Elke mens het 'n storie. Louis Pretorius, skrywer van 'n nuwe reeks wat vroeg in die nuwe jaar op kykNET uitgesaai word, vertel vir Naomi Meyer die storie van Die boekklub.
'n Boekklub. Is dit 'n plek waar mense mekaar leer ken, of kan elke ou wegkruip agter die blaaie? Is dit 'n omgewing wat mense inspireer, soos 'n Dead Poets Society, of is dit 'n plek vir verveelde huisvroue? Wat het jy in gedagte gehad toe jy die omgewing geskep het?
Hierdie boekklub is ‘n tuiste. ‘n Hawe vir almal wat so nou en dan bietjie sukkel met die lewe en nie weet wat volgende nie. Bettie – die oorspronklike stigterslid – het dit begin om mense bymekaar te bring sodat hulle altyd ‘n plek het om heen te gaan. Nie dat dit ‘n somber affêre is nie! Mense lag en kuier en gesels en eet en lees en vier die lewe. Maar as iets verkeerd gaan, is die lede altyd daar vir mekaar. Wel ... meestal. Soms skuur mens mos maar aan mekaar, maar dit gebeur in die beste van families.
Die boekklub bestaan al vir 25 jaar. Mense kom en gaan, maar die boekklub bly voortbestaan. Op die oomblik wat die storie begin, is daar sewe lede. Dan kom Tom Niemandt by. Die agt lede is almal op ‘n manier bietjie buitestanders – of dit nou binne die gemeenskap is of in hulle eie lewens – maar almal het ‘n ontdekkingsreis wat onderneem moet word.
Vertel ons van die karakters, die lede in die boekklub.
Naas nou Tom – die hipster uit die Kaap – bestaan die boekklub aan die begin uit:
- Anna, Tom se ouma se beste vriendin en kruiedokter
- die vriendelike boer, Herman, wat ewe goed skaapskeer en orrel speel
- Hanli, die stralend gelukkige, plomp plaasvrou wat vir elke geleentheid bak en tog so trots is op haar kinders
- Gerwin, ʼn juffrou by die laerskool wat pas vir haar ʼn huis gekoop het en met alle mag die mense, en veral die kinders in die distrik, wil help
- Gert, die slagter, wat half eenkant sit; hy is ʼn wewenaar wat hou van draf
- Sofia, sy ouma se besigheidsvennoot wat vasbeslote is om Tom se stoutgeit uit hom uit te neuk
- en dan natuurlik ... Lillie. Sy is Anna se kleindogter en het ses maande gelede uit Rome gekom en by haar ouma kom kuier. Sy’t nie gesê hoekom nie en haar ouma het ook nie gevra nie.
Die karakters is mense-mense. Hulle’t nie groot vyande nie en daar’s nie groot komplotte en dreigende kataklismiese gebeurtenisse nie. Dis maar net die lewe wat sy loop neem. Vir party is dit meer kompleks as ander en almal moet op ‘n manier hulself bietjie in die spieël kyk en groei, maar uiteindelik is hulle storie ons almal se storie: die lewe is moeilik, ja. Maar hoe ons dit aanpak, dis wat die verskil maak.
Vertel ons van die boeke wat hulle lees, asseblief.
Die boekklub lees wyd en uit alle genres. Van Ingrid Winterbach tot JK Rowling tot Jane Austen. Die reeks is so geskryf dat elke episode inskakel met die boek wat hulle lees, in meer of mindere mate. Soms skakel die boeke net min of meer in by 'n episode, maar dis meestal net ‘n gevoelswaarde. Dis ietsie hier uit ‘n boek en daar uit ‘n boek wat elke episode geïnspireer het. Partymaal het die storie eerste gekom en ander kere het ek die boek gekies en dan die episode geskryf.
As die boekklublede 'n mikrokosmos van die dorpie waar hulle woon verteenwoordig, vertel ons van daardie dorpie en die samelewing waar hulle is, asseblief.
Merweville is klein selfs vir die Karoo. Daar’s minder as ‘n 100 mense in die dorp. (Die dorp se regte naam word gebruik. Dit word nie verander nie.) Daar’s ‘n paar huise, ‘n slaghuis, twee kafees, ‘n drankwinkel en dan die skema (lokasie) wat buite die dorp lê. Die internet is stadig. Die restaurant maak kos net op bestelling. Almal kuier oor en weer. Die slaghuis vat net kontant. Die winkels maak tussen 1 en 2 toe. Daar’s boereverenigingvergaderings, die VLV bestaan nog en daar word elke jaar einde April Dankfees gehou. Dis ‘n wêreld met sy eie pas en reëls.
Die karakters is almal fiktief, maar dra saam met hulle die “ou wêreld” van die Karoo. Dinge draai ‘n bietjie stadiger, die lewe is bietjie eenvoudiger en tyd staan soms bietjie stil. Dit beteken egter nie die mense se emosionele lewens is minder kompleks nie. Almal se drome, versugtinge, hartseer en vreugde is oral dieselfde. Die argetipes in klein dorpies is partykeer net makliker om te definieer en te skryf. Hopelik herken mense ‘n bietjie van hulleself in elkeen van die lede.
Dikwels word daar by boekklubs geëet en gedrink - wat is hier op die spyskaart?
Meestal Hanli – die plaasvrou – se kolwyntjies en koeksisters en tee. Nie dat dit al is nie. Daar word ‘n jaarlikse verskeidenheidskonsert gehou en dan word daar gebraai soos mens net in die Karoo kan. Een aand het die manne van die boekklub ook bietjie aanhou kuier na die ontmoeting en toe ontaard dit so dat hulle die volgende oggend in die plaaslike polisieselle wakker geword het. Maar hoekom hulle daar beland het, dit moet eers bietjie geheim bly.
Almal in 'n boekklub hou nie altyd van mekaar nie, of hoe? Is hierdie 'n lekker groep vriende, of broei daar iets onder die oppervlak?
In dié geval het niemand probleme met enigiemand nie. Anna is bruusk en nie noodwendig maklik nie en Hanli praat dalk bietjie te veel, maar nee wat, oor die algemeen hou almal van mekaar. Soos genoem, is daar struwelinge, maar dit is maar meer projeksies van elkeen se eie probleme as wat daar wrywing is onder mekaar.
Wat is hierdie reeks – is dit snaaks, is dit spannend, is dit ligte vermaak?
Die reeks bly uiteindelik ‘n drama. Daar is groot emosionele skuiwe en mense moet vrede maak met die lewe en hulleself en aanpas en werk aan verhoudings, maar die toon van die reeks is lig. Dit is meer Downton Abbey en Grey’s Anatomy as wat dit swaar en donker is. Daar is baie humor en uiteindelik hanteer die karakters die gebeure soos mens maar net kan: met ‘n lag eerder as ‘n traan.
Wanneer begin die reeks?
12 Januarie, 20:30.
The post Kom kuier by Die boekklub op kykNET appeared first on LitNet.