Sêgoed van DJ Opperman “Bonatuurlike of religieuse ondervindinge het ek nie gehad nie ... het darem een keer die engele hoor sing. Ongelukkig moes ek later ontdek, dit was nie die engele nie, maar die radio wat ’n verpleegster om haar nek gedra het.” (Rapport, 10 Junie 1979) “Dat Komas goed verkoop, is vir my byna ’n aanklag teen die skryfwerk van die verlede, selfs teen die digters van die verlede. Miskien het die volk ons nie verstaan nie.” (Vaderland, 28 April 1980) “Miskien het dit tyd geword vir al ons digters om uit ons ivoortorings te kom, en van die pieke af te kom en weer met ons volk te kommunikeer.” (Vaderland, 28 April 1980) Na sy siekte: “Jy ervaar letterlik, soos die digters gebid het daarvoor, om soos Adam en Eva in ’n eerste wêreld te staan. Hierdie ervaring is aan my opgedwing. Die skepping is gister voltooi. Ek moes weer leer: Wat is ’n boom? Wat is hierdie ding wat uit die aarde uitstoot?” (Vaderland, 29 September 1982) “Só ’n doodservaring en opwekking daarna leer jou om verby die gewone dingetjies te leef en by die elementêre dinge te kom wat ’n innerlike lewensvreugde aan jou gee. ’n Heerlikheid om te leef.” (Transvaler, 9 Junie 1979) “Deur kuns is ek genees en dit is die grootste en finale wonderwerk. Op die ou end is dit kuns wat die wonderwerk verrig.” (Transvaler, 9 Junie 1979) “Al begin en werk die kunstenaar dus met die boosheid, sal hy hoe groter kunstenaar hy is of word, des te meer van homself afskeid neem en dan ten spyte van homself en die boosheid eindelik by die wesenlike kom waar hy elke verskynsel in sy eie reg en goddelikheid sien ... Kuns is boos ... dit werk met duiwelsmiddele, maar die doel is iets goddeliks!” (Transvaler, 8 September 1982) “Daar word soms gedink dat die digter kan voorspel en dit is nie die geval nie. Hoewel: ‘coming events shadow before’ en die digter wat daarop ingestel is om skerp te kyk, sien miskien dinge in die teenwoordige tyd wat die toekoms kan beïnvloed en wat moontlik by ander mense verbygaan.” (Sarie, 23 Januarie 1980) “Die Afrikaanse taal op sigself bly ’n magtige middel om sin te gee aan voorgeslagte deur die eeue heen, want sinvolheid hang saam met die totstandkoming van een groot nasie in die gramadoelas en die Afrikaanse taal en literatuur het ’n rol te speel in die spieëling van die ewige lig na mekaar oor alle kleurgrense heen.” (Suidwester, 29 Oktober 1979) In 1979: “Moenie ons gemoedelike lokale realisme sonder meer aftakel nie – daar skuil van Afrikaans se mooiste prosa. Moenie groei probeer sien in potsierlike waterlote nie.” (Suidwester, 29 Oktober 1979) Oor sensuur: “Wat die owerheid ook al met sensuur kan probeer doen, die kunstenaar gaan hom nie laat uitoorlê nie. Hy is geslepe en vindingryk genoeg om ook verby daardie opposisie te kom. Die kunstenaar sal hom nie laat rem nie. Die kunstenaar leef nie volgens die resep van die kerk of staat of etiek nie. Hy gaan verbonde aan met die eerstelinge van die natuur, die aarde, die sterre, die drif.” (Republikein, 29 Oktober 1979) “[Sensuur] word toegepas deur mense met ’n perverse opvatting van volkwees en kunstenaarskap.” (Republikein, 29 Oktober 1979) “Ek het die wondere van God beskryf en al die monsters uit my hart verdryf.” “Die hoogste vreugde van die aarde word gewek deur die drie-eenheid: eet, drink en gesprek.” “Vir my as skrywer is die opdrag om te praat, smeek, dig om wyer verhoudinge. As die grondslag gelê is, is dit die politikus, nie die skrywer nie, wat daarvoor die nodige patrone moet skep.” (Rapport, 28 September 1974) |
Gebore en getoë
Diederik Johannes Opperman is op 29 September 1914 op die plaas Geduld nr 2 naby Dannhauser in die distrik Dundee in Noord-Natal (vandag noordelike KwaZulu-Natal) gebore. Sy oupa, pa en ooms was skaapboere in die distrik, ’n omgewing waar die sneeu van die Drakensberge soms groot skade aan kuddes kon aanrig. Dit was ook die geval met die Oppermans en Diederik Johannes sr moes ander planne maak om vir sy gesin te sorg. Hulle was sewe kinders (vyf seuns en twee dogters), van wie Dirk die oudste was). Sy moeder was Heila Susanna Magdalena Botha.
Kannemeyer skryf in sy biografie van Opperman dat Dirk in latere jare graag na homself verwys het as die sewende regstreekse afstammeling van die Oppermans in Suid-Afrika. "Van sy vroegste herinneringe was aan die ooms en tantes, oumagrootjie en neefs en niggies op Geduld, Dannhauser en Hattingspruit.
"Nadat hael die koringoes op Geduld nr 2 verwoes het en die vee omgekom het vanweë ’n swaar sneeuval, het Dirk se oupa besluit om na die plaas Stedham in die Swartfoloos-vallei aan die grens van Zoeloeland te verhuis. Dirk se pa en ma is saam, maar toe sy moeder verwagtend was, is besluit dat sy vir die bevalling na haar aangetroude oom, Chrisjan Cronjé, wat Geduld gekoop het, sou gaan sodat sy nader aan dokters en hospitale kon wees, en so is Dirk toe op Geduld nr 2 gebore.
"Die geldelike nood en uitsigloosheid van die boerdery het Dirk se vader uiteindelik laat besluit om ’n ander heenkome te soek, veral toe hy en sy vrou, Sannie, op 30 Maart 1916 ’n tweede seun bygekry het. In hierdie stadium het sy broer, Chris, reeds op die spoorweë in Ladysmith gewerk en vroeg in 1917 sluit hy met sy gesin by Chris in Ladysmith aan.
"Dirk se vader was ’n skrander man wat as gevolg van sy karige skoolopleiding (standerd 6) nooit sy volle potensiaal bereik het nie. Hy was ’n onrustige gees wat op ’n verskeidenheid vakgebiede kennis verwerf het," skryf Kannemeyer. "Een van sy belangstellings was ingenieurswese, maar hy het ook belanggestel in die sterrekunde, godsdiens en die wysbegeerte. Hy het self ook geskilder en het ’n goeie inkomste uit sy skilderye gemaak en so kon hy vir sy oudste dogter ’n klavier koop. Dirk het waarskynlik sy vader se skildersoog geërf, want met sy sterk visuele ingesteldheid kon Dirk in later jare sy waarnemings in besonderhede onthou.
"Dirk se moeder was self ook ’n intelligente en kunssinnige vrou wat aanvanklik ’n ondergeskikte rol in die huishouding gespeel het. Sy was ’n lewenslustige, opgeruimde mens wat goed kon kos maak, boerebeskuit kon bak en besonder handvaardig was wat kunsnaaldwerk en die maak van leerhandsakke betref. Sy was die een wat met haar praktiese ingesteldheid spaarsaam gelewe het en allerlei byverdienstes vir haar gesin besorg het – in teenstelling met haar man, wat ’n dromer was wat nie goed met geld kon werk nie."
Volgens Kannemeyer was Dirk se vader nie net ’n aantreklike man nie, maar ook flambojant en baie lief vir die meisies. Hy was in die huwelik ook nie ’n baie getroue eggenoot nie. Sannie het egter nooit daaraan gedink om te skei nie, ter wille van die kinders, maar die kinders kon almal getuig van hoe stormagtig die huwelik was.
"Die Oppermans het nie lank op Ladysmith gewoon nie en in 1918 is hulle na Memel in die Vrystaat, waar Sannie se mense gewoon het en waar Dirk se pa as grofsmid gewerk het. Daar is hulle eerste dogter, Elizabeth (Liz), gebore. Van Memel af is sy pa as stasievoorman na New Formosa, ’n klein spoorweghalte naby Estcourt, waar die gesin in een van die skakelhuise van die spoorweë gebly het. Hier, en ook op die ander plekke waar hulle pa as spoorwegwerker gewerk het, het die kinders ’n heerlike, avontuurlike lewe gehad ten spyte van die geldtekort wat maar altyd daar was. Op New Formosa het die Oppermans die skakelhuis met die Weldons gedeel. Hulle het ’n dogtertjie, Rachel, gehad wat net so oud soos Dirk was en sy was die eerste meisie op wie hy verlief geraak het en oor wie hy sy eerste Engelse rympie, “My Rose”, geskryf het.
"Die jong Dirk is elke dag saam met Rachel per trein na die nabygeleë Estcourt, waar hulle die Engelstalige skool bygewoon het, want as lede van spoorwegfamilies kon die kinders gratis reis. Van die onderwysers wat hy in sy eerste skooljare gehad het, het ’n juffrou Watson uitgestaan.
"Op New Formosa is die Oppermans se tweede dogter, Louisa Petronella, wat in 1920 gebore is, in 1921 oorlede as gevolg van ’n kombinasie van kindersiektes. Op 12 Junie 1921 is nog ’n dogter, Violetta Susanna (Vi), gebore.
"Die gesin het in 1922 na Hart’s Hill naby Colenso verhuis. Daar het die twee broers, Maans en Dirk (oftewel Boet, soos hy genoem is) saam met hulle Engelse vriende die slagvelde van die Anglo-Boereoorlog besoek om bomskerwe en patroondoppies op te tel. In 1923 het die Oppermans na Colenso verhuis, waar hulle in ’n tydelike sinkplaathuis gewoon het totdat hulle splinternuwe rooibaksteenhuis klaar gebou was. Op 23 Januarie 1923 is die sesde kind, Louis Petrus, gebore.
"Reeds met die verhuising na Hart’s Hill is Dirk en die ander Opperman-kinders van Estcourt af oorgeplaas na die skool op Colenso. Die skool het ongeveer 200 leerlinge gehad en die medium van onderrig was ook hoofsaaklik Engels. Mitchell, die skoolhoof, wat ‘n soldaat in die Eerste Wêreldoorlog was, het soggens voor die skooldeur met die bevel 'Attention!' die skoliere tot orde geroep en hulle laat marsjeer. Wills het Engels onderrig met behulp van die High Road Readers-reeks. Toe Opperman in die laat 1940’s by die Pietermaritzburgse Tegniese Kollege aandklasse in Afrikaans gegee het, was Wills een van sy studente."
Toe Dirk 11 jaar oud was, het hy siek geword by die skool. Nadat hy bloed gevomeer het, is hy met maagkoors gediagnoseer. Daardie dae was maagkoors ’n baie ernstige siekte en nie baie pasiënte het die siekte oorleef. Sannie is met Dirk na Pietermaritzburg, waar sy hom na die Rooms-Katolieke hospitaal geneem het. Daar het hy, veral met die hulp van die verpleegpersoneel en in die besonder suster Sinte Josef, stadig maar seker beter geword. Hy het ’n hele paar maande in die hospitaal deurgebring voordat sy ouers hom gaan haal het. Voor hierdie ernstige siekte het sy skoolmaats hom Fatty genoem omdat hy effe geset was, maar na die siekte was hy baie maer.
Kannemeyer skryf verder: "Op Colenso het die twee oudste seuns in ’n buitekamer geslaap en moes hulle hard werk om met die nuwe tuin te help. Die erf was taamlik groot, sodat hulle pa ’n paar koeie kon aanhou, wat die seuns moes help versorg. Aanvanklik was hulle taamlik onhandig met die koeie, maar met die hulp van hulle Indiër-tuinier wat met die koeie in sy eie taal kon praat en sonder ’n spantou kon melk, het hulle reggekom. Met die Indiërs as tuiniers en huishulp kon Dirk – ook soos deur sy aanraking met die Zoeloes – ’n ander kultuur en leefwyse leer ken. In sy jeug was daar ook soms ’n bruin tuinman uit die Kaap wat vertel het van Drakenstein en die Paarl, die ballasmandjies druiwe in die wingerde, die kuns om visse met nette uit te trek, en stories oor Jakkals en Wolf. Op die dorp was daar die Griek Massopolous wat boeiende verhale uit sy land vertel het en met die Joodse kinders het hulle saamgespeel."
Dirk het as jong seun gereeld sy vakansies op Stedham op die plaas deurgebring waar hy, nes ’n boerseun, vakansies gewerk het. Daardie wêreld is gekenmerk deur ’n grootse en ruwe landskap wat hy later gebruik het as agtergrond vir sy gedigte soos "Boer", "Borrel" en "Kontrak".
Dirk kon later nog sy ouma Louisa se lekkernye soos pampoenpap, doekpoeding en melksnysels met kaneel voor sy oë roep. Kannemeyer het sy herinneringe in sy biografie neergepen: "Daar was drie keer per dag vleis op die tafel en hulle het ’n mooi groentetuin gehad. In die voorhuis het ’n groen pluiskleedjie die tafeltjie bedek waarop die familiebybel was, en saans het die gesin tydens huisgodsdiens gesange en hallelujaliedere om die serafyntjie saamgesing. Die oupa het ’n groot medisynekis met homeopatiese middels gehad waarmee hy siek kleinkinders kon dokter. Van die digter se vroegste herinneringe is hoe hy een aand, toe sy moeder saam met die ander ooms en tantes weg was, by sy oupa in die groot jas aan die slaap geraak het en voortdurend van die sweetreuk bewus was. Alhoewel sy oupa ’n sekere menslikheid, ruimheid en selfs vrysinnigheid besit het, was hy ’n streng Calvinis, ’n beoefenaar van ’n godsdiens gevorm tussen die berge en die Bybel.”
In sy lesing "Kuns is boos!" het Dirk vertel dat hy op Stedham ’n aantal romans en digbundels gehad wat hy, “veral Sondae wanneer ’n mens feitlik niks op die plaas doen en mag doen nie”, in die buitekamer gelê en lees het. “Op ’n dag het my oupa onverwags by die deur verskyn en my gevra wat ek so lees, en toe ek antwoord dat dit ’n roman is, het hy gesê dat hy ook in sy jeug daardie soort boeke gelees het, maar dat storieboeke ydel, wêrelds en boos is. ’n Mens moet tot heil van jou siel net leersame en stigtelike boeke lees, nie sulke leuens en dinge wat uit die duim gesuig word nie.”
Weens sy hartprobleme moes Dirk se pa in 1926 sy werk op die spoorweë bedank en moes die huis op Colenso ook verkoop word. Die gesin het hulle weer op Estcourt bevind, waar die senior Opperman ’n versekeringsagent geword het. Daar is Chris op 24 Mei 1926 gebore.
In 1929 trek die Oppermans na Frere waar Opperman sr steeds met assuransie werksaam was. Maans en Dirk, wat toe net standerd 6 gemaak het, moes op Frere uit die skool gaan om hulle vader te help met die opknapping van die groot kliphuis wat hy by ’n weduwee gekoop het – wat hy nie eintlik kon bekostig nie. Die twee seuns moes ook die klein boerdery op die hoewe bedryf. Die seuns het net ’n paar koeie en hoenders gehad en ’n bietjie groente waarmee hulle voortgeploeter het, maar Dirk het tog daarin geslaag om geld te maak. Geslagte hoenders met pietersielie tussen die boudjies is na Durban versend om verkoop te word en hy het ook snuif in grootmaat aangeskaf om vakansies op Stedham aan die werkers te verkoop. In teenstelling met Maans was Dirk nie baie toegeneë tot die boerdery nie, veral omdat sy ma in groot armoede geleef het en party dae drie maal per dag pap op die etenstafel moes voorsit. Nog ’n rede vir sy teësin was die feit dat hy sy skoolopleiding vir twee jaar op die lange baan moes skuif. Hy was ’n ywerige leerling wat goed presteer het.
Op Frere is Koos, die laaste kind, op 28 Februarie 1930 gebore. Nadat hulle die kliphuis teen die einde van 1930 teen ’n redelike wins verkoop het, is hulle na Vryheid, waar Opperman sr sy werk in die assuransiebesigheid voortgesit het. Dirk het hier as sestienjarige sy skoolloopbaan saam met Maans hervat.
Aan die begin van 1931 is hy na die hoërskool en is hy in standerd 7 geplaas. As gevolg van die twee jaar wat hy op Frere verloor het, is hy in dieselfde klas as sy oudste suster, Liz, geplaas. Op Vryheid het Dirk ook vir die eerste keer van sy klasse in Afrikaans ontvang, aangesien die skool dubbelmedium was. Omdat hy tot op daardie stadium sy onderrig in Engels ontvang het, was dit vir hom nogal ’n redelike aanpassing.
Dirk was ’n baie harde werker op hoërskool en het daar sy besonderse deursettingsvermoë wat in later jare so kenmerkend van hom was, verder ontwikkel. Kannemeyer vertel: “Sy daaglikse program ná skool was om smiddae sy huiswerk te doen en sportoefening by die skool by te woon, in die aand sy huiswerk af te handel en daarna dikwels tot bykans drie-uur in die oggend te lees. In sy vader se boekery het hy die beperkte Afrikaanse literatuur van dié jare leer ken en in aanraking gekom met ’n groot verskeidenheid uit die wêreldletterkunde. Hy was bekend as ’n buitengewone begaafde kind en vir die hele duur van sy skoolloopbaan het hy eerste in sy klas gestaan. Hy het hard gewerk, maar sy studie met gesonde ontspanning afgewissel. Elke oggend voor skool het hy na die Magode-brug op pad na Scheepersnek en terug gedraf, altesaam agt kilometer. Op skool het hy aan atletiek deelgeneem en in die rugbyspan as senter en later as voorryman gespeel. Vir die debatsvereniging het hy gereeld stukke geskryf en ’n tyd lank was hy voorsitter.”
Op Vryheid het hy vir Marié van Reenen, sekretaresse van die debatsvereniging, ontmoet, wat later sy vrou geword het. Dirk het ook redakteur van die skooljaarblad geword en sy eerste gedigte is daar gepubliseer.
Op skool het Dirk so veel kennis as wat hy kon deur die onderwys en sy individuele leeswerk opgeneem. Die eerste ses maande in standerd 7 was Jannie van der Merwe sy vakonderwyser wat sy lewe aan die oordra van Afrikaans aan sy leerlinge gegee het, en hulle het veral sy flinke manier van klasgee en sy behandeling van die poësie waardeer.
Die later baie bekende PC Schoonees was die hoof van Hoërskool Vryheid en het die klasonderwyser van die standerd 7’s geword. Sy eie dogter, Fie, was ook saam met Dirk en Liz in die klas en Schoonees het besluit om hierdie klas tot matriek deur te vat. Hy het vir Opperman Dirk begin noem in plaas van Boet, soos sy familie hom genoem het.
Vir die res van sy hoërskoolloopbaan het die jeugdige Opperman dus onderrig in Afrikaans ontvang van een van die hoogs aangeskrewe onderwysers in die land en Schoonees was die regte man om Opperman se ontvanklike gemoed op die regte pad te plaas. Dirk het gereeld by die Schoonees-familie gekuier en Schoonees en Dirk het lang gesprekke gevoer. Hy is ook toegelaat om boeke uit Schoonees se uitgebreide versameling te gebruik. Schoonees het ook sy leerlinge aangemoedig om nie net die gewone opstelle te skryf nie, maar om gediggies te skryf, dagboek te hou en toneelstukkies of denkbeeldige briewe te skryf. Op hierdie manier het Dirk meer stelwerk aan Schoonees deurgegee as die hele klas tesame. Opperman was die res van sy lewe dankbaar teenoor Schoonees dat hy by hom ’n sensitiwiteit vir die regte woord tuisgebring het, asook vir ’n mooi boek en vir Afrikaans.
Dirk se ander skoolvakke was wetenskap, wiskunde, geskiedenis en Latyn. Sy geskiedenisonderwyser, Hartman Ries, het ’n diepe belangstelling in die geskiedenis by hom gekweek en Alec Levine, wat Latyn en Engels onderrig het, was verantwoordelik vir sy waardering van en belangstelling in die Engelse letterkunde.
Só het Dirk in aanraking gekom met Ovidius se Metamorphoses: a selection, wat een van hulle voorgeskrewe werke vir matriek was. Hierdie werk het ’n groot invloed op hom as persoon asook op sy latere digterskap gehad. Toe hy in standerd 9 was, het Levine aan hom ’n eksemplaar van Winwood Reade se The martyrdom of man gegee omdat hy so uitsonderlik goed in Latyn presteer het. Ook hierdie werk het Dirk sterk beïnvloed.
Dirk het nie in ’n eng huishouding grootgeword nie en sy vader was redelik vrysinnig, maar niks het hom voorberei op Reade se boek nie. Op daardie stadium was hy besig om te katkiseer en die boek het tot ’n persoonlike en geloofstryd in sy gemoed gelei. Hy het so sterk daaroor gevoel dat hy die boek aan Levine teruggegee het omdat dit indruis teen sy Calvinistiese oortuigings. Levine was egter van mening dat Dirk te intelligent was om nie antwoorde te soek op sy vrae oor die boek nie. Hy het die boek gehou, want hy was vas oortuig dat Dirk dit sou kom terugvra, wat dan ook voor die eindeksamen in matriek gebeur het.
Aan die einde van 1934 het Dirk die matrikulasie-eksamen van die Universiteit van Suid-Afrika afgelê en die besonderse prestasie verwerf om die beste uitslag in die Hoër Taalbondeksamen te behaal. Met hierdie prestasie het hy ’n onderwysbeurslening ontvang om van die begin van 1935 af by die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg te studeer. Alhoewel die lening sy studie- en losiesgelde sou dek, het dit nie voorsiening gemaak vir sakgeld en ander uitgawes nie. Daarom was sy pa nie baie geesdriftig oor hierdie voorgenome studie nie, maar Sannie Opperman was bereid om ekstra naaldwerk te doen om vir hom sakgeld te gee.
Verdere studie en werk
Aan die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg het Dirk altesaam 11 jaar deurgebring. Hy het eers die grade BA (met Hollands en sielkunde), MA (Hollands, met Afrikaans, maar as onderdeel) en die Hoër Onderwysdiploma behaal. Sy MA-verhandeling was getiteld “Die Afrikaanse letterkundige kritiek tot 1922”.
Tydens sy studiejare het hy dikwels hoofartikels vir die Natalse Afrikaner geskryf, die kunsblad van die koerant behartig en in 1940 onderwyser aan Voortrekker Hoërskool geword, waar hy gebly het tot die gesin se vertrek na Johannesburg in 1945.
In 1938 het Dirk ’n brief van Marié van Reenen, sy ou skoolvriendin, ontvang. Die Oudskolierebond van die Hoërskool Vryheid het ’n reünie beplan en Marié, wat ’n BSc-kursus aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria geloop het, moes as sekretaresse vir Dirk as voorsitter kontak. Dirk moes vir sy MA-verhandeling vir Gustav Preller in Pretoria gaan raadpleeg en Marié het vir hom verblyf gereël. In 1940 het Marié op Vryheid begin onderwys gegee en in 1941 is sy by Voortrekker Hoërskool aangestel – waar Dirk was. In 1942 is die twee getroud en drie dogters – Trienke, Heila en Diederi – is uit die huwelik gebore.
Dirk het reeds op laerskool gedigte geskryf, meestal in Engels, maar dit was eers met die trek na Vryheid en sy wonderlike onderwysers dat sy passievolle belangstelling in en liefde vir die letterkunde aangewakker is. Die gedigte wat hy gedurende daardie tyd geskryf het, het hy netjies in ’n oefeningboek oorgeskryf en net voordat hy sy matriekjaar klaargemaak het, het hy dit gebundel en in 1935 (eerste jaar op universiteit) vir een van sy dosente gegee om te lees. Die bundel met sy skoolgedigte het verlore geraak, maar gelukkig is die beste gedigte daarin opgeneem in ’n tweede bundel wat hy op universiteit geskryf het. In sy gedigte wat hy in standerd 9 en 10 geskryf het en wat behoue gebly het, is daar al tekens in die sinsbou van sy latere ekonomiese omgang met die woord.
Behalwe gedigte het Opperman op skool, na aanleiding van Schoonees se uitnodiging om stelwerk in te lewer, ook resensies oor nuwe boeke geskryf. In standerd 10 het hy ’n kortverhaal, “Die reënoffer”, geskryf waaruit sy intieme kennis van die Zoeloes duidelik gespreek het. Die verhaal het die wêreld van Stedham, sy oupa se plaas, as agtergrond en nadat Schoonees só ingenome met die verhaal was, het Dirk dit in 1934 (nadat Liz dit oorgetik het) na Die Huisgenoot gestuur. Markus Viljoen, destydse redakteur van hierdie tydskrif, het in ’n brief van 10 Augustus 1934 ook sy ingenomenheid met die verhaal te kenne gegee en dit vir publikasie aanvaar. Hy het ook geskryf: "Meer verhale van daardie gehalte sal altyd welkom wees ... Die netjiese manuskrip was ’n verkwikking!” Op 7 September 1934 het “Die reënoffer” verskyn wat dit ná gedigte in die skooljaarblaaie Dirk se eerste gepubliseerde stuk gemaak het. Dit het tot ’n lang verbintenis met Die Huisgenoot gelei.
Dirk se ouers het hulle reeds in 1938 in Johannesburg gevestig en nie lank na hulle aankoms daar nie het sy vader se hartmoeilikheid in so ’n mate vererger dat hy nie meer pal kon werk nie. Hy is op 29 Mei 1943, op 52-jarige ouderdom, oorlede. Dirk se moeder het saam met haar drie jongste seuns by die oudste broer, Maans, gaan inwoon. Dirk het aangebied om Koos se losies in die koshuis by Voortrekker in Pietermaritzburg te betaal en ook ’n ogie oor hom te hou.
In 1945 is Dirk se eerste digbundel, Heilige beeste, gepubliseer, en onmiddellik trek dit die aandag. Die bundel word in 1947 met die Hertzogprys bekroon. Wat veral duidelik uit hierdie bundel spreek, en ook neerslag vind in sy verse, is sy diepe gevoel met die Afrikaner se uiteindelike lotsbestemming. Daar is ook verse oor sy kinderlewe in Natal en sy kennismaking met die kultuur van die Zoeloes.
In Die Brandwag (14 Desember 1945) het MPO Burgers van Opperman gepraat as ’n nuwe digter “met ’n heel eie, sterk persoonlikheid, ’n individuele siening en ’n eie, kragtige uitdrukkingsvermoë. Die drie drifte – die liefde vir, en die gebondenheid aan die aardse dinge, die liefde vir die vrou en haar skoonheid, en ’n verhouding tot die onnoembare Gees van God – is die belangrikste in die estetiese vorm in die vier afdelings van die bundel. Die eerste afdeling bevat een gedig oor God en verder hoofsaaklik gedigte oor die stad, natuurgedigte en die reeks beelde in die kwatryne-groep oor die verslaande en verdrukte nasie. Die tweede afdeling bevat baie liefdesgedigte en baie gedigte oor die geheimsinnige nag. Die derde afdeling bevat hoofsaaklik gedigte oor die mens se diepe verbondenheid aan die aardse dinge en sy verhouding met God. Die gedigte in afdeling vier gee veral die digter se siening van die Groot-Groot-Gees, sy belewing van sy biologies-panteïstiese God."
Gerrit Dekker het in Die Huisgenoot (27 Julie 1945) geskryf: "Daar is wel ’n paar gedigte waarvan die innerlike samehang nog nie oortuig nie en al kry die leser soms die indruk dat die digter besig is met eksperimente, is dit tog verse waaruit ’n eie stem opklink. Daar is egter een oortuiging wat die lees van Heilige beeste by die leser agterlaat: Dit besit eienskappe wat onmisbaar is vir verdere groei: eerlikheid, soberheid, ’n aan die tydgees ontsprote saaklikheid van segging en skerpheid van waarneming.”
Ernst van Heerden se mening oor die verse was dat "Opperman in sy eerste bundel uitstaan as ’n digterpersoonlikheid met ’n rype verbeeldingsvermoë en ’n rustige beheer oor sy taalinstrument wat sy werk die stempel gee van egte poësie. Sy verse vertoon die besonkenheid van ’n denker wat oor die emosionele verwarring van die jeug heengekom het en wat nou gelatener en ewewigtiger die werklikheid van wêreld en eie hart wil deurgrond. Ek wil nie beweer dat sy verse sonder opstand of drif is nie, maar dit is ’n rypere hartstog wat weet dat by al die aksidentele daar essensiële waardes is wat deur die lewe konstant en onveranderd bly.
“’n Mens vermoed dat hierdie bundel min verse bevat wat in die kategorie ‘jeugwerk’ tuishoort: sy poësie vertoon na vorm en inhoud weinig van die gewrongenheid van die jeugdige gemoed wat poog om binne ’n vaste versorganisme van ’n onbeteuelde emosie rekenskap te gee. Die digter het sy ontwikkeling nie geforseer nie; hy het lank gewag, want hy wou ons meteens hierdie gerypte en gebalanseerde beeld van sy digterskap gee. Tog is lank nie al die verse ewe geslaag nie: sommige begin sterk, maar word teen die einde mat en verloor hulle spankrag (‘Môre-uur’, ‘Vrees van die arbeider’, ‘Stasie’); ander is ritmies swak en selfs sentimenteel (‘Kontrak’, ‘Bouquet’). (...)
“Samevattend kan ’n mens sê dat dié debuut om drie redes ’n belangrike gebeurtenis is: hier is ’n wesentlike digter aan die woord, die sfeer van ons landskap het organies deel van die verse geword en die skrywer het ons aanraking met verskillende lewensaspekte deur nuwe visie verdiep. Heilige beeste het ons jongste poësie verryk.”
Die keurkommissie vir die toekenning van die Hertzogprys vir 1947 was DF Malherbe, FEJ Malherbe en WJ du P Erlank. Erlank het aanvanklik alleen gestaan in sy aanbeveling van Heilige beeste, hoewel FEJ Malherbe hom gou by Erlank geskaar het. DF Malherbe was egter onwrikbaar in sy teenkanting, omdat hy gevoel het dat Opperman se werk onnasionaal, oncalvinisties en duister was.
JC Kannemeyer het in sy biografie van Opperman verder vertel: "Uiteindelik het DF Malherbe gesê dat hy Heilige beeste sal steun mits Erlank op die volgende jaarvergadering van die Akademie ’n referaat sal lewer waarin hy Opperman as nasionale en Calvinistiese digter sal behandel en waarin hy sal aantoon dat Heilige beeste nie onbegryplike poësie is nie. In die keurkommissie se verslag is gepraat van die konkrete en aardse inslag van Opperman se poësie, sy 'oorspronklike beelding (...), verdigtende vermoë en stukrag. Sy sterk verbondenheid met die aardse, tesame met sy erkenning van essensiële sielswaardes wat te midde van alle verandering konstant bly, gee aan sy digterlike hartstog ewewig, soos dit hom origens behoed teen grootdoenerigheid, selfvertroeteling, en die kultus van die yle en salonagtige literêre uitdrukking, wat ons meermale by jongeres vind.’”
In Junie 1945 het Dirk ’n betrekking by Helpmekaar Hoërskool in Johannesburg aanvaar wat vir hom ’n redelike verhoging in salaris beteken het. Ander oorwegings wat hom gehelp het in sy besluit om te trek, was sy moeder en sy ander familie wat in Johannesburg gewoon het en ook die feit dat Pietermaritzburg primêr ’n Engelssprekende omgewing was en hy op skeppende gebied daar nie genoeg stimulasie gevind het nie. Ook was daar ’n sterk negatiewe gevoel jeens die Afrikaner en sy wêreld.
In Desember 1945 het die redakteur van Die Huisgenoot, Markus Viljoen, Johannesburg besoek en ’n afspraak met Dirk gereël. Tydens hierdie ontmoeting het Dirk aan Viljoen die brief gewys wat hy aan Dirk gestuur het na ontvangs van sy kortverhaal “Die reënoffer”. Gedurende ’n tweede byeenkoms het Viljoen gemeld dat daar ’n vakature in die redaksie van sy tydskrif is en gevra of Dirk daarin sou belangstel. Hy was baie verras, want hy het glad nie gedink aan ’n werkverandering so gou na sy aankoms in Johannesburg nie.
Dirk het die pos aanvaar en op 1 Januarie 1946 op die Kaapstadse stasie aangekom. Marié sou by hom aansluit sodra hy ’n plek gekry het om te woon. Fred le Roux het hom op die stasie ingewag en hom na Steynsrus, ’n losieshuis in Meulstraat, geneem. Hy het op 3 Januarie 1946 begin werk, en hy en ’n jong Elsa Joubert was die twee nuwelinge op die redaksie.
Dirk het die manuskrip vir sy tweede bundel, Negester oor Ninevé, aan die einde van 1946 aan Nasionale Pers se uitgewersafdeling voorgelê, waarna hulle dit aan WEG Louw gestuur het vir keuring. Daar het egter meer as vier maande verloop voordat die manuskrip saam met Louw se aanbeveling by die uitgewers aangekom het, en dit het Opperman nie aangestaan nie. Louw was baie ingenome met die bundel en het geskryf dat as dit gepubliseer sou word, dit “’n gebeurtenis van betekenis in ons letterkunde” sou wees. Dit is ’n bundel wat die belofte van Heilige beeste “ruimskoots vervul” en die werk “van ’n bewuste kunstenaar, iemand wat sy eie stem gevind het en wat weet wat hy wil sê”.
Die meeste besprekings van Negester oor Ninevé, wat in 1947 verskyn het, was oorwegend gunstig. Flip du Plessis het in Die Burger gewys op die "sentrale gedagte van die kontinuïteit wat die gees van die mens aan die skepping verleen” en die verantwoordelikheid wat die man in die “grysland” teenoor sy kind het. Hy het waardering gehad vir die groter bundeleenheid wat hier teenwoordig is.
Ook Gerrit Dekker (Ruiter, 21 November 1947) se uitsprake oor Negester oor Ninevé was veel gunstiger as dié oor Heilige beeste. Dekker se resensie was ’n ontleding van die "ideëwêreld en die denkvorme" wat die basis van Negester vorm: "die kreatiewe evolusie, die kontinuïteit van die lewe, die goddelike mag teenoor vernietiging, en die kringloop van geboorte en dood. Opperman is ’n selfstandige digter en ’n belangrike figuur in ons poësie wie se verdere ontwikkeling met belangstelling gevolg sal word."
In Ons eie boek (Maart 1948) het Ernst van Heerden geskryf dat Negester oor Ninevé vir hom die bevestiging van Opperman se kunstenaarskap is en ’n merkwaardige bundel om “die strakker intellektuele inslag van die verse, die visioenêre grootsheid van die digter se sieninge en (...) die eerste fel-deurdringende poëtiese belewing van die erotiek in Afrikaans”.
FIJ van Rensburg was egter nie heeltemal so vleiend nie. In Die Volksblad van 17 Januarie 1958 toon hy minder begrip vir Opperman se verse. "Opperman mis beeldende vermoë. Beeld na beeld vind wel sy tuiste binne die omtrekke van die gedig, maar die vers is oorlaai en ek kry die indruk dat die dinge wat so opgenoem word, nie fataal saamhang nie."
Gedurende hierdie tyd het Opperman ’n resensie van Negester ontvang van ’n onbekende jong letterkundige van die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg, AP Grové. Opperman kon ongelukkig nie die resensie vir Die Huisgenoot aanvaar nie, aangesien hy reeds vir HA Mulder gevra het om een te skryf, maar het dit later in Die duister digter opgeneem. Hierdie bespreking was Grové se eerste tree in sy loopbaan tot ’n toegewyde studie van die werk van DJ Opperman.
In September 1948 het Canis Scholtz Opperman besoek om hom te pols oor die moontlikheid van ’n lektoraat by die Universiteit van Kaapstad. Opperman was teen daardie tyd gereed om ’n skuif te maak, aangesien hy by Die Huisgenoot baie min tyd gekry het om te skryf. Al is die redakteurskap van Die Huisgenoot later aan hom voorgehou, het Dirk besluit om die pos by die universiteit te aanvaar.
Op 1 Maart 1949 het hy as lektor en later as senior lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad begin werk, ’n posisie wat hy tot 1959 beklee het.
In Mei 1948 het Opperman en Van Wyk Louw ’n gesprek gehad oor die houding van die Ossewa-Brandwag en die beweging se leier, Hans van Rensburg. Opperman het vertel van die Stormjaers en Gryshemde se ekstremistiese en gewelddadige optrede in Johannesburg en hulle aanvalle op die pers. Hy het ook verder vertel van sy kontak met kleiner groepe in Pietermaritzburg en die geval genoem van ’n “Duitse spioen”, Olaf Andresen, en uit hierdie stories het hy vir homself ’n beeld begin opbou van so ’n spioen in diens van die Nazi’s.
Gedurende hierdie gesprek het Opperman skielik tot die besef gekom dat hierdie inligting die agtergrond kon vorm vir ’n lang vers en dat dit ook dalk die oplossing kan wees vir baie probleme wat hy in hom ronddra. Dit was die begin van sy Joernaal van Jorik. Die aanvaarding van die pos aan die Universiteit van Kaapstad het die vordering van Joernaal van Jorik egter ietwat vertraag.
Dirk het getikte eksemplare van Joernaal aan Van Wyk Louw, Izak van der Merwe, Fred le Roux en Canis Scholtz gegee. Al vier het positief op die manuskrip gereageer, dus het Dirk dit in Augustus 1949 aan George Minnaar van Nasionale Pers gestuur. Dié het Canis Scholtz om sy mening gevra en vir hom was dit "een van die sterkste werke in die Afrikaanse digkuns".
Van Wyk Louw het in sy resensie (ATKP 1949–1952, Byvoegsel, 24 Desember 1949) geskryf dat Opperman met hierdie werk die potensiaal wat sy eerste twee werke getoon het, vervul en dat hy met Joernaal sy plek in die voorste linie van Afrikaanse digters inneem. “Baie motiewe van sy vroeëre gedigte word hier teruggevind, maar nou saamgevat in ’n kragtig-gebonde eenheid en uitgewerk met ’n meesterskap oor die tegniek wat aan elke onderdeel, elke geringste besonderheid byna, sy sin en sy betekenisvolle plek in die geheel gee.
“Hoe kan in ’n kort bespreking die inhoud van hierdie epiese vers weergegee word? Op die oog af en vir die haastige lees is dit die boeiende verhaal van ’n man wat met ’n duikboot in ‘oorlogtyd’ as spioen op bevel van ’n vreemde ‘maghebber’ wat oor sy lot beskik, aan wal gebring word in Suid-Afrika; sy taak is om hom in hierdie land in te leef, alles daarvan te leer ken, en alles wat hy leer, noukeurig te noteer. (Die taak ook van die digter in die wêreld?) Hy weet dat die ‘mag’ wat hom gestuur het, self onsigbaar, hom steeds in die oog hou en rekenskap sal eis van wat hy gedoen het. En in sy hart moet hy altyd onthou dat hy hier geen blywende tuiste het nie, maar ’n ‘losieshuis’; dat hy behoort aan sy ‘eerste land’ vanwaar hy gestuur is.
“Met sy koms reeds is hy verbind aan die lang reeks ‘vreemdelinge’ wat deur die eeue heen hierdie land besoek en ontdek het: Fenesiërs, Dias, Da Gama, ‘en ander vaarders sedertdien’. Ons volg dan sy eie persoonlike ontdekkingstog. (...) Later lees ons hoe hy ál hoe meer begin vasgroei aan hierdie land; hoe ’n ouer vrou, Wiesa, hom die geskiedenis van die volk vertel en hom leer om dit van binne af te begryp. (...) Hy doen mee aan die plesier van die mense (...) en hy raak verlief op ’n meisie van hierdie land. Hy werp hom selfs in die stryd van hierdie nuwe volk, maar tog bly die bewussyn van sy ‘opdrag’ en van sy ‘vreemdelingskap’ hom as ’n dowwe skuldgevoel by. Dit is alleen met die jare dat hierdie gevoel vaer word en dreig om te ‘fade into the light of common day’. En tog nie heeltemal nie: daardie óu onrus laat hom nog steeds besef hoe betreklik alle ideale van hierdie ‘tweede’ land van hom is. Selfs wanneer die hartstogtelik begeerde ‘Republiek’ gekom het – en sonder ‘bom of bloed’ – bly die wêreld onvolmaak. (...)
“Hy besef dat hy ‘verraad’ pleeg teen sy eintlik taak; en die vrees vir die dag van ‘rekenskap’ kom telkens terug. (...) Dan ontmoet hy op ’n aand weer een van die twee geheimsinnige manne wat hom aan wal gebring het; hy weet dat die uur van rekenskap gekom het. Hy probeer nog vlug, maar waar hy van die bus afklim, wag die twee hom in:
Toe flits daar meteens ’n glas-nikkel-spuit
in Dabor se hand, en met ’n geknyp
voel Jorik die lang skerp naald in sy huid,
en dit duisel ... dit duisel ... en gryp ...
"Daar is in hierdie gedig minstens vier betekenisvlakke, vier hoofmotiewe wat met die fynste intellektuele beheersing van die stof inmekaar gevleg of oormekaar geskuif is: (1) ’n avontuur- of spioenasieverhaal; (2) die verhaal van ’n persoonlike lewe en die problematiek van ’n digter; (3) ’n beeld van Suid-Afrika met sy landskappe, sy volke, sy geskiedenis, die noodlot van sy ingewikkelde probleme; en (4) (dowwer in die agtergrond) vyf eeue van die wêreldgeskiedenis.
“Dit is dus ’n gedig wat ’n mens ‘sommer so’ kan lees om die verhaal; maar ook ’n gedig wat jy kan lees en herlees om telkens op nuwe verrassings, nuwe skoonheid af te kom, en telkens met stygende bewondering vir die soewereine meesterskap wat so ’n rykdom so byna speel-speel kan saamvat en uitspreek in die gewoonste, mees alledaagse woorde. En nadat ’n mens jou lank in die werk verdiep het, weet jy nie wát jy die meeste moet bewonder nie: die groot greep van die konsepsie, of die kragtige bou van die geheel en elke onderdeel, die gaafheid van aparte beelde of die raakheid van enkele woorde nie. Met hierdie werk het Opperman iets groots bereik.”
Ernst van Heerden (Die Huisgenoot, 3 Februarie 1950)het geskryf: "Opperman het vir ons met hierdie gedig ’n beeld van verskillende nasionalismes gee en die suggestie is daar dat die Afrikaner homself dalk in nog ander lewens- en geestesvorme kan en sal vind. Miskien sal latere geslagte eers die volle dra-krag van sy probleemstelling na waarde kan skat. Maar dit is seker dat ons poësie en ons letterkunde met ’n werk van monumentale grootsheid verryk is."
John Harvey, afgetrede hoogleraar van die Universiteit Stellenbosch, het in 1991 die meer as 200 kwatryne van Joernaal van Jorik in skaars agt weke in Engels vertaal. Marié Opperman het Harvey genader met die versoek oor die vertaling en hulle twee het nou saamgewerk. Sy het ’n ogie oor die eindproduk gehou, want hy het nie altyd die nuanses van die Afrikaanse taal verstaan nie.
In 1989 is Joernaal van Jorik deur Roelof Temmingh musikaal bewerk. Die teks is in sy geheel voorgelees, met enkele instrumente soos die orrel, klavier, fluit en tjello, slagwerk en ’n klankbaan met elektroniese geluide wat die voordrag begelei.
Uit die tydskrifte en gedigte wat nog in manuskripvorm was, het Dirk in 1950 ’n keuse gemaak wat aan die einde van 1950 onder die titel Engel uit die klip gepubliseer is.
Die kommentaar op hierdie bundel was meestal positief.
In Die Huisgenoot van 9 Februarie 1951 het AP Grové geskryf: "Wat Opperman stempel as ’n kunstenaar van formaat, is sy seldsame vermoë om, met ’n enkele greep, skynbaar onsamehangende gegewens uit die geskiedenis, uit vervloë beskawings, uit die literatuur, uit sy daaglikse ervaring, in ’n nuwe verband tot ’n sinryke geheel saam te bind.
“Rilke se beroemde uitspraak – naamlik dat die digter lande moet deurreis, met afgeleë tye en volkere moet kennis maak, sterfbedtonele moet bywoon en woestynreise moet meemaak, ál hierdie ervarings in sy bloedstroom moet opneem, hulle as ’t ware weer moet vergeet voordat die eerste woord van ’n gedig ontstaan – word by implikasie op merkwaardige wyse in hierdie jongste bundel van Opperman bevestig. Gelukkige invalle en los stemminkies moet ons hier dus nie soek nie; by hierdie dinamiese digter is dit ’n hardnekkige drang om die lig op die duisternis te verower; om ‘alles wat gestalteloos dein’ saam te gryp ‘tot enkele sterk en helder dinge’; om wat vormloos is, te vorm; om wat chaoties is, in ’n sinryke patroon te laat ingaan; om dit wat tydelik is: mens, dier, plant, met die kreatiewe woord van hulle tydelikheid te verlos, net soos die Skepper in ‘die retort van lug en aardbol’ elke element wat ‘glansloos skuil onder (Sy) firmament’ deur die vleeswording van Christus ‘verander in edele metaal’ (‘Toorklip’).
“Hierdie skeppingsbewussyn is die Leitmotiv van die hele bundel en word telkens in nuwe simbole na vore gebring. (...) Om hom op onvoorwaardelike wyse met die skepping te vereenselwig, so die engel uit die klip te verlos – dit is die kunstenaarstaak waarvan Opperman hom in hierdie bundel baie duidelik rekenskap gee.”
In die Cape Times van 23 Maart 1951 het Anthony Delius geskryf dat Opperman met die verskyning van Engel uit die klip sy aanspraak om een van die belangrikste figure in die Afrikaanse letterkunde van sy tyd te wees, bevestig. Hy is dalk een van die mees oorspronklike digters nog in Afrikaans – nie soseer as gevolg van sy “moderne” taalgebruik nie, maar as gevolg van sy keuse van onderwerp.
“Because his work is so typically Afrikaans – fond of learning, religious, uninhibitedly earthy, moodily romantic, politically angry, gravely imaginative, cautious and capable of great strength – Opperman is also something of a rebel as a poet.
“He has rebelled against the earlier easy rhythms and flowing cadences of Afrikaans verse, and his own verse developed for a while rather an unbending attitude to such poetic finery. But this period of austerity seems to be over and there are fewer conflicting consonants and vowels which once made so many of his lines an awkward mouthful.
“Although Opperman espouses what is essentially a romantic cause, he approaches poetry with much of the sternness and severity of a classicist. But now he is allowing the romantic to creep into the structure of his poetry, the classicist seems to be making some advance into its content. It is the progress of this infiltrating classicist – and humanist – which will become more interesting in Opperman as he continues to develop and move forward to new achievements in South African poetry.”
Teen 1949 was Opperman reeds ongeveer twee jaar lank besig met die samestelling van ’n reeks bloemlesings uit die Afrikaanse poësie vir Nasionale Pers. Daar het egter probleme ontstaan met WEG Louw, wat as medesamesteller aangestel is. In 1950 is Opperman as uitsluitlike samesteller aangewys en in die tweede helfte van 1950 het hy sy ander werk opsygeskuif sodat hy hom uitsluitlik op die bloemlesings kon toespits. In 1951 het Junior verseboek, Senior verseboek en Groot verseboek verskyn en in 1954 Lied van die land. Vir Junior verseboek en Senior verseboek het hy by die samestelling opvoedkundige faktore en die ontwikkelingspeil van die gemiddelde leerling in ag geneem. Lied van die land was ’n bloemlesing van gedigte waarin die skoonheid van Suid-Afrika besing is.
Kannemeyer het meer vertel oor Opperman se keuses by Groot verseboek: "Die hoofoorweging by die samestelling (...) was (...) die intrinsieke gehalte van die tekste en hy het hom voorgeneem om geen buiteliterêre faktore ’n rol te laat speel nie. Naas die gehalte van die tekste is die gedigte so gekies en gerangskik dat die boek ’n beeld van die ontwikkeling van ons poësie moes gee.
"Opperman het ook die tekste wat hy opgeneem het, noukeurig gekontroleer, en hoewel dit sy strewe was om die jongste tekste te gebruik, het hy betreklik vroeg in bepaalde gevalle hiervan afgewyk."
Kannemeyer skryf dat Opperman met die samestelling van sy verseboeke ’n nuwe tradisie daargestel het met die deeglikheid en verantwoording wat hy aan die dag gelê het. Die baie toevoegings en weglatings uit volgende uitgawes spreek van hierdie deeglikheid.
Die vertroue wat Nasionale Pers in Opperman as bloemleser gehad het, is beloon deurdat al die verseboeke kort na publikasie deur skole en aan universiteite voorgeskryf is. Die verseboeke is ook almal etlike male herdruk en weer uitgegee.
Opperman het intussen tot die besef gekom dat hy in staat sou wees om ’n uitgebreide studie te kon maak van die Afrikaanse digters wat in die 1930's debuutbundels die lig laat sien het en wat verantwoordelik was vir die groot oplewing in die Afrikaanse digkuns. Omdat hy as kritikus en kreatiewe skrywer heelwat gepubliseer het en self ook ’n bekroonde skrywer was, is hy toestemming verleen om vir sy DLitt-graad in te skryf – ’n seldsame gebeurtenis aan ’n Engelstalige universiteit, aangesien dit net vir baie oorspronklike navorsingswerk toegeken word en aan kandidate wat baie publikasies agter hulle naam het. Canis Scholtz is as sy promotor aangestel en op 12 Desember 1952 het hy met sy tesis getiteld “Die vernuwing van Dertig in die Afrikaanse poësie” sy DLitt verwerf. In 1953 het Nasionale Pers dit in boekvorm uitgegee onder die titel Digters van Dertig en in hierdie vorm het dit ’n standaard naslaanwerk aan universiteite geword.
Nadat Dirk sy doktorsgraad behaal het, het hy lus begin kry om ’n ander genre as die poësie aan te pak, en omdat hy nog altyd ’n belangstelling in toneel en drama gehad het, het hy op die drama besluit. Marié was die impetus vir sy besluit om oor Periandros, die alleenheerser van Korinthe in 6 vC te skryf toe sy in 1953 navorsingswerk oor digteresse begin doen en die lewe van Sappho nagevors het. Só het sy op Periandros afgekom. Sy het aan haar man genoem dat daar dalk sterk dramatiese potensiaal in die gebeure opgesluit kan wees.
Dirk het ook sy verkenning gedoen en dit het hom so begeester dat hy dadelik met sy eie navorsing begin het en teen die einde van 1953 was Periandros van Korinthe amper klaar geskryf. Die versdrama is in Julie 1954 gepubliseer en het, nadat dit ook vir skole voorgeskryf is, baie herdrukke beleef.
Die menings en resensies oor Periandros was baie verskillend: JPJ van Rensburg het geskryf dat die drama "deur en deur Afrikaans" is; vir AP Grové (Die Huisgenoot, 10 September 1954) was dit ’n "ontroerende spel wat van briljante intellektuele en strukturele gawes getuig"; in Klasgids (November 1968) het TT Cloete fout gevind met die versdrama as ’n gedig; en Canis Scholtz het die lees daarvan as "’n groot teleurstelling" bestempel.
Die eerste opvoering van die stuk was oor die radio en is op 29 Oktober 1954 uitgesaai. Vir hierdie uitsending moes Opperman die teks verkort en vermeende “aanstootlikhede” weglaat. Ken Swart was die regisseur, met Fred le Roux as Periandros, Suzanne van Wyk as Melissa, Paul Malherbe as Kuupselos en Izak van Niekerk as Lukophroon. Die uitsending het bewys gelewer dat die versdrama wel opvoerbaar is.
Van 21 tot Mei 1955 is Periandros vir die eerste maal op die verhoog opgevoer in die Klein Teater van die Universiteit van Kaapstad en op 31 Mei en 1 Junie 1955 in die Bothasaal op Stellenbosch. Ria le Roux het die regie behartig en ook die rol van Melissa vertolk, met Fred le Roux weer in die hoofrol. Die lofprysinge het van oral en van almal ingestroom en dit het finaal bewys dat die stuk ook op die verhoog opvoerbaar is.
Periandros is bekroon met die WA Hofmeyr-prys in 1954 en die Hertzogprys in 1956. Dit het ook in 1956 ’n spesiale prys van die Drie-Eeue-Stigting ontvang. Met die ontvangs van die WA Hofmeyr-prys was Opperman se dankie in digvorm:
Menere,
Ek dank u vir die eerbewys
aan my deur die toekenning van die Hofmeyrprys,
want al sing ons digters dikwels teen die geld
open dit vir ons ’n aardse paradys.
(en daarmee ons brandewyn en ys!).
Dirk het nog aan die proewe van Periandros van Korinthe gewerk toe hy al klaar besig was met sy tweede drama, Vergelegen, wat die figuur van Willem Adriaan van der Stel as middelpunt gehad het. Vroeg in 1956 het hy die manuskrip aan Koos Human van Nasionale Boekhandel oorhandig en in September 1956 het hy die eerste eksemplare van Vergelegen ontvang.
Canis Scholtz het teenoor Opperman nie doekies omgedraai oor Vergelegen nie en het dadelik gesê dat hy nie veel daarvan dink nie. Van Wyk Louw het hom in ’n brief aan sy broer WEG Louw ook nie baie positief oor die drama uitgespreek nie. Maar die koerant- en tydskrifresensies was merendeels gunstig.
AP Grové (Die Huisgenoot, 3 Desember 1956) het Vergelegen met Periandros vergelyk en geskryf: "Vergelegen is’n soort van vervolg, want waar Opperman in sy eerste versdrama die kragte probeer peil het wat die Wes-Europese mens gevorm het, het hy hom in Vergelegen toegespits op die Suid-Afrikaanse geskiedenis en het hy besin oor die vorm wat die Westerse beskawing in hierdie land aanneem. Periandros staan aan die ingang tot die Wes-Europese wêreld; die Heer van Vergelegen (Willem Adriaan van der Stel), daarenteen, is die eerste omstrede en daarom werklik dramatiese figuur op Suid-Afrikaanse bodem.”
WJ du P Erlank (Die Burger, 30 Desember 1956) het in sy bespreking van Vergelegen geskryf: "Daar word, soos in die geval van Periandros, gevoel dat die gebruik van paarsgewys rymende verse innerlike noodsaak is in die drama, maar Opperman ooreis op talle plekke, óf die trefkrag van sy sin verswak óf sy taalmedium, ’n enkele keer ter wille van die metrum, meer dikwels ter wille van die rym. Afgesien hiervan is sy dialoog egter, veral in die kort taferele, van ’n buitengewone beeldingskrag en slaankrag. Vir soveel dramaturge, skrywer hiervan onder andere, is die woord so dikwels verklarende begeleiding, lopende kommentaar op die handeling, wat vir hulle primêr is. Hulle vul as ’t ware ’n situasie in met (meestal te veel!) woorde. Die groot verdienste van Opperman se versdramas is dat hy die prioriteit van die woord herstel het. Die woord is vir hom primêr, dit is as ’t ware die embrionale gebaar, en uiterlike handeling en gebaar is net ’n verlengstuk van sy digterlike woord.”
Die première van Vergelegen het eers op 22 Augustus 1964 in Kaapstad in die Hofmeyr-teater plaasgevind om saam te val met Opperman se 50ste verjaardag. Ria Olivier was die regisseur, met Paul Malherbe as Van der Stel en Fred le Roux as Van der Heiden. Vir WEG Louw (Die Burger, 24 Augustus 1964) was Fred le Roux se vertolking van Van der Heiden die impetus wat aan Vergelegen die "grootsheid, menslikheid en dramatiese slaankrag" gegee het wat hy na die lees daarvan nooit sou kon gedink het nie.
Opperman het nie opgehou dig terwyl hy aan die versdramas gewerk het nie. In Mei 1956 is Blom en baaierd gepubliseer en in dieselfde jaar met die WA Hofmeyr-prys bekroon. Ernst Lindenberg (Die Burger, 28 Mei 1956) was baie positief oor Blom en baaierd en was veral beïndruk met die groot aantal motiewe in hierdie "ryke" bundel wat ’n belangrike gebeurtenis in die Afrikaanse digkuns is.
Lindenberg het voortgegaan: "In Blom en baaierd gaan dit hoofsaaklik om die teenstelling tussen orde en chaos. Die blom is die simbool van die volmaakte, die ordelike, terwyl baaierd op die vormlose, die chaotiese en warboel dui. Daar word ook met die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk geworstel. In die openingsgedig, 'Staking op die suikerplantasie', is die suggestie van rassekonflik reeds opgesluit. In die gedig 'Draaiboek' word die selfmoord van ’n gekleurde seun, juis weens velkleur, gedramatiseer."
Dit was in die laaste paar jare van die 1950's dat Opperman hom as gevolg van druk by die werk en die worsteling met die wete dat die mens se bestaan op aarde net tydelik is, al meer tot alkohol gewend het.
In Standpunte (Desember 1956 – Januarie 1957) het Rob Antonissen geskryf dat ’n mens "Opperman se poësie paradoksaal kan karakteriseer as ’n volkome aan die aktualiteit onttoë aktualiteitspoësie. Alhoewel die Suid-Afrikaanse aktualiteit wel deeglik in sy werk aanwesig is, swaai hy telkens weg van regstreekse aktualiteitspoësie deurdat sy verse op meer as een vlak beweeg. As bundel, as sinvolle, tegelyk panoramiese en perspektiwiese ‘gebou’ van talryke uitmuntende kort gedigte én van ’n aantal langer poëmata wat ewesovele beknopter ‘Joernale’ is, is Blom en baaierd beslis sy gróótste bundel tot dusver; en ’n bundel wat dieper as een enige van die voriges na die gewete tas.”
Anton Rupert het aan Dirk gesê dat dit die beleid van sy maatskappy, Rembrandt, is om ’n deel van sy winste in die vorm van skenkings aan die volk terug te gee. Op 20 Februarie 1956 het die direksie laat weet dat hulle ‘n reisbeurs vir Opperman amptelik goedgekeur het en dat hy reëlings vir hierdie langverwagte reis kon begin tref.
Op 7 Desember 1956 het die Oppermans per boot vanaf Kaapstad na Southampton vertrek en ’n uitgebreide toer deur Europa onderneem. Hulle is onder andere na Van Wyk Louw in Amsterdam, waarna hulle na Duitsland vertrek het. Hierna het hulle vir ses weke saam met Fred en Ria le Roux per motor deur Europa gereis voordat hulle van Parys via Amsterdam na Londen is, waarvandaan hulle op 27 Junie hulle seereis terug na Suid-Afrika begin het. Veral vir Opperman was die reis na Europa ’n opskerping van sy sintuie.
Nadat die Opperman-gesin in 1958 ’n vakansie per motor na Natal aangepak het, het Dirk vir Marié gevra om vir hulle ’n vakansieplekkie nader aan die Kaap te kry waar hulle kon gaan rus voor die universiteite na die Julie-vakansie open. Sulke lang motorritte soos die een na Natal het hom baie moeg gemaak.
Jan Scannell van Nasionale Boekhandel het Franskraal anderkant Hermanus aanbeveel en hulle het daar ’n huis gehuur. Hulle het so lekker gekuier dat Opperman dadelik besluit het om ’n erf daar te koop en hy en Hannes van der Merwe is na Franskraal waar hulle uiteindelik op ’n erf teenoor die strand by Mooimeisiesbaai met ’n onbelemmerde uitsig op die see besluit het.
Dirk se belangstelling in visvang het al begin nog voordat hulle hul huis begin bou het. Schalk Pienaar het vertel van die deeglike navorsing wat Opperman gedoen het voordat hy sy visvanggereedskap gekoop het. Baie gou het hy sy eie persoonlike visvangplek by Mooimeisiesbaai gehad en het hy visgevang asof hy dit al jare gedoen het. Terwyl hy visgevang het, was die kinders op die rotse doenig met die uithaal van krewels en alikruk.
Kannemeyer vertel: “As die water begin sak, was Opperman lief daarvoor om na sentimentele liedjies te luister wat Heila met kitaarbegeleiding kon sing en het hy ’n eie sê-ding gehad:
Alikruk alikrak
die water die sak.
Die ouvrou kom
met ’n hoepel en ’n sak.”
Die Engelse atmosfeer en studente aan die Universiteit van Kaapstad het veroorsaak dat Opperman nie meer so tuis daar gevoel het nie. En toe Meyer de Villiers van die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans-Nederlands met Opperman praat oor die aftrede van FEJ Malherbe en die vakature wat daar sou ontstaan, het Opperman De Villiers laat verstaan dat hy dit baie gunstig sou oorweeg om die skuif na Stellenbosch te maak.
In Julie 1959 het Opperman as senior lektor by die Universiteit van Kaapstad bedank en teen die einde van November van dieselfde jaar is die gesin na Stellenbosch. In Januarie 1960 het hy as professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch begin werk – ’n pos wat hy tot sy aftrede in 1979 beklee het.
Ongeveer ses maande nadat hy die professoraat aanvaar het, het Astrak van die gedigte van DJ Opperman verskyn – ’n omvattende bloemlesing uit sy eerste vier digbundels wat volgens AP Grové (Die Huisgenoot, 28 Oktober 1960) ’n "pragtige en verantwoorde beeld van Opperman se digterskap gee". Die gedigte is deur Dirk self uitgesoek en min of meer chronologies gerangskik.
In die Cape Times het Nancy Baines (23 November 1960) geskryf dat Astrak baie positiewe dinge uitwys – intelligensie, humor, diep gevoelens, intellektuele nuuskierigheid – maar sy voel dat daar iewers ’n obstruksie is, iets wat die digter daarvan weerhou om homself te vervul.
In 1960 het Merwe Scholtz ’n bundel getiteld DJ Opperman: ’n keur uit sy gedigte vir die Nederlandse uitgewer GA van Oorschot versorg waarin die hele Joernaal van Jorik opgeneem is en wat baie positiewe reaksies in die Lae Lande ontlok het.
Op Stellenbosch het Dirk onder meer met die stig van die sogenaamde Letterkundige Laboratorium deskundige leiding aan aspirantdigters verskaf. Marlene Holtzhausen het in SA Panorama (31 Maart 1980) geskryf dat Opperman se doel met hierdie “laboratorium” was om studente met "skeppende talent ’n kanaal te gee waarlangs ’n goed-gedissiplineerde digbundel uiteindelik die uitgewer kan bereik. In dié proses word ’n groepie studente gelei om hul eie werk krities te bekyk sodat hulle tot ’n waardebepaling van hulle eie talent kon kom.
"Dirk Opperman se woorde in die Letterkundige Laboratorium het al menige wederwoord in die Laboratorium se bestaan ontlok, soos in die werk van Lina Spies, Fanie Olivier, Leon Strydom, Niel van Tonder, André le Roux, Marlene van Niekerk en Charles Fryer."
Na sy aftrede in 1979 het Dirk op aandrang van sy oudstudente nog steeds die leisels van hierdie projek stewig in sy hande gehou. Dit is moontlik gemaak deur die pos van buitengewone professor wat deur Nasionale Pers geborg is. Dié pos was dan ook aan Opperman as persoon gekoppel en daarvolgens sou hy slegs vir die Letterkundige Laboratorium verantwoordelik wees.
Die publikasie van Opperman se volgende digbundel, Dolosse, word op 13 November 1963 gevier. Die temas in hierdie bundel is uit sy oorsese reis geput. AP Grové (Die Huisgenoot, 13 Maart 1964) was egter van mening dat die gedigte in hierdie bundel nie bloot reisindrukke is nie: “Die reisindruk is dikwels net die vertrekpunt vir ’n boeiende verbeeldingsveld,” skryf hy. "In die bundeltitel is ’n tweeledige simboliek opgesluit: aan die een kant dui dit op die geskonde, verweerde beendere van die dooie en aan die ander kant kry die beendere, met towerspraak gewerp, ’n profetiese boodskap, ’n uitreik na die toekoms."
Dolosse is in 1963 met die CNA-prys en in 1965 met die WA Hofmeyr-prys bekroon. Dit was ook op die kortlys vir die Hertzogprys van 1965 en was saam met Tristia van Van Wyk Louw die belangrikste aanspraakmaker. Op ’n stadium het dit gelyk of dit ’n gedeelde prys sou wees, maar Louw het te kenne gegee dat hy dan nie die prys sou wou ontvang nie en so is die Hertzogprys vir Tristia toegeken.
Merwe Scholtz (Volksblad, 3 Maart 1966) het by die oorhandiging van die WA Hofmeyr-prys die toeligtingswoord gelewer: "Die digter het hom in hierdie bundel op veelsydige en boeiende wyse bemoei met die speelgoed wat veral ook magiese sêgoed is, naamlik dolosse; dit was, wanneer die regte hand hulle skommel en gooi en lees, getuienis van sowel die verlede as dit wat nog kom. Ek ken geen ander Afrikaanse digter wat meer fasette van die Afrikaanse werklikheid, van die Suid-Afrikaanse problematiek in sy poësie onder oë gesien het nie. Die hele bonte, kaleidoskopiese beeld van hierdie land en sy mense, dit kom veral in en sedert Joernaal van Jorik in toenemende mate tot uitdrukking in sy poësie. Maar dit is dan ’n nasionale poësie wat baie ver gekom het sedert die dae toe ons poësie nog sy voorkeur uitgespreek het vir ’n man wat sy man kan staan. (...)
“Die problematiek in [Dolosse] is nie in die enigste en selfs in die eerste plek dié van die Afrikaner nie; dis dié van die mens. Die krisis daarin, die nood, is dié van die ganse Westerse beskawing waaraan ons deel het en deel wil bly behou.”
WEG Louw (Die Burger, 31 Januarie 1964) se blywendste eerste indruk was miskien dié van ’n vers wat "losser, leniger, hier en daar selfs speelser geword het as heelwat van Opperman se bekende werk. Dié trek sien ek – met enkele noemenswaardige uitsonderings – selfs in verse waarin Opperman se woord ernstige sake aanraak. (...)
“Wat behoue gebly het, só ongeskonde dat ’n mens, glo ek, sonder twyfel elke vers as ’t ware op sig as een van Opperman s’n sou kan herken, is die konkreetheid van sy beelding, sy virtuose gebruik van die alledaagse woord, die geslotenheid en selfs hier en daar kriptiese aard van dié poësie. Sou dit geen kontradiksie wees? het ek myself dadelik afgevra. Losser en leniger, en tóg ewe konkreet? Speelser en tog kripties? Ek glo nie, want dié gedigte is terselfdertyd ryper, in dié sin dat hulle die werk is van iemand wat presies weet wat hy wil en wat ook die vermoë besit om wat hy wil met sy woord te vorm.”
Kuns-mis het in 1964 – die jaar van Opperman se 50ste verjaardag – verskyn. In dieselfde jaar het AP Grové ’n bundel gedigte, Kort reis na Carrara, saamgestel wat spesiaal uitgegee is om met hierdie verjaardag saam te val. Dit het in ’n beperkte oplaag van 120 eksemplare verskyn.
"Kuns-mis is ’n versameling van Dirk se hekelverse waarin nie alleen mededigters en kritici onder die loep kom nie, maar ook sosiale hekelwaardighede en wêreldtoestande. In ’n bundel soos hierdie verwag ’n mens woordspel en kry ’n mens dit oorvloedig – soms té oorvloedig, soos in die titels van baie gedigte wat maar erg gemaak lyk," is in Die Sondagstem (24 Oktober 1964) geskryf. “Opperman kan woorde met meervoudige betekenis laai en hy kan gediggies-om-’n beeld maak. Dit bewys Kuns-mis weer eens. Maar Kuns-mis bewys ook hoe lag-versies ’n groot digter kan verlei om vorm-misdade (selfs so elementêr soos rymdwang) te pleeg, waarvoor mens elders in sy werk verniet sal soek. Maar natuurlik: die beoordeling van Kuns-mis sal seker ook anders moet wees, omdat dit weinig pretendeer.”
Voëlvry (1968) was Opperman se derde versdrama. Dit handel oor die trek van Louis Tregardt na Delagoabaai. Dit is in opdrag van Kruik vir die Republiekfees van 1966 geskryf en het sy première einde April 1967 onder regie van Fred Engelen in die HB Thom-teater op Stellenbosch gehad.
Die Hertzogprys vir 1969 is aan Voëlvry toegeken. Die motivering vir die toekenning het onder andere gelui (Die Burger, 12 Mei 1969): “Soos Opperman se vorige twee dramas, Periandros van Korinthe en Vergelegen, is Voëlvry ook ’n historiese stuk met Louis Tregardt in die hoofrol. Waar Periandros met sy besondere probleme as ’t ware profeties staan aan die ingang van die Westerse beskawing, en die heer van Vergelegen gesien kan word as die eerste werklik omstrede en daarom dramatiese figuur op Suid-Afrikaanse bodem, daar verteenwoordig Tregardt die pioniersmens op pad na nasieskap.
“Hy is die trekker, vry soos ’n voël en ook voëlvry in ’n ongekaarte en vyandige wêreld. Voëlvry kan dus byna gesien word as die sluitstuk van ’n groots opgesette historiese trilogie waarin Opperman hom besin op die vorm wat die Westerse beskawing bestem is om in hierdie land in te neem.
“Met elke stap het die skrywer nader aan ons eie tyd gekom, en elke stap het nuwe probleme meegebring. Telkens moes hy byvoorbeeld met ’n groter historiese ingeligtheid rekening hou. Maar nêrens het hy in die probleme vasgeval nie. Trouens: dit is een van die opvallendste kenmerke van Voëlvry, dat Opperman, soos ook in sy vorige dramas, kon uitstyg bo die beperkinge wat sy stof aan hom gestel het.
“Nog meer: Tregardt se klein geselskap word in hul dwarstrek en koppigheid, hul uiteenlopendheid van temperament en gedrag, só geteken dat die groepie mense ’n soort mikrokosmos word, ’n verteenwoordigende menslike maatskappy in ’n onherbergsame wêreld. Kortom, die Tregardt-trek met die hele idee van op weg wees, kry deur Opperman se behandeling ’n universele betekenis.
“In 1950 is Periandros van Korinthe met die Hertzogprys bekroon en die vraag is nou of Voëlvry ten opsigte van dié drama, ’n ‘stygende lyn’ verteenwoordig. In dié verband wil die Kommissie dit graag sterk benadruk dat Voëlvry uiteraard in belangrike opsigte ingrypend van die vorige twee stukke verskil. Die eerste twee stukke was byna klassiek harmonies van bou, terwyl ons in die jongste stuk ’n kroniekspel het – ‘Kroniekspel van ’n Voortrek’ noem die skrywer dit. Tregardt leef in ’n gans ander wêreld as Periandros of Van der Stel, hy praat ’n ander taal, hy het met ander probleme te kampe.
“’n Vergelyking is dus baie moeilik, om nie te sê uitgeslote nie. Wat die Kommissie wel wil sê, is dat Opperman in sy oorgang van een historiese tydperk na die ander, van die een problemekompleks na die ander, groot soepelheid en vindingrykheid aan die dag lê. En in belangrike opsigte vertoon Voëlvry ’n besliste vooruitgang. Die dialoog is hier sappiger, natuurliker, nader aan die spreektaal en dus as menslike spraak aanneemliker as byvoorbeeld in Periandros van Korinthe. Die hele trekgedagte het in Voëlvry enorme eise aan die dramaturg gestel, en in die oplossing van dié bepaalde probleme was Opperman minstens net so vindingryk as in enige van die vorige stukke.”
Letterkundiges was oor die algemeen heeltemal tevrede met die toekenning van die prys. Carl van Heerden van die Universiteit van die Vrystaat (Volksblad, 16 Mei 1969) het gesê dat Opperman daarin geslaag het om die geskiedenis baie netjies in verband te bring met ’n dieperliggende betekenis van die rol wat ons vandag in die werklike lewe speel. S Strydom van die Universiteit van Pretoria (Volksblad, 16 Mei 1969) het gemeen dat Voëlvry by die meeste mense byval behoort te vind en dat daar beslis groei ten opsigte van spreekvorm en dialoog was.
In 1968 was dit die KWV se 50ste verjaardag en om dié geleentheid te herdenk, het die uitgewers Human & Rousseau beplan om ’n omvangryke boek oor die wynbedryf in Engels en Afrikaans uit te gee. Koos Human het met Opperman gesels en Opperman het ingestem om die redakteur van so ’n publikasie te wees. Hy het die titel Gees van die wingerd daarvoor uitgedink, wat saam met die Engelse uitgawe, Spirit of the vine, gepubliseer is.
Oor dié werk het Koos Human vertel: “Met sy enorme werkkrag en verbeeldingrykheid het hy binne die bestek van ’n week of wat sy plan vir die boek uitgewerk en sy skrywers vir elke hoofstuk gekies. Voorlopige kosteberekeninge is gemaak en nadat die direksie van die KWV die onderneming amptelik goedgekeur het, het die werk in alle erns begin. Opperman se medewerkers het nie besef dat hulle met ’n ware slawedrywer te make sou hê nie. Gees van die wingerd is, hoe ongelooflik dit ook al mag lyk, in die bestek van agtien maande gekonsipieer, geskryf, vertaal, geset en gedruk. Enigiemand wat weet wat alles betrokke is by die skryf en produksie in twee tale van ’n boek van hierdie omvang, deurgaans in volle kleur, sal besef watter enorme prestasie dit was.”
In 1970 het Dirk die Franse Diplôme d’Honneur du Prix de la Propagande vir sy redigering van Gees van die wingerd ontvang.
In Maart 1968 het die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg die DLitt honoris causa aan Opperman toegeken.
Dirk se voorlaaste bundel, Edms. Bpk., word in 1970 gepubliseer, en as Kuns-mis buite rekening gelaat word, was dit sy eerste bundel in die bestek van sewe jaar. AP Grové het die bundel vir Die Burger (31 Julie 1970) geresenseer. “Afgaande op die titel kan ons sê dat die grondmotief in (hierdie bundel) die besef van beperktheid van die mens se besit is, in die laaste instansie die tydelikheid van sy heerskappy op aarde. (...) Dood, siekte en ondergang keer dan ook telkens as motiewe terug. Die mens krimp tot nietigheid, die groot naam tot ’n paraaf. Die titel open egter ook ’n ander perspektief waar die afkortings kan dui op ’n nog strenger deurgevoerde funksionaliteit. Selde het Opperman sy taal so direk en oop, so onversierd aangewend as hier, byna kasueel:
Ek het ’n stukkie grond gekoop
met melkhout op.
“Maar die titel kan ook slaan op wat vir my lyk na ’n bewuste selfbeperking wat saamhang met ’n ander manier van kyk na die wêreld, ’n ander instelling. Vroeër het ons in bundel na bundel die beeld gekry van die reisiger, die rustelose ontdekker wat verowerend deur die wêreld gaan. Die digter was landoopmaker saam met Tregardt, spioen saam met Jonk, swerweling saam met Brandaan.
“Teenoor dié sentrifugale strewe is die beweging tans eerder sentripetaal, in die rigting van ’n besinnende staar na binne. Samehangend daarmee is dit asof die digter hom meer en meer terugtrek na die vertroude domein, die aarde waar die wortels lê. Opvallend byvoorbeeld hoe ’n belangrike deel van die bundel terugspeel op die Franskraalse wêreld, ’n wêreld wat aan die digter interessante motiewe, beelde, taalwinste en ‘optelgedigte’ geskenk het.”
PD van der Walt (Transvaler, 29 Junie 1970) het geskryf dat Edms. Bpk. wesenlik ’n nuwe bundel is en ’n aanvulling en verryking van Opperman se reeds so geskakeerde oeuvre, ’n bewys van volgehoue ontwikkeling. “In ’n bepaalde sin is die titel, so treffend om sy andersheid en saaklikheid, naamlik Edms. Bpk., letterlik waar van die wêreld van die poësie. Daardie ervaringswêreld waaruit die grondstof vir hierdie poësie kom, is miskien beperkter, lokaler, persoonliker, intiemer as vroeër. Aan die ander kant is die omvang of reikwydte van die stoflike, tydelike en letterlike onbeperk as dit getransformeer is tot poësie soos hier, as verlede en toekoms met die huidige verbind word, die persoonlike met die pérsoonlike, die universele en ewige met uur en feit. Die kleine en anekdotiese slaan onvermoeide perspektiewe oop. En ten aansien van die meer formele aspek van die poësie: vorm- en taalvermoë is hier onbeperkter as ooit.”
In 1970 het Opperman die erelidmaatskap van die Stellenbosse Boere- en Wynproewersvereniging ontvang en in 1971 het hy buitelandse erelid van die Koninklijke Vlaamse Academie voor Taal- en Letterkunde geword.
In 1974 het etlike bundels met sy 60ste verjaardag verskyn om die geleentheid te herdenk: Woord en wederwoord, saamgestel deur Merwe Scholtz, ’n bundel opstelle oor sy werk en oor hom as persoon; DJ Opperman: dolosgooier van die woord, saamgestel deur AP Grové, wat besprekings van sy bundels bevat, asook besprekings van individuele gedigte of bepaalde poëtiese verskynsels; Naaldekoker, wat opstelle bevat wat Opperman van 1939 tot 1962 geskryf het; en Verse vir Opperman,wat verse bevat van 24 vooraanstaande Suid-Afrikaanse digters wat elkeen ’n gedig met die hand op spesiale papier geskryf het.
Opperman het na 1970 lewensmoeg geword. Sy vrees om as ’n "ouddigter" gesien te word, het al dringender geword en weer het sy bewustheid van die mens se beperkte tyd op aarde by hom gespook, en dit het bygedra tot sy terugval op sy "ou vriend", alkohol. Hy het veral baie rooi wyn gedrink, wat veroorsaak het dat hy depressief en onproduktief geword het en hom dan weer na drank laat gryp het – ’n bose kringloop.
Kannemeyer: “Die afname in sy skeppingskrag het hom al meer laat drink, want vir iemand vir wie die kunstenaarskap so sentraal was, en wie se lewe in so ’n mate op die drif gerig was, moes die vrees vir ’n vroeë poëtiese dood iets verskriklik gewees het.”
Tydens die vakansie op Franskraal aan die einde van 1975 het Opperman siek geword en met sy terugkeer na Stellenbosch aan die begin van 1976 is hy met baie hoë bloeddruk en akute lewerversaking in Tygerberg-hospitaal opgeneem. Sy toestand het binne die eerste tien dae so versleg dat hy beheer oor sy funksies verloor het en in ’n koma verval het. Die algemene verwagting was dat hy sou sterf. Marié het egter bly glo dat haar man sou herstel. Ná die eerste koma, waarvan hy in ’n mate herstel het, was hy egter gedisoriënteerd en verward en het hy dit moeilik gevind om te praat. Hy het telkens weer in komas of stupors verval. Die geneeshere het by vyf geleenthede gedink hy sou sterf en vir Marié gesê dat hy nie die volgende oggend sou haal nie.
Marié het hom later laat oorplaas na die Stellenbosse Hospitaal, waar sy behandeling verander is. Sy toestand het in so ’n mate verbeter dat hy in Augustus 1976 kon huis toe gaan. Hy moes egter van voor af leer skryf en sy dogter Diederi het ’n telraam gebruik om hom opnuut in die rekenkunde op te lei.
Intussen het die Universiteit Stellenbosch besluit om hom met die graad DLitt honoris causa te vereer en op 15 Desember het Opperman self die graad in ontvangs geneem.
En na die siekte het Opperman weer begin dig. Sy eerste bundel na die publikasie van Edms. Bpk. in 1970, Komas uit ’n bamboesstok: die mirakelagtige terugkeer ná lewerversaking van ene Marco Polo, het in 1979 die lig gesien en is na aanleiding van sy sonderlinge ervaring geskryf. Die eerbewyse vir die bundel het ingestroom en Komas uit ’n bamboesstok is met die CNA-prys in 1979, die Louis Luyt-prys in 1980, die WA Hofmeyr-prys in 1980 en die Hertzogprys in 1980 bekroon.
Merwe Scholtz (Die Burger, 8 Junie 1979) het met die verskyning van Komas uit ’n bamboesstok gemeen dat dit uiters tydig in Afrikaans is en dat hy nie aan ’n ander tyd kan dink wat ons ’n werk soos hierdie só nodig gehad het nie. “Komas uit ’n bamboesstok is ’n boek wat vir ons wys dat ons in Afrikaans sterk kan staan. Dit bewys dat dit vir ’n individu en ’n volk moontlik is om te sterf sonder dat hy doodgaan. In hierdie tyd van groot onsekerhede en groot teleurstellings is hierdie boek geweldig op sy tyd en sal u begryp waarom literatuur so ’n hoë erns is. Net so ernstig en noodsaaklik as wat ons ons grense na buite moet verdedig, is die literatuur, want hierdeur word ons na binne gesterk en word ons, veral ons jongmense, in Afrikaans ’n leefwyse opgestel wat dit die moeite werd maak om in Afrikaans te leef en te sterf. Ons besef nie mooi wat ons in Afrikaans oorgekom het nie. Ek weet van geen ander literatuur wat dit oorgekom het dat een van die voorste digters die stilte ingaan en weer teruggekom het om letterlik hergebore te word nie.”
Scholtz het sy resensie as volg afgesluit: “Ek het in hierdie bespreking heelwat versuim. Byvoorbeeld die verpligting om te wys hoe die digter hom reeds in Kuns-mis en Edms. Bpk. tegnies en tematies voorberei het op die huidige bundel. Ek sou dan moes wys hoeveel vindingryker, meer energiek die kreatiewe in Komas uit ’n bamboesstok is en ek kon net raak aan die bindingsprosesse wat die veelsoortige gedigte en gediggies in die bundel saamsnoer. Maar eintlik wou ek duidelik maak dat ons met hierdie ryk, pragtige, maar ook stigtelike volksboek in Afrikaans ons eie Pilgrim’s Progress ontvang het in die ‘reise van die reiswyn’ wat die teruggekeerde Opperman vir ons geskryf het.”
In sy huldigingswoord vir die Hertzogprys het TT Cloete (Volksblad, 23 September 1980) gewys op die stilistiese vernuwing wat met dié bundel in Opperman se werk gekom het en sy oeuvre na ’n hoogtepunt gevoer het. “As ’n lesersgemeenskap so ver gevoer word dat hy ’n stuk literêre fynproewerswerk as ’n volksboek beleef, dan het daar iets seldsaams gebeur, iets waarvoor die literatuur nie dankbaar genoeg kan wees nie.”
Volgens André P Brink (Rapport, 10 Junie 1979) het dit aan die misterie gegrens dat Opperman ná sy wonderbaarlike herstel ’n digbundel soos Komas uit ’n bamboesstok kon komponeer. “Want Komas uit ’n bamboesstok is een van die héél groot digbundels in Afrikaans, ’n magtige geheel, ’n worp waarin verbeelding en intellektuele beheer, inval en ambag, afsonderlike gedig en bundelkonteks gerym word op ’n wyse wat dit nie net ’n hoogtepunt in Opperman se oeuvre maak nie (en dit sê veel), maar in ons hele literatuur: ’n kremetart van ’n bundel wat oor Sewentig span soos Tristia oor Sestig en Lotus oor die wisseling tussen die twee dekades. (...)
“En ‘koma’ moet hier vol ryk betekenisse van droom en komeet gelees word. Dit is méér as die skyndood waaruit die digter terugkeer: dit is veral ook die koma waarin die sywurm verkeer wanneer dit as papie binne-in die wewer se bamboesstok slaap, weggesteel uit Kublai Khan se ryk, om nuwe mirakels – en ’n nuwe handelsartikel – aan die wêreld te kom bekendstel. Maar nog meer: dit is nie net bewussynlose slaap nie, for in that sleep what dreams may come? – dié komas is essensieel ’n reeks visioene, sê maar soos dié van Coleridge wat in sy opiumkoma Kublai Khan se splendid dome in Xanadu opgeroep het: Ek sak in komas, elke koma ’n newelkop/ van ’n komeet wat streep oor Gobi en Karoo. (...)
“Daar is gedigte wat yler van tekstuur is, of waar die satiriese nogal deurslaan tot die moedswillige of die gefabriseerde, waar spitsvondigheid vervlak tot ‘slimmighede’. Maar dié is menslike vingerafdrukke op die magtige, glimmende kristal van hierdie bundel.”
Tydens die derde DJ Opperman-gedenklesing in 1991 het JC Kannemeyer (Beeld, 26 April 1991) gesê: "Komas uit ’n bamboesstok is in baie opsigte nie net die verslag van ’n siekte ná lewerversaking nie, maar ’n hele lewensverhaal – ’n poging om loshangende motiewe uit vorige bundels in die oeuvre saam te vat, om alles wat nog onvoltooid in die lewe van die outobiografiese ek was, tot bevredigende einde te voer. Die leser weet dat die sprekende ek in die bundel, ten spyte van die versluierings en die gestaltes wat hy van tyd tot tyd aanneem, uiteindelik die lydende mens Opperman is.
“Die kennis van Opperman se lewe voltooi die leeservaring, want die kritikus lees Komas uit ’n bamboesstok as ’n mens se worsteling en oorwinning oor die dood. Naas die gehalte van afsonderlike verse en die hegtheid van die bundel as geheel, merk die leser telkens verbande op tussen Komas-tekste en ander verse tot die Opperman-oeuvre.”
Volgens Lina Spies (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1980) het Opperman in Komas uit ’n bamboesstok uit ’n "agterna-perspektief vertel hoe hy evolusionêr tot die lewe teruggekeer het. Die evolusiemotief word dwarsdeur hierdie bundel aangetref. Dit is asof die digter deur middel van hierdie bundel teruggekyk het oor sy lewe heen en homself vanaf geboorte tot hede gesien het, asook ’n stuk voltooide digterskap."
Na die verskyning van Komas uit ’n bamboesstok, wat die land stormenderhand verower het, het Opperman aan Sybelle Albrecht (Vaderland, 23 September 1985) vertel dat die feit dat Komas reeds in sy derde druk is en meer as 5 000 eksemplare verkoop het, ’n teken vir hom is dat die mense hom lees en verstaan. “Ek het Komas aanvanklik met huiwering aangepak, onseker oor my eie vermoëns na my lang siekte. Die plesier en bevrediging wat ek gekry het toe ek ontdek dat ek nog beeld en klank kon hanteer, was onbeskryflik. En nou het ek die dankbare bevrediging om te weet dat ek werklik met my mense gekommunikeer het, dat hulle my verstaan.”
In 1979, met die viering van Opperman se 65ste verjaardag, het ’n feespublikasie by Human & Rousseau verskyn, naamlik Die galeie van Jorik. Dit bevat ’n faksimilee en ’n transkripsie van die eerste konsep van Joernaal van Jorik wat in 1949 (30 jaar vroeër) verskyn het. Die handgeskrewe manuskrip, sowel as die eerste getikte weergawe en kommentaar daarop van kollegas en vriende soos NP Van Wyk Louw, J du P Scholtz en Fred le Roux, asook van Marié Opperman, is ook ingesluit. In die boek kan dus die hele ontstaan, die geboorte, van ’n grootse gedig feitelik aanskou word. Dit het in ’n beperkte oplaag verskyn met 250 genommerde en getekende eksemplare. Die unieke publikasie is moontlik gemaak deur ’n ruim subsidie van Sasol.
Ook met sy 65ste verjaardag het Dirk aan Kerneels Breytenbach (Volksblad, 29 September 1979) vertel dat sy herstel na die siekte so ’n geleidelike proses was dat hy dit nie agtergekom het nie. “Die natuur is so dat as jy verval, verkeer jy nét in daardie toestand. Jy dink aan niks verder nie. Eers as jy herstel, dink jy, o git, ek was in daardie toestand, en dán skrik jy. Daar is groot hiate. Mense kom sien jou en jy wonder wie die joos is dié ou, en daai, dan moet jou vrou maar vir jou sê. Die jongste gebeure, net voor die siekte, het verdwyn, en baie later eers teruggekom. Die ou dinge het ek onthou, die ander later eers.
“Daardie soort herinnering is wat die ou Grieke Hades genoem het. ’n Gewone Calvinis of Christen noem dit hel. Die moderne mens noem dit foltering, kwellings, aanvegtinge. Jy dink, git, het ek so verval? Nou sien jy natuurlik bepaalde oomblikke van groot vreugde. (...) Toe ek by Franskraal kom, en ek kyk tussen die melkbome deur na die see, en ek voel so aan die melkboom, toe dink ek ek is ’n geseënde persoon om sulke melkbome te kry.
“’n Mens is heeltemal gedisoriënteerd, en so stadigaan glip die normale dinge tot jou terug. Maar jy is vol vreugde in verband met hierdie herontdekking van die lewe – dis ’n eerste ontdekking, jy vind onuitputlike vreugde daarin. (...)
“Wel, die mense sê, in verband met die siekte, as ou Dirk terugkom, dan is hy geroepe om iets te sê. As jy dit so sien, is dit eintlik ’n dubbele verpligting op jou, en dis eintlik onregverdig. Maar jy kom terug met ’n baie groot skeppingsdrang. Om eintlik telkens vir jouself te oortuig dat jy leef. Aan die een kant word dit amper oordryf, dit word selfs teenoor jou doodsvrees ekshibisionisties, dan word dit die taak van ’n Marco Polo der duisende, die ou wat voordryf.
“Dit is alles ’n fasade, ’n wapen teen die dood. [Komas] is ’n geveg teen die dood, Dit is ’n loflied. Verby al die ellendes heen sing dit en dit prys, van begin tot end. Maar onder daardie prys, is die geweldige bewus wees van die dood.”
Op 27 Junie 1980 het die Universiteit van Kaapstad die graad DLitt honoris causa aan Opperman toegeken en in 1982 het ook die Universiteit van Pretoria ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Ook in 1982 ontvang hy die Dekorasie vir Voortreflike Diens van die Staatspresident en in 1985 die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy literêre kritiek en wetenskap.
Die oggend van 22 Junie 1981 wou Dirk om die blok gaan stap. Marié vertel dat hy net voor hy die huis verlaat het, vir haar gesê het: “Marié, jy weet, as ek terugkom, gaan ek hierdie nuwe digbundel, Sonklong, mooi rubriseer en oor ’n week begin jy en ek weer saam lees.”
Maar toe hy terug by die huis was, het sy gesien dat daar fout is met hom en die dokter ontbied. Hy het ’n beroerte-aanval gehad en is na Tygerberg-hospitaal geneem. Hy het soveel beter geword dat hy kon huis toe gaan, maar in September 1982 is hy in die Geluksoord-tehuis op Stellenbosch opgeneem waar hy op 22 September 1985 oorlede is. Hy het sy vrou, sy drie dogters en ses kleinkinders agtergelaat. Sowat 400 mense het sy begrafnis op Stellenbosch bygewoon.
Marié het aan Louis Wessels (Oosterlig, 24 September 1985) vertel dat Dirk baie musikaal was. En ook baie lief vir sentimentele liedjies. “Het dit ook onbeskaamd erken dat hy glad nie die klassieke man was wat hy behoort te wees nie. Hy het daarvan gehou dat ons vrolike musiek moet maak – iets wat ons dikwels op Franskraal gedoen het, die hele ou kompeljons – Schalk (Pienaar) en sy vrou, Antoinette, met haar kitaar en Heila met haar kitaar. Dít was vir hom ’n vreugde.
“Hy’t vir hom so ’n boskitaar gemaak van ’n omgekeerde teekis, ’n krom melkhoutstomp en ’n stuk tou. En dan het hy gedoem-doem-doem. Hy het soms hier op Stellenbosch ook opgetree met sulke snaakse ou klere. Hy kon harlekyn speel, daai ou. Hy’t baie van Beethoven gehou. Beethoven se kragtige musiek het hom meegevoer. Ook baie van Chopin. En Mozart was vir hom iets besonders.
“O ja, hy’t geweldig gelees. En wonderbaarlik onthou. Hy het natuurlik ’n geheue gehad soos wat ek nog nooit weer teengekom het nie. U moet weet hy’t ’n brein gehad – hy het altyd gesê ‘as ek net met my een mond kan sê wat op daardie oomblik deur my brein gaan. Maar daar is te veel en dis dié dat ek so aanhou jaag om te sê wat ek wil sê.’ Dis waarom hy soms nie sy sinne kon klaarmaak nie, want die volgende gedagte was reeds daar.”
Huldeblyke
- Ernst van Heerden: "’n Vriend, sê die wysgere, is iemand wat jou op ’n mooi manier kan kasty en wat begrip het vir jou goeie én swak hoedanighede. Wel, so ’n vriend was Dirk Opperman vir my. (...) Nou is hy weg, ons Dirk-der-duisende, die stoere, verbete vegter, die lewensgenieter, die groot skeppende gees. ’n Mens het altyd by klein probleempies en skermutselinkies in ons intellektuele lewe gevoel: die grootbaas is nog dáár, al sê hy nie ’n enkele woord nie. Nou het dit skielik donkerder, onherbergsamer óm ons geword." (Volksblad, 23 September 1985)
- AP Grové: "’n Mens kan sê dat Opperman meer as dertig jaar, sedert die verskyning van sy eerste bundel, ’n sentrale plek in ons literêre lewe beklee het. Of ons nou aan hom dink as digter, dramaturg, as tydskrifleier of dosent, as teoretikus of polemikus, as bloemleser of essayis – op elke gebied waar hy hom begewe het, het hy die pas aangegee, en onverbiddelike eise aan hom gestel. In sy negetal digbundels het hy oor die jare ’n digterskap tot ontplooiing gebring wat vir my persoonlik onoortroffe is in Afrikaans." (Die Burger, 23 September 1985)
- TT Cloete: "Dit is ’n baie ernstige verlies. Ek het hom beskou as ’n baie groot digter, saam met Van Wyk Louw ons grootste. Hy het in verskillende genres gewerk, en dit het hom vir my groot gemaak – dit is waaraan jy grootsheid meet. Hy het die ganse Afrikaanse digkuns aan die man gebring met sy digbundels. Sy oeuvre is omvangryk, en ek beskou Joernaal van Jorik as die beste epos wat in Afrikaans bestaan. Hy is die man wat my vertroue gegee het in my eie werk, dit was vir my dié deurslaggewende ding vir publikasie gewees. " (Die Burger, 23 September 1985)
- FIJ van Rensburg: "Opperman het daardie seldsame vermoë verteenwoordig om sowel eersterangse vakman te wees en terselfdertyd ook die gewete van die gemeenskap. Hy was nie net ’n maker van gedigte nie, maar ook iemand wat intens gerig was op die lewensaard en lewenskwaliteit van sy gemeenskap, sy land en hierdie hele tyd. Dit is ’n baie groot verlies as jy jou grootste lewende digter verloor, maar hy het die seldsame vermoë gehad om baie mense aan te spreek en daarom kan ’n mens verwag dat sy invloed nie gou sal verdwyn nie." (Die Burger, 23 September 1985)
- PW Botha, staatspresident: "Die leemte wat die heengaan van Dirk Opperman laat, sal gevul bly met die erflating waarmee hy die nageslag ryker gemaak het. Met dié wete wil ek namens almal wat lief is vir Afrikaans – hierdie mooi, jong taal van Afrika – my meegevoel uitspreek teenoor sy groot familie en vriendekring." (Oosterlig, 23 September 1985)
- Afrikaanse Skrywersgilde by monde van George Weideman: "Noudat Opperman op sy laaste reis van Kiepersol na Isfahan vertrek het, laat hy ’n leemte agter, maar ook ’n erflating wat moeilik na waarde geskat kan word." (Die Burger, 23 September 1985)
- Die Republikein se hoofartikel: Wat Opperman in die besonder in die Afrikaanse belewingswêreld ingedra het, was dialektiese denke. Eenvoudiger gestel: die wêreld van teengesteldes, van polêre spanninge, van dinamiese opposisie. Hy het ’n enorme bydrae gelewer om ons te verlos van ’n eensydige kyk op die werklikheid. Hy het die grys-gebiede van die waarheid onverbiddelik as deel van die waarheid gestel." (24 September 1985)
- Die Burger se hoofartikel: Dirk Opperman se dood is ’n verlies vir elkeen wat Afrikaans praat en dié taal liefhet. Hy was een van die vindingrykste gebruikers van hierdie jong Afrika-taal, en in sy ryke nalatenskap sien ons benewens die skoonheid en spiere van die taal, die blyke van ware genialiteit. (...) Ons is dankbaar en trots daarop dat so ’n man onder ons geleef het." (Die Burger, 23 September 1985)
- Uys Krige: "Dirk, ja, Dirk – die vriendelike man. Hy het mos gesê: die streke van die gees bly ongekaart. Hy het dan self vir ons so baie streke van die gees gekaart. Verbeelding, liefde, eensaamheid." (Rapport, 20 September 1985)
- JC Kannemeyer: "Met die dood van Diederik Johannes Opperman het die Afrikaanse letterkunde nie alleen sy belangrikste lewende digter, dramaturg en literator verloor nie, maar is iemand van ons weggeneem wat oor verskeie dekades sentraal in die literêre aktiwiteite in ons land gestaan het. Daarby het sy vriende en kennisse in hom ’n mens verloor wat met sy intellektuele vermoëns maar ook diepmenslikheid en humorsin ’n leë plek by hulle sal agterlaat." (Die Burger, 23 September 1985)
- Lina Spies: "Dit is nie vir my moontlik om aan die mens Dirk Opperman te dink sonder om ook aan die digter te dink nie. Hy self was hom intens bewus van die onlosmaaklikheid van mens en kunstenaar; hy het besef dat die mens eers tot volle verwesenliking kom as hy sy kunstenaarskap ten volle ontwikkel het. (...) DJ Opperman kan vir my – soos sekerlik vir al sy oudstudente – nie dood wees nie. Daarvoor is sy nalatenskap té groot. Van die beste en mooiste dinge in my lewe het ek aan DJ Opperman te danke. Ek kan nooit ophou om dankbaar te wees nie. Deo Gratias." (Die Burger, 23 September 1985)
- Trienke Laurie, sy dogter: Waar die kind van ’n motortegnikus van kleins af lees van vergassers, so het ons besef: die alledaagse lewe is vol poësie. My pa het byvoorbeeld aan tafel gesê: 'Jou otter, gee vir my die botter.' Later sou hy bloot ’n reeks name onder mekaar plaas as optelgedig, naamlik die 'Visvangplekke op die Plaat' soos Maerbankies, Hemelhoog en Die Hel, om hierdie stelling te bewys. Afrikaans was my pa se kos, maar dit het nie beteken dat hy gevoel het die digter moet hom te ooglopend met die politiek bemoei nie." (Leeftyd, Desember 1997 – Januarie 1998)
Opperman se weduwee, Marié, is in Augustus 1999 oorlede.
Na sy dood, in 1986, het die Universiteit Stellenbosch aangekondig dat ’n nagraadse beurs en ’n prestige-gedenklesing ter nagedagtenis van Dirk Opperman aan die universiteit ingestel gaan word. Die Fynproewersgilde van Stellenbosch het die lesing geborg, terwyl Nasionale Boekhandel die geld vir die beurs beskikbaar gestel het. Die Opperman-gedenklesing word elke tweede jaar gehou en die eerste een is in Mei 1987 deur Lina Spies gelewer.
Voor Opperman se dood in 1985 was hy reeds besig met sy volgende digbundel met die voorlopige titel Sonklong. Sy weduwee wou vir jare geen toegang tot die manuskrip van die onvoltooide bundel aan enige navorsers verleen nie, aangesien Opperman self gesê het dit kan nie onvoltooid gepubliseer word nie. Eers in 1994 het sy vir John Kannemeyer toegelaat om die manuskrip met die oog op moontlike publikasie te besigtig.
Kannemeyer het aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 11 Oktober 2000) vertel dat as ’n mens terugskouend na die teks kyk, die tekens dat Opperman op ’n beroerte afstuur, duidelik sigbaar was. Een sin sou heeltemal leesbaar wees, terwyl daar ’n paar onleesbare woorde in ’n ander sin was, met ’n onleesbare sin daarna.
In 1998 het Marié weer vir Kannemeyer gebel en gesê iets moet gedoen word om die manuskrip aan ’n groter gehoor beskikbaar te stel. Hy het ook besef dat dit belangrik is, want sonder Sonklong oor Afrika is Opperman se oeuvre onvoltooid. "Met Sonklong was Opperman besig om die vele fasette van Afrika te verken. Van die prehistoriese tot die hedendaagse kontinent word ondersoek. En dié ondersoek strek oor geografiese, politieke en kultuurgrense. Opperman was tuis in Afrika – soos weerspieël in die sterk Afrika-beeldspraak wat deurentyd in sy werk voorkom. Hy het ook vlot Zoeloe gepraat. In die klank van Opperman se verse, hoor en voel jy dis ’n digter van Afrika wat in sy gedagte gestalte gee aan die kontinent,” het Kannemeyer vertel.
Dit was nooit Kannemeyer se bedoeling om Sonklong oor Afrika as ’n volwaardige digbundel uit te gee nie, het hy in Oktober 2000 in Naln gesê (Volksblad, 6 Oktober 2000). “Opperman sou ook ’n publikasie van sy onvoltooide Sonklong oor Afrika verwelkom het. Dit sou in ooreenstemming wees met sy lewenslange belangstelling in die genetiese voorstadia van die literêre kunswerk. Wat sy wense in verband met sy nagelate werk ook al was, is daar nou die groter aanspraak van die geskiedenis, in dié geval die literatuurgeskiedenis wat graag die ‘beeld’ van Opperman in ons letterkunde wil hê.
“Die wete van verskuilde, geblokkeerde kennis is vir die moderne mens ’n stuk eksistensiële ondraaglikheid; om kennis ad infinitum te weerhou, is ’n Middeleeuse instelling waarmee ons vandag nie meer genoeë wil neem nie. Ten slotte meen ek ook dat Afrikaans hom in Suid-Afrika in ’n bedreigde posisie bevind. Indien Opperman nog gelewe het, sou hy sekerlik graag met sy werk ’n bydrae tot die versterking van sy taal wou gelewer het. In sy afwesigheid kan so ’n publikasie van sy onvoltooide werk dit doen.
“Die argumente was vir mev Opperman oortuigend en sy het ’n dokument onderteken waarin sy my toestemming verleen het om die manuskrip te transkribeer. Indien dit uit die navorsing moontlik blyk, sou my werk tot ’n publikasie in boekvorm lei, op voorwaarde dat ek Sonklong as ’n wordende kunswerk aanbied, nie as ’n volwaardige digbundel van Opperman nie.
“Die Sonklong-materiaal beslaan twee boeke en bestaan oorwegend uit verse-in-wording op papier van verskillende soort en grootte en is – soos uit die handskrif afgelei kan word – in verskillende grade van bewerking en voltooiing. Soms het die tekste – te oordeel na die holograaf, die papiersoort en die skryfstyl – ’n gevorderde staat van voltooiing bereik, soms het dit slegs tot ’n inval, ’n paar saamgevoegde woorde of enkele reëls beperk gebly.
“Naas die gedigte-in-wording is op dieselfde papierformaat voorbeelde van moeilik ontsyferbare, sketsmatige ontwerpe of aanlope tot gedigte. Die tekste in Boek 1 toon ’n groter graad van voltooiing as dié in die tweede. ’n Mens bemerk dit allereers uit die handskrif. Die eerste aantal tekste in Boek 1 is net-afskrifte in blou bolpunt van vroeëre kladversies wat elders in die boek voorkom of wat in ’n bruin koevert in die tweede pamfletdoos bewaar word.
“Die tekste in Boek 2 is oorwegend aanlope tot gedigte en moeilik ontsyferbare versreëls wat hoogstens as invalle beskou moet word. Meestal is ’n vaste patroon, sover dit tradisionele middele soos ritme, metrum en rym aanbetref, afwesig en dikwels is daar ook nie sprake van ’n sintaktiese struktuur nie.
“Sonklong oor Afrika is dus ’n wordende bundel verse en ’n mens kan nie met enige mate van sekerheid aanneem dat Opperman selfs die net-afskrifte in die huidige vorm vir publikasie sou aangebied het nie. Dit is, soos John Livingstone Lowes dit na aanleiding van sy ondersoek van die bronne van Samuel Coleridge Taylor se The rime of the ancient mariner noem ‘the surging chaos of the unexpressed’, ‘the general mess of imprecision’, om met TS Eliot te praat. Volledige ‘chaos’ en ’n absolute ‘mess’ is egter die verkeerde terme om die ryke baaierd van die stuk innerlike lewe in Sonklong oor Afrika mee aan te dui.”
Sonklong oor Afrika is in 2000 gepubliseer. Henning Snyman (Rapport, 17 Desember 2000) se eerste indrukke en oordeel was dat hierdie verse nooit gepubliseer moes gewees het nie en dat dit die oeuvre van die groot digter bloot skade aandoen. "Maar by die lees van die gedig 'Nagwaak by die ou man' het daar feitlik ’n visioen gevolg en het die bundel ’n metafoor geword van die ou man met die beroerte-liggaam en wat ’n skip geword het wat teen ’n kaap vergaan. En tóé het dit sin gemaak:
Die wind waai waar die otter blink die kuil
verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil,
fluit uit spelonke van die nag en ruis
egalig deur basbome om die huis,
’n kersie in die kamer stil eenkant
oor sy beroerte-liggaam, soos ’n maan
oor stukke seilskip teen ’n kaap vergaan,
waar ander strome aan die wrakhout roer
en weg van wind-omwaaide rotse voer.
Hy het tot die insig gekom dat dit nie nagelate verse is nie, maar stukke seilskip wat, soos Komas, ’n outobiografiese element inbring. Die beroerte-liggaam word poësie, dit word die afgetakelde figuur, en skielik word Sonklong oor Afrika ’n gepaste afsluiting van die Opperman-oeuvre. Hy meen dat die bundel van literêr-historiese belang is en dat dit pragtige Opperman-naklanke bevat en flitse van ’n onbekende Opperman gee.
Die gedigte in hierdie bundel het ontstaan nadat Dirk saam met Hannes van der Merwe ’n reis na Malawi onderneem het. Volgens sy vrou wou hy in hierdie bundel “as ’t ware die hele Afrika in sy skrywershand hê en die essensie van die vasteland in sy verskeidenheid mense, diere en plante en uiteenlopendheid van geologiese samestellings vasvat”.
Daniel Hugo (Die Burger, 25 Oktober 2000) meen dat hierdie goedversorgde uitgawe ’n "prikkelende blik gee op die skynbaar chaotiese werkwinkel van die skeppende genie. Dit plaas ’n sierlike seël op die lewenswerk van ’n groot gees."
In sy resensie het AP Grové (Beeld, 30 Oktober 2000) geskryf dat om op grond van hierdie bundel-in-wording met sy 35 geselekteerde verse die digter se plan en visie te probeer agterhaal, raaiwerk sou afgee. “Maar wat wel duidelik is, is dat Opperman hier die Afrika-mens in Afrika-konteks wou teken. Ons ervaar iets van Afrika in sy hitte en siekteverskynsels, in sy plante en diere, sy voëls: tarentaal, hamerkop en ibis, die ‘scriba te velde’. En dan onthou ons dat voëls van vroeg af veel in Opperman se werk te sê het.
“Daarnaas die Afrika-mens in ’n taamlike bont verskeidenheid. (...) En moet ons die Afrika-mens in essensie dalk sien as die ontglippende ‘verlore eerste seun’ wat argeoloë uit beenreste probeer rekonstrueer? (‘Ou koeie bulk uit slote’) – wat ’n geniale, vibrerende titel juis in hierdie konteks!
“In ons digkuns is veral die Afrikaner meermale in verhouding tot sy wêreld geteken: deur Totius, deur Van Wyk Louw en ander. Maar in Sonklong, lyk dit vir my, kry ons iets van ’n paradigmaverskuiwing; was dit die ideaal om breër te gryp, inklusief te werk met die doel om uiteindelik uit te kom by ’n siening van dié Afrika-mens in wisselwerking met sy kontinent. Indien dit inderdaad Opperman se ideaal was, het omstandighede hom verhinder om sy droom ten volle te verwesenlik. Verlies by al die ander verliese.
“Nogtans kan ons dankbaar wees oor dit wat wel vir ons as ’n gerekonstrueerde Sonklong oor Afrika tot stand gebring is. Daar is veel in hierdie bundel om te geniet en te oordink. Ook is dit te voorsien dat hy vorentoe nog heelwat debat en spekulasie gaan uitlok.”
Ná Opperman se dood het verskeie geskrifte verskyn wat hom gedenk het. In 1986 het JC Kannemeyer se lywige en gedetailleerde biografie, DJ Opperman: ’n biografie, by Human & Rousseau verskyn, en om sy 80ste verjaardag te herdenk is Die bonkige Zoeloelander: DJ Opperman in beeld gepubliseer. In 1993 het Kolonnade deur Lina Spies verskyn wat ’n studie is van Heilige beeste, Negester oor Ninevé en Komas uit ’n bamboesstok. Sy Versamelde poësie is in 1987 gepubliseer en bevat al sy digbundels wat die vorige ongeveer dertig jaar verskyn het.
Tot Siens!
En nou, my liewe Marco, ná die High Roads
en die Low Roads, breek vir ons tesame
die twee mislukte houbous van die Here –
die uur vir laaste doppe aan,
verby die marmerboog van die Rialto
eerder en toepaslik by El Alamein.
Jy drink jou kan chianti, maar ék
wat nou fonteine ken van die woestyn
en aan boekette van oerbronne proe,
weet hoe eufories helder water skop.
In elk geval, ’n rukkie Rommel, ’n oer-Germaan
(of Dingaan!) drink graag uit jou kop sy dop!
Ek het jou by geroep, my liewe Marco, vir my skyndood
op hierdie reis – aanvanklik Italiaans
waar ek krygslustig renaissance in Afrikaans.
Boelala! Ek hang jou kop graag teen die muur
as ’n trofee, nog ’n gipsgesig wat moet getuig.
Laat daardie lippe wat formaliteite ken,
dan vir oulaas as heildronk ietsie prewel:
‘Deo gratias. Amen. Amen.’
Op 22 September 2014 het die Universiteit Stellenbosch ’n gedenkprogram ter herdenking van Opperman se 100ste verjaardag aangebied in die Wilcocks-saal waar hy destyds klas gegee het. Sprekers wat opgetree het, was Dorothea van Zyl, Louise Viljoen, André P Brink, Lina Spies, Chris van der Merwe, Etienne Britz, Johann Nel, Diederi Opperman, Trienke Laurie, Wium van Zyl, Ronel Foster, Bertie du Plessis en Joan Hambidge.
In Die Burger van 28 September 2014 het Willem de Vries aan skrywers wat in Opperman se Letterkundige Laboratorium was en ook skrywers wat hy bygestaan het deur die jare, gevra om te vertel wat hulle onthou van sy bydrae tot hulle skryfwerk:
- Wium van Zyl: "Met sy skoolbloemlesing, Lied van die Land, het DJ Opperman my die eerste keer die klank en weerklank tussen Suid-Afrikaanse werklikheid en die Afrikaanse poësie laat hoor. In my eerste universiteitsjaar het hy self in die klas verskyn en met sy ryk stem só voorgelees uit Raka dat dit my steeds aangryp.
"Enkele jare later kon ek hom as nagraadse student en sy assistent van nog nader meemaak. Dit het gesorg vir ’n inspirasie wat ’n leeftyd kon hou. As dosent was hy mompelend. Maar met ’n halwe sin kon hy hele lesings van ander oortref. Sy gesag was diep gegrond. (...) Vir vele digters was hy ’n mentor wat allereers die ontwikkeling van die sintuie beklemtoon het. En vervolgens dat jy die taal moet leer ken, die woordeskat in al sy nuanses en variante, die spreekritmes, die skadu onder die woord.
"Dat jy nie moet vasval in jou eie klein bieg nie, maar jou moet leer inleef in andersoortige medemense, die dier, die plant. Dat jy moet toetree tot ’n belewenisavontuur en verwondering sonder einde. Vir vele digters was hy ’n mentor wat allereers die ontwikkeling van die sintuie beklemtoon het."
- Fanie Olivier: "'Watter beentjie van die tortel ...' Danksy my ma was gedigte deel van my lewe solank ek kan onthou. Maar my poësiekop het in Natal op skool begin uitsteek en dit was DJ Opperman wat daardie kontrei oopgeskryf het in Afrikaans.
"Meer as enige ander digter het hy die landskappe en die mense daar opgeteken: Die wêreld van Tsjaka, die Zoeloes en die heilige beeste, die nartjienooi van die boorde langs die groot riviere, die papajabosse en die suikerplantasies, die vreemde wierook van die Hindoe-tempels en die kaalvoete oor die kole.
"Ek dink ook dít is waarom hy in staat was om dekades voordat dit mode geword het, ubuntu voor te hou in die aangrypende slot van 'Gebed om die gebeente': 'dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas/ met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,/ en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas/ ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.'
"Hy was nie die beste dosent wat ek gehad het nie, maar ek weet ook hoeveel hy kon gee. Miskien is die beeld wat die beste pas een van iemand wat ’n kluis vol skatte gehad het en die deur nou en dan op ’n skrefie oopmaak sodat iets uitrol wat jy opraap en vir altyd koester.
"By James Polley se beroemde Somerskool waar Breyten Breytenbach die eerste keer kom praat het, loop Opperman en Leon Rousseau die saal saam binne. En Charles Fryer roep uit: 'Kyk, Fritz Deelman en die Diepseeduikbol!' Nie eers Komas se Marco Polo het hom beter omskryf nie, hierdie bonkige Zoeloelander."
- Dorothea van Zyl: "Van al my dosente in Stellenbosch het Opperman (’n gepaste naam, want hy het as groot gees bo sy tydgenote uitgetoring) die grootste vormende invloed op my as letterkundige uitgeoefen.
"Voorgraads het ek voor gesit in die groot saal van die Wilcocks-gebou, want Opperman was nooit ’n vlot spreker nie en moes destyds boonop sonder ’n mikrofoon klasgee. Sy soms hortende woorde het die Afrikaanse poësie so insiggewend ontsluit dat dit nog jare later as rigtinggewers in my lesings sou dien.
"As derdejaar in sy Letterkundige Laboratorium, honneursstudent, as sy assistent én magisterstudent het ek nader kennis gemaak met sy ratse intellek. Met enkele verrykende en verreikende sinne is die koers van ’n studie of bespreking meermale herbepaal. Dit is by ons ingegrif dat lomp woordherhaling onaanvaarbaar is en woordekonomie belangrik. En die enigste vereiste wat ooit aan die letterkunde gestel mag word, is dat geen vereistes gestel mag word nie. (...)
"Omdat hy deur die jare klippe uit my pad help rol het, was dit ’n voorreg om op 22 September, op sy sterfdag en ’n week voor sy 100ste verjaardag, vir hom ’n aand in Stellenbosch te kon aanbied, met sprekers wat vertel het hoe hy ook húl lewens aangeraak het. Jy skryf nie omdat jy kan nie, maar omdat jy nie anders kan nie.
- Lina Spies: "My liefde vir die woord en die poësie is ’n genetiese gawe van my pa, maar dit het deur DJ Opperman tot ontluiking gekom.
"In 1960 is hy aangestel as professor in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch en het ek as derdejaarstudent lid van sy klas en deelnemer aan sy kreatiewe skryfkursus, sy Letterkundige Laboratorium, geword. Alles wat ek in essensie tot vandag nog glo oor die poësie, het ek van hom geleer. Die belangrikste is seker dat ’n digter nie ’n emosie moet beskryf nie, maar dit moet wek en dat om dit te doen, hy konkreet en beeldend moet skryf en abstrakte taal moet vermy. Omdat die taal van die filosofie noodwendig abstrak en beredenerend is, het hy my laat afsien daarvan om verder filosofie te studeer en het ek voortgegaan met my nagraadse studie in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Opperman was dus direk verantwoordelik vir ’n keuse wat my loopbaan as literator en digter bepaal het.
"As digter is sy grootheid tot op hede onaangetas. Sy eerste bundel, Heilige Beeste (1945), tereg bekroon met die Hertzogprys, het tot op hede nie gedateer nie. Dat hy die standaard wat hy aan homself as digter gestel het met só ’n sterk debuut nie net kon handhaaf nie, maar in sy groot oeuvre kon oortref, spreek van die grootsheid van sy digterskap. As mens en digter bly hy onvervreembaar deel van my lewe."
- Antjie Krog: "Meer as enige ander digter in Afrikaans word DJ Opperman erken as meester-vakman. Hy het sy sieninge oor die skryf van poësie en die rol van die digter oor die jare breedvoerig uitgewerk in gedigte, lesings, geskrifte en resensies, maar dit is veral in sy poësielaboratorium of as keurder van digbundels waarin sy advies prakties oorgedra is aan ’n hele geslag nuwe stemme.
"Die manuskrip van Dogter van Jefta het van hom af teruggekom met regmerkies langs sommige gedigte. Dit was my eerste konfrontasie met ’n buiteblik van outoriteit. Soos met Januarie-suite later, waar punte toegeken is uit vyf, veroorsaak hierdie merkies ’n hewige dog kernbelangrike binnegesprek. Natuurlik verset jy jou: Hy verstaan nie, hy 'kry' dit nie, hy’s outyds, wat weet hy so danig …! Maar so word die element gevorm waarsonder geen digter, hoe talentvol ook al, iets kan bereik nie: Jy begin jou werk vanuit ’n nuwe, dog veeleisende oogpunt lees: jissie wat ’n cliché, wat ’n lui einde, wat ’n patetiese sentiment, wat ’n slap draad van ’n versreël …
"Op ’n keer as 'gas' van sy laboratorium, gee hy my die manuskrip van laboriet-pogings: 'Merk die goeies.' Die sweet slaan uit. Ek lees, merk, slaan baie oor, maar toe ek dit eindelik na hom oorskuif, knik hy sy kop: Jy het dit. Hiermee was ek in vervoering, maar het natuurlik nie ’n benul gehad wat 'dit' is nie. Later het hy my vertel van ’n bekende digter wat vir hom so om en by tagtig gedigte stuur met die versoek dat hy moet uitsoek. Opperman het geweier: ’n gevestigde digter moet verantwoordelikheid vir sy werk dra met die guts van meedoënloosheid.
"Ná vier bundels waarin die 'dit' my nie buitengewoon gered het nie, stuur ek die manuskrip wat uiteindelik Otters in Bronslaai sou word. Opperman het pas van sy groot eerste beroerte herstel en was buitengewoon energiek. Hy bel en beveel my om binne twee dae in sy studeerkamer te wees. Vanaf Kroonstad was alles ’n nagmerrie om te organiseer en ek kon die skuldgevoel dat ek myself soveel indulgence toelaat, nie afskud nie.
"In die Opperman-huis op Stellenbosch het my manuskrip in die studeerkamer uitgesprei gelê en my 'opleiding' oor hoe om ’n bundel aanmekaar te sit het begin. Op ’n stadium vra ek: 'Waar, hoe begin ek?' waarop hy antwoord: 'Jy vra: Wat moet gesê word.' Dit was my eerste les in die onverdeelbare eis wat aan die digter gestel word. Jy skryf nie omdat jy kan nie, maar omdat jy nie anders kan nie.
"Met obsessionele sorg het hy die bundel stuk vir stuk aanmekaar gesit, verbande gelê, titels verbind, woorde opgesoek, eggo-ende voorgangers herbekyk met die oog op eliminering, versterking, parodiëring of kontrastering. Opperman self het ’n strofe persoonlik geskryf wat tot op hierdie dag vir my soos ’n vreemde klippie in die bundel lê. Die einde van die bundel is letterlik woord vir woord soos die antwoord van ’n optelsom, bymekaar getel. (...)
"Opperman was ’n kolos binne die Afrikaanse letterkunde. Sy werk het nie alleen die tydperk van laat sestig en sewentig gedomineer nie, hy het manuskripte gekeur en so ’n besliste vingerafdruk gelaat op die soort digters wat toegelaat is om te publiseer. Hy het Groot verseboek saamgestel wat sy voorkeur-digkuns verhef het tot die dominante in die kanon.
"Hoewel ons nou deesdae besef dat sulke dominansie ongesond en ondemokraties is, te veel mense uitsluit en lei tot bloedarmoede, breek daar dikwels dae aan waarin ek smag na daardie beslissende testosteroon. Iemand wat sonder huiwering kaf van koring skei. Meer as dit: Wat dit so sigbaar skei dat dit ’n opvoeding word in ’n waaragtig-saakmakende letterkunde.
Publikasies:
Publikasie |
Heilige beeste |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Hertzogprys 1947 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Negester oor Ninevé |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624005100 (hb) |
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Joernaal van Jorik |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624024717 (sb) |
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Engel uit die klip 1947–1950 |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Digters van Dertig |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Literêre kritiek (proefskrif) (oorspronklik ‘n DLitt-proefskrif getitel “Die vernuwing van Dertig in die Afrikaanse poësie”) |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Periandros van Korinthe |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Versdrama |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Vergelegen |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Blom en baaierd |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
WA Hofmeyr-prys 1956 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Wiggelstok |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624006654 (hb) |
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Letterkundige opstelle |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Astrak van die gedigte van DJ Opperman |
Publikasiedatum |
1960 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Opperman, DJ: ’n Keur uit sy gedigte. Saamgestel deur Merwe Scholtz |
Publikasiedatum |
1960 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Amsterdam: GA van Oorschot |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Dolosse |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624024725 (sb) |
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Kort reis na Carrara. Saamgestel deur AP Grové |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624005011 (hb) |
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Versamelbundel. Uitgegee met Opperman se 50ste verjaardag |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Kuns-mis (1947–64) |
Publikasiedatum |
1964 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Voëlvry: Kroniekspel van ’n voortrek |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken |
Hertzogprys 1969 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Edms. Bpk. |
Publikasiedatum |
1970 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Naaldekoker |
Publikasiedatum |
1974 |
ISBN |
0624005720 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Geleentheidsbundel. Met Opperman se 60ste verjaardag |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Verspreide opstelle. Saamgestel deur JC Kannemeyer |
Publikasiedatum |
1977 |
ISBN |
0798107685 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Literêre opstelle |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Die galeie van Jorik: Joernaal van Jorik: faksimilee en transkripsie van die oorspronklike dokumente met ’n weergawe van die finale teks. Geredigeer deur JC Kannemeyer |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
0624013502 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Komas uit ’n bamboesstok: synde die mirakelagtige terugkeer ná lewerversaking van ene Marco Polo |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Versamelde poësie |
Publikasiedatum |
1987 |
ISBN |
062402508X (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg; Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Sonklong oor Afrika: faksimilee, transkripsie en konstruksie van ’n bundel verse-in-wording. Redakteur JC Kannemeyer |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
DJ Opperman as samesteller
- Afrikaanse digkuns. Saam met HJ van Zyl. Kaapstad: Via Afrika, Nasionale Boekhandel Beperk, 1959, 1960, 1963, 1966, 1968, 1970
- DJ Opperman se nuwe klein verseboek. Kaapstad: Tafelberg, 1981 [ISBN 0624015173 (hb); 0624015904 (hb)]
- Diere-maniere: vrolike rympies oor goeie maniere. Kaapstad: Human & Rousseau, 1976 [ISBN 0798106271 (hb)]
- Dubbelloop: Afrikaanse en Nederlandse gedigte. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1966, 1968, 1972 [ISBN 0624003078 (hb)]
- Groot verseboek: ’n bloemlesing uit die Afrikaanse poësie. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1951, 1952, 1955, 1959, 1960, 1964, 1967, 1968, 1971, 1973, 1975, 1978, 1980, 1983, 1990[ISBN 062400788X (hb); 0624010929 (hb); 0624013561 (hb); 0624019853 (hb); 0624028658 (sb)]
- Jonger verseboek vir hoërskole. Saam met JA Heyl. Kaapstad: Tafelberg, 1979, 1980 [ISBN 0624012506 (hb)
- Junior verseboek: ’n bloemlesing uit die Afrikaanse poësie vir die middelbare skool. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, Tafelberg, 1951, 1952, 1955, 1957, 1958, 1959, 1960, 1966, 1969, 1970, 1972, 1978, 1979, 1980, 1982, 1983, 1985, 1986, 1989, 1991, 1992 [ISBN 0624011518 (hb); 0624017559 (hb); 0624022196 (sb)]
- Klankies vir kleintjies. Saam met HJ van Zyl. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1967, 1973, 1979 [ISBN 0624003981 (hb); 0624012999 (hb)]
- Klankies vir kleuters.Saam met HJ van Zyl. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1958, 1959, 1962, 1978, 1982 [ISBN 0624003612 (sb); 0624017400 (hb)]
- Klein verseboek. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1959, 1966
- Kleuterverseboek. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1957, 1976, 1981, 2000, 2005 [ISBN 0624000583 (hb); 0624015173 (hb); 0624038386 (hb)]
- Lied van die land: ’n bloemlesing oor Suid-Afrika. Kaapstad; Pretoria: HAUM; De Bussy; Van Schaik, 1954, 1965, 1975 [ISBN 0627003176 (hb)]
- My Afrikaanse verseboek: ’n bloemlesing vir Engelssprekende leerlinge in standerds VI, VII en VIII: ’n ruim keuse vir meertalige leerlinge. Saam met MA Basson en E Stumpf. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1960, 1961, 1969, 1970, 1971, 1972, 1973, 1974, 1975, 1977, 1978, 1980, 1981, 1982, 1983, 1984, 1985, 1986, 1987, 1988, 1989 [ISBN 0624001466 (hb); 0624012042 (hb); 0624013774 (hb); 0624020630 (sb)]
- My eerste verseboek. Standerd I. Saam met CB Linder. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1961, 1964
- My tweede verseboek. Standerd II. Saam met CB Linder. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1961, 1964, 1971, 1971, 1975, 1986 [ISBN 0624006352 (sb)]
- My derde verseboek. Standerd III. Saam met CB Linder. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1961, 1962, 1968, 1970, 1979, 1982, 1987 [ISBN 062400497X (sb)]
- My vierde verseboek. Standerd IV. Saam met CB Linder. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1961, 1969, 1970, 1973, 1980, 1981, 1987 [ISBN 06240045979 (sb)]
- My vyfde verseboek. Standerd V. Saam met CB Linder. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1961, 1967, 1969, 1970, 1971, 1973, 1977, 1979 [ISBN 062400337X (sb)]
- Poësie vir plesier. Kaapstad: Tafelberg, 1980, 1981, 1982, 1983, 1984, 1988 [ISBN 0624013553 (hb); 0624017958 (sb)]
- Senior verseboek: ’n bloemlesing uit die Afrikaanse poësie vir die hoërskool. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1951, 1955, 1960, 1961, 1963, 1964, 1965, 1966, 1969, 1970, 1972, 1973, 1974, 1978, 1979, 1982, 1983, 1985, 1987, 1988 [ISBN 0624001849 (hb); 0624011992 (hb); 0624017540 (hb); 0624021793 (sb)]
- Skakering / saam met GHJ Coetzee. Kaapstad: Tafelberg, 1985, 1986, 1987, 1988, 1989, 1990, 1991, 1992 [ISBN 0624023389 (sb)]
- Stiebeuel 1: ’n bloemlesing. Saam met FJ le Roux. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk, 1946
- Stiebeuel 2: ’n bloemlesing. Saam met FJ le Roux. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1965
- Verseboek vir die jeug. Saam met JA Heyl. Kaapstad: Tafelberg, 1980 [ISBN 0624014940 (hb)]
- Verseboek vir standerd VI. Saam met JA Heyl. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1958, 1960, 1973, 1977 [ISBN 0624003744 (hb); 0624009440 (hb)]
- Verseboek vir standerds VII en VII. Saam met JA Heyl. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk; Tafelberg, 1958, 1959, 1961, 1974, 1977 [ISBN 0624009459 (hb)]
- Schoonees, PC: Die tweede verdieping: ’n keur uit die beskouings van PC Schoonees. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1962
- Visser, AG: Kinderkeur uit AG Visser. Pretoria: Van Schaik, 1967, 1974, 1977, 1983 [ISBN 0627002900 (hb)]
DJ Opperman as redakteur
- Eerstelinge: eerste kritiese beskouinge oor ons eerste kunswerke. Kaapstad: Human & Rousseau, 1961
- Gees van die wingerd. Kaapstad: Human & Rousseau, 1968
DJ Opperman as vertaler
- 101 rympies. Saam met EP du Plessis, Elizabeth van der Merwe, PW Grobbelaar en Leon Rousseau. Kaapstad: Human & Rousseau, 1982, 1988, 1995 [ISBN 0798106840 (hb)]
Artikels oor DJ Opperman op die internet
- Barnard-Naudé, Jaco: Die denker as digter, die digter as denker: DJ Opperman, NP Van Wyk Louw en die digkuns/filosofie-debat in die Afrikaanse letterkunde (Deel 1)
- Barnard-Naudé, Jaco: Die denker as digter, die digter as denker: DJ Opperman, NP Van Wyk Louw en die digkuns/filosofie-debat in die Afrikaanse letterkunde (Deel 2)
- Botha, Amanda: Cussons wel “teruggehou”
- Botha, Johann: Opperman se lewe, oeuvre herbesoek
- Britz, Etienne: DJ Opperman 100 jaar: Etienne Britz se bydrae
- Brümmer, Willemien: Opperman se weduwee sterf weens hartversaking
- Burger, Willie: Só skryf ’n wenner – die werk van DJ Opperman
- DJ Opperman
- DJ Opperman
- DJ Opperman 100 jaar: in klank en beeld
- De Vries, Willem: DJ Opperman se lewe gevier
- Esterhuizen, Marie: Die drenkeling in die werk van DJ Opperman, met spesiale verwysing na Joernaal van Jorik
- Franzsen, Riel: Die omvang en funksionaliteit van voëlverwysings in die gedigte van DJ Opperman
- Grové, AP: Die digter DJ Opperman
- Grütter, Wilhelm:
- Hambidge, Joan:
- Kannemeyer, JC:
- Cussons “aangemoedig, nie teruggehou”
- DJ se handskrif wys beroerte was op pad
- Kannemeyer vertel hoe Opperman se Sonklong eindelik die lig gesien het
- Kannemeyer, JC: NP Van Wyk Louw, DJ Opperman and the Afrikaans literary tradition
- Opperman poësie aards, dog ook geestelik
- Opperman was geesdriftig oor Cussons
- Le Roux, André: Intieme sy van Opperman in biografie onthul
- Raper, IR: Teorie, kritiek en verspraktyk by DJ Opperman
- Samuel, AE: Familiefigure in die poësie van DJ Opperman
- Smith, Charles:
- Spies, Lina: DJ Opperman: in die skadu van verdagmaking
- Spies, Lina: DJ Opperman 100 jaar: Lina Spies se bydrae
- Ter ere van Opperman
- Van der Merwe, Chris: DJ Opperman 100 jaar: Chris van der Merwe se bydrae
- Van der Walt, PD: Die verlossingsmotief in die poësie van DJ Opperman
- Van Rensburg, FIJ: NP Van Wyk Louw en DJ Opperman in intertekstuele gesprek
- Van Vuuren, Helize: DJ Opperman (1914–1985)
- Van Vuuren, Helize: DJ Opperman se laatwerk
- Van Zyl, Dorothea: DJ Opperman 100 jaar: Dorothea van Zyl se bydrae
- Van Zyl, Wium: DJ Opperman 100 jaar: Wium van Zyl se bydrae
- Visagie, JAG: Volkspoësie: die bestaan en ontwikkeling van die begrip in Afrikaans, met besondere verwysing na die bydrae van NP Van Wyk Louw en DJ Opperman
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
Bronne
- Kannemeyer, JC. 1986. DJ Opperman: ’n biografie. Kaapstad: Human & Rousseau
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post DJ Opperman (1914–1985) appeared first on LitNet.