Beste Hans
Toe Darwin sy evolusieteorie in sy boek Origin of Species uiteengesit het, was daar nog nie fossiele ontdek wat die mens en die aap met mekaar kon verbind nie. Hy het maar net lewendige ape gehad om na te kyk: gorillas, sjimpansees en bonobos was toe ook nog nie as aparte spesies beskou nie. Almal was afkomstig van Afrika, en Darwin het voorspel dat, indien enige fossiele gevind sou word wat mens en aap met mekaar sou skakel, dit in Afrika sou wees.
Soos alle feite, hipoteses, wette en teorieë, is die evolusieteorie ook onderhewig aan toetsing, falsifikasie, regstelling en verandering. Die ontdekking van sulke fossiele was dus net ter versterking van hierdie teorie. Later het die Genetika nog ʼn verdere bydrae gelewer ter versterking van die teorie en is dit ʼn groot hulp met die studie van fossiele.
Paleontologie is ʼn interessante wetenskap, maar die rol daarvan moet reg verstaan word. Paleontoloë is nie towenaars nie. Hulle kan nie sommer fossiele optower en voldoen aan vereistes dat hulle “ intermediêre spesies fossiele” moet oplewer nie. Sodra hulle uiters gelukkig is om ʼn fossiel raak te loop, word onmiddellik van hulle deur kreasioniste vereis: “Ja, maar waar is die intermediêre fossiele?” Darwin haal juis sy mentor en wêreldbekende geoloog, Lyell, in dié verband aan: “in all the vertebrate classes the discovery of fossil remains has been an extremely slow and fortuitous process” en verder: “Nor should it be forgotten that those regions which are the most likely to afford remains connecting man with some extinct ape-like creature, have not as yet been searched by geologists.”
ʼn Mens kan dus nie evolusioniste en paleontoloë aan hulle strotte gaan gryp en eis dat hulle fossiele moet produseer nie. Hulle is maar net mense wat hulle werk doen, en hier moet ek byvoeg, dekselse goeie werk! Die paleontoloog wat sy sout werd is, is ʼn uiters bekwame speurder. Hy sien dinge in ʼn fossiel raak wat ons gewone mense maklik sou miskyk, en buitendien is daar alreeds so baie fossiele tot sy beskikking dat voorstellings deur kunstenaars en spekulasie nie meer nodig is nie. ʼn Kundige raaiskoot kan soms ook groot wondere verrig.
Kom ons keer terug na jou vraag waar jy argeoloë aan hulle strotte gryp en eis: “waar is argeologiese opgrawings van intermediêre spesies fossiele.”
Sê nou, ons kon elke uur ʼn foto neem van ʼn mens vanaf ʼn eensellige organisme in die baarmoeder tot waar hy honderd jaar oud is. As al die foto’s in ʼn ry geplaas word, vanaf die eensellige organisme tot by die honderdjarige, sal elke foto lyk soos die een voor hom en die een na hom. Tog, as jy nr 1 vergelyk met nr 870 000, sal die verskil so groot wees dat dit moeilik sal wees om te glo dat dit dieselfde organisme is. Raak al die foto’s weg en jy ontdek so met die tyd een hier en een daar, sal dit moeilike speurwerk kos om die lewe van die man uit te beeld. Soos wat jy foto’s herontdek, sal die beeld vollediger word. Jy sal dan ook ʼn goeie speurder moet wees om die ontdekte foto in te pas in die 100jarige tydlyn.
Dit is min of meer hoe dit met fossiele gesteld is. Soos wat hulle ontdek word, word die prentjie al duideliker. Dis egter ʼn moeilike en tydsame proses, want fossilisasie gebeur nie maklik nie. Dit gebeur telkens ook dat as ʼn nuwe fossiel ontdek word, kreasioniste gou by is om te sê hulle is nie beïndruk nie, want waar is daardie intermediêre fossiele dan? Die ontdekking van een fossiel veroorsaak sommer dat die twee aan weerskante nou weer vir hulle die “missing links” is.
Met die Homo-afkoms is ons nogal gelukkig. Hulle het in grotte begin bly, waar verstening makliker kon plaasvind as in die oop veld, of onder bome, waar die sjimpansees gebly het. Daar is al redelik genoeg fossiele om die evolusie van Homo sapiens na te speur. Ek sou eerder sê dis die sjimpansees wat moet kla oor “waar is die vermiste skakel,” of “haai, julle bleddie geoloë, waar is daardie intermediêre spesies fossiele?”
Naledi? Oorspronklik is gedink dat Homo naledi die voorouer van die moderne mens is, maar nou is bewys dat dit onmoontlik is. Homo naledi is deel van die Homo-genus, net soos Homo erectus, Hom ergaster, Homo floresiensis, Homo habilis, Homo heidelbergensis, Homo neanderthalthalensis en Homo sapiens. Almal is uitgestorwe behalwe Homo sapiens. Dit los natuurlik die geheim van Naledi nie op nie, maar ek vertou dat ons speurdervriende, die paleontoloë, dit eendag sal oplos. Waar pas Homo naledi in by die Homo-genis? As hulle gelyktydig, saam met die moderne mens geleef het, leef hulle nasate dalk nog, of het hulle werklik heeltemal uitgesterf? Soos een van die krieketkommentators altyd sê: “Tyd sal tel.”
Angus
The post Vir Hans Richter oor fossiele en evolusie appeared first on LitNet.