In memoriam
Karel Schoeman (1939–2017)
Sy hand, sy oog laat hom in die steek (…) Hy sien die klip van die drumpel soos dit glansend die sonlig vang, gladgeskuur deur die voete van die generasies wat reeds hier gekom en gegaan het, en onthou weer die beelde (…) Hy het so baie gedoen, so baie nagestrewe, maar het hy uiteindelik iets daarmee behaal? Die onsigbare doel is nie bereik nie, steeds êrens voor hom in die donker op onpeilbare afstand, maar hy het nader gekom … Dit wat hy hier gedoen het, is genoeg.
Karel Schoeman, Titaan (2009)
Die naaste wat ’n mens seker kan kom aan insig in Schoeman se gemoedstoestand as mens in sy laaste jare, staan in die slothoofstuk van sy biografiese roman oor die beeldhouer-meester, Michelangelo, ’n geesgenoot as ongenaakbare, geslote sonderling. Schoeman werk in dié teks “self as beeldhouer” (Johan Anker, LitNet 2009). En met die sentrale motief van “klip” en “klipkappers” van die spierwit marmer van Carrara dui Schoeman terselfdertyd onmiskenbaar sy intieme verwantskap met NP Van Wyk Louw, die digter van “Klipwerk” aan, oor wie hy Die wêreld van die digter (1986) gemaak het. En sy gebrek aan pretensie. Dié klipmotief vorm ’n rooi draad wat veral deur Schoeman se prosa, soos deur die Afrikaanse poësie, loop: oer-essensie van die land, kortbegrip van die landskap waarop ons woon. Maar “klip” is ook die ruwe materiaal waaruit die taal gemaak is, en waartoe alles weer aan’t verstene is. Met Verkenning (1995) as die onvergeetlike elegie oor ’n land wat kon gewees het (Rossouw 1996).
Ons gedenk jou, meester-klipkapper van die Afrikaanse woord, wat ons met nuwe oë na die land en sy mense laat kyk.
Helize van Vuuren
NMMU
5 Mei 2017
The post Karel Schoeman: Meester-klipkapper van die Afrikaanse woord appeared first on LitNet.