Battery 9 se Wikipedia-bladsy lig jou in dat hulle ’n “industrial music project” is van Johannesburg; die breinkind is van Paul Riekert, en dat die naam uitgespreek moet word as “Butteray Nea-ge”. Maar as jy ooit vind dat jy aan iemand Battery 9 moet verduidelik, moet hulle in godsnaam nie na Wikipedia toe stuur nie: hulle moet self gaan luister.
Battery 9 is terug met hulle eerste vollengte-album sedert Galbraak in 2008. (Moenie vergeet van die single “Pluk ’n lat vir jou eie gat” in 2015 nie.) Hulle is die ongetwyfelde pioniers van industriële rockmusiek, ten minste op die kontinent van Afrika, en Grimmig herinner mens van die eerste sekonde af duidelik hoekom.
Die album vat my terug na die memories wat ek assosieer met Nirvana, Pearl Jam en System of a Down, maar met die ongetwyfelde Riekert-stempel daarop – hy self sê dat die kitaarklank invloede het wat vloei van Black Sabbath, laat-‘80’s thrash metal en Ministry. Daar is selfs tegno-invloede (byvoorbeeld “Die medisyne maak my siek”). Dit hou by die klassieke industriële styl wat mens sou verwag, met klankeffekte wat laas so goed gewerk het in konsepalbums soos die onvergeetlike The Wall – ja, dalk ’n gewaagde vergelyking, maar nie sonder rede nie.
Die Paul Riekert van Grimmig is ’n ander Riekert as die een aan wie luisteraars en rockers voorheen gewoond geraak het. Hierdie is sy opstanding. Sy revolusie. Daar word ’n duidelike boodskap met Grimmig oorgedra; dit is ’n diep delwery in die donker, gefokte dele van die menslike psige en oeroue menslike natuur. Luister net na “Hoeveel lyke in jou kas?” Dan vra jy jouself. Jou ouma. Jou ma.
Dit laat jou dink. Dit vat jou na plekke toe, en jou gemoedstoestand wanneer jy daarna luister sal bepaal waarheen jy gaan. Soos goeie acid: maak jou oë toe en laat Riekert se stem teen die agtergrond van meesterlike donker elektriese kitaar jou meevoer.
Tog is Grimmig meer easy-listening as van Battery 9 se vorige albums.
Riekert se stem het soos altyd die diep, donker, sexy kwaliteit eie aan hom. ’n Regte een, en nie die afgewaterde “bybie-en-al”-stemme wat daagliks oor die radiogolwe gestuur word nie. In die lirieke word brein, siel en hart oopgesper en tot musiek getoonset.
Riekert praat
Vertel my meer van die toerusting (kitare, ens) wat gebruik is om die album op te neem?
Kitaargewys het ek meestal ’n Ibanez RG 7-snaar kitaar (met die bynaam Ou Dikstem) gebruik. Ook ’n Gibson SG, ’n Epiphone SG en ’n akoestiese kitaar, ’n Yamaha FG. Ek het relatief min klankeffekte op die kitare – dis meestal net ’n amp of ’n amp simulator van ’n aard. In die mengproses sal ek dan wel EQ gebruik om dit reg te laat sit in die klanklandskap. Oor die algemeen raak die toerusting waarmee ek musiek maak al hoe minder en kleiner – sagteware het ’n hele berg toerusting vervang. Behalwe vir die gemak, stel dit my ook in staat om my werkspasie minimalisties te hou – iets waarvoor ek dankbaar is. Aan die ander kant gebruik ek “antieke” toerusting, soos ’n 1972 Coloursound “Fuzz+wah+swell”, wat ’n unieke geur byvoeg by byvoorbeeld ’n stem wat ’n mens lekker wil uitmekaarskeur. Baie van die klanke is nie in ’n ateljee opgeneem nie. Dis ’n ou Battery 9-tradisie om klanke uit ’n ander milieu te vat en dit musikaal te gebruik.
Hoe was die opneem- en skryfproses van Grimmig anders as vorige kere?
Elke album het sy “manier” – die prosesse is soortgelyk, maar dis asof elke album my dwing om effens anders te werk te gaan. Dis nie iets wat ek voor die tyd beplan nie. Ek laat die ding maar sy loop neem, veral aan die begin. Later in die proses raak dit meer wiskundig. Met Grimmig het ek ook die luuksheid gehad van tyd – daar was geen druk, beloftes of skedules waarby ek moes hou nie. So ek kon ’n bietjie meer speel, meer eksperimenteer as met party gevalle in die verlede. Dit lyk darem ook of ek iets leer uit vorige pogings, byvoorbeeld om sekere prosesse te vermy. Oor die algemeen het ek ook minder geskreeu as op vorige albums.
Word sekere dinge aspris ingewerk as sielkundige snellers, of gebeur die effek op die luisteraars net organies as deel van die proses?
’n Klein gedeelte daarvan is toevallig, maar die meeste daarvan is aspris. Daar word doelbewus keuses gemaak wat die emosies van die luisteraar manipuleer/opwen – ek is natuurlik die proefkonyn vir hierdie goed. En ek is dankbaar as ek agterkom dit het die gewenste uitwerking. Maar daar is perke – mense se smake maak ook ’n groot verskil in hoe hulle dit ervaar. So dis op die ou end ’n geval van “mog ’t troffe”. ’n Mens weet nooit presies hoe ’n luisteraar gaan reageer nie. Dis ’n bietjie soos boerdery of dobbelary.
Wat is die vreemdste instrument of effek wat vir hierdie album gebruik is?
As ek vinnig moet dink ... Ek het ’n weermagtrommel met een van daai plastieksambokke toegetakel vir ’n sekere klank in “Hoeveel lyke in jou kas?”. Daar is ook ’n opname van ’n wasmasjien, wat deels die ritme bepaal, in dieselfde song. Dis een van die lekker goed van Battery 9 – daar is nie regtig iets “vreemds” binne die konteks nie. Enige klank kan in musiek verander word.
Dan, volgens jou, al óóit in Battery9 se geskiedenis?
Daar is ’n lang lys stukke skrootyster, gereedskap en masjiene wat ’n mens nie sou assosieer met musiek nie, maar daar is een wat nou opkom: ek was gelukkig genoeg om ’n opname van ’n alpenhorn te kon doen in 2005, wat ek toe in “Mond van ’n dief” op die album Straks gebruik het.
Ons weet nou wat maak jou kwaad, maar wat maak jou kinderlik gelukkig?
Ek is op my gelukkigste as ek musiek maak, of iets kan skep, oor die algemeen. Kort op dié se hakke is die ervaring van goeie kuns, of dit nou skryfwerk, ’n stuk musiek, ’n skildery, ’n maaltyd, of wat ook al is. Dan, om tyd te kan spandeer waar daar min mense is, waar die natuur nog regeer, soos die Kalahari, Karoo of woestyne.
The post Grimmig van Battery 9: ’n resensie appeared first on LitNet.