea gesleep het, weg van die malende water van die Buffelspuntrots. Die gewig van die water (soos ’n see-anker) in die dubbelkajak was eenvoudig te swaar en gevolglik onmoontlik vir selfs ’n ervare roeier soos R¹ om die gewig see-uit vergelykbaar met ’n see-anker land toe te roei.

Die dubbelkajak is gevolglik aan die skiboot vasgemaak, terwyl die twee enkelkajakke deur R¹ en R³ na Buffelsbaai se hoofstrand teruggeroei is. Die skiboot kon net voor die kritieke keerpunt wat die inkomende hooggety betref, veilig op die bootsleepwa opgetrek word.

6.3 Gevolge

Die finale uitkomste of gevolge van hierdie gebeurtenis (wat verskeie komplekse fasette insluit) was dus besonder positief.² Die risiko van ’n haai-aanval, veral op R¹, was deurentyd ’n moontlikheid, omdat hy vir ’n lang tydperk nekdiep in die water verbete aan die sinkende kajak moes vasklou. R⁴ was minute weg van ’n traumatiese ervaring, omdat daar sonder ’n reddingsbaadjie op die verkeerde roete direk op die breek van die groot branders af geroei is. Die skipper en sy skiboot was op die punt om verby die kajakke te vaar, en dit was ook die laaste skiboot wat daardie middag nog nie terug in die hawe was nie. R¹ kon eenvoudig dieper deur die seestrome saam met die sinkende kajak wat hy probeer land toe roei het, verder die diepsee ingespoel het. Die hoogwater sowel as die sonsondergang was in aantog, wat enige ander reddingsoperasies sou bemoeilik het.

Maar hoe behoort die reeks voorafgaande en deurslaggewende besluite waarop hierdie positiewe uitkomste volg, sinvol geïnterpreteer te word?

6.4 Ontleding van die gebeurtenis

Verskillende teoretiese beginsels kan gebruik word om die intensionaliteit te verduidelik wat met die aanvanklike oorkoepelende besluit “om te gaan roei” verband hou.

Al die roeiers het heeltemal vrywillig aan die roei-uitstappie deelgeneem en al vier roeiers het ingestem dat die omgewing van die dolfyne agter die branders maklik bereikbaar was. Die kajakke was eenvoudig om te hanteer en die gety was laag en die weer perfek. Dit was ’n unieke geleentheid (nav die sg scarcity principle) wat veral vir R³ en R⁴ nie gou weer sou voorkom nie.

Die raam (kyk Koehler en Harvey 2007:379) waardeur die groep besluitnemers gekyk het, was dus na moontlikhede soos aangenaamheid, avontuur en seldsaamheid. Moontlikhede soos gevaar, krisis, hulpeloosheid en onervarendheid is uitgesluit. ’n Raam betrek die besluitnemer se aandag by sekere idees en ander idees word uitgesluit.

Hier was sonder twyfel sprake van toewyding tot aksie deur die groep, en wanneer toewyding eers deur ’n groep bereik is, word moeilik van besluit verander. Die invloed van die gesag (of dominansie) van R¹ en R³ (albei ervare roeiers) op die besluitneming van R² en R⁴ (albei onervare roeiers), alhoewel subtiel, moet ook nie onderskat word nie.

Die oorskatting van die groep se vaardighede (sg groupthink) voor die aanvang van die roei-uitstappie, saam met die impak van die gesagsbeginsel, het waarskynlik op ’n subtiele wyse verder tot die finale groepsinstemming en -toewyding tot die aksie bygedra.

Die deel van inligting deur R¹ aan die groep vooraf oor die hantering van die kajakke was voldoende, omdat geen insidente wat direk tot die fisiese hantering van die drie kajakke teruggevoer kan word, tydens die gebeurtenis opgeduik het nie.

6.4.1 Seevaardigheid van kajakke

Die kern van die dilemma soos dit later ontwikkel het, hou verband met die seewaardigheid van die kajakke. Waarom was die dubbelkajak nie waterdig nie en het dit gevolglik geleidelik seewater in die romp ingelaat?

Sainsbury (1995) vra tereg wat die goeie evaluering van beskikbare inligting of bewyse behels op grond waarvan besluite in die algemeen geneem word. Hy sê verder dat die intensionaliteit van besluite dikwels gebaseer word op lukrake assessering van hoe goed of hoe swak die inligting of bewyse of getuienis is waarop die besluit gebaseer word. Alle inligting behoort beoordeel te word soos ’n regter die inligting van ’n regsaak sou beoordeel.

Die seekajakke was al twee van ’n bekende handelsmerk en die kajakke se betroubaarheid was volgens R¹ (eienaar) en R³ (ervare roeier) se assessering voor die aanvang van die roeiuitstappie volgens sonder twyfel bo verdenking.

Indien die status van die kajakke egter gesien word as die inligtingsbron waarop die besluit berus om te gaan roei, wat het die assessering van die inligting deur R¹ en R³ behels? By terugskouing was dit nodig om die waterdigtheid van die kajakke voor vertrek weer deeglik te kontroleer, en moes nie goedsmoeds aanvaar gewees het dat die produkte wat die verskaffer lewer, wel 100% waterdig is nie. Enige van die roeiers kon byvoorbeeld moontlik vooraf ’n item in een van die kajakluike gebêre het en die luik nie weer 100% waterdig toegedraai het nie. Die opvatting “dis veilig om die kajakke in die see te gebruik” was gebaseer op lukrake assessering (Sainsbury 1995) van die spesifieke inligting of bewyse wat tot die roeiers se beskikking was. Die voorafassessering van die kajakke was eenvoudig net nie goed genoeg gedoen nie.

6.4.2 Van dolfyne na rotspunt

Fase twee in die drama behels die aanpassing van die oorspronklike besluit “om tot by die dolfyne te roei” natot “om tot by die verste sigbare rots by Buffelspunt te roei”.

Alles het goed verloop met die eerste fase van die proses en die roeiers was suksesvol. Kognitiewe dissonansie het dus feitlik geen rol gespeel om die aanpassing van die oorspronklike besluit met ’n moeiliker uitdaging te vervang nie. Die oorspronklike ooreenkoms kon dus maklik aangepas word, omdat geen konflik van houdings, sienings of behoeftes ontstaan het nie, en op grond van die konsekwentheidsbeginsel is die rit verder voortgesit. Indien daar by R² en R⁴ enige onsekerheid of weerstand oor die aanpassing van die besluit ontstaan het, kon dit natuurlik ook oorbrug gewees het deur middel van ontkenning (“niks kan tog eintlik verkeerd loop nie; die gety en weersomstandighede is optimaal”) of oorreding (“julle het tot dusver baie goed gevaar”). Daar was ook reeds ’n sielkundige belegging gemaak (sunk-cost-beginsel), omdat baie moeite gedoen was om die kajakke te lanseer en ’n betreklik lang afstand reeds suksesvol geroei was. Gevolglik lyk die aanpassing van die oorspronklike besluit na ’n daaropvolgende teiken heeltemal logies en sinvol.

6.4.3 Hulpsoek-besluit

R⁴ besluit om hulp te gaan soek sonder om vir R³ van hierdie voorneme in te lig. Dit kan aan heuristiese besluitneming toegeskryf word, maw ’n vinnige kortpadbesluit wat op minimum-inligting gebaseer is. Of dit kan volgens Peterson (2009:6) besluitneming onder onkunde wees. In so ’n geval is dit feitlik onmoontlik om betekenisvolle waarskynlikhede aan die moontlike uitkomste te koppel. Volgens R⁴ se eie persepsie was dit egter ’n rasionele besluit. Die basis vir die motivering vir hierdie besluit was kognitiewe dissonansie (emosionele ontsteltenis by die waarneming van die noodsituasie en ’n dreigende ramp). Verder was dit vir R⁴ duidelik dat R³ deurentyd by R¹ en R² en die sinkende kajak sou moes bly totdat hulp opdaag. R⁴ se gewaarwording was dus dat hulp onmiddellik en dringend gesoek moet word.

6.4.4 Kuslyn toe uitroei van sinkende kajak

R¹ se besluit om die sinkende kajak land toe te roei kan waarskynlik verklaar word deur ’n onwilligheid om die duur dubbelkajak te verlaat. Indien die kajak verlaat sou word, sou dit waarskynlik sink of deur die golwe teen die rotse stukkend geslaan word. ’n Aansienlike finansiële verlies was dus die enigste opsie indien die kajak verlaat sou word en dit was nie vir R¹ aanvaarbaar nie. ’n Finansiële belegging is met die aankoop van die kajak gemaak en daarom is besluit om ’n finale poging om die kajak te red dus deur R¹ geneem (sunk-cost effect).

In hierdie verband verwys Peterson (2009) na die rol wat states, outcomes and acts by besluitneming speel. ’n Toestand (state) is daardie komponent van die besluitnemingsproses wat nie ’n uitkoms of ’n handeling is nie. ’n Bepaalde toestand kan die besluitnemer se voorkeur(e) beïnvloed ten opsigte van die opsie wat gekies word. In hierdie geval het die finansiële implikasie (as die toestand of state) R¹ se besluit om die kajak uit te roei (die handeling of optrede) beïnvloed.

6.4.5 Gevolgtrekkings

Vanuit ’n reduksionistiese oogpunt sou die Buffelsbaai-kajak-insident eenvoudig afgemaak kon word as “dit kom basies neer op suboptimale besluitneming”, of “is die werklike rede nie bloot onverantwoordelikheid of selfs nalatigheid nie?”, of “dit was blote geluk dat julle lewend uitgekom het”, maar dit is sienings wat natuurlik op die oorvereenvoudiging van die dinamika van die proses neerkom.

Die basiese premisse van die risikosensitiwiteitsteorie kan gebruik word om die reeks opeenvolgende besluite deur die vier roeiers te verklaar. Hiervolgens word erken dat bepaalde risiko’s in die proses geneem is, maar dat dit nie noodwendig dui op onverstandigheid, insigloosheid en egobetrokkenheid nie. Daar was ook nie sprake van bewuste of onbewuste oordeelsfoute en besluite wat geneem is op grond van eiebelang en/of sosiale druk nie. Niemand kan aan die neem van risiko’s ontkom nie – dit is deel van die alledaagse lewe.

Alhoewel besluitnemers ten volle verantwoordelik is vir hul besluitneming, en die attribusies van persoonlike verantwoordelikheid vereis dat individue te alle tye volkome beheer oor hul optrede moet uitoefen (Clark 2007:135), is die konteks van risiko’s en die aard van die motivering van besluitneming in die alledaagse lewe ’n uiters komplekse verskynsel. Die redenasies rondom die morelegeluk-paradoks neem dus byvoorbeeld nie die invloed van toestande op die besluitnemer se optrede in ag nie, ook nie die feit dat die omgewing dinamies is en voortdurend verander nie, of ignoreer selfs beginsels soos konformiteit, dominansie, minderheidsgroepinvloed en groeppolarisasie. Derhalwe is die risikosensitiwiteitsbeginsels meer gepas om die besluite en uitkomste in hierdie gebeurtenis te verklaar.

In die geval van R⁴ se hulpsoekbesluit is die klimaat vir heuristiese besluitneming deur ’n noodsituasie of krisis geaktiveer. Die omstandighede waarin R⁴ verkeer het, het die ideale konteks vir ’n vinnige kortpadbesluit geskep. Die noodsituasie was ook die toestand wat die besluit primêr gemotiveer het. Dit was ’n rasionele besluit, maar nie noodwendig die regte besluit nie.

Riskante besluitneming wat in hierdie gevallestudie ter sprake is, kom neer op reaksies op verskeie omgewingsveranderlikes met inagneming van die ervaring van en individuele verskille tussen die vier roeiers. Hierdie gevolgtrekkings word deur die volgende aanhaling van Burns en Roszkowska (2016:207) onderskryf en beaam:

The work demonstrated that rational economic man, the all-seeing, all-knowing figure on whose shoulders much of contemporary economics has been constructed, was a largely fictional character. Faced with even simple sets of options to pick from, human beings make decisions that are inconsistent, suboptimal, and, sometimes, plain stupid, because of cognitive or judgmental limitations, miscalculations, or simply emotional impulses. They often rely on misleading rules of thumb and leap to inappropriate conclusions and actions. Moreover, they are heavily influenced by how the choices are presented to them and, sometimes, by completely false or irrelevant information.

 

  1. Beperkinge van hierdie studie

Die ontleding van die kajakroeigebeurtenis in hierdie studie is van ’n outobiografiese aard, en dus kon die beskrywing en weergawe van die feite deur outeursydigheid beïnvloed gewees het, alhoewel ek alles in my vermoë gedoen het om alle moontlike vorme van sydigheid uit te skakel en te beperk.³

 

Bibliografie

Burns, T en E Roszkowska. 2016. Rational choice theory: Toward a psychological, social and material contextualization of human choice behaviour. Theoretical Economic Letters, 6:195–207. https://doi.org/10.4236/tel.2016.62022.

Clark, M. 2007. Paradoxes from A-Z. Tweede uitgawe. Londen: Routledge.

English, HB en AC English. 1970. A comprehensive dictionary of psychological and psychoanalitical terms. Londen: Longmans.

Hardman, D. 2009. Judgment and decision making. Psychological perspectives. Chichester: BPS Blackwell.

Hiller, FR 2016. How to (dis)solve Nagel's paradox about moral luck and responsibility. Manuscripto, 39(1). http://dx.doi.org/10.1590/0100-6045.2016.V39N1.FRH.

Koehler, DJ en N Harvey (reds). 2007. Blackwell handbook of judgement and decision-making. Malden, MA: Blackwell.

Liedboek van die kerk vir gebruik by die erediens en ander byeenkomste. 2001. Kaapstad:, NG Kerk-Uitgewers.

Mishra, S. 2014. Decision-making under risk: Integrating perspectives from biology, ecnomics and psychology. Personality and Social Psychology Review, 18(3):280–307.

Peterson, M. 2009. An introduction to decision theory. Cambridge, VK: Cambridge University Press.

Ratner, RK en KC Herbst. 2005. When good decisions have bad outcomes: The impact of affect on switching behaviour. Organizational Behaviour and Human Decision Processes, 96:23-37.

Reber, AS en ES Reber. 2001. The Penguin dictionary of psychology. Londen: Penguin Books.

Sainsbury, RM. 1995. Paradoxes. Tweede uitgawe. Cambridge, VK: Cambridge University Press.

Schoonees, PC (red). 1972. Woordeboek van die Afrikaanse taal. Vierde deel H-I. Pretoria: Staatsdrukker.

 

Eindnotas

¹ Hiermee word innige meegevoel uitgespreek teenoor die gesin, familie en naasbestaandes van Philip Volschenk wat op so ’n onredelike en tragiese wyse verongeluk het. Die presiese motivering vir Philip se besluitneming op daardie kritieke oomblik sal altyd onbekend bly.

² Dit is ons (die vier roeiers) se vaste oortuiging dat daar ’n groot stuk van die Hemelse Vader se genade in die uitkomste van hierdie gebeurtenis opgesluit lê, veral omdat ons almal met ons lewens daarvan afgekom het, waarvoor ons die Here baie dankbaar is. Ons erken dat dit nie bloot ons eie roeivernuf was wat die deurslag gegee het nie, daarom gee ons die eer aan Hom wat dit toekom, soos saamgevat word in die eerste reël van lied 244 in Die Liedboek van die Kerk (2001): “Alle roem is uitgesloten” (kyk Scharp, 1806) en in Afrikaans vertaal as “Alles, alles is genade ...”

³ Al die betrokke roeiers het die artikel voor publikasie deurgelees, die teks is ooreenkomstig die kommentaar gewysig, en goedkeuring is ontvang dat die inhoud gepubliseer mag word.

The post Keuses en gevolge: ontleding van ’n gebeurtenis appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!