Twee Suid-Afrikaanse musikante, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.
Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ’n reeks optredes om ’n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder. Hul deel hul eksklusiewe dagboekinskrywings met LitNet.
Gent
Geskryf 16 Maart 2017
Na middagete en ons Lochristi-vertoning op 12 Maart gaan laai George ons af in Gent by die mees fabelagtige woning wat ek nog in lewende lywe gesien het.
Firat vanaf Turkye ontmoet ons by die deur van die nouste, hoogste huis wat ek in jare betree het. Hy staan en toekyk terwyl ek en DuPreez ons skoene uittrek en sy pantoffels aantrek, voor ons die toer van die woning kry.
Die mure is geverf met krulle en pouvere, daar is affodille in ’n glasvaas wat versigtig balanseer op die balustrade, en pers glas in die vensters. Moeder Maria-“pitrette” met elektriese kerse (veiliger!) oralom op vensterbanke. Meters en meters feetjieliggies is om die handrelings gedraai vanaf die kelder se trappe tot verby ons derdeverdiepingkamer.
Die toilet is onder die trappe (DuPreez kan net gebukkend en met ’n gesonde dosis vrees binnegaan), reg langsaan die kombuis, en het ’n oppervlak van presies 120 by 90 cm. Tussen dié twee is ’n deur waarvan die glas vervang is met ryspapier.
Ons is op die derde verdieping en die badkamer is in die kelder.
Hier woon ons vir drie dae.
Ons is verras oor hoe vinnig ’n mens se onderbewussyn snags kan leer knyp. Hy/sy moet klaarblyklik alleen maar met ’n dood-ter-trap gedreig word, dan kan jy skielik gemaklik deurslaap.
DuPreez is pal in die kombuis besig om die heerlikste, rykste disse te kook, terwyl hy land en sand met Firat gesels oor dié se immigrant-ervaring in Europa.
Firat wil na ’n ruk weet of ek ’n prinses is wat net snags verskyn om te gaan bad.
Nou en dan kyk ek en DuPreez vir mekaar en ons wil byna flou raak van die luuksheid van net hier te kan wéés.
Hoekom is ons so pap in die lyf?
Ons is wel al twee nog verkoue, maar ek herken hierdie anderster moeg.
Dit kom van alles nuut beleef, elke liewe dag. Nuwe mense, nuwe reëlings, nuwe bed, nuwe dorp. Gemaksones wat gestoot en uitgerek word soos ’n stuk prestik. Ore wat moet spits omdat jy die taal net-net begryp. Nuwe name, gesigte, vriende, plekke en elke oomblik moet jy op jou vriendelikste bly. En jou ander werk gaan aan en moet op datum gehou word ... Ja. Ek verstaan wat gaan aan.
Daarom voel ek heeltemal gemaklik met die feit dat ek vir drie volle dae terugklim in my pajamas na my stort elke oggend.
DuPreez gaan avontuurlustig die stad in. Ek bly tuis, want ek besef: dit is beter om nou eers die kokon dig te spin, sodat daar iets oor is van die vlinder wanneer sy later weer moet sing.
Roeselare
Geskryf 20 Maart 2017
Bart Deheeger ontmoet ons op Saterdag 18 Maart (in die reën) by Gent-Sint-Pieters-stasie. Ons tree Sondag 19 Maart by die Burgerschool in Roeselare op.
Roeselare is in Wes-Vlaandere en is “baie ver” (45 minute per motor vanaf stasie tot by Bart se voordeur).
Hierdie dialek is moeilik verstaanbaar en DuPreez moet heelparty keer vir ons gasheer hokaai roep vir ’n verduideliking.
Gelukkig is Bart baie bekend met en obsessief lief vir Suid-Afrika en hy pas sy taalgebruik aan om dit vir ons makliker te maak.
Ons gaan heel eerste na die lokaal toe (in dié geval die Burgerschool se skoolsaal) vir die klanktoets. Dit voel of ons twee weer terug is op die skoolbanke in Bloemfontein, die aand voor die prysuitdeling. Skoolsale, regoor die wêreld, het klaarblyklik presies dieselfde uitleg.
Bart is ’n leraar by die Burgerschool en was die impetus agter môre se optrede. Alle wins gaan aan Born in Africa, ’n liefdadigheidsorganisasie wat aktief is in die sosio-ekonomies benadeelde areas rondom Plettenbergbaai.
Ons gaan tuis by hom en sy lieflike gesin. Ons ontdek gou dat die obsessie met Suid-Afrika dieper gaan as wat ons besef het. Alto Rouge-wyn, Spur-slaaisous, Ina Paarman-speserye (elke geur wat ooit uitgebring is) en Amarula-likeur word uitgedeel. Ons voel skuldig, want hierdie produkte moes ten duurste oor die water gekom het en hier word dit as’t ware op ons twee gemors.
Tog ontroer die gasvryheid agter hierdie gebaar ons.
Die volgende oggend by die Burgerschool is ons kleedkamer ’n klaskamer.
Ek en DuPreez raak onwillekeurig bedees en stil. Die atmosfeer van “skool” rus op ’n mens, selfs na soveel jare. Maar die optrede verloop goed.
Heel voor, teenaan die verhoog, sit Siska en haar twee kinders, Jutte en Tijl.
Hierdie tweetjies, wat sekerlik omtrent 3,25% kan verstaan van dit wat die oom en tannie sing en sê, is tjoepstil en vasgenael tydens die ganse vertoning.
Tijl maak nou en dan gelate bewegings saam met my. My hart sing.
Na die optrede neem ons afskeid van ons gasheer en -vrou en ons voel ons ’n bietjie bewoë. Ons laat vriende hier agter.
Siska neem ons terug na Gent-Sint-Pieters-stasie en groet ons met die woorde: “Wanneer jullie de volgende keer in Gent zijn, verblijven jullie bij ons. Zo lang als jullie willen. Jullie zijn altijd welkom.”
Ons is uit die veld geslaan.
Amsterdam
Geskryf op 25 Maart 2017
Ons is sterk aangeraai om die Rijksmuseum in Amsterdam te besoek. Daar is tans ’n uitstalling wat handel oor die gedeelde geskiedenis tussen Nederland en Suid-Afrika en wat blykbaar aangrypend is.
Ek en DuPreez klok vroeg in by ons aweregse, boot-akkommodasie naby Centraal Station. Dit is ’n lieflike dag en ons vat die pad, museum toe.
Amsterdam is my gunsteling Europese stad.
Die gragte, die kanale, die huisbote. Die taal wat ek verstaan en die straatkafeekultuur. Die huise, met die enorme loodglasvensters wat vir die afgelope paar honderd jaar reeds skeef langs die kanale staan en nog steeds net so statig daar uitsien soos dit moes gelyk het in die dae van die VOC.
Al die fietse, party so versier met sagte speelgoed of plastiekblomme dat jou oë soms sukkel om die hele prentjie in te neem wanneer dit na jou toe aangebons kom oor die kleinsteentjiestrate.
Alles werk saam om dit ’n fantastiese spektakel vir die oog te maak.
Daar is ’n Kodak-oomblik om elke hoek en draai.
Die sypaadjies is bitter nou, maar voor byna elke huis is ’n bankie en potplante gesellig staan gemaak. Soms sien jy selfs ’n boekrak met regte egte boeke in.
Wanneer daardie son uitkom, aitsa! Hemde word uitgeruk, lang glase met koel drankies word geskink en die mense kuier.
Net daar. Op straat. Met deure oop en platespelers luid, maak almal seker dat elke knertsie genot uit hierdie dag getrek word.
Ons stap verby ’n groepie mooi jongmense met baarde en asimmetriese haarstyle.
Hulle het sommer net daar op die kanaal se wal, tussen ’n motor en ’n boom, ’n tafeltjie skeef staan gemaak en met ’n draadloos en ’n versameling wyne kuier hulle in die son en in die openbaar. Hulle is totaal onselfbewus. Ons is jaloers op hulle gelate joligheid.
Soos gewoonlik is DuPreez meteens rasend honger.
Ons stap en stap. Uiteindelik, bleek om die kiewe, vind ons ’n supermark.
Toe word daar gekoop met magies wat beslis groter is as ogies vandag.
Met bultende sakke stap ons daar uit en ’n rukkie later vind ons ons perfekte piekniekplek.
Net daar, tussen ’n motor en ’n boom, met ons voete wat afhang water toe, pak ons ons feesmaal uit.
Ons raak deel van die besienswaardighede en andersheid van hierdie stad en verskaf ’n fotogeleentheid vir al die bote en bote vol toeriste wat verby tjoe-tjoe en vir ons waai.
Ons geniet ons só dat teen die tyd dat ons uit ons genotstupor kom, dit reeds 4:30 nm is. Ons haas ons na die Rijksmuseum wat 5-uur toemaak.
Ons is te laat.
Wat op aarde gaan ons vir die “mense” sê?
Dat ons eerder langs ’n kanaal in die son wou sit en rooiwyn drink, kaas en bloedrooi tamatietjies eet as om dié unieke uitstalling te kom kyk?
Dit klink ongekultiveerd, byna barbaars, ondankbaar.
Voor die ingang van die museum is ’n trio van musikante besig om te speel.
Piazolla en Vivaldi vir ons wat verbyloop.
DuPreez buig galant en ek sit ons inkopiesakke neer.
En net daar, voor die Rijksmuseum, dans ek en hy ’n wals.
Soos alle Afrikanermans wat hulle eie matriekafskeid bygewoon het, kan DuPreez Strauss tol en draai en my laat sweef met die beste van die res.
Mense stap verby en klap hande.
Een tannie gooi selfs ’n muntstuk in ’n leë polistireenkoppie wat toevallig hier naby ons voete vergete gebly het.
Antwerpen
Geskryf 27 Maart 2017
Dirk Verelst is die eienaar van Opus 4, waar ons optrede die Saterdag, 25 Maart, plaasvind. Hy is self ’n violis, en passievol oor mooi musiek, en kry dit reg om ’n konstante stroom klassieke uitvoerings hier vir ’n klein, eksklusiewe gehoor aan te bied. Die lokaal is onder andere ook ’n kunsgalery. Hy doen ekstra moeite om ons te akkommodeer en tuis te laat voel.
Ek en DuPreez voel beide aan dat vanaand se vertoning spesiaal gaan wees. Dit is ons laaste optrede in Europa en daar is ’n gewigtigheid aan so iets verbonde.
Ek bespeur ’n klein bietjie hartseer. Groet is tog maar bittersoet.
Ek voel lighoofdig van dankbaarheid vir die geleentheid wat aan ons geskenk is om in Afrikaans, voor al hierdie fantastiese gehore, te kon optree.
Vir die liefde en gasvryheid wat ons teëgekom het. Om dit alles te kon sien, leer en beleef. Om dit saam met DuPreez te kon ervaar.
Die aand se vertoning ís spesiaal.
Dit voel asof ons en die gehoor vasgevang is in ’n kristalbal waarin tyd stilstaan.
Daar word byna asem opgehou.
Toe die laaste note wegsterf, is dit asof ons klokkies hoor.
Soos met elke optrede vantevore, is daar ’n sterk reaksie op my vriendin Vanessa Myburgh se gedig “Opstaan”. Soos gewoonlik het ek die gedig vir die gehoor voorgelees ter inleiding van my lied “Laasnag”.
Vanessa se gedig vat presies raak waaroor “Laasnag” handel. Dit maak harte wawyd oop vir die aanhoor van die lied. Na elke optrede wil mense hoor waar hulle nog van haar werk in die hande kan kry. My bors swel van trots, want hierdie Viking-vrou wat langs die Tuinroete bly, skryf oor vellies, blikbekers en proteas. Dinge wat nie deel uitmaak van hierdie mense se verwysingsraamwerk nie, en tog praat sy op ’n manier direk met hulle. Op die man af laat sy hulle kiertsregop sit.
Ek is aangenaam verras om vir Frank Judo na die optrede te sien.
Dit is die derde optrede wat hy bywoon.
Hy is die voorsitter van die Vlaams-Zuidafrikaanse Cultuurstichting wat ons hoofborg is. Sonder hom sou hierdie toer maar ’n saadjie in die grond gebly het.
Ek weet nie hoe om hom te groet of te bedank nie.
Hoe sê mens tog dankie vir iets wat met soveel omgee, entoesiasme en passie gedoen is? Sy liefde vir my lieflike Afrikaans loop oor en verby opdraandes, stopstrate en doodloopstrate.
Dalk kan jy maar net probeer om dit waarmee jy toevertrou is, met al jóú omgee, entoesiasme en passie aan te pak en verder te dra.
Jy doen jou bes en gee jou alles.
Dis groettyd.
Dankie julle.
The post Afrikaans in die Laaglande-toerdagboek: inskrywing 10 appeared first on LitNet.