Ek kyk gisteraand, soos elke aand, Kyknetnuus (om Afrikaans te hoor) en daarna volg my vrou die sepie Binnelanders. Die kykery gaan toe oor in Fiësta wat oor die afgelope KKNK iets te sê had.
Dit bring my toe waar ek so ’n week of wat terug in die oggend geluister het hoedat Deon Maas oor RSG keel skoonmaak oor die patetiese stand van die Afrikaanse “liedjie”.
Dit wat hy by die KKNK-“fees” gehoor het, is volgens hom, net ’n gedoef-doef, ’n verleentheid. Ekself was nog nooit daar nie - nooit die behoefte daarvoor ontwikkel nie.
’n Maand of wat terug het ek hier gesê dat Afrikaans hom nie tot liedjies leen nie waarop Angus (huistaal Engels) Jan Rap aangepor het om my met “literariese-geweld” van die Sê af te skryf. (Ek vermoed dat hy natuurlik wil hê dat die Afrikaanse “liedjie” ons voortdurend in verleentheid hou.)
Van die Sê afskryf het nie gebeur nie.
Jan het (instemmend) geswyg.
Maas het die oggend die stelling gemaak dat daar nie ’n “Afrikaanse liedjie-genre” is nie. Ek kan daarmee saamstem. Ek vereenselwig die Afrikaanse “liedjie” met ’n blêr-genre waarin die strofe(s), begelei deur ’n raserige “band”, “gekomponeer” word om by herhaling met ’n “hartverskeurende” en emosie-ontlokkende êêêê/hieêêhieêêê te eindig.
Ek besit nie een Afrikaanse “liedjie” CD/DVD nie.
G’n wonder die SABC se 90% plaaslike inhoud toon ’n R200m verlies binne ’n paar maande nie.
Ek is seker daarvan dat by die tagtig persent plus van Afrikaanse “liedjies” die (rou)liefdes-emosie “ontgin” en gerig is uitsluitlik vir die doel om CD/DVD’s te verkoop en die geld te laat inrol.
En hulle koop dit.
Hoekom is baie van ons mense so na binne gerig, die arme-ek, die (self)smart?
Groetnis,
Raed-na-Gael.
The post Afrikaanse "liedjies" by die KKNK appeared first on LitNet.