“Sang was my lewe … Sang was totaal my lewe!” Met dié woorde open Sophia Andrews-Van Rooyen die dokumentêre film Eoan – Ode aan die Opera-era.
Kort en klein van postuur, maar met ’n groot stem en ’n groot persoonlikheid.
My eerste ontmoeting met Sophia Andrews is by haar huis in Matroosfontein. Haar woonkamer met die helder-oranje sonfiltergordyne straal haar warmte uit. Wit gehekelde doilies oor die banke, groot vriendelike porseleinhonde en ’n waterval varings in raffiahouers wat van die dak af hang. Teen die mure hang geskilderde portrette van ’n jonger Sophia en in ’n vertoonkas pronk Eoan-memento’s en silwergoed. Sy gesels gemaklik en spontaan, met aansteeklike entoesiasme.

Foto's: Marc Degenaar
Sophia Andrews was die hoofmezzosopraan van die Eoan Opera-groep van 1956 tot die vroeë 1970’s. Sy was een van die topsangers wat Eoan opgelewer het en was veral bekend vir haar rol as Azucena in Il Trovatore. Haar diep, ryk mezzosopraanstem het operaliefhebbers gaande gehad. Virginia Davids, operadiva en professor in sangopleiding aan UK onthou: “As ek dink aan die groot aria uit Il Trovatore, “Stride de la Vampa”, dan dink ek aan Sophia Andrews – en dis hoe sy my in my jongdae by Eoan inspireer het ... ek het absoluut die grootste admirasie vir haar!” Phillip Swales, Eoan-bariton, onthou weer hoe die Suid-Afrikaanse mezzosopraan Evelyn Dalberg destyds verklaar het hoe jaloers sy op Sophia se besonderse stem was.
Sophia vertel hoe moeilik die rol van Azucena is, en hoe lank jy op die verhoog moet staan gedurende die aria. “Dit was harde werk … Dit was opoffering … Aande van laat huis toe kom. Ek het altyd die laaste bus gekry, quarter to eleven … alleen! Dan sit jy met jou boeke en luister om die woorde reg te kry, want soms sit daar Italiane in die gehoor wat kan hoor – sy kan nog nie dié of dáái woord reg sê nie … Maar dís die opoffering wat jy doen as jy lief is vir iets! ... Ons is nooit betaal nie ... Net soms ’n bietjie bus- of treingeld gekry.” Wat haar sangprestasies soveel groter maak, is die feit dat sy nooit musiek leer lees het nie. Sophia beskryf haar uitstekende musikale gehoor as die “knap opvangs van my ore. Sing vir my enige iets – en ek sing dit vir jou terug.” Sy het ook na plate geluister wat dr Manca, dirigent en koorleier van die Eoan-groep, vir haar geleen het. “Onse tydperk wat ons geleer het was baie min, omdat ons werkers was bedags, en operasangers saans. En as die orkes by kom, moet jy reg wees … Jou woorde, jou tempi. Alles!”

’n Jong Sophia Andrews-Van Rooyen
Klankgreep: Sophia Andrews en Joseph Gabriels – Il Trovatore
Sophia se agtergrond is beskeie. As deel van ’n groot gesin met ’n enkelma het sy haar kinderjare in Distrik Ses deurgebring en vroeg al in die skoolkoor gesing. Die Eoan-groep is in 1933 as ’n kultuur- en liefdadigheidsorganisasie vir die bruin gemeenskap van Distrik Ses begin. As 16-jarige sluit Sophia by die Eoan-koor aan. Sy doen ’n oudisie – met Strauss se “Nuns’ Chorus” – vir ’n sangbeurs om vir vyf jaar lank, twee maal per week by die operaregisseur en sang-doyen Gregorio Fiasconaro sanglesse te neem. Nog voor D6 as ’n blanke woonbuurt verklaar is, verhuis Sophia se ma met huis en haard na ’n klein woonstel in Kewtown op die Kaapse Vlakte. Vanweë die reistyd na en van die South African College of Music, moes Sophia ongelukkig baie ure skool misloop en die skoolhoof maak haar toe kies tussen skool klaarmaak of die “singery”. Sy het toe as deeltydse huishulp in Kampsbaai begin werk om haar sanglesse te kon volhou.
Sophia het intussen ook deelgeneem aan die Eoan-groep se oratoria en musiekblyspele, en het groot sukses behaal in uitvoerings van die Messias van Händel en Verdi se Requiem. “My eerste groot werk, die Messias, was swaar om te leer … baie draaitjies!”
Die Eoan-groep sou bekend word vir sy vele operaproduksies in die Kaapstadse stadsaal. Skaars 19 jaar oud, kry Sophia die rol van die bejaarde moeder, Mama Lucia, teenoor die sopraan May Abrahamse as Santuzza in Cavalleria Rusticana. Sophia spot self met die feit dat sy bitter graag ’n sopraan wou wees, maar daar was ’n tekort aan alt- en mezzostemme by Eoan en sy moes dit maar vir lief neem – “en my stem dik maak en die lae note sing”. Twee jaar later sou sy egter self die sopraanrol as Santuzza sing. “They used to swop us around. Nou’s jy ’n alt, dan sing jy weer die sopraanrol.”

Sophia Andrews as Mama Lucia en May Abrahamse as Santuzza in Cavalleria Rusticana (1958)
Nadat die sangbeurs voltooi was, het Sophia voltyds by African Clothing Factory begin werk as masjienwerker en later jare by Panther en Barker se skoenfabrieke. Haar ma het in daardie jare geld opsy gesit vir ekstra sanglesse by Olga Magnioni, een van Eoan se Italiaanse sangdosente. In 1960 onderneem die Eoan-groep ’n drie maande lange toer na Oos-Londen, Port Elizabeth, Durban en Johannesburg en word ’n landwye sensasie. Sophia was een van die min sangers wat betaalde verlof gekry het. Saam met die bariton Lionel Fourie, die twee soprane May Abrahamse en Ruth Goodwin, asook die tenoor Joseph Gabriels, wat later in die Met in New York sou sing, was Sophia deel van die room van die vroeë Eoan-operatalent. Hulle was almal van internasionale standaard, maar kon vanweë die destydse apartheidsbeleid plaaslik nie verder as die Eoan-opvoerings blootstelling kry nie. (Gedurende die toer moes hulle by geleentheid in ’n ou hospitaalhostel, Nokafela, in Johannesburg oorbly, omdat “nieblankes” nie destyds in ’n gewone hotel kon inboek nie. Sophia is nou nog hartseer oor die Grundig-bandopnemer, ’n 21ste-verjaarsdaggeskenk van haar ma, wat daar gesteel is. As enkelouer en broodwinner kon haar ma nooit reis nie, en wou dat Sophia al haar Eoan-optredes vir haar op band vaslê.)
Sophia praat oor die effek van klein apartheid op die groep: “Wat vir ons hartseer gemaak het, is ons moet een aand sing vir die ‘Coloureds’ en een aand sing vir die ‘Europeans’. En dit het ons hartseer gemaak, because talent don’t ask colour! Dit het gemaak dat daar ’n breuk gekom het … net waar daar talent was.” Sophia verwys na die verdeeldheid, ongelukkigheid en onmin in eie geledere om vir afsonderlike gehore te moes sing. Die Eoan-groep het later ook baie teenkanting en boikotte vanuit die bruin gemeenskap verduur oor finansiële ondersteuning van die regering.

Sophia Andrews – Fabriekswerker bedags, en saans ’n operaster
In die sestigerjare sing Sophia ook Aninna in La Traviata, Maddalena in Rigoletto en Suzuki in Madama Butterfly. Hoofsopraan Ruth Goodman onthou: “Sy het altyd gelag. Sophia was nooit in ’n slegte bui nie.”
Sophia vertel van ’n hoogtepunt tydens Il Trovatore. ’n Bewonderaar wat dikwels blomme gestuur het, het elke vertoning bygewoon net om haar vertolking van Azucena te sien. “Die laaste aand toe ek my curtain call vat, bring hulle ’n yster-‘stand’ en plaas ’n groot ruiker wat net soos die hoed in My Fair Lady lyk reg voor my … gemaak van 400 rose!”
In 1968 vertolk Sophia een van haar mees geliefde rolle, dié van Bloody Mary in Rogers en Hammerstein se musiekblyspel South Pacific. Dit was een van die laaste opvoerings in die ou Alhambrateater, en baie gewild. Kaalvoet Sophia Andrews het almal bekoor met haar meesleurende, sonore weergawe van “Bali Ha’i” – tot so ’n mate dat verhoogkunstenaar Terry Fortune altyd begeer het om dié rol net soos Sophia te kon sing. “I always studied Sophia Andrews’s voice. She had this beautiful mezzosoprano voice. Niemand kan ooit weer ‘Bali-Ha’i’ soos sy sing nie.”
Martin Johnson, Eoan-tenoor/bariton wat Lt Joseph Cable teenoor Sophia gespeel het, bieg: “Sophia Andrews hou vir jou op jou tone op die verhoog … want sy ken almal se lyne! Baie professioneel, maar altyd ‘down-to-earth’. ’n Regte platjie … vol lewenslus en grappies en sêgoed …”

Sophia Andrews as Bloody Mary in South Pacific (1968) Foto: Eoan-argief

Foto: Eoan-argief
Nadat die groep vanweë die destydse Groepsgebiedewet na Athlone moes trek, neem Sophia deel aan Carmen Jones by die Joseph Stone-teater, wat spesifiek vir die Eoan-groep gebou is. “Dit was ’n voltydse werk … as jy jou hart en siel in ’n ding insit, is daar nie tyd vir ander dinge nie. Jy kom tuis en jy sit met jou boeke. Jy wil wees die beste wat jy kan.”
Sophia se goeie spel in ’n verskeidenheid rolle is raakgesien en het haar as aktrise ’n paar stereotipiese karakterrolle in plaaslike films besorg, onder meer Boland (1974) saam met Wena Naudé. Sophia se man van 41 jaar, Solomon van Rooyen, het haar liefde vir sang gedeel en haar deurgaans ondersteun. Hy het ook in die kerkkoor gesing en het onder meer as ’n soldaat in Il Trovatore opgetree.

Sophia Andrews in Boland saam met Wena Naudé (1974)
Ná die Eoan-opera se afwenteling het Sophia haar steeds met sang besig gehou. Sy het as solis saam met die Peninsula Choristers opgetree en ook die plaaslike kerkkoor afgerig. “Ek praat baie met ons jongmense in die bediening om te dink oor die talent wat hulle het, en om dit uit te leef, solank jy nog kan.” Sy het self ’n paar jaar gelede by Virginia Davids en haar man John se ComArt-koor in Elsiesrivier ingestap en gesê: “Ek wil graag sing. Daar is nog baie sing in my …”
Sophia sluit die Eoan dokumentêre film af met die woorde: “As ek ’n kans kan kry om dit weer te doen, sal ek dit doen … Dit was pragtige dae … pragtige dae!”
Sophia Andrews-Van Rooyen is op 10 Januarie 2017 in haar slaap oorlede.
Lisba Vosloo is regisseur en medevervaardiger van Eoan – Ode aan die Opera-era, wat in opdrag van kykNET vervaardig is. Dié program word Sondag 7 Mei om 14:30 op Overture (kykNET DStv-kanaal 144) uitgesaai.
The post Sophia Andrews-Van Rooyen: Manjifieke klein mezzo se groot stem word stil appeared first on LitNet.