Die afgelope aantal jare het politici hulle toenemend na die howe gewend om die regerende party te dwing om sy grondwetlike verpligtinge na te kom.
Dit dui op geloof dat ons regstelsel nog funksioneer, en dat dit onafhanklik is. Dit dui op die basiese geloof dat ons demokrasie nog gesond genoeg is, dat die howe nog respekteer word.
Daar is egter ook ’n donker kant. Die regerende party wag al hoe meer eers tot hulle voor die hof gedaag word om eenvoudige, basiese goed te doen.
Hoekom byvoorbeeld moet die howe toesig hou oor die Sassa-debakel om seker te maak dat die Minister en haar departement hulle werk doen? Daar word nie verwag dat hulle iets ekstra moet doen nie – hulle basiese werk moet nou deur die howe en deur komitees gemonitor word.
Dis seker net ’n kwessie van tyd voordat een van die opposisiepartye ’n saak aanhangig gaan maak om Brian Molefe se heraanstelling by Eskom te beveg. Daar is die hofsaak waarin die President beveel was om redes te verskaf hoekom hy die laaste kabinetskommeling gedoen het.
Die vorige openbare beskermer moes hof toe gaan om die President so ver te kry om aanbevelings in haar verslae te volg.
By tye word die indruk geskep dat regering stilstaan totdat die howe uitsluitsel gee oor kwessies wat in ’n normale samelewing as vanselfsprekend beskou sou word. Alhoewel die sake nie ooglopend verwant is nie, loop daar tog ’n dun draadjie deur wat alles bind. Elke skynbaar irrasionele handeling deur die regering het as oogmerk om derde partye finansieel te bevoordeel. Alhoewel die Guptas nie in al die gevalle die begunstigdes is nie, kom hulle name gereeld genoeg voor dat hulle as ’n beduidende begunstigde beskou kan word.
Die pogings om president Zuma te beskerm lei tot toenemend meer bisarre optrede aan die kant van die regerende party asook lede van die parlement. Dit beïnvloed selfs ons taal. Wanneer iemand se môre- en aandpraatjies verskil, word daar gesê die persoon “mantash”, na aanleiding van die gewoonte van Gwede Mantashe om sy mantel na die wind te swaai.
In elke geval word die howe as eerste ingryping gebruik, eerder as om dit die laaste uitweg te maak, soos wat dit hoort. Gepaardgaande daarmee is daar toenemend voorbeelde van pogings om die howe te intimideer en hulle hul onafhanklikheid te ontneem. Daar is by die hoofregter se kantoor ingebreek, en die persoonlike inligting van regters is gesteel. Kort daarna is ’n regter by sy huis aangeval. Die moontlikheid dat dit blote toeval is, kan nie uitgesluit word nie, maar dis onwaarskynlik.
Dan is daar die optogte wat in KwaZulu-Natal beplan word in protes teen ’n regter se beslissing. Dis blatante intimidasie. In stede van die appèlproses te volg word daar optogte beplan. Optogte wat in alle waarskynlikheid in geweld sal ontaard.
Alhoewel die politieke partye wat sake voor die hof bring, meestal suksesvol is, gaan die #SecretBallot-beslissing waarskynlik nie een daarvan wees nie. Die howe was nog deurentyd baie versigtig om skeiding van magte te beklemtoon, en daar sal nie sonder meer ’n beslissing gemaak word wat enige amptenaar se diskresie vervang nie. Die kanse dat die hof sal beslis dat die speaker geheime stemming moet toelaat wanneer daar oor Zuma se lot beslis word, is dus skraal.
Indien die partye dit nie op hul eie besef het nie, is dit onwaarskynlik dat hulle regsverteenwoordigers hulle nie gewaarsku het dat hulle kanse op sukses skraal is nie.
Tog is dit toenemend deel van die tendens in die politieke arena: om politieke geskille deur middel van geregtelike beslegting op te los. Daar is ’n inherente gevaar hierin. Ons politici konsentreer nie meer daarop om beleid op te stel en hul eie identiteit te vestig nie. Die enigste politieke spel in die land is die “Zuma must go”-veldtog. Persone word nie op tradisionele wyse deur middel van onderhandeling van ’n standpunt oortuig nie; daar word heel eerste hof toe gegaan, selfs wanneer die kanse op sukses skraal is.
Die enigste wenners van hierdie taktiek is die regsgeleerdes. Ons politieke landskap word verarm. Ons politici probeer nie hard genoeg om kiesers te oortuig dat Zuma en die ANC uitgestem kan word nie. In die kiesafdelings waar die opposisiepartye in 2016 beheer oorgeneem het, het hulle die perfekte geleentheid om te wys dat regering beter is, dat kiesers se belange beter beskerm word wanneer hulle ander keuses by die stembus maak.
Ons kan nie op die howe steun om oplossings te vind vir politieke probleme nie. Ons politici en ons kiesers moet dit doen – met elke tussenverkiesing, met elke protesoptog en uiteindelik met die nasionale verkiesing in 2019.
Dis tyd dat die howe net by uitsondering gebruik word om verkose politici tot verantwoording te roep. Dis tyd dat kiesers herinner word dat die finale mag by hulle lê, kruisie vir kruisie. Dis ons verantwoordelikheid om politici tot verantwoording te roep, verkiesing vir verkiesing.
The post Zuptastan: hof of stembus? appeared first on LitNet.