Die afgelope week of wat woed daar ’n fel debat oor die aanvegbare stellings wat Gretha Wiid maak oor homoseksualiteit in twee boeke, Lyfslim vir seuns en Lyfslim vir meisies. Hierdie stellings het groot ontsteltenis veroorsaak, veral in die sosiale media, en uiteindelik het die uitgewer ’n verskoning aangeteken, waarop ek later terugkom. In ’n oomblik van woede het ek meegedoen aan die sosiale-media-gesprek met die volgende opmerking: “Hierdie verskoning help niks. Daar is slegs een oplossing: Onttrek die boek uit die mark.” LitNet het my opmerking raakgelees en ek het toe die versoek ontvang om my standpunt oor die rol en verantwoordelikheid van die uitgewer ’n bietjie verder te verduidelik.
Aan daardie versoek voldoen ek graag, maar dan met inagneming van die volgende belangrike punte:
- Ek is nie ’n kenner op die gebied van seksualiteit nie. Hieroor gee ek wel later ’n besondere perspektief.
- Ek ontken nie die skrywer of enige ander persoon se reg op ’n eie standpunt oor hierdie of enige ander (kontroversiële) saak nie. Met hierdie bydrae wil ek dan ook nie in ’n debat of stryd tree met die skrywer of met mense wat soos sy mag dink nie.
- Ek is wel ’n spesialis op die gebied van kommunikasie-ontwerp, waaronder ook die meting en beoordeling van kommunikasiekwaliteit. Dit sal my uitgangspunt in hierdie bydrae wees.
- Ek het beide boeke bestudeer en ’n eie oordeel gevorm, en verlaat my dus nie op hoorsê nie.
Wanneer dit gaan om die beoordeling van die gehalte van skriftelike kommunikasie – maar dit geld in breë trekke ook vir mondelinge kommunikasie – moet mens aan die volgende aspekte van die kommunikasie-ontwerp aandag skenk:
- die inhoud – wat gesê word oor ’n bepaalde tema, die feitelikheid van die inhoud, die argumente wat gevoer word, ens.
- die struktuur – hoe die inhoud georganiseer is, die volgorde van stellings of argumente, die fokus op die belangrikste argumente, ens.
- die styl – hoe die inhoud oorgedra word, die keuse tussen ’n meer formele en meer informele styl, die “stem” van die skrywer, woordkeuse, ens.
- die vormgewing – hoe die inhoud sigbaar gestruktureer word, die aanwending van struktuurmeganismes soos paragrafering, opskrifte, tipografie en die interaksie van verbale en nieverbale materiaal (die grafika).
By die beoordeling van hierdie aspekte word daar dan ’n aantal “dwarsliggende” veranderlikes in ag geneem, waarvan ek die volgende uitsonder: die breër konteks waarin die kommunikasie plaasvind, die doel van die kommunikasie en die doelgroep aan wie die kommunikasie gerig word, en veral die diversiteit van hierdie doelgroep as dit kom by veranderlikes soos kultuur, waardestelsels, houdings, vooroordele, kennis en ervaring.
En oor dit alles hang dan die vraag: Wie is verantwoordelik vir die gehalte van die kommunikasie?
Uiteraard oorvereenvoudig ek ’n baie komplekse sisteem van kwaliteitsbeoordeling hier ter wille van die beperkte ruimte wat ek het om my punt te maak. Daarom sal ek bg model ontgin deur slegs te kyk na die kwessie van inhoud en dit dan van toepassing maak op ons geval, en spesifiek op die afdelings in die twee boeke wat oor homoseksualiteit handel.
As demonstrasie stel ek maar enkele van die kritiese vrae wat oor die inhoud gestel kan word:
- Om mee te begin, merk ek op dat die stuk byna net so geknip en geplak is van die een boek na die ander – enkele sinne is in die een weergawe weggelaat en hier en daar is die woord seun met meisie vervang. Die eerste deel van die stuk behou in albei weergawes ’n sterk manlike oriëntasie. Daarom as eerste evalueringsvraag: Is dit geregverdig om dit so te knip en plak? Is die manlike en vroulike perspektief op homoseksualiteit wesenlik dieselfde?
- Hou die inhoud rekening met die diverse doelgroep, met hulle verskille in kultuur, verskille in waardestelsels, houdings en vooroordele, verskille in kennis en ervaring en – natuurlik – moontlik ook verskillende seksuele oriëntasies?
- Wat is die doelwit(te) met die kommunikasie? In hierdie geval, om meer insigte te bring rakende homoseksualiteit om – soos die boeke dit self wil hê – die talle vrae wat tieners oor hierdie onderwerp mag hê te beantwoord? Om hulle “lyfslim” te maak, dus?
- Hou die inhoud rekening met die breër konteks waarin dit gekommunikeer sal word? Onder andere die besondere aandag wat die onderwerp die afgelope paar jaar geniet het in die media en in ander openbare domeine?
- Is die inligting oor die tema feitelik korrek en volledig? Word bestaande kennis en insigte oor die tema in berekening gebring? Gedagtig aan die doelwit wat in ’n vorige kolpunt gestel word, bespreek die skrywer die verskillende tipes seksualiteit en die veranderlikes wat tot verskille in seksualiteit mag lei? Praat sy met die tieners oor die idee dat ’n persoon se seksualiteit eintlik op ’n kontinuum lê? Ek is nie ’n spesialis op dié gebied nie (en terloops, mev Wiid ook nie), maar dit het my opgeval hoe maklik ’n mens deur middel van ’n verstandige soektog onder die indruk kom van die uitgebreide literatuur oor hierdie uiters komplekse saak. Dink maar net aan die verskillende kategorieë van seksualiteit en die verskeidenheid teorieë oor die sogenaamde oorsake van ’n persoon se besondere seksualiteit. Die inhoud in die boeke slaag nie naastenby die toets van volledigheid of korrektheid nie.
- Getuig die inhoud van goeie argumentasie, die ordelike opweging van verskillende standpunte? Of spreek die inhoud van ’n bepaalde vooroordeel vir slegs een standpunt? Vergelyk byvoorbeeld die volgende gedeelte: “Die ding wat die meeste kinders wil weet, is hoekom mense gay raak. Nou ja, party mense sê dat sulke mense gay gebore word. Dis iets waarmee ek nie saamstem nie. Ek glo met my hele hart dat God mans en vroue geskape het om lief te wees vir die teenoorgestelde geslag.” Hierdie aanhaling het geen verdere bespreking nodig nie.
- Wat die godsdienstige perspektief in die vorige punt betref: Hou die skrywer rekening met die feit dat nie alle tieners noodwendig hierdie perspektief deel nie? En verder: Verreken die skrywer die intense debat wat tans oor die aangeleentheid in die kerk woed, en die gepaardgaande debat oor hoe die Bybel geïnterpreteer moet word op hierdie punt?
- Is daar in die inhoud sprake van stereotipering en stigmatisering wat kan lei tot die vervreemding van minstens ’n deel van die betrokke doelgroep? Die volgende aanhaling stel homoseksualiteit voor as iets wat sleg is, verkeerd is, iets om oor hartseer te voel: “Ongeag wat die redes vir homoseksualiteit is … dit bly hartseer. Sulke mense kan nooit op die normale manier kinders hê nie. En sou hulle kinders aanneem, sal die kinders nooit die wonderlike voorreg hê om ’n pappa én ’n mamma te hê nie. Dit is verder ook hartseer omdat God sê dat dit sonde is om seks met iemand van dieselfde geslag te hê. Sjoe, al hierdie dinge is só hartseer!” Hierdie uitspraak hou nie rekening met die uitgebreide versameling getuienis wat daarop dui dat mense in homoseksuele verhoudings ’n gelukkige en volronde bestaan kan voer nie, en dat kinders van liefdevolle homoseksuele ouers tot volwaardige en gelukkige lede van die samelewing kan ontwikkel nie. Deur die gelaaide taal in die stuk word die stigmatisering van homoseksuele mense net verder versterk.
Ek het maar enkele evaluerende vrae gestel, en ek het hulle nie almal naastenby volledig beantwoord nie, en ek hoef ook nie – ek laat dit aan die leser oor om self die beoordeling verder te voer. Hierdie vrae, met ’n enkele spesifieke uitsondering of twee, kan van alle kommunikasie gevra word. Die vrae wat ons reeds gestel het, gee wel vir ons ’n aanduiding van die probleme wat die betrokke boekdeel kan oplewer.
Nou kom die belangrike vraag: Wie is verantwoordelik vir die gehalte van ’n publikasie? Of: Wie doen mee aan die versekering van die gehalte van enige kommunikasie? Ook hierdie vrae is nie so eenvoudig nie. ’n Mens kan maklik oordeel dat die verantwoordelikheid vir die kwaliteit van kommunikasie net lê by die sender daarvan, in die geval van geskrewe kommunikasie dus die skrywer. Maar daar is meer partye wat deel het aan die versekering van kommunikasiegehalte: lesers speel byvoorbeeld ’n rol deur die terugvoer wat hulle gee, soos met die kommentaar wat ons in die sosiale media gesien het.
Maar daar is ook ander partye wat ’n rol kan speel, en in die geval van gepubliseerde werk is die uitgewer beslis medeverantwoordelik vir die kwaliteit van publikasies. Dat verantwoordelike uitgewers hierdie taak ernstig opneem, blyk uit die keurings- en redaksionele meganismes wat hulle aanwend, en die terugvoer wat hulle aan skrywers kan (of selfs moet) gee oor aspekte van die publikasie waarmee hulle nie gelukkig is nie, selfs die mate waarin hulle kan aandring op bepaalde wysigings of selfs kan besluit om ’n manuskrip nie vir publikasie te aanvaar nie.
Ek het die webwerf van die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA: Publishers’ Association of South Africa) bestudeer. Die meeste vooraanstaande uitgewers is lede van hierdie vereniging (soos David Philip, Human en Rousseau, Jonathan Ball, Juta, LAPA, Macmillan, Maskew Miller Longman, NB Uitgewers, Pearson, Tafelberg, en nog vele meer), en hulle onderskryf ’n uitgewerskode waarin uitsprake soos die volgende voorkom: “To promote and protect the rights and responsibilities of the independent publishing sector … to promote best practice and highest standards of ethics in publishing … to promote a culture of reading and excellence in writing and publishing in South Africa … in all instances to act in the best interests of the ongoing development and transformation of South African society.” Veral die laaste uitspraak het my opgeval, ook as mens dink aan die tema waaroor dit in die gewraakte teksgedeelte gaan.
Uitgewers het duidelik ’n besondere verantwoordelikheid rakende die kwaliteit van die publikasies wat hulle uitgee. Ons leef in ’n samelewing wat vandag kwesbaarder is as ooit, en juis daarom moet ’n uitgewer twee keer dink voordat inkorrekte, onvolledige, bedenklike inhoude oor omstrede onderwerpe gepubliseer word. Juis hierdie kwesbare samelewing vra ’n besonder genuanseerde benadering tot die kwaliteit van dit wat die wêreld ingestuur word.
Ek kon die naam van die uitgewer van die twee boeke nie in die ledelys van PASA vind nie. Die verskoning van die uitgewer vir die ontsteltenis wat die skrywer se uitsprake veroorsaak het – hoewel opreg bedoel – was nie veelseggend nie: “Daarom wil ek vandag uit my hart jammer sê as ek of ons maatskappy jou seergemaak het met ons woorde, ons aanwesigheid of ons afwesigheid. Dit was en sal ook nooit ons bedoeling wees nie. Vergewe ons daarvoor, want ons besef – you too are fighting a tough battle” (soos aangehaal uit ’n Netwerk 24-berig).
Die verantwoordelikheid van ’n uitgewer strek veel verder as dit, sou ek sê.
The post Die verantwoordelikheid van uitgewers – die Wiid-geval appeared first on LitNet.