Ons het seker almal al die een of ander tyd ’n storie oor ’n man en sy seun gehoor. Die verhale wat ons ontvang en lees vertel soms die wakkerskuddende werklikheid van ryk en arm, van lewens vol en sonder die eenvoudige dinge van die lewe en invalshoeke met morele toepassings van die een of ander aard.
Soms ontvang mens die storietjies en fabels deur die golwe van die internet en soms lees jy dit in boeke met of sonder bybedoelings; en soms is dit van beide. Maar ongeag van waar, lees en luister ons graag na verhale waarmee die gemiddelde persoon, wie ook al dit mag wees, kan identifiseer.
Laat my tog toe om jou dag met die volgende verhaal te versier; of dalk te versuur … net ek of jy sal weet!
Daar was eendag ’n man wat wou poog om vir sy seun sekere waardes van die lewe te laat ervaar.
Hy het die stadsseun na ’n plattelandse boerderygemeenskap toe geneem – nie die soort wat ons op die onmiddellike buitewyke van ons Kaapse voorstedelike buurte sal vind nie, maar armer gemeenskappe sonder baie sogenaamde luukshede. Hy en sy seun het deur die plase en kleinhoewes gestap en toe hulle daar wegry, vra die pa vir sy seun, “Seun, wat het jy vandag gesien?”
Sy seun het hom geantwoord, “ek het gesien hoe kinders buite op die grond speel en hoe gesinne saam in hul boorde vrugte pluk; ek het gesien dat hulle sweet en dat hulle hande seer lyk; ek het gesien dat nie een huis ’n skottel op die dak het nie en die karre op die werf nie baie blink is nie. Ek het gesien dat die kafee oor middagete gesluit was en dat die dorp nie ’n steakhouse of ’n fliek het nie.”
Terwyl hulle verder ry, terug en nader aan die bekende “beskawing” waar hulle woon, het die pa weer gevra, “Seun, wat het jy vandag geleer?”
Sy seun het vir ’n kilometer of meer stil oor die vraag nagedink en toe geantwoord …
“Niks.”
Dit is nie die antwoord wat jy of ek in ’n verhaal soos hierdie sou verwag nie, is dit?
“Niks” as antwoord is soms nader aan die stukkende werklikheid van ons gemiddelde Pa-en-seun-ervarings as wat baie van ons sou wou, of meer hartseer dalk, sou kon erken.
Deur die dekades van ouerskap en voorgeslagte op voorgeslagte in ons Afrikanerdom, was daar altyd iets unieks en kwesbaar aan elke generasie se vaders. Die oorloë het sommige vaders se persoon gevorm of misvorm en ander verder terug op die kalender was vasgenael en weerbarstig gelaat deur die depressie of die politiek of die kerk.
Ander was gevorm deur kennis en vrees van die storm en drang van die sewentigs en harde, lang ure se werk en die ekonomie en hul vaders se slegte voorsiening. Pa’s het hul seuns na plekke geneem om van die lewe te leer, maar die seuns het niks van die pa’s geleer nie. Die seuns kon sien wat was, wat moes en wat kan, maar dit was al.
Al wat ’n ordentlike organisasie is hou elke jaar en nog meer veldtogte teen geweld in die huisgesin, die vroue en kinders en alhoewel ek nooit sal droom om die broodnodigheid daarvan te betwis of af te water nie, is daar een opmerklike gebrek in hierdie bewusmaking-inisiatiewe: die verhaal van ’n pa en sy seun …
Op die horison, duskant die heuwels van die Tygerberg kan ek die dieseldampe en stotterende bande die teerlaag sien opskop soos die ongehitste eietydse pappas hul gekweste ego’s met spies en hamer wil kom verdedig!
“Verdedig…”
Dít is juis as gevolg van daai word, daardie ingebore behoefte en oorlewings-spaarwiel om altyd reg te wees om jouself as pa te verdedig.
“Ek kon nie na jou sportdag/konsert toe kom nie, want ek moes werk. Ek werk sodat jy en jou ma ’n dak oor jul kop kan hê. Ek vra vir niks om verskoning in die lewe nie. Kyk rondom jou, kyk wat gee ek jou …”
Ek dink baie dae daaraan dat baie seuns genoeg rede het om behoorlik die donder-in vir hul pa’s te wees, maar hulle is net te ordentlik om dit vir hulle pa’s te sê.
Is dit as gevolg van die “eer jou vader…”-gedeelte wat van kleinsaf in die Sondagskool by ons ingedring was, of was dit omdat enige opmerking van daardie aard met ’n helse pak slae beloon sou word of dalk sou die res van die gesin, Moeder, vir die seun se optrede moes deurloop?
Hoekom moet ’n seun wag tot sy pa vir hom vra… “wat het jy gesien … wat het jy geleer ... wat het jy …?”
Ek dink dit is hoog tyd ...
Ons seuns sal beter en behoorlike lewensverhale sonder verwyte en “what if’s” kan skryf en geniet wanneer hulle, ek en jy, die saal van emosionele belading kan afgooi, ’n ent deur ons eie gemoed bloots kan draf en om dan met goeie oorweging jou pa in die oë te kan kyk en vir hom te sê: “Pa, jy het my teleur gestel …”
The post Eendag was daar ’n pa appeared first on LitNet.