Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Is dit tyd?

$
0
0

Angus Buchan (foto: boekomslag van A Mustard Seed)

Angus Buchan is ’n omstrede prediker. Hy’s ’n hoogs effektiewe prediker, een wat rekordskares lok – wat waarskynlik ’n groot deel van sy omstredenheid veroorsaak.

Ander predikers hou nie van hom nie, want hy doen wat hulle nie kan doen nie. Boonop het hy nie ’n dag se teologiese opleiding gehad nie, en hy is die eerste een wat jou dit sal sê. Hy is ’n eenvoudige mens, wat preek in jeans en ’n geruite hemp, hoed op die kop. Hy is ’n plaasboer, en hy probeer nie voorgee om iets anders te wees nie.

Van die kritiek wat teen hom geopper word, is dat hy spreek tot die psige van wit Afrikaner- (of dan Afrikaanssprekende) mans – ten spyte van die feit dat hy van Skotse afkoms is, en sy preke gewoonlik in Engels hou, met soms groot stukke Zoeloe tussenin. Hy praat Zoeloe vlot.

Die byeenkoms wat hy op 22 April 2017 buite Bloemfontein gehou het, word beskou as die grootste sodanige byeenkoms nog in Suid-Afrika. Knap duskant een miljoen mense het dit na raming bygewoon. Volgens Buchan se woordvoerders by Shalom Ministries is 1,7 miljoen kaartjies uitgereik vir bywoning, en 280 000 kaartjies vir parkering. Hulle het egter reggemaak vir tussen drie en vier miljoen mense. 400 ligte vliegtuigies en helikopters het die nuwe Tempe-lughawe, asook die Bram Fischer-lughawe, aangedoen.

Een private helikoptermaatskappy het op hul Facebookblad aangedui dat hulle op Saterdagoggend bespreek was vir 200 vlugte vanaf die twee lughawens na die perseel by Wilde Als, waar die byeenkoms gehou was. Rob Byrne, wat onder die Twitter-naam @TrafficSA inligting oor verkeerstoestande gee, het vroeg Saterdagoggend reeds aangedui dat verkeer op die paaie na Wilde Als buitengewoon druk is. Op een stadium het ander Twitter-gebruikers berig dat verkeer vir 40 km lank feitlik tot stilstand gebring is.

Die inligting van Buchan-kritici dat daar kwalik 100 000 mense was, kan dus met gerustheid ignoreer word.

Die fel kritiek wat teen Buchan, en die byeenkoms, gelewer was op sosiale media, was verstommend. Pro-Buchan- en anti-Buchan-groepe het mekaar van vroegdag al die stryd aangesê, en teen laatmiddag, toe die byeenkoms verby was, het mense mekaar oor en weer “unfriend”.

Hierdie was nie ’n Mighty Men-konferensie, die vlagskip-Buchan-byeenkoms, nie. Die doel van die byeenkoms was duidelik gestel: bid teen die korrupte leierskap van die land, en bid vir reën. Met dié doelwitte kan daar nie fout gevind word nie, en ek vermoed die kritiek is teen die manier waarop daar te werk gegaan is. Save South Africa en die verskillende politieke partye het ook optogte gereël in protes teen die korrupte leierskap van ons land. Gesamentlik het hul getalle nie naby gekom aan dié van die Buchan-byeenkoms nie. Dis vreemd dat mense wat bereid is om aan optogte deel te neem om presies dieselfde oogmerk te bereik as Buchan, hom kritiseer vir die wyse waarop hy werk. Dis goed en wel om te sê gebede gaan nie ’n verskil maak nie, maar het mense regtig geglo die optogte gaan ’n verskil maak? Régtig?

Maar waarteen is die kritiek?

Buchan vra geen fooie vir die byeenkoms nie. Hy maak dus nie ’n sent geld uit die feit dat meer as ’n miljoen mense sy byeenkoms bygewoon het nie. Toegang was gratis. Parkering was gratis. Geen kollekte was opgeneem nie. Die kritiek dat dit net ’n geldmaakskema is, hou dus nie steek nie.

Sy teologie is beslis nie onproblematies nie. Hy preek tradisionele familiewaardes: geen seks voor die huwelik nie; die man as hoof van die huis; ’n huwelik is tussen man en vrou. Of soos sy kritici dit sal stel: hy kom chauvinisties en homofobies voor. Sy boodskap is egter niks anders as elke ander geloof (Christelik, Moslem, Hindu, Joods ens) nie. Ek weet byvoorbeeld net van twee kerke in Suid-Afrika wat gayhuwelike erken, en hul gesamentlike ledetal is waarskynlik onder 1 000. Selfs die Anglikaanse kerk, wat uitgesonder word as ’n progressiewe kerk, weier om gayverhoudinge en gayhuwelike te erken. En terwyl hulle vroulike predikante inseën in Suid-Afrika, en selfs al ’n vroulike biskop het, is daar ander wêrelddele (soos England) waar vroue nog nie ten volle aanvaar word op die kansel nie.

Die Zion Christian Church preek presies dieselfde, met ook jaarlikse byeenkomste waar gemeentelede in hul duisende opdaag, maar geen woord van kritiek word teen hulle gevel nie. Hoekom nie? Gaan dit dan regtig oor die boodskap wat afsku verwek, of is dit die boodskapper wat geteiken word?

Pastoor Tim Omotoso, ’n Nigeriese pastoor met verskeie gemeentes in Suid-Afrika en in Brittanje, Frankryk en Israel, asook ’n gewilde televisiebediening, preek dieselfde. Hy het egter selfs verder gegaan en verskeie van sy vroulike gemeentelede seksueel misbruik, en staan nou tereg op vele aanklagte van mensehandel in Port Elizabeth. Ek het nog nie gesien dat enige van die Buchan-kritici hulle hierteen uitspreek nie.

Buchan predik nie geweld nie. Hy preek aanvaarding en liefde. Hy preek dat mense hulle lewens moet verander. Hy preek beslis nie net vir wit Afrikaanse mans nie. Die meeste van sy kritici, vermoed ek, het nog nooit een van sy byeenkomste bygewoon nie, en praat nuusberigte klakkeloos na.

Ek wou nie dieselfde fout maak nie. Daarom het ek ’n paar jaar gelede ’n Mighty Men-konferensie op Nuweland bygewoon. Ek is nie wit of ’n man nie, en tog het ek nie onveilig gevoel of gevoel dat wat gepreek word, my benadeel nie. Die gehoor was beslis nie net wit mans nie, alhoewel daar meer mans was as by enige ander byeenkoms wat ek al bygewoon het.

Ek het al genoeg godsdienstige byeenkomste bygewoon in my lewe om te weet dat my BS-meter fyn gekalibreer is. Buchan gló wat hy preek – hy is nie besig om mense vir sy eie siniese doeleindes uit te buit nie. Hy het al op meerdere geleenthede die verhoog gedeel met vroulike predikers, skynbaar sonder dat hy enige probleem daarmee ervaar. Preek hy dat mans hulle vroue moet slaan, soos wat beweer word? Nie in die byeenkoms wat ek bygewoon het nie.

Ek stem nie saam met sy stelling dat Suid-Afrika ’n christelike regering moet kry nie. Ons het al een gehad, en ons betaal nou nog die prys van die apartheidsvrug wat dit opgelewer het.

Ek het nie Bloemfontein toe gegaan nie. Dit verstom my egter dat mense kan dink dis wonderlik dat ’n miljoen mense ’n Justin Bieber-konsert bywoon, maar dit afstootlik vind wanneer iemand iets positiefs probeer doen met dieselfde getal mense.

Beteken dit ek eet als wat hy preek vir soetkoek op? Natuurlik nie.

Suid-Afrika het bepaald nodig om gered te word. Derduisende mense het ’n paar weke gelede optogte gehou daarvoor. Buchan se byeenkoms bied mense hoop. Ons het hoop nodig. Ons het mense nodig wat bereid is om op positiewe manier ’n verskil te maak.

Juis daarom is ek bereid om Buchan ’n kans te gee. Nie blindelings, klakkeloos en onbevraagtekenend nie, maar hoopvol.

En dié wat hom kritiseer, maar stilbly oor Omotoso en ander predikers wat hul gemeentes uitbuit, moet hulself afvra: Hoekom die een kritiseer maar nie die ander nie?

Of is dit nog steeds ’n geval dat swart lewens maar uitgebuit kan word, maar die oomblik dat daar die geringste aanduiding is dat wit mense aan uitbuiting blootgestel word, moet die Facebook-krygers uitspring?

Gaan dit regtig om die boodskap, of gaan dit om die boodskapper? Is dit nie tyd dat ons met onsself begin eerlik is nie?

The post Is dit tyd? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>