LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
Elsa Hamersma
Elsa Hamersma het al 15 boeke geskryf waarvan die meerderheid romanses is. Een daarvan was ’n jeugverhaal, Die teken van die crux, waarmee sy in 1998 die Sanlamprys vir jeuglektuur gewen het.
Die mense langsaan is haar eerste spanningsroman en dis geskryf in die tradisie van die domestic noir, The girl on the train – ’n nuwe genre vir die Afrikaanse mark.
Elsa woon die grootste deel van haar lewe in Pretoria en Johannesburg maar in 2000 verhuis sy en haar man, André, Kaap toe en deesdae woon hulle op Jakkalsfontein aan die Weskus, dig teen die see.
Opsomming
Die mense langsaan|
Elsa Hamersma
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799383508
Die mense wat langs jou bly of werk, is dikwels nie wat hulle voorgee om te wees nie. Christine en Zebith werk elke dag saam, maar Zebith weet nie dat Christine vasgevang is in ’n ongelukkige huwelik en daagliks planne maak om van haar man ontslae te raak nie. Andersyds is Christine onbewus van die feit dat Zebith se hart gebreek word.
Beide vroue kry nuwe bure en hierdie mense verander hulle lewe, maar nie ten goede nie.
Toe Christine later langs Zebith in ’n veiligheidskompleks intrek, het hulle albei ’n metamorfose ondergaan. Zebith se wêreld lê aan skerwe en alhoewel dit aanvanklik lyk asof Christine uiteindelik geluk gaan vind, word sy met bedrog, kaping en moord gekonfronteer. Geld – gewen, geërf of gesteel – is die swart skaduwee wat oor al die gebeure en karakters hang.
Gou besef beide vroue dat geld nie geluk kan koop nie, liefde alleen nie altyd genoeg is nie en dat veiligheid nie altyd gewaarborg kan word nie.
Uittreksel
Een
’n Goeie vrou hoor nie as haar man snork nie. Wat beteken Christine faal weer eens.
Dit voel asof die nag nooit gaan eindig nie. Eenuur dink sy dat sy net haarself kan blameer; tweeuur oortuig sy haarself dat Frik dit nie kan help nie; halfdrie begin sy dink aan moord. ’n Kussing op sy gesig. Sy druk haar orent. In die helder lig van die volmaan lê hy arms oor die bors gevou, plat op sy rug. As sy die kussing op sy gesig sit en sy arms met haar gewig vaspen... Selfs Delila sou onder dieselfde omstandighede dalk oorweeg het om Simson met die lang hare en groot krag aan te durf.
Dis nie dat sy nie probeer het nie: oorpluisies in die ore, kombers oor die kop, slaappille. Niks help nie. Die hele nag lank klink Frikkie soos ’n vasgekeerde leeu en sy lê wakker. Weekin en weekuit. Soms erger, soms beter. Vlees en bloed kan net soveel verduur. As sy nie in ’n ander kamer gaan slaap nie, gaan sy Frikkie vannag vermoor.
Drieuur staan sy met ’n wrokkige hart uit die warm bed op en sluip by die deur uit. Dit is nie die eerste nag wat sy in die spaarkamer gaan slaap nie, maar dit het koud geword. Die bed in die spaarkamer is yskoud en daar is te min warm komberse, maar daar is stilte. Salige, bedwelmende stilte.
Die wekker maak haar ’n driekwartier voor Frikkie se opstaantyd wakker uit ’n diep, droomlose slaap. Hy weet nie eens sy het in die nag weggeloop nie.
Sy wag tot ná ontbyt, wanneer hy hopelik in ’n goeie bui sal wees. “Frikkie, ek het gewonder of ek nie bietjie in die spaarkamer moet gaan slaap nie. Jy hou my regtig snags wakker met jou snorkery. En ek dink ek pla jou met my rondrollery,” voeg sy vinnig by.
“Ja, jy gaan te kere asof daar rooimiere aan jou kant van die bed is,” brom hy dadelik onvergenoeg.
“Ek is jammer.” Dis altyd die beste om die minste te wees. “So wat dink jy? Kan ons dit probeer?”
“’n Vrou se plig is om by haar man te slaap. Die huweliksbed is die pilaar waarop die huwelik rus,” antwoord hy vroom. “Die Bybel sê so.”
Waar dit in die Bybel staan, sou sy nie kon raai nie, maar sy vra nie. “As ek nie genoeg slaap kry nie, kan ek nie bedags my werk behoorlik doen nie.” Dit is nie die enigste rede waarom sy nie meer ’n bed met hom wil deel nie, maar sekerlik die belangrikste. Aan die ander kant is dit nie in haar belang om oor die ander onnoembare geluide en reuke te praat nie. As dit moet, sal sy ten spyte daarvan kon slaap. As sy net eers aan die slaap kan raak.
“Ag, dis mos nie asof jy bedags die skerpste potlood hoef te wees nie!” lag hy lekker vir sy eie kwinkslag. “Potlood? Skool?” verduidelik hy verder, ingeval sy te dom is om te verstaan. “Om ’n paar uur per dag skool te hou is mos nie eintlik werk nie.”
Dit is sy ou grappie, maar steeds moet sy op haar tande byt om niks te sê nie. Dit is nie lekker as Frikkie so van haar werk praat nie. Veral nie voor ander mense nie, want hy het geen benul hoe moeilik dit is om vir graadviers tafels en wiskunde te leer nie. Vandag se kinders kan hóm ’n paar goed leer. Hy, daarenteen, is ’n motorverkoopsman en sy werk, is sy oortuig, vereis minder skerpsinnigheid as hare. Al wat hy regtig nodig het, is oorredingsvermoë, en daaraan het hy geen tekort nie.
Maar dis nie ’n argument wat sy kan wen nie, daarom bly sy stil.
“Niemand hoef te weet nie. Dis ons privaat saak. En jy kan mos vir my kom kuier as jy behoefte het aan ’n bietjie... liefde. Of my na jou kamer toe nooi.” Sy weet goed om nie na seks as sodanig te verwys nie. Frikkie kry beroerte as sy dit waag om “lelike woorde” te gebruik. Dit pas nie by ’n ordentlike vrou nie, sê hy altyd. Die woord “seks” sal kwalifiseer as so ’n woord. Dat daar lankal nie sprake van “liefde” in hulle huwelik is nie, is onnoembaar.
Hy rek hom tot sy volle lengte uit. Dis nie indrukwekkend nie en dalk waarom hy graag so bietjie op sy tone verrys. “Ek hou nie hiervan nie, Christine. Ek gaan koud kry in die winter,” sê hy en kyk opsommend na haar.
“Ek sal die elektriese kombers en die nuwe donskombers vir jou los. Kom ons probeer net bietjie? As dit nie werk nie, sal ek terugtrek.”
“Ek weet darem nie...”
Dit is die sein dat sy moet soebat.
“Asseblief, Frikkielief? Kan ons dit dalk net vir ’n week probeer? As jy dan ongelukkig is met die stand van sake, sal ek terugtrek.” Frikkielief dateer uit die verre verlede. Daardie tyd was sy sy Blompot, maar gelukkig het dié naam ná ’n baie kort rukkie in die stof gebyt.
“Nou goed. Net vir ’n week. As ek koud kry of ek slaap sleg, trek jy terug.”
Met ’n klein glimlaggie dra sy haar paar goedjies na die spaarkamer toe. Vandag nog koop sy ’n tweede donskombers. Daar is geen rede hoekom sy koud moet slaap net omdat sy nie ’n goeie vrou is nie.
The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die mense langsaan deur Elsa Hamersma appeared first on LitNet.