Die gewilde rymkletser Jitsvinger kom toor met woorde by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jeugdag-viering op 16 Junie 2017 by Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl.
Jitsvinger is die gasspreker en sal ook ’n kort werkswinkel oor rymklets in Afrikaans aanbied. Die gratis program vind van 10:00 tot 12:00 plaas. Dit sluit ook ’n optrede in deur die plaaslike rymkletsgroep Getuie$, asook ’n oopmikrofoonsessie (waarvoor belangstellendes vooraf moet inskryf).
Die uitvoerende kunstenaar Quintin Goliath, beter bekend as Jitsvinger, is ’n gevestigde skrywer, komponis, opvoeder en musikant van die Kaapse Vlakte. Hy beskryf homself as ’n “multifasetkunstenaar met hope kreatiwiteit en kultuur te spaar”. Hy het onlangs teruggekeer van sy tweede Nederlandse toer, hierdie keer met die musikale teaterproduksie South African Road Trip: Celebrating Life. Jitsvinger werk tans aan sy tweede album ná die suksesvolle afskop van sy loopbaan met die vrystelling van Skeletsleutel in 2006. Hy is ook in Junie in die Kunstkaap te sien in Smoortjies & Smoothies met Mervyn Africa.
Volgens Michael Jonas, die Direkteur van die ATM, wil die ATM met hierdie geleentheid die diversiteit van Afrikaanse musiek vier, veral onder jongmense. “Rymkletsers is digters in hul eie reg wat op ’n byderwetse wyse jongmense bewus maak van die rykheid van ons taal en poësie,” sê Jonas.
Toegang is gratis, maar bespreking is noodsaaklik. Bespreek by Nkita Pietersen by 021 872 3441 of student@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting oor die ATM, besoek www.taalmuseum.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.
The post Persvrystelling: Rymklets met Jitsvinger op Jeugdag appeared first on LitNet.