Die Suidoosterfees is slegs vir almal. Dit is die woorde wat deurgaans by die fees geëggo is en dit dra baie waarheid – die fees was divers, vars, opwindend en die deure was oop vir almal. Daar was koorsang, toneelspel, Bollywood-danse, masserings in die voorportaal vir as jy bietjie styf voel van al die teater kyk, kunsuitstallings in die foyer en ook paneelbesprekings. Ek was gelukkig genoeg om ’n hele paar van hierdie te beleef tydens die langnaweek en daar was talle interessanthede wat my opgeval het.
Piekniek by Mpande, née Dingaan was, al was dit die derde keer wat ek dit gesien het, nog steeds snaaks, relevant en ’n belangrike stuk teater. Hierdie stuk is protesteater en gee aan die gehoor stemme wat nie dikwels gehoor word nie, veral in die afgelope paar jaar toe protesteater grootliks met die Fallist-beweging en die sogenaamde Engelse teater geassosieer is. Dit is opwindend dat die stuk al by verskeie feeste te sien was en steeds verder na ander feeste toe gaan, veral omdat dit so ’n omstrede stuk werk is. Dit is nie noodwendig omstrede in ’n negatiewe konteks nie, maar onderwerpe word getakel waarvan mense dikwels wegskram – ras, klas, bevoorregting, die waterkrisis en wie se skuld alles is.
Nog ’n omstrede, maar eerlike en mooi stuk werk is Pieter-Dirk Uys se eenmanvertoning, Weerklink van ’n Wanklank, wat ’n memoir is. Dit vertel sy lewensstorie en reis deur die politieke landskap van Suid-Afrika. Ek noem dit omstrede, want daar is baie byt-op-jou-tande oomblikke in. Die storie begin waar hy vertel van sy grootwordjare en bou dan op tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994. Hy vertel op sy komiese wyse hoe hul huishulp en haar vriendin, twee bruin vroue, vir die eerste keer kon gaan stem. Uys vervul ’n baie belangrike rol in teater en is vir menigte ’n inspirasie met sy boodskap van enigheid. Ek het omtrent ’n traan weggepik toe hy vra waarom Suid-Afrika nog nie sy volle potensiaal bereik het nie, want in 1994 was daar vir talle mense hoop en ’n mens sou dink dat daar 23 jaar later nie meer soveel skeiding tussen rasse en klasse sal wees nie. Die uiteindelike vraag is dan: Wat verhoed ons om die reënboognasie waarvan daar destyds gedroom is, ’n wesenlike werklikheid te maak?
Aucamp! is ’n musiekstuk met getoonsette gedigte van Hennie Aucamp deur die musiekgroep Mr Cat and the Jackal. Die produksie was netjies, vars, ’n goeie blik oor Aucamp se werk is verskaf en die manier waarop Mr Cat and the Jackal dit gedoen het, bring ’n verfrissende element tot digkuns. Toonsettings hoef nie altyd vervelig te wees nie en die kruks van ’n stuk werk kan daarin saamgevat word.
Mr Cat and the Jackal was ook te sien in Die Vlammende Fez, ’n produksie oor die lewe van die digter ID du Plessis. Chris van Niekerk (wat die SuidoosterTROfee vir beste speler gewen het), Loukmaan Adams, Carlo Daniels, Gary Naidoo, Bianca Flanders en Liebschen Saal was die akteurs op die verhoog en hulle was onder regie van Basil Appollis. ’n Opwindende deel van die produksie was die Young Men – ’n Maleierkoor wat uit 13 mans bestaan het. Die toneelspel is ondersteun deur sang en dans.
Die stuk gaan oor ID du Plessis se fassinasie met bruin mense in die Bo-Kaap en dit is bekend dat Du Plessis noue bande met bruin mense gehad het. Die tyd waarin die produksie afspeel, word egter nie duidelik genoeg gestel nie en daarom kom die konteks ook nie so sterk deur nie. Tog bly dit ’n baie belangrike stuk, want dit is een van daardie stories wat nie dikwels vertel word nie. ID du Plessis is in 1900 gebore en ’n produksie oor sy bewondering van bruin mense dra dus groot waarde vir teater, want hy het teen die wetgewings van daardie tyd ingegaan, wat hom ’n prominente digterlike figuur van sy tyd maak.
ATKV Crescendo is ’n sangprojek van die ATKV waar hulle ’n platform vir opkomende sangers bied om hul talente te ontwikkel. Mentors soos HemelBesem, YOMA, Anna Davel, Die Hooflig en Danie du Toit van Spoegwolf help hierdie jong stemme om hul sangvaardighede op te skerp. In die produksie, wat direk na Mamre plaasgevind het, is die gehoor bekendgestel aan hierdie nuwe stemme.
Talle jongmense is by die fees die geleentheid gegee om hul talente ten toon te stel. ’n Voorbeeld hiervan is Mamre met Whaden Johannes ̶ ’n pragtoneelstuk vervleg met toneelspel en sang wat die storie van ’n bruin gemeenskap vertel. Die teks en regie is deur Nico Scheepers behartig.
Nog ’n voorbeeld in hierdie verband is die produksie Steriel, waarin Du Toit Albertse en Ian van der Westhuizen gespeel het onder regie van Louisa Steyn. Albertse, wat nou ’n derdejaar-dramastudent aan die Universiteit van Stellenbosch is en Van der Westhuizen, wat in 2015 sy dramagraad verwerf het, het Steriel met genoeg deernis en omsigtigheid aangepak. Die storie gaan oor twee matriekseuns wat in ’n kankereenheid van ’n hospitaal lê, vriende word en besef dat hulle meer in gemeen het as hul siekte. Wanneer een aan die einde sterf, besef die gehoor hoe lief hulle vir mekaar geraak het. Die teks is geskryf deur Wim Vorster en dit is ’n wonderlike geleentheid wat Vorster aan die twee jong akteurs gegee het om sy teks op te voer.
Sandra Prinsloo is tydens die SuidoosterTROfees vereer met ’n lewenslange bydrae-toekenning vir al haar werk oor die afgelope jare. Twee groot teatergeeste het dus erkenning van die fees ontvang. Dit gee aan die jong spelers hoop vir hul toekoms en ook hoop vir teater ̶ iets wat definitief nodig is vir die onstuimige tye waarin ons ons bevind.
Die diversiteit van die fees is iets opvallend en dit maak my opgewonde om te besef waar kuns en teater oor ’n paar jaar gaan wees. Feeste moet erns maak van diversiteit, sodat teater saam met die tye kan transformeer. Die Suidoosterfees se verskeidenheid verseker toeganklikheid. Daar is laatnag gedans op Kunstekaap se stoep op die musiek van Mandoza en vele ander. Die fees het definitief ’n gemaklike gevoel en sodoende voel mense tuis.
The post Suidoosterfees 2017: Oorsig appeared first on LitNet.