|
Abstract
Case law confirms the actionability of enticement as iniuria
In this case note the decision in Roberts v Van Schalkwyk has been evaluated against the positive law background of the delictual action for enticement. First of all Mhlambi J confirmed that the action is part of our law. To succeed with a claim for enticement, it is required that there must be a positive element of persuasion or convincing on the part of the third party that caused the spouse involved to lose his or her affection for the other spouse and persuaded him or her to leave the common home. The fact that adultery was also committed by the third party (which is no longer actionable), is not an impediment to institute an action for enticement against the third party. This is also evident from the judgment of the Supreme Court of Appeal in DE v RH 2014 6 SA 436 (SCA) 441. In Roberts it was also accepted that the action for enticement is the actio iniuriarum and therefore by implication also that enticement is an iniuria which lies in the wrongful, intentional infringement of the personality interests of the prejudiced spouse. Initially the plaintiff based her claim on two grounds, namely loss of consortium en contumelia, as was always the case as regards the action for adultery. These two grounds in the case of enticement can probably follow in the footsteps of their application with regard to adultery where they became well established over many years, but with two reservations: Firstly, it must be expressly recognised that loss of consortium hurts the feelings of the innocent spouse; fortunately there are indications that that is already occurring, such as in Roberts, where the plaintiff is claiming compensation for, inter alia, loss of consortium with the resultant hurting of her feelings. Secondly, in the case of adultery the concept of contumelia was incorrectly equated with insult or infringement of dignity. This narrow interpretation of contumelia can result, as happened with adultery, in there being no scope under this concept for the protection of other interests of personality. In order to remove this objection, it is submitted that contumelia should be seen as the equivalent of iniuria. This concept is wide enoughto include the infringement of all the personality interests for which the plaintiff claimed compensation in Roberts, namely her reputation, dignity, physical-mental integrity and even her feelings. Since enticement is considered to be an iniuria, the requirements of the actio iniuriarum must be present to establish liability on the part of the third party, that is conduct, causation, wrongfulness, animus iniuriandi and harm to personality.
Keywords: abduction; actio iniuriarum; adultery; animus iniuriandi; consortium; contra bonos mores; contumelia; dignity; enticement; feelings; harbouring; iniuria; personality rights (interests); physical-psychological integrity; reputation; wrongfulness
Trefwoorde: abduksie; actio iniuriarum; afrokkeling; animus iniuriandi; consortium; contra bonos mores; contumelia; eer(-gevoel); fisies-psigiese integriteit; gevoelslewe; herberging; iniuria; onregmatigheid; owerspel; persoonlikheidsregte (-goedere); reputasie
1. Inleiding
Tensy gades geskei van mekaar woon, geregtelik of vrywillig, is die een geregtig op die consortium van die ander (Rosenbaum v Margolis 1944 WLD 147, 151; sien Neethling e.a. 2005:209, 212 oor die betekenis van hierdie begrip). ’n Derde party wat deur sy optrede die consortium verbreek, stel hom in beginsel teenoor die benadeelde gade aanspreeklik (sien Rosenbaum 151). Tot onlangs nog is owerspel, asook die afrokkeling, abduksie en herberging van ’n gade, as ’n gedingsvatbare verlies van consortium geag (sien Neethling e.a. 2005:253 e.v.). In RH v DE 2014 6 SA 436 (HHA) maak die Hoogste Hof van Appèl egter ’n radikale ommekeer, wat deur die Konstitusionele Hof in DE v RH 2015 5 SA 83 (KH) bekragtig word, en beslis dat owerspel nie langer as deliktueel onregmatig beskou kan word en gevolglik nie meer die actio iniuriarum kan fundeer nie. (Vir omvattende besprekings van hierdie beslissings, sien bv. Scott 2015:421 e.v.; Neethling 2016:259 e.v.; Neethling 2015:379 e.v.; Barnard-Naudé 2016:16 e.v.;Carnelley 2015:334 e.v.; Potgieter 2016:397 e.v. Die beslissings is onlangs ook deur die Namibiese Supreme Court in Sibonga v Chaka (SA 77/2014) [2016] NASC 16 (19 Augustus 2016) bekragtig.) In RH v DE (HHA) 455 (sien Neethling en Potgieter 2015:386; vgl. DE v RH (KH) 86) wou appèlregter Brand hom nie uitspreek oor die voortbestaan van afrokkeling, abduksie en herberging as aksiegronde nie. Nou is dit so dat, sover bekend, ’n gade nog nooit in ons reg ’n aksie op grond van die abduksie van die ander gade teen ’n ontvoerder ingestel het nie en dat die laaste geval van ’n aksie op grond van die herberging van ’n gade in 1958 (59 jaar gelede) voor ’n hof gedien het (sien Woodiwiss v Woodiwiss 1958 3 SA 609 (D); sien ook Neethling 2016:283). ’n Mens sou dus kon aanvoer dat hierdie twee aksies waarskynlik weens onbruik verval het. Dit is egter glad nie die geval wat die afrokkeling van ’n gade deur ’n derde party betref nie. (Sien nietemin Sonnekus 1976:129, 133, 258, 270, 276 e.v. se afwysende houding teen afrokkeling as eisoorsaak.) In wat volg, word eers aandag aan die huidige stand van sake met betrekking tot afrokkeling gegee, en daarna word die beslissing in Roberts van naderby beskou.
2. Afrokkeling
’n Derde party pleeg ’n delik teenoor ’n eggenoot deur die ander eggenoot af te rokkel of weg te lok (vgl. in die algemeen RH v DE (HHA) 441; Pearce v Kevan 1954 3 SA 910 (D); Woodiwiss; Van den Berg v Jooste 1960 3 SA 71 (W); Grobbelaar v Havenga 1964 3 SA 522 (N); Wassenaar v Jameson 1969 2 SA 352 (W) 352; Smit v Arthur 1976 3 SA 378 (A) 387; Gower v Killian 1977 2 SA 393 (OK); Diemer v Solomon 1982 4 SA 13 (K); Neethling e.a. 2005:212 e.v.; McKerron 1971:168–9). Uit die aard van die saak moet die afrokkeling teen die sin en wil van die benadeelde eggenoot geskied (sien Woodiwiss 615–6). Baie belangrik is die vraag wanneer die gewraakte optrede op afrokkeling neerkom. In Gower 395 (sien ook Smit 387; Van den Berg 73; Grobbelaar 529; vgl. Pearce 912) verklaar regter Kannemeyer: “It must be shown that the defendant coaxed the plaintiff’s wife away from him, that he talked her over and persuaded her to leave him.” Daar moet dus ’n positiewe element van ompraat of oorreding aanwesig wees (sien Woodiwiss 617). In Wassenaar 352 (sien ook RH v DE (HHA) 441) stel die hof dit so:
According to the authorities, in order to prove such a delict, the applicant has to show not merely that his wife left him for the respondent, but that the respondent actually induced her to leave him, i.e. actively caused her to leave him, or as was stated in [Van den Berg 73], that he had coaxed her away from the applicant, that he had talked her over, or that he had persuaded her to leave the applicant, and as a result thereof she had lost her affection for him. That is usually a very formidable onus to discharge.
Hierdie element ontbreek byvoorbeeld in omstandighede waar die derde party op versoek van die eiser se gade haar geadviseer het om hom te verlaat (vgl. Van den Berg 72); of waar die eiser slegs kan bewys dat sy gade hom verlaat het na gereelde en voortdurende kontak met die derde party (sien Woodiwiss; Gower 395; Grobbelaar 529; Smit 387). Dit was beslis die geval in RH v DE, aangesien die eiser se gade hom nie as gevolg van die verweerder se oorredende optrede verlaat het nie, maar omdat albei partye uit eie beweging met mekaar in ’n romantiese verhouding betrokke geraak het. Dus, selfs al het die eiser sy eis ook op afrokkeling gebaseer, beslis regter Brand 441 tereg dat afrokkeling om hierdie rede nie sou geslaag het nie.
Hierteenoor bied die feite in DS v VW 2014-10-02 saaknr. 12537/2012 (GP) ’n voorbeeld van afrokkeling in die ergste graad. Hier was die eiseres (E) en haar man (M) gelukkig getroud totdat die verweerderes (V) op die toneel verskyn het. E het deur haar seun ontdek dat M en V in ’n owerspelige verhouding betrokke geraak het. Sy het M daaroor gekonfronteer, waarna hy die gemeenskaplike woning verlaat en by V ingetrek het. V het E ingelig dat sy en M “madly in love” is en het selfs ’n foto van haar vagina (m.a.w. ’n "pelfie") aan M gestuur via hul selfone wat die seun onder E se aandag gebring het. Sy het E ingelig dat sy die ring sal dra sodra E en haar man geskei is, daarmee gespog dat E van haar man se mediese fonds verwyder is, ’n foto op haar (V) se Facebook-blad geplaas waarin sy (V) en M mekaar soen, en te kenne gegee dat sy M nooit sal verlaat nie. V was dus onteenseglik daarop ingestel om E se huwelik te vernietig. Regter Msimeki kom tot die volgende slotsom en ken R85 000 solatium aan E toe:
The plaintiff successfully proved the defendant’s wrongful conduct; her intention to destroy the plaintiff’s marriage; her intention to humiliate the plaintiff as well as hurting her feelings; the adulterous relationship which came into being and which caused the abrupt end to the plaintiff’s and her ex-husband’s marital relationship. The defendant intended to win the plaintiff’s ex-husband for her own gratification. She succeeded.(My kursivering)
Dit behoef geen betoog nie dat V se laakbare gedrag, ongeag haar owerspel met M, daarop ingestel was om M af te rokkel en dat E ook op hierdie grond teen V behoort te geslaag het. Daarom behoort ’n hof, selfs na die beslissings in RH v DE en DE v RH, steeds genoegdoening aan E toe te ken.
Dieselfde kan van die feite in KG v AG 2009-08-20 saaknr. 270/2006 (KZP) gesê word (sien ook Van der Westhuizen v Van der Westhuizen 1996 2 SA 850 (W); Scott 2015:424). Hier het die eiseres (E) se man (M) in ’n owerspelige verhouding met die verweerderes (V) betrokke geraak nadat hulle gedurende ’n langnaweek heimlik weggegaan het. Voor dié verhouding was die gades gelukkig getroud en twee kinders is uit die huwelik gebore. V het E by verskillende geleenthede gebel en voorgestel dat sy M moet verlaat, aangesien sy (V) ’n verhouding met hom het. By een geleentheid het sy selfs te kenne gegee dat sy in E se bed in die gades se gemeenskaplike woning geslaap het. ’n Ander keer het V herhaal dat sy M liefhet en dat sy ’n kind by hom gehad het. Boonop het sy haar kop deur die passasiersvenster van die voertuig waarin E en haar kinders was, gedruk en die kinders vertel dat hulle nou ’n babasussie het. Hierbenewens blyk dit dat V ook M se sportwinkel herhaaldelik besoek en die indruk gewek het dat sy “was chasing after him” en dus aktief daarop ingestel was om hom af te rokkel. Waarnemende regter Hollis beslis dat V se gedrag, veral ook omdat dit openlik geskied en ander persone betrek het, “a serious infringement of the plaintiff’s rights” (te wete contumelia, verlies van consortium en afrokkeling) daargestel het en ken R75 000 solatium toe. Daar word aan die hand gedoen dat selfs al is owerspel op sigself nie meer onregmatig nie, die afrokkeling van M so ernstig was dat dit ’n selfstandige eisoorsaak daarstel en daarom op sigself die toekenning van genoegdoening regverdig het.
Uit bostaande blyk dit dat ’n mens dus geheel en al op die omringende omstandighede aangewese om te bepaal of die vervreemding of verlating die gevolg was van die derde party se oorredende optrede, dan wel of dit uit eie beweging geskied het.
Alhoewel dit vasstaan dat afrokkeling ’n selfstandige skuldoorsaak uitmaak, het die howe hulle nog selde uitgelaat oor die vraag of dié optrede ’n iniuria daarstel, wat omskryf word as die onregmatige en opsetlike aantasting van ’n persoonlikheidsbelang (sien Hofmeyr v Minister of Justice 1993 3 SA 131 (A) 154). Nietemin word in RH v DE 455 deur die Hoogste Hof van Appèl aanvaar dat die aksie weens afrokkeling op die actio iniuriarum gebaseer is en by implikasie dat afrokkeling dus ’n iniuria daarstel. Die actio iniuriarum word deur regter Madlanga in DE v RH (KH) 86 vn. 5 soos volg beskryf:
This is the general remedy for the infringement of personality rights. Its main aim is to protect plaintiffs against wrongful and intentional infringement of these rights and allow for the recovery of damages if infringement is proved. Under Roman-Dutch law, the personality rights protected by this action are bodily integrity (corpus), dignity (dignitas) and reputation (fama) … Dignitas essentially functions as an umbrella for all personality rights apart from physical integrity and good name and includes the concept of contumelia.
(Sien ook Neethling 2006:85 e.v.; Neethling en Potgieter 2015:13–6; Neethling e.a. 2005:39 e.v.)
In die geval van afrokkeling word die betrokke persoonlikheidsgoedere nie geïdentifiseer nie, aangesien die aksie meesal op verlies van consortium gebaseer word en daarmee uit en gedaan. Dit is nietemin duidelik dat verlies van consortium die onskuldige gade se persoonlikheid krenk, primêr wat sy of haar gevoelslewe betref. In Van den Berg 73 verwys die hof in hierdie verband na die verlies van die liefde van ’n gade as ’n element van verlies van consortium. ’n Obiter dictum van appèlregter Innes in Union Government v Warneke 1911 AD 657, 667 onderskryf hierdie opvatting. Hy sê naamlik:
The loss of a wife’s comfort and society (as distinguished from her support and assistance) is a loss which only affects the feelings and not the property of the husband ... The cases referred to in the judgement, where damages were awarded for depriving a man of the society of his wife, were actions of iniuria. In such proceedings, as already explained, damages may be given by way of satisfaction to the feelings. (My kursivering)
In RH v DE 453 is appèlregter Brand krities oor die erkenning van die gevoelslewe as selfstandige persoonlikheidsgoed. Hierdie kritiek gaan egter nie op nie (sien veral Potgieter 2016:397 e.v.; sien o.a. ook Van der Merwe v Road Accident Fund (Women’s Legal Centre Trust as amicus curiae) 2006 4 SA 230 (KH) 253; Wiese v Moolman 2009 3 SA 122 (T) 124–6; Neethling 2015:404–5; Neethling 2016:277–9; Neethling en Potgieter 2015:383–4, veral vn. 317; Neethling e.a. 2005:29, 201–4). Afgesien van krenking van die gevoelslewe, kan die persoonlikheidskrenking ook geleë wees in die aantasting van die gekwetste gade se eer of selfs haar fisiese integriteit (soos waar die vrou ’n senuwee-ineenstorting a.g.v. die afrokkeling van haar man gehad het). Hierdie persoonlikheidkrenkinge bevestig dat afrokkeling in beginsel ’n iniuria is.
Aangesien afrokkeling as ’n iniuria geld, moet die vereistes vir die actio iniuriarum aanwesig wees om die derde party aanspreeklik te stel. Daar kan aanvaar word dat indien die verweerder se optrede werklik neerkom op die afrokkeling van die eiser se gade, wat veroorsaak het dat sy die gemeenskaplike woning verlaat het (voldoening aan die handeling en kousaliteit as deliksvereistes), asook dat by afrokkeling die subjektiewe gevoels- of eerkrenking van die eiser in beginsel sodanig is dat die redelike persoon ook as gevolg daarvan beledig en gekrenk sou gevoel het (vgl. Neethling en Potgieter 2015:379, 384 vn. 317), sy optrede as prima facie onregmatig (contra bonos mores) geag kan word. Onregmatigheid kan weerlê word slegs indien die verweerder ’n regverdigingsgrond (soos toestemming, noodweer of noodtoestand) vir sy optrede kan aantoon. Hierbenewens moet die eiser bewys dat die afrokkeling animo iniuriandi (opsetlik) geskied het en dat hy persoonlikheidsnadeel (soos gevoels- of eerkrenking) gely het (sien hieroor Neethling e.a. 2005:214–6; Neethling en Potgieter 2015:386–7). In laasgenoemde verband moet dit vasstaan dat die onskuldige gade se persoonlikheid inderdaad as gevolg van die afrokkeling aangetas is. Indien nie – omdat sy byvoorbeeld nie gekrenk of beledig voel nie – is daar, soos die posisie by owerspel was (sien Neethling e.a. 2005:209–10), natuurlik nie sprake van ’n iniuria nie. Beantwoord die verweerder se optrede aan al die vereistes vir die actio iniuriarum, is die eiser geregtig op genoegdoening.
3. Roberts v Van Schalkwyk
Soos blyk uit die bespreking van DS v VW en KG v AG hier bo, asook uit die aandag wat appèlregter Brand in RH v DE daaraan gee, is afrokkeling as aksiegrond nog springlewendig in ons reg. Nietemin is die beslissing in Roberts die eerste – na die afskaffing van owerspel as aksiegrond in RH v DE (HHA) en DE v RH (KH) – waarin die bestaan van afrokkeling as selfstandige aksiegrond in ons reg weer onomwonde bevestig word.
In Roberts het die respondent (eiseres) vergoeding van die eksipiënt (verweerderes) geëis weens die verlies van haar man se consortium as gevolg van die eksipiënt se afrokkeling en contumelia. Volgens die eksepsie het die respondent se besonderhede van eis egter nie ’n aksiegrond openbaar nie. Daar word geargumenteer (par. 2) dat die eis gebaseer is op die actio iniuriarum weens owerspel ingevolge waarvan die onskuldige gade ’n aksie kon instel vir sowel contume!ia as verlies van consortium. Sodanige aksie bestaan egter nie meer in die Suid-Afrikaanse reg nie. Volgens die besonderhede van eis word slegs melding gemaak dat die verweerderes bewus daarvan was dat die eiseres en haar man in die huwelik verbind was, en dat die verweerderes desnieteenstaande doelbewus daarop uit was om hom te verlei ten einde 'n buite-egtelike verhouding met haar aan te knoop (my parafrasering). Daar is geen blyke daarvan dat afrokkeling daarop gerig moet wees om die gadeoor te haal om die gemeenskaplike woning te verlaat en nie om ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop nie. Nietemin gee die eksipiënt toe (par. 3) dat die woord “afrokkel” op ’n latere plek in die besonderhede van eis genoem word en wel soos volg: Die verweerderes was doelbewus daarop uit om die eiseres se man af te rokkel en sodoende die huwelik tussen die eiseres en haar man te vernietig, waarin sy geslaag het (my parafrasering). Volgens die eksipiënt (parr. 3–4) is die eis wesentlik gebaseer op afrokkeling as morfeem van owerspel wat as aksiegrond in RH v DE en DE v RH afgeskaf is.
Hierteenoor argumenteer die respondent (par. 5) in die besonderhede van eis dat sy die eksipiënt aangespreek het op grond van afrokkeling as deliktuele skuldoorsaak en dat sy vergoeding eis vir die verlies van die consortium van haar man en contumelia. Haar eis is dus geensins op owerspel as aksiegrond gebaseer nie. Met verwysing van Wassenaar 349 en RH v DE 441 is afrokkeling aanwesig (par. 6)
when a third party persuades or induces a spouse to alienate itself from the other spouse. To succeed with the delict for enticement, the plaintiff must show that his wife left him for the defendant, that the defendant had persuaded her to leave him, as a result of which she had lost her affection for him.
Die respondent sit dan die feite waarop haar eis gebaseer is, soos volg in die besonderhede van eis uiteen (par. 7; my parafrasering): Die eiseres is in 1994 met haar man Willem van Schalkwyk getroud totdat die huwelik in 2013 deur middel van 'n egskeidingsbevel ontbind is. Gedurende die bestaan van die huwelik was die egpaar gelukkig getroud. In 2013 het Willem die eiseres om 'n egskeiding versoek. Die vernaamste rede daarvoor was volgens Willem dat hul huwelik onherstelbaar verbrokkel het omdat hy nie meer gelukkig was nie. Kort na die egskeiding het die eiseres daarvan bewus geword dat die vernaamste en eintlike rede waarom Willem die egskeiding versoek het, was omdat hy tydens hulle huwelik 'n buite-egtelike verhouding met die verweerderes gehad het en tans nog het. Die eiseres voer aan dat sy 'n welbekende persoon in die wildboerderygemeenskap is en dat as gevolg van die verweerderes se bovermelde optrede haar lewenskwaliteit, karakter en menswaardigheid in die wildboerderygemeenskap en ten opsigte van familielede direk aangetas is. Gevolglik is die eiseres deur die verweerderes verneder. Die eiseres beweer dat sy skade van R1 500 000 gely het vir die verlies van consortium, seermaak van gevoelens, aantasting van haar waardigheid en vernedering in die publieke oog. Boonop is die eiseres sedert die egskeiding as gevolg van bogemelde optrede deur die verweerderes onder behandeling vir depressie en angs.
Hierop (par. 7) ontken die verweerderes in haar besonderhede van eis dat sy 'n owerspelige verhouding met die eiseres se vorige eggenoot gehad het en/of steeds het, en sy ontken ook iedere en elke bewering soos hier bo uiteengesit.
Regter Mhlambi (par. 9) wys die eksepsie van die hand en verklaar:
Enticement, abduction and harbouring as common law actions deriving from the actio injuriarum are still part of our law [RH v DE 455]. I am therefore satisfied that the requirements necessary to constitute a cause of action based on enticement are disclosed in the particulars of claim.
4. Kommentaar en slotsom
In eerste instansie bevestig die hof in Roberts dat die aksie weens afrokkeling deel van ons reg is. Vir ’n geslaagde beroep op afrokkeling word steeds vereis dat daar ’n positiewe element van ompraat of oorreding deur die derde aanwesig moet wees wat die betrokke gade van haar man of sy vrou vervreem het en oorreed het om die gemeenskaplike woning te verlaat. Die feit dat daar in ’n bepaalde geval ook owerspel deur die derde party gepleeg is (wat nie meer gedingsvatbaar is nie), is nie ’n beletsel om ’n aksie op grond van afrokkeling teen die derde party in te stel nie. Dit blyk ook duidelik uit die uitspraak in DE v RH (HHA) 441. Die hof aanvaar dat die aksie weens afrokkeling die actio iniuriarum is en daarom by implikasie ook dat afrokkeling ’n iniuria daarstel wat geleë is in die onregmatige, opsetlike aantasting van die benadeelde gade se persoonlikheidbelange. Aanvanklik baseer die eiseres in casu haar eis op twee gronde, naamlik verlies van consortium en contumelia, soos immer die geval by die aksie weens owerspel was (sien Neethling e.a. 2005:208–9; Neethling en Potgieter 2015:385; RH v DE 441–3; DE v RH 85–6). Hierdie twee gronde by afrokkeling kan waarskynlik in die voetspore van die toepassing daarvan by owerspel volg waar hulle oor baie jare goed gevestig geraak het, maar met twee voorbehoude: Eerstens moet openlik erken word dat verlies van consortium die gevoelslewe van die onskuldige gade kwets; gelukkig is daar aanduidings dat dit reeds gebeur, soos in Roberts, waar die eiseres vergoeding eis vir onder andere verlies van consortium met die gevolglike seermaak van haar gevoelens. Tweedens is die begrip contumelia by owerspel ten onregte gelyk geskakel met eerskending of belediging. Hierdie eng uitleg van contumelia kan tot gevolg hê, soos reeds die geval by owerspel was, dat daar onder hierdie begrip geen ruimte gelaat word vir die beskerming van ander aspekte van die persoonlikheid nie (vgl. Neethling e.a. 2005:208–9). Ten einde hierdie beswaar uit die weg te ruim, word aan die hand gedoen dat contumelia verstaan moet word as optrede wat ’n ander se persoonlikheidsregte opsetlik minag of krenk (sien hieroor Neethling e.a. 2005:44–5), dit wil sê as ’n iniuria, soos ditin D 47 10 1 pr gestel word: Specialiter autem iniuria dicitur contumelia. Hieronder kan dan al die persoonlikheidsgoedere waarvoor die eiseres vergoeding eis, te wete haar reputasie (vernedering in die publieke oog), eergevoel (waardigheid), haar fisies-psigiese integriteit (depressie en angs) en selfs haar gevoelslewe (seermaak van gevoelens) goedskiks tuisgebring word. Aangesien afrokkeling as ’n iniuria geld, moet die vereistes vir die actio iniuriarum aanwesig wees om die derde party aanspreeklik te stel, te wete die handeling, kousaliteit, onregmatigheid, animus iniuriandi en persoonlikheidsnadeel.
Bibliografie
Barnard-Naudé, J. 2016. The pedigree of the common law and the “unnecessary” constitution: A discussion of the Supreme Court of Appeal’s decision in RH v DE. South African Law Journal, 133(1):16–28.
Carnelley, M. 2015. Die doodskoot of slegs die verwonding van die eise teen die derdeparty-egbreker? LitNet Akademies, 12(2):334–46.
Koziol, H. en U. Magnus (reds.). 2016. Essays in honour of Jaap Spier. Wene: Jan Sramek Verlag.
Mckerron, R.G. 1971. The law of delict. 7de uitgawe. Kaapstad: Juta.
Nagel, C.J. (red.). 2006. Gedenkbundel vir JMT Labuschagne. Durban: LexisNexis.
Neethling, J. 2006. Die betekenis en beskerming van die eer, dignitas en menswaardigheid in gemeenregtelike en grondwetlike sin. In Nagel (red.) 2006.
—. 2015. Owerspel as gedingsvatbare aksiegrond. LitNet Akademies, 12(2):397–415.
—. 2016. Adultery as actionable tort – a South African perspective. In Koziol en Magnus (reds.) 2016.
Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2015. Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.
Neethling. J., J.M. Potgieter en P.J. Visser. 2005. Neethling’s law of personality. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis Butterworths.
Potgieter, J.M. 2016. Die reg op die gevoelslewe (en die moontlike relevansie daarvan by ’n aksie weens owerspel). Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 3:397–411.
Potgieter, J.M., J.C. Knobel en R.-M. Jansen (reds.). 2015. Essays in honour of / Huldigingsbundel vir Johann Neethling. Durban: LexisNexis.
Scott, J. 2015. Delictual liability for adultery: a healthy remedy’s road to perdition. In Potgieter, Knobel en Jansen (reds.) 2015.
Sonnekus, J.C. 1976. Die privaatregtelike beskerming van die huwelik. Ongepubliseerde LLD-proefskrif, Universiteit van Leiden.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
The post Vonnisbespreking: Die regspraak bevestig die gedingsvatbaarheid van afrokkeling as iniuria appeared first on LitNet.