Paaie van hoop
Nadia Beukes
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320117
Skrywers oor hulle nuwe boeke: Nadia Beukes gesels met Liné Enslin oor Paaie van hoop.
Hallo Nadia. Baie geluk met die verskyning van jou boek! Ek sien dat jy die boek onder andere aan die Dinamiese Dames opdra. Wie is die Dinamiese Dames en watter invloed het hulle op jou lewe gehad?
Baie dankie vir die gelukwense. Die Dinamiese Dames is ’n groep van vyf vriendinne wat saam drome deel en dinge doen – als van teepartytjies tot konserte, mekaar ondersteun in moeilike tye en saam oorwinnings en sommer net die lewe vier. Ons is hartsvriendinne: ek, Edrien Erasmus, Soné Combrinck, Marisa Drummond en Melissa Swart. Dit is dames wat my hart ken, my altyd onderskraag en my ’n beter mens maak. Ek kan maar net hoop dat ek vir hulle ook soveel kan beteken as wat hul vir my beteken.
Jy sê in jou boek dat jy hardkoppig is en reeds van kleintyd af alles bevraagteken het. Het jy al bevraagteken hoekom slegte dinge met mense gebeur, en ook waar dit vandaan kom?
Ek dink die meeste van ons vra maar daardie tipe "groot vrae", veral as die lewe ooglopend onregverdig voorkom. Ek wens ek kon sê ek het die antwoorde, maar ongelukkig het ek beslis nie. Tog het ek op my pad al gevind dat die vrae nie noodwendig altyd ’n antwoord het nie en dat sommige dinge in die lewe aanvaar eerder as verstaan moet word. Met dit gesê, het ek ook al geleer dat God nie iets oor my pad sal laat kom waarvoor ek nie toegerus is nie en dat dinge op die ou einde ten goede sal meewerk.
Ek lei uit jou boek af dat jy iemand is wat emosies nie net halfpad ervaar nie – jy ervaar hartseer, opgewondenheid, verliefdheid, geluk, alles met dieselfde intensiteit. Is dit ’n moeilike eienskap om te hê? En hoe gebruik jy dit tot jou voordeel?
Soms dink ek dit is ’n voorreg om my emosies so intensief te ervaar, en dit het in my loopbaan al vir my baie beteken omdat dit my toelaat om opreg met die emosies van die karakters wat ek vertolk te kan identifiseer – ’n tipe empatie met die karakters te ontwikkel. En natuurlik is iets soos geluk wonderlik om in die oortreffende trap te ervaar. Dit is egter as dit kom by die swaarder emosies dat ek soms wens ek kon dit eerder onder ’n mat invee en aanbeweeg, maar dit is nie wie ek is nie. Ek het al geleer om vir myself oomblikke van hartseer of kwaad of teleurstelling te gun, sodat ek dit kan probeer verwerk en verstaan en vroeër eerder as later kan opstaan en aangaan, hopelik met ’n les wat ek uit daardie ervaring geleer het. Ek het vir baie lank die negatiewe dinge probeer vermom, maar dit het my nie veel gebaat nie. Inteendeel het ek gevind daardie donker tye laat die goeie tye se lig selfs meer helder skyn.
Jy vertel in jou boek dat optredes maklik is, omdat daar ’n teks is en ’n regisseur wat vir jou sê waar jy moet staan en hoe jy moet optree. Die lewe is egter nie so eenvoudig nie. Hoe moeilik is dit om jou innerlike worsteling agter kostuums en grimering te verbloem? En waar kry jy in die werklike lewe raad en leiding oor wat om te doen en watter rigting om in te slaan?
Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe kosbaar ware vriende en naby familie is. Daardie mense wat jou aanvaar vir wie en wat jy is en jou altyd en onvoorwaardelik ondersteun, in goeie en slegte tye. Dit is daardie mense wat ek vertrou vir raad en leiding. My man David, my ouers, my hartsvriende en ook my agentskap Talent-etc, wat my nog altyd ondersteun in my loopbaan en lewe. Meer onlangs het ek met die skryf van Paaie van hoop met ’n uitgewer en medeskrywer, Jana van der Merwe, gewerk en dit was so lekker om veilig te voel by hierdie mense wat my met soveel geduld deur die skryf van hierdie boek gelei het. Wat my werk as aktrise betref, het ek al regtig met ongelooflike mense agter die skerms gewerk, mense wat my so veilig laat voel dat ek nie juis my eie gevoelens verbloem deur karakters nie, maar eerder juis daardie gevoelens gebruik om met ’n karakter of storielyn te identifiseer, en dan word my werk ’n tipe uitlaatklep wat ek altyd met eerlikheid en integriteit probeer aanpak.
Was dit vir jou moeilik om weer al die kronkelpaaie, kruispaaie, snelweë en bergpasse van jou emosionele en geestelike lewe te konfronteer toe jy die boek geskryf het? Was die proses van boekskryf ook nog ’n pad wat jou na ’n beter plek in jou lewe gebring het?
Dit was soos ’n tipe terapie om weer al die paaie wat die lewe al met my geloop het, te gaan besoek tydens die skryf van hierdie boek. Ek voel of ek opnuut weer iets van myself geleer het deur die skryfproses, of ten minste herinner is aan die lesse wat ek al op my pad geleer het. By sommige plekke of paaie het ek vasgehaak en opnuut besef wat ek al als in die lewe geleer het. By ander paaie het ek net vinnig gestop, want ek het al so ver aanbeweeg van daardie tye af, maar juis dit het my ook opnuut herinner aan God se genade en die deurlopende tema van hoop wat ek konstant in my eie lewe ervaar. Dat die tyd genees en dat God werklik alles ten goede laat meewerk. Natuurlik het dit ook baie gehelp om my medeskrywer as ’n objektiewe gids te hê om my deur die roetes van my verlede te lei, deurdat sy ’n tydlyn vasgestel het en altyd insiggewende vrae aan my gestel het wat my dan dienooreenkomstig na die antwoorde en ook die woorde in die boek gelei het. Saam met Jana en Susan Breytenbach by Lux Verbi kon ek eerlik my stories en staaltjies deel met die hoop dat lesers daarmee sal kan identifiseer en so ook herinner word aan die hoop in hul eie harte.
Wat was die grootste uitdagings?
Vir my was die grootste uitdaging om by die sperdatums van die inlewer van elke hoofstuk te bly. Daar is altyd nog iets wat jy kan of wil byvoeg, en natuurlik altyd ruimte vir verbetering, maar ek moes leer om die uitgewer te vertrou en braaf genoeg te wees om my gedagtes uiteindelik met Jana, Lux Verbi en hopelik heelwat lesers te deel. Ek noem ook in die boek dat ek werklik nie dink dat my stories uniek is nie, maar dit is uniek tot my en ek het nou hierdie platform gekry om my verhaal te deel, dus is my grootste wens is dat die persoon wat dit lees, ’n tikkie inspirasie daaruit sal put.
Jy noem dat dit belangrik is vir iemand om die regte passasiers te kies vir hulle pad. Hoe onderskei mens? Hoe weet jy wanneer die mense in jou lewe goeie of slegte passasiers is? Of vind jy dit maar na die tyd uit?
Ek glo ’n mens weet eintlik altyd wat reg en verkeerd is; soms kies ons net om nie te luister na ons intuïsie nie, en dit kan om verskeie redes wees. Dalk is ons bang, dalk voel ons ons verdien nie beter nie, dalk is daar nie op die gegewe oomblik enige ander opsies nie. Tog is daardie stemmetjie altyd daar, en ek glo dit is die Heilige Gees wat vir ons die waarheid fluister, en as ons kan leer om daardie intuïsie, sesde sintuig, stemmetjie of waarheid te begin vertrou sal ons weet wanneer iets, of dan nou iemand, nie reg "voel" nie. Ek het ook al geleer voordat jy enige binnestem kan vertrou, moet jy eers jouself vertrou, weet wie jy is, wat jy wil hê en deur dit als, jouself leer liefkry en vir jouself geluk gun. Almal van ons verdien om gelukkig te wees en as jy braaf genoeg is om ’n kans op geluk te vat, glo ek die lewe sal jou die meeste van die tyd met sakke vol vreugde verras.
Jy is al deur trauma, egskeiding, depressie en baie ander moeilike tye. Hoe kom mens heel aan die anderkant uit? Het jy miskien ’n gunsteling-aanhaling uit jou boek waarmee jy die vraag kan beantwoord?
Die feit dat ek vandag hierdie boek en my pad tot hier met mense kan deel, staan as ’n getuienis van God se genade. Daar was beslis al tye in my lewe waarin ek nie enige lig aan die einde van die tonnel kon sien nie, maar ten spyte van myself het daar uiteindelik wel ’n lig verskyn en het ek besef daar is altyd hoop – soms kom dit net nie soos en wanneer ons dit verwag of wil hê nie, maar dit is uiteindelik altyd daar. Hou uit, hou aan, droom groot en wees braaf ... "You have the seed of greatness within you ... Bloom where you are planted."
The post Paaie van hoop deur Nadia Beukes: ’n onderhoud appeared first on LitNet.