Chris Chameleon het pas ’n nuwe Afrikaanse album bekendgestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Chris. Hoe’s dinge deesdae?
As ek destyds geweet het dit raak soveel lekkerder hoe dieper ’n mens die lewe instap, sou ek vroeër gebore geraak het.
Baie geluk met jou nuwe album, Jy en ek en ek en jy. Dit is jou eerste volledige, oorspronklike Afrikaanse album in agt jaar – hoewel daar ook projekte soos Posduif en die “popster” Sarel Fourie was. Agt jaar is ’n lang tydperk – was dit ’n geval van stadig bou aan ’n album tot die versameling snitte reg lê, of eerder ’n kwessie van liedere wat op die regte tyd skielik uit die pen val? Waarom het jy gevoel die tyd is juis nou ryp vir nog oorspronklike Afrikaanse materiaal? Tot hoe ’n mate is dit ’n aanpassing om daarna terug te keer ná ’n paar jaar van alternatiewe (as dit die regte woord is) projekte?
Dankie, Henry.
Die gedigte het in 2012 ontstaan, toe die verliefdgeid wat ek nou nog in my hart ronddra ’n aanvang geneem het. My dokter, ’n Indiër, het in die tyd gevra of ek haar wil vergesel na ’n klassieke Indiese musiekkonsert. Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir Indiese musiek gehad en gaan toe gretig mee. Die uitvoering was ’n drie uur lange konsert, waartydens ek meestal in salige vervoering verkeer het. Op pad huis toe het sy my gevra of ek iets daarvan kon verstaan. Ek sê toe dat die Hindi vir my Grieks was, maar dat dit vir my gevoel het of die man hieroor en daaroor sing, en asof hy dit en dat op so en so ’n wyse benader het. Sy was verstom, want my gevoel was toe nogal in die kol. Ons neem toe maar aan dat die teks die musiek sodanig beaam het dat die klank alleen ’n voldoende uitleg van die betekenis was.
Tuisgekom, het ek gaan sit en al die tekste vir wat veel later die album sou word, binne ’n paar dae geskryf. Toe ek eers aan die gang kom, was dit soos ’n lorrie vol waatlemoene waarvan die agterdeur nie mooi toegemaak is nie, wat vinnig teen ’n opdraande wegtrek. Dit het uit my uit geval. Eers jare later, verlede jaar, trouens, het ek gedink om die tekste, wat meestal in vrye vers geskryf is, te toonset. Omdat die rym en ritme van vrye vers nie meteens vereenselwigbaar is met die resepmatige vereistes van die ligte-lied-struktuur nie, moes ek met behulp van frasering bontstaan om alles vorm te gee. Wel, nie regtig bontstaan nie ... dit was, eerlik gesê, redelik maklik. Ek vermoed my ervaring met die toonsetting van Ingrid Jonker en Daniella Deysel se werk het baie bygedra tot my vermoë daartoe.
Die besluit om dit te toonset het gespruit uit die vrymaking van tyd daarvoor. Vanaf 2009 was ek sodanig besig met ander projekte dat ek eenvoudig nie die tyd gehad het vir volkome selfgeskepte werk nie. Dit is nie ’n aanpassing nie. Dis maar soos om jou asem op te hou, lank onder water te swem en dan op te kom vir asem. Die eerste teug is alreeds natuurlik, al is dit nie gewoon nie. Dis nie eens soos fietsry nie, want fietsry leer ’n mens aan, wat dalk beteken dat jy dit kan verleer. Maar die skryf van liede was nie iets wat ek moes leer nie – toe ek dit die eerste keer ooit probeer het, kón ek. Natuurlik ontwikkel ’n mens ’n sekere vernuftigheid, maar laasgenoemde is tegniese besonderhede.
In ’n mediaverklaring oor die nuwe album sê jy dit is geskep uit “die wins van liefde in my eie lewe”. Daar’s ’n effense dubbelsinnigheid aan – sal dit die wins van liefde as verskynsel wees (en die verkenning daarvan), of word dit bedoel as direkte uitvloeisel van jou verhouding met Daniella Deysel? Verder word daar dikwels gesê die beste liedere (of ander kunsskeppings) groei uit gebroke harte, verraad en dies meer. Vind jy dit vreemd om liedere te skryf wat as’t ware die liefde aanprys, eerder as lamenteer oor die verlies daaraan? Is daar oorromantisering ter sprake aan die een of ander kant (of albei) wat die maak van kuns betref?
Ek het daarmee bedoel die wins van liefde as verskynsel, waarvan die spesifieke besonderhede inderdaad my liefde vir Daniella is. Dit het ook al vir my gelyk asof van die wêreld se grootste kuns meermale uit patos ontstaan het. Hoewel daar ook volop puik kuns is wat gespruit het uit vreugde en uitbundigheid. Ek dink die rede waarom dit so voorkom, is dat ongelukkigheid gewoonlik ook ’n eensame toestand is. Die fisiese, praktiese omstandighede van hierdie wroeging het dikwels eensaamheid tot gevolg, wat afleidings dikwels effektief uitskakel en dus die gerief van tyd waarin om te skep daarstel. Ek dink tye van vreugde is geneig om meer afleiding in ’n mens se lewe in te voer, waarvan minder tyd om te skep een gevolg is. Volgens hierdie verklaring is die antwoord nie juis romanties nie, eerder ’n saaie, praktiese werklikheid.
In dieselfde asem: jy sê in dieselfde verklaring die skep van só ’n album maak ’n mens "broos en feilbaar", en dat "emosionele verdedigingslinies opgeskort" is. Dit is ’n interessante beskouing, juis omdat die meeste luisteraars sal aanneem die broosheid lê aan die ander kant (seer, verlies, ens). Is dit ’n kwessie van persona-versus-persoon in hierdie opsig? Op watter maniere was hierdie openhartige benadering vir jou nuut, of selfs ongemaklik? Hoe dink jy weerspieël dit wat in die musiek gebeur ’n meer “positiewe” aanslag in die lirieke, en hoe het jy te werk gegaan om daardie wisselwerking optimaal te benut?
Wanneer die vel oopgesny word, hetsy deur ’n banksaag wat per abuis bloed getrek het of ’n operasie om ’n gewas te verwyder, is dit seer. Die bloed vloei, die pyn is erg en die gevaar vir die lewe ’n werklikheid. Hoewel die een ten goede en die ander ten kwade geskied, verander dit niks aan die broosheid, die feilbaarheid van die lydende party nie. Om die praktiese redes wat ek hier bo genoem het, val die klem dikwels op die kuns uit die seer en verlies, maar die kuns uit die goeie, wat oop en onbewapen is, stel die skrywer geensins minder bloot aan die gevare van rou openheid nie.
Die ervaring was nuut, omdat ek nog nooit vanuit so ’n beide beminde en beminnende hoedanigheid geskryf het nie, maar die proses was bekend. Soms is die toonsetting juis nie noodwendig positief nie. My werk het in die verlede al dikwels geneig om die vrolike in mineurakkoorde te pleeg (bv "Apie") en die melankolieke in die majeurakkoorde (bv "Droomverlore"). Wit wys altyd duideliker teen ’n swart agtergrond. ’n Goeie voorbeeld op hierdie album is "Die onomskryfbare", wat, hoewel met ontsag, ’n baie positiewe besinning oor die liefde konstateer. Die uitvoering en toonsetting daarvan is egter broeiend, soms verlangs onheilspellend. Die positiwiteit van die album lê byna altyd in die lirieke, maar slegs soms in die musiek daarvan.
By die bekendstelling van Jy en ek en ek en jy by Die Boer in Durbanville het Daniella saam met jou opgetree – op baskitaar en agtergrondsang. Is dit veilig om aan te neem dat dit ’n permanente reëling is? Hoe ervaar jy die aanpassing, as iemand wat met die Afrikaanse musiek meestal alleen optree? Is daar struikelblokke ter sprake wanneer ’n romantiese verhouding ook ’n professionele verhouding word, en daar skielik (letterlik) ’n kollig op die paartjie se dinamiek, medewerking en dies meer is? Of hoe benader julle die saak?
’n Mens gaan as musikant deur fases van spanwerk en bendevorming. Terwyl ek vir die komende maande gaan fokus op die nuwe album, sal Daniella in daardie hoedanigheid dien. Wat daarna gebeur, laat ek aan die roeping van die lot oor. Wat ek wel kan sê, is dat Daniella ’n besondere aanslag met die baskitaar het. Haar benadering is anders as enigiets wat ek self sou bedink. Haar melodieë is interessant en onverwags en haar ritme eiesoortig. Dit alles is aanduidings van ’n musikant wat met haar eie kop en hart werk, vanuit ’n rou, oorspronklike talent. In teenstelling met baie mense se (geopperde) aanname van my, is ek hoegenaamd nie ’n beheervraat nie. Die musikante wat al saam met my gewerk het sal vir jou sê dat hulle by my meer vryheid kry as by die meeste ander soliste of groepleiers – soms selfs ongemaklik baie. Waar ek idees het, dring ek op hulle aan, en is selfs dan bereid om daarvan afstand te doen indien dit nie werk nie. Konflik word sodanig verminder – ek het baie selde konflik met medemusikante oor die aard en uitvoering van die musiek.
Verder is ek en Daniella op persoonlike vlak na my beskeie mening ’n besonder vreedsame paartjie. Konflik ontstaan meestal wanneer mense onseker is, vanuit vrees of onnoselheid optree. Nóg Daniella nóg ek is onseker, bang of gaan relatief tot mekaar gebukkend onder ’n kniehalterende onnoselheid. Ons is ’n redelik tradisionele paartjie in soverre dit ons “rolverdeling” betref, dus is daar ook bitter min wrywing. Daar is uiteraard baie praktiese omstandighede wat gunstig inspeel op samewerking – ons leef saam. Maar ons is bewus van die moeite wat sommige mense met ons samewerking het. Sommige van my ondersteuners wil my alleen ervaar, soos sommige van hare. Ons skep in die afgelope maande heelwat werk saam en het besluit om dit onder ’n orkesnaam uit te gee sodat dit, in plaas van “Daniella Deysel en Chris Chameleon” eerder onder ’n nuwe derdeparty-identiteit vergestalting vind.
Wat die produksie betref: Theo Crous het as vervaardiger (en medemusikant) opgetree met die nuwe album. Jy het al telkemale voorheen saam met hom gewerk – hoe het julle hierdie album anders as voriges benader in terme van opneemproses, produksie-elemente uittoets, arrangements uitwerk en dies meer? Kyk julle in die algemeen na groei en verandering op die musikale landskap (in hierdie geval Afrikaans) wat betref produksiestandaarde, nuwe rigtings wat populêre musiek inslaan ens? Of is dit moontlik om ’n mens af te sonder van al daardie "eksterne" invloede op ’n album se moontlike sukses en bloot die materiaal so goed moontlik te laat klink?
Omdat ek en Theo al so lank saamwerk, het ons ’n gemaklike verstandhouding. Ons noem mekaar op taamlik liefderyke manier “moffie” in die ateljee. Ek het my werk nog nooit vir smaak gemaak nie. My relatiewe suksesse in die verlede was telkens toeval, wanneer die tydsgees en ek met mekaar ooreenstem. Dan is die sukses groot en alles vloei. Dan is daar weer tye wat ek heeltemal nie met die tydsgees (dié van die breër mensdom, of dan, die breër Afrikaner-mensdom om my) gesinchroniseer is nie. Dis nie altyd lekker nie, want om gewild te wees en jou werk op groot skaal in materiële winste te kan omsit het bepaalde wêreldse voordele. Daar is mense wat met sukses ’n loopbaan maak uit “maak vir smaak”, maar vir elkeen van hulle is daar duisende wat met dieselfde bedoelings nêrens kom nie. Eers was ek ’n arm, sukkelende, onkompromitterende musikant wat tog so graag wou deurbreek. En toe, woeps!, breek ek toevallig deur. En daarna het ek weer op ’n ander vibrasie gevibreer as die een wat nodig is om massas mee te sleur. Hierdie proses het hom in my loopbaan van 28 jaar seker al drie maal herhaal. Maar daar is nou ander faktore wat hierop inspeel. Eerstens het ek my suksesse kon omskep in ’n min of meer volhoubare lewensvatbaarheid, waarin die honger en die drif van behoefte ontbreek. Tweedens, soos wat maar met die meeste mense gebeur met elke jaar wat hulle ouer word, voel ek toenemend meer vere. Ek hou my nog steeds in (soos met die vorige sin, wat buite die onderhoudsituasie dalk in ’n ander uitspraakvorm uiting kon vind), maar doen dit ter wille van die konvensies van beleefdheid en beskaafdheid – waardes wat ek in selfs my mees “seks, dwelms en rock ’n roll”-jare gehandhaaf het.
Dit alles is seker net ’n lang manier om te verduidelik dat wanneer ek en Theo die ateljee binnestap, word ons deur niks anders as die impuls en die behoefte van die oomblik en die werk op hande gemotiveer nie. Dalk moet ek nie namens hom praat nie – hy het baie ervaring as vervaardiger in die reklamewêreld en pas dalk van hierdie insigte sonder my medewete toe. Maar dan doen hy dit op ’n manier wat nie steurend of verloënend is nie. Natuurlik wil ’n mens baie plate verkoop en gewilde musiek maak, maar dit is ’n wens, nie ’n doelwit nie. Wat my en Theo in die ateljee onderskei van baie van ons kollegas in die Afrikaanse musiekbedryf, is dat ons albei al die duiwel vol in die oog gekyk het, hom uitgelag het, ’n spoeg in die rigting van die engele gewaag het en nou nog (ook maar net-net) lewe om die storie te vertel.
Baie van die liedere op die album voel soos vintage Chris Chameleon, veral met die vokale flekswerk wat opduik. Tog klink dit of julle ook ’n paar nuwe systrate verken het ... soos byvoorbeeld die hantering van lettergreep-opdelings (ek's seker daar's ’n beter tegniese term hiervoor!) op "Die intimiteit van ons greep", en die melodielae op "Die onomskryfbare". Was daar ’n deel van die album se skryf en beplanning wat opsetlik gemik was op nuwe elemente en idees probeer, om as't ware vir die luisteraars iets te gee wat hulle sal verras, of selfs ontsenu? Hoe wou jy jouself musikaal uitdaag met die skryf-, opneem- en later uitvoerproses?
Die liede is almal bloot ’n weerspieëling van waar ek (en Theo) ons nou musikaal bevind. ’n Mens groei soos enige lewende wese, en veranderinge is onafwendbaar. Die verskille tussen hierdie album en my vorige is eerder ’n aanduiding van my persoonlike metamorfose as van ’n doelbewuste navigering.
Ek hou van jou “lettergreep-opdelings”-term. Ek dink ek sou dit “frasering” noem, en die ongewoonheid daarvan is die gevolg van die lukrake aard van vrye vers wat binne die reëlmatigheid van die lied gegiet word.
Daar is ook ’n goeie skoot humor te bespeur op die album, vernaam met die grappige stemtone en melodieë op die snitte "Rinkink" en, tot ’n mindere mate, "Die rede". Is die gebruik van humor in jou liedjies en optredes ’n manier om gegrond te bly, om jouself nie te ernstig op te neem nie? Of word daar ook vir jou gespeel met die tragikomiese, ’n soort draakstekery met dit wat in der waarheid eina is?
Ek hou van lag en is van nature gereeld vrolik. Soos ’n tipiese Afrikaner hou ek van gekskeer, poetse bak, skerts en draaksteek. My vriende raak soms gefrustreerd met my omdat ek byna onspotbaar is. Ek raak nie vies of liggeraak nie. Hoewel sommige dit met beskeidenheid verwar, vermoed ek dit spruit juis uit ’n bykans onaardse selfingenomenheid.
Benewens jou plaaslike optredes bevind jy jou dikwels op verhoë in Nederland, België en elders in Europa. Wat sou jy sê is die grootste verskille tussen die gehore daar en hier? Moet jy jou optredes – vernaam die stories tussendeur liedere – aanpas vir dié verskillende gehore? Ervaar jy nog ’n mate van opgewondenheid wanneer nuwe materiaal aan verskillende gehore bekendgestel word – ook in die manier waarop hulle reageer (positief of negatief) – of is ’n mens ná soveel jaar alles gewoond?
Elke taal het ’n mentaliteit, wat in haar sprekers bepaalde giere en geite stimuleer of uitlok. Dit veroorsaak verskille tussen verskeie nasies. In my optredes in meer as 30 lande die afgelope 25 jaar het ek gemerk dat elke land se mense anders reageer, hulle waardering op ’n ander manier te kenne gee. Selfs die Vrystaat en die Wes-Kaap verskil nogal wesenlik van mekaar. ’n Mens raak dit gewoond en skakel later outomaties in op die spesiale behoeftes van die omgewing. My Nederlands, Engels en Duits is vlot, en dit help baie om gehore tussen die liede deur tuis te laat voel. Die mag van taal is enorm. Dit maak oë, ore en ook harte oop.
Wanneer ’n mens al so lank doen wat jy doen, is spanning ’n taamlik onbekende ervaring. Maar met die uitvoer van nuwe werk kom stel hy hom weer in al sy grusaamheid voor. Maar dis lekker, op ’n Halloweenagtige manier. Ek was nou die aand by Die Boer byvoorbeeld lekker gespanne. Maar ek het sedertdien die vertoning al ’n keer of tien gepleeg en die spanning hiberneer nou weer tot die volgende nuwegeidjie.
In ’n vorige onderhoud het ek jou gepols oor die sin van die lewe. Mag ek nou vra: Wat is die sin van die dood?
Die sin van die dood is om die volgende deur oop te sluit.
The post Chris Chameleon: "Ek moes bontstaan om als vorm te gee" appeared first on LitNet.