Die Buchan-saamtrek by Wilde Als buite Bloemfontein was waardevol, nie net vanuit die perspektief van persone wat hul geloofsoortuigings gaan uitleef het nie, maar ook vanweë die kritiek wat daaruit voortgespruit het.
Daar is al heelwat vanuit teologiese, etiese, filosofiese en ander perspektiewe daaroor geskryf. Dis broodnodige gesprekruimtes wat geopen is.
Wat egter van die reg?
Die reg op godsdiensvryheid is verskans in artikel 9(3), hoofstuk 2 van die Grondwet. Hoofstuk 2 staan algemeen bekend as die Handves van Menseregte. Artikel 9 is die gelykheidsklousule, en artikel 9(3) handel spesifiek met die verbod op diskriminasie op sekere gronde, insluitend godsdienstige oortuigings.
Die Grondwet stop egter nie daar nie.
Artikel 15 bepaal dat almal die reg op vryheid van godsdiens, geloofsoortuiging en opinie het.
Artikel 31 maak voorsiening daarvoor dat persone byeenkomste mag hou en in vrywillige assosiasies mag organiseer op grond van hul godsdienstige oortuigings. Indien een miljoen mense dus by Wilde Als bymekaar wil kom om te bid vir reën en teen korrupsie, is hulle reg om dit te doen op verskeie plekke in die Grondwet verskans.
In hoofstuk 9, onder die hofie “Staatsinstellings wat die Grondwetlike Demokrasie ondersteun”, word ’n kommissie geskep om godsdienstige, taal- en kultuurgemeenskappe te ondersteun en te beskerm. Hierdie kommissie word die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe genoem (die Engelse afkorting CRL word hierna gebruik).
In artikel 234 word daar voorsiening gemaak daarvoor dat die parlement handveste mag aanneem in ooreenstemming met die bepalings van die Grondwet. Die eerste sodanige handves wat opgestel was, is die Suid Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en Vryhede. Die handves is alreeds deur die CRL endosseer, maar moet nog deur die parlement aangeneem word.
Hierdie handves bevestig die regte soos in die Grondwet uiteengesit, maar gaan in artikel 6(4) selfs verder en dring daarop aan dat elke persoon se reg op waardigheid die reg insluit om nie bespot te word op grond van hul godsdienstige oortuigings en aktiwiteite nie.
Diegene wat Buchan nou as Saint Spud uitmaak, sou hulself blitsvinnig voor die Gelykheidshof bevind het indien die handves alreeds aangeneem was.
Dis dus duidelik dat die opstellers van beide die Grondwet en die handves die reg op godsdiensvryheid ernstig opneem. Die huidige onverdraagsaamheid teenoor godsdienstige gemeenskappe moet teen hierdie agtergrond gesien word. Veral Joodse en Moslem-gemeenskappe verduur al geruime tyd hewige, soms gewelddadige, diskriminasie. Die heftige teenkanting teen Buchan se byeenkoms is moontlik die begin van diskriminerende praktyke ook teen Christene. Die verskil is dat hierdie diskriminasie bedryf word hoofsaaklik deur persone wat hulle voorheen self as christene (in die breë betekenis van die woord) identifiseer het.
Daar kan natuurlik verskeie redes aangevoer word waarom daar teen godsdienstige groepe diskrimineer word. Vrees, onkunde en vorige negatiewe ervarings met die godsdienstige groep is waarskynlik die hoofredes. Dit verskoon egter nie die feit dat gewone landsburgers luidkeels die basiese menseregte van hul medeburgers kritiseer nie.
Om aan te dring dat Buchan en ander soos hy, nie hulle boodskap mag versprei nie, kom neer op sensuur. Dit kom neer op onderdrukking van die reg om godsdienstig te organiseer, of om te aanbid volgens die voorskrifte waarin jy glo.
As dit toegelaat word, wat is volgende? Die reg op lewe? Die reg om nie gemartel te word nie?
Belangriker nog: wie is die arbiter van wat reg of verkeerd is? Jan Alleman? Dit staan elkeen vry om die hof te nader indien hulle van mening is dat Buchan se leringe, of die leringe van enige ander prediker/imam/soefi/rabbi inbreuk maak op hul menseregte. Die feit dat daar, sover my kennis strek, geen klagtes gebring is ná die Wilde Als-byeenkoms nie, is dalk die duidelikste aanduider dat selfs die kritici weet hulle kritiek sal nie objektief staande bly nie. Daar is immers ’n reuseverskil tussen dogma waarmee jy nie saamstem nie, en haatspraak.
Buchan mag dalk skuldig wees aan eersgenoemde, maar laasgenoemde sal moeiliker wees om te bewys met spesifieke verwysing na die Wilde Als-byeenkoms.
Sover dit sy uitsprake omtrent die regte van vroue en alternatiewe seksuele oriëntasies aangaan: daar is organisasies wat geskep is spesifiek om hierdie regte te beskerm. Gaan dien klagtes in. Samel bewyse in wat daarop dui dat hy ander se regte probeer inperk. Bewys haatspraak. Dis ware aktivisme. Facebook-statusse gaan nie enigeen se lot verander nie. Dit gaan nie haatspraak verminder nie. Dit gaan nie die regte van minderhede beskerm nie.
Ons het ’n gesonde demokrasie met robuuste menseregte-verdediging. Gebruik dit. Hou net in gedagte dat die persone teen wie jy wil optree, ook menseregte het. Die balanseringshandeling lê daarin om te verseker dat niemand se regte ingeperk word nie.
Dis nie iets wat op Facebook uitgeklaar kan word nie.
The post Godsdiens binne die raamwerk van Suid-Afrikaanse wetgewing appeared first on LitNet.