Om mens te wees, beteken om akteur te wees: ons vertolk verskillende rolle in verskillende situasies. Elke aspek van menswees bied unieke, en soms botsende, uitdagings. Kinders wat in sekere huishoudings grootword, mag dalk tuis bevraagteken en kritiseer en op skool hul plek ken. Werkende vroue wat ook ma's is, moet dalk saans sekermaak dat huishoudelike take sowel as werksverpligtinge afgehandel is. En getroude mans wat onderwysers is, ervaar rolkonflik van hul eie.
Na aanleiding van die onlangse LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel, Rolkonflik by getroude manlike opvoeders, gesels Estelle Kruger met Deon Vos, wat hierdie navorsing saam met Philip van der Westhuizen gedoen het:
Wat was jou ervaring in die onderwysberoep voordat jy die akademie betree het?
Ek was vir 30 jaar verbonde aan ’n skool, waarvan ek vir 13 jaar ’n skoolhoof was. Ek het my werk baie geniet en was bevoorreg om saam met ’n puik personeel die skool te bestuur. Ek is steeds baie lojaal en positief teenoor my vorige werkgewer (Noordwes Onderwysdepartement); die onderwysdepartement het my baie goed behandel en ek het altyd die beste leiding van die betrokke belanghebbendes ontvang.
Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het hierdie navorsing van jou geïnspireer? Hoe het jy bewus geword van rolkonflik by getroude manlike opvoeders?
Daar is al verskeie studies in Suid-Afrika gedoen oor rolkonflik by vroulike opvoeders, maar nog geen studie oor rolkonflik by manlike opvoeders nie. Ek het by verskeie geleenthede rolkonflik by manlike kollegas opgemerk en waargeneem hoe hierdie konflik hulle werk en gesinslewe nadelig beïnvloed, daarom het ek dit nodig geag om hierdie navorsing te doen.
Dink jy die rolkonflik wat getroude manlike opvoeders ervaar verskil van dié van professionele vroulike opvoeders? Hoe manifesteer dit?
Nee, ek dink nie dit verskil in wese nie, maar rolkonflik by mans word as gevolg van ander faktore as by dames ervaar. Soos in die studie aangedui is, beleef mans rolkonflik omdat daar nie in sommige gevalle duidelikheid bestaan oor wat presies van hulle verwag word nie (binne die gesin, by die werk en binne die samelewing) en omdat hulle ook in sommige gevalle die rol van die vrou as ’n bedreiging beskou. Daar bestaan ook verder die gevaar dat mans soms van mening is dat hulle ook die rol van die vrou moet vervul (dubbele rolle).
Toe jy die hoof van ’n skool was ...
1. Hoe het jy die (nuwe) rolkonflik wat getroude manlike opvoeders ervaar, bestuur in die werksituasie?
Ek het altyd verseker dat elke personeellid presies ingelig was oor die pligte, rolle en verantwoordelikhede wat hulle elke dag moes uitvoer, asook die wyse waarop hulle dit moes uitvoer. Verder het ek ook nie toegelaat dat een persoon ongevraagd inmeng met die ander se rol/plig nie.
2. Hoe het jy hierdie mans ondersteun om nuwe rolle te aanvaar en beoefen?
Ek het elke man se rol presies verduidelik en verseker dat hulle besef dat hulle rol by die skool as onderwyser van onskatbare waarde vir almal is. Tydens meer persoonlike gesprekke het ek die belangrikheid van hulle rol as vader en eggenoot beklemtoon. Die belangrikheid en waardigheid waarmee manlike opvoeders hulle rol as onderwyser, vader en eggenoot vervul, is gereeld beklemtoon. Ek het ook gereeld erkenning aan personeel gegee wanneer hulle ’n taak suksesvol uitgevoer het.
Dink jy ’n vroulike skoolhoof sou die spanning wat ontstaan agv rolkonflik anders bestuur as ’n manlike skoolhoof?
Nee, my ervaring is dat vroulike skoolhoofde oor uiters effektiewe en suksesvolle bestuurstyle beskik en juis empatie en begrip vir die persoon wat rolkonflik ervaar, sal hê.
Jy verwys na tradisionele rolverwagtings wat ’n groot bron van spanning is vir die hedendaagse man. Is dit moontlik dat mans voel asof vrouens as hulle professionele eweknieë hulle “onttroon” het? Motiveer asseblief.
Dit is moontlik dat mans van mening kan wees dat dames ook die rol van die man in ons moderne samelewing kan vervul of selfs kan oorneem. Waar tradisioneel slegs sekere rolle aan mans toegeken is, is dit nie meer die geval nie. Die inkomste van die vrou is ewe belangrik as die inkomste van die man. Die man kan nie meer as enigste broodwinner gesien word nie en hieruit word die rol van die vrou binne die gesin versterk. Binne die werkplek is vroulike onderwysers net so belangrik as manlike onderwysers en dames kan enige taak wat tradisioneel aan mans toevertrou is, net so goed doen. Laasgenoemde twee situasies (binne die gesin en binne die werkplek) kan ’n bedreiging vir manlike onderwysers inhou.
Jou navorsing is gedoen vanuit ’n algemeen-geldende perspektief en nie vanuit ’n kultureel-bepaalde perspektief nie. Wat is die verskil en wat is jou rede vir hierdie keuse?
Rolkonflik kom by alle kultuurgroepe voor en is dus algemeen-geldend. Dit is moontlik dat nie alle kultuurgroepe tot dieselfde mate rolkonflik ervaar nie, maar dit neem nie die feit weg dat daar wel rolkonflik ervaar word nie.
Hoe sou jy die bevindinge van jou navorsing in 25 woorde verduidelik aan ’n egpaar waar hierdie rolkonflik manifesteer? Hoe sou jy hulle ondersteun om in vennootskap te wees en die spanning tov rolkonflik op te los?
Die oplossing is gesetel in hóé rolkonflik hanteer word en wat van elkeen verwag word. Elkeen se rol is belangrik vir die gesin se voortbestaan.
Jou navorsing is gemotiveer deur ’n spesifieke geloofsoortuiging. Beteken dit dat al die persone wat deel van jou navorsingspopulasie was, ook hierdie geloofsoortuiging gedeel het? Sou dit verskillend wees by getroude manlike opvoeders van ander geloofsoortuigings? Verduidelik asseblief.
Nee, rolkonflik kom by alle geloofsoortuigings voor. Die Christelike perspektief is slegs as ’n voorbeeld gebruik. Weer eens kan geargumenteer word dat die mate van die belewing van rolkonflik by verskillende geloofsoortuigings verskil, maar dit sou eers empiries bewys moes word.
Een van jou bevindinge was dat gekleurde respondente meer rolkonflik as wit respondente beleef. Wat dink jy is die rede hiervoor?
’n Moontlike rede kan die verskil in die sienswyse ten opsigte van verskillende rolle binne verskillende kultuurgroepe wees.
Watter verrassings het jy gekry in hierdie navorsingsprojek?
Die toenemende mate in die belewing van rolkonflik by getroude manlike opvoeders, asook die nadelige gevolge wat rolkonflik vir die gesin en die werkplek inhou.
Wat het jy as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van julle bevindinge?
Hierdie navorsing het bewys dat rolkonflik ’n baie ernstige werklike is waarmee rekening gehou moet word. Alle opvoeders beleef rolkonflik tot ’n sekere mate. Dit is uiters belangrik dat persone in gesagsposisies by die werk asook gesinslede toegerus moet word om rolkonflik te begryp en te minimaliseer.
Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison?
Ek gaan ’n opvolgstudie doen ten einde vas te stel in welke mate die getroude manlike opvoeder rolkonflik tans beleef en of daar ’n verskil in die belewing van rolkonflik vroeg in die 21ste eeu en tans bestaan. Ek sou daardie artikel ook graag by LitNet Akademies (Opvoedkunde) wou publiseer, sodat die lesers kennis kan neem van die huidige situasie met betrekking tot die belewing van rolkonflik by getroude manlike opvoeders.
The post Om al die balle in die lug te hou: 'n Gesprek oor rolkonflik by manlike onderwysers appeared first on LitNet.