Leerders trap landwyd klei om wiskunde baas te raak, maar by Worcester in die Wes-Kaap is dié monster vinnig besig om reeds op laerskool getem te word. ’n Artikel oor syfervaardigheid wat vroeër vanjaar op LitNet verskyn het (Syfervaardigheid is Wiskunde se moses) het ouers, onderwysers en dosente aangespoor om die bul by die horings te pak en wiskunde-slypskole vir laerskoolleerlinge aan te bied. Wilhelm du Toit, ’n wiskunde-onderwyser by die Laerskool Worcester-Oos, het aan Jean Oosthuizen gesê dit is nie nodig om moedeloos te raak of om die wit waks uit kinders te slaan as hulle nie hulle tafels kan onthou nie of met wiskunde sukkel nie.
Jy het vroeër vanjaar ’n groep laerskool-wiskunde-onderwysers in jou omgewing bymekaar gebring wat vir bykans twee maande lesingmateriaal ontwikkel het vir wiskunde in grade 6 en 7. Vertel so ’n bietjie meer daarvan.
Uit die reaksie van julle lesers oor die artikel Syfervaardigheid is Wiskunde se Moses was dit baie duidelik dat ons hele land en ook van ons buurstate probleme ervaar met wiskunde.
Ouers, onderwysers en selfs dosente het kontak gemaak en hul probleme bespreek. Ná gesprekke met onderwysers in hoërskole het ek op die idee gefokus om ’n wiskundeslypskool te reël vir grade 6- en 7-leerders in ons omgewing. Ek en vier baie ervare wiskunde-onderwysers uit vyf van ons laerskole het besluit om hierdie reuse-uitdaging aan te pak en die eerste poging was ’n groot sukses.
Die materiaal wat julle aangebied het, het die hele jaar se werk gedek. Tog het julle dit in ’n betreklike kort tyd aangebied. Hoe het julle dit reggekry?
Die lesingmateriaal wat voorberei is, het gefokus op die inhoud van die Kurrikulum en Assesseringsbeleidsverklaring (CAPS) van die Departement van Basiese Onderwys.
Die lesings is opgestel in die vyf afdelings van wiskunde, naamlik: Getalle, Bewerkings en Verwantskappe; Patrone, Funksie en Algebra; Ruimte en Vorm; Meting en Datahantering. Ons het hierdie inhoud in sewe lesings van twee uur elk ingedeel met hope inoefening en vaslegging. In elke lokaal was twee onderwysers om die leerders by te staan met hul vrae en probleme. Harde werk en swoeg en sweet het ons deur hierdie tyd gedra. Die positiewe gesindheid van die kollegas was absoluut inspirerend.
Die slypskool wat julle aangebied het, is sover ek weet die eerste soortgelyke slypskool vir laerskole in Suid-Afrika. Dit is werklik ’n besondere prestasie. Wat was die terugvoer wat julle van ouers en leerders ontvang het en beplan julle soortgelyke slypskole in die nuwe jaar?
Die slypskool was beslis die eerste in sy soort in die Wes-Kaap. Ek is nie seker van ander provinsies nie. Dit was ’n wonderlike ervaring vir ons groep onderwysers, vir die kinders en ook hulle ouers. Die terugvoer was absoluut fantasties. Leerders en hul ouers was hoogs tevrede met die kwaliteit lesmateriaal en die kwaliteit aanbiedings. Die eerste poging was ’n reusesukses. Ons beplan om in 2016 twee soortgelyke projekte aan te bied in ons omgewing.
Betrek julle ook die ouers by die slypskool en kry hulle na die tyd ’n verslag of iets om hulle op hoogte te stel van die leerders se vordering?
Ouerbetrokkenheid is een van die primêre pilare van suksesvolle onderwys. Die kommunikasie met die kinders se ouers was van meet af baie professioneel. Hulle is gereeld op hoogte gehou van die organisering en beplanning. Elke leerder het aan die einde van die kursus ’n sertifikaat ontvang. Aanvanklik het ons nie ’n verslag gegee nie, maar nadat ouers gevra het, is ’n verslag saamgestel en voorsien.
Jy het vroeër verwys na die wye reaksie op LitNet se artikel vroeër vanjaar oor ’n ander projek van jou wat kinders help om meer syfervaardig te raak. Vertel ons ’n bietjie van die reaksie wat jy ontvang het en wat die Genius-projek kortliks behels.
Die reaksie op die syfervaardigheidsartikel was verbasend groot. Dwarsoor die land het mense reageer en navraag gedoen. ’n Hele paar nuwe skole is gereed vir 2016 en ons het selfs ’n klompie kinders betrek wat tuisonderrig ontvang. Hierdie tuisonderrigmaatskappye en selfs privaatskole kan beslis baat vind by Genius.
Die projek fokus op positiewe karakterontwikkeling en die ontwikkeling van syfervaardigheid. Die taal van die projek is syfers. Dit is ontwikkel vir grade 5- tot 7-leerders. ’n Metingstoets is oor drie jaar ontwikkel en gedurende 2014 getoets. Alle gr 6-leerders in ons skool het die toets in Februarie afgelê. Dieselfde toets is in November weer afgelê.
Die data is deur ’n bedryfsielkundige ontleed. Die proses is wetenskaplik en statisties getoets en die uitslae was ongelooflik positief. Leerders se wiskundeprestasies en syfervaardigheid het beduidend gestyg. Dit is ’n ongelooflike deurbraak. Ek is nie bewus van enige wiskundeprodukte wat hierdie toets deurstaan het nie.
Is dit net vir skole beskikbaar of is die program vir individue ook beskikbaar?
Ons verkies om deur skole te werk vir goeie beheer en kontrole, maar het uitsonderings gemaak vir individuele leerders wat tuisonderrig ontvang. In skoolverband kry sosialisering meer aandag, aangesien twee-twee leerders in groepies werk, wat een van die uitstaande kenmerke van die projek is. Ouers met leerders in tuisonderrig het lesings saam met hul kinders gedoen en die terugvoer is baie positief.
Jy verkies om die probleem al by die grondslagfase aan te spreek. Sommige ouers meen egter die probleem lê nie by die grondslagfase nie, maar begin gewoonlik by gr 6 of 7. Hulle sê dit word vererger deur onderwysers wat nie ’n passie vir wiskunde het nie. Wat is jou kommentaar?
Ouers kan kinders al voorskool prikkel met syfers en probleemoplossing, maar die belangstelling vir syfers en wiskunde word in die grondslagfase gekweek. Ons onderwyssisteem maak nie genoeg voorsiening vir die vaslegging van syfervaardigheid in die grondslagfase nie.
Hoekom nie?
Daar word dadelik met wiskunde begin en dit veroorsaak die probleem. Wanneer die probleem tydens hierdie fase ontstaan, word dit net ’n al groter probleem soos die kind vorder.
Leerders in die grondslagfase word afgerig om in formele assesserings en departementele evaluerings goed te doen, sodat die juffrou goed moet lyk. Dit kan die rede wees waarom onderwysers in die volgende fases verkeerdelik verantwoordelik gehou word vir kinders se swakker prestasies.
Vir seker is daar ook onderwysers wat nie ’n passie het vir wiskunde nie en ook nie die behoeftes van kinders aanspreek nie. Daar is onderwysers wat wiskunde moet aanbied sonder enige agtergrond en opleiding. Daar is verskeie faktore wat swak prestasies veroorsaak en die Departement van Basiese Onderwys sal daaraan aandag moet gee.
Kan wiskunde met ander woorde ook op hoërskool opwindend gemaak word vir leerlinge en wat is die geheim?
’n Besliste ja! Dit hang alles af van die gesindheid en kwaliteite van die onderwyser. Ek ken sulke kollegas in ons omgewing. Goeie opleiding, kwalifikasies en vakkennis, onderwyservaring, ’n passie vir die kind, ’n begrip vir kinders wat sukkel, hope geduld en aanmoediging en gedurige kommunikasie met die ouer. Dit is my wenresep!
Met ander woorde dit is nie meer nodig om die wit waks uit kinders te slaan as hulle nie hulle tafels kan onthou of sukkel met wiskunde nie?
Glad nie nodig nie. Alle leerders kan die basiese vaardighede van syfervaardigheid baasraak. Deur middel van verskeie strategieë kan “mental maths” baie interessant vir leerders gemaak word.
Ons moet onthou dat alle leerders nie teen dieselfde tempo ontwikkel nie. Dit is waar inklusiewe onderwys ’n baie belangrike rol speel. Nou moet ons ook onthou dat ons onderwysers ’n baie vol kurrikulum het om te volg en dat daar nie altyd tyd in die klas is om aandag te gee aan die sukkellende kinders nie. Dit is die tipiese probleme wat ons in die praktyk ervaar en wat aangespreek moet word. Die Genius-projek is hier van groot belang.
Wat is julle planne vir die nuwe jaar om wiskunde “makliker” te maak vir leerders en beoog julle nog sulke slypskole soos dié wat vanjaar aangebied is?
Planne om wiskunde meer aanvaarbaar vir elke individu te maak moet daar altyd wees. Ek doseer wiskunde in graad 6 en gebruik elke jaar die Jaarlikse Nasionale Assesseringsuitslae van graad 5 om my beplanning vir die volgende jaar te doen.
Dit werk by my baie goed. Nadat ontledings van die uitslae gedoen is, word die afdelings waarin die leerders swak gevaar het duidelik blootgelê. Sodoende gee ek ekstra aandag aan die afdelings wat nie so goed verstaan word nie.
Wat die slypskole betref net die volgende – ons het ’n vraesessie vir die leerders gehou voor die einde van vanjaar se eindeksamen en beplan twee nuwe slypskole gedurende 2016.
Is hierdie hulp net vir bevoorregte leerders of gee julle ook aandag aan die agtergeblewe gebiede?
Ja, ons gee beslis aandag daaraan. Projekte vir ons agtergeblewe leerders in ons omgewing word in die vooruitsig gestel. Ons is baie opgewonde oor hierdie projek en gaan dit beslis uitbrei na ander omgewings. Belangstellende ouers en skole kan ons gerus kontak by 023-3421454 na ure of by wdtwp572@gmail.com.
The post Draf wiskunde slyp-slyp kaf appeared first on LitNet.