Heindrich Wyngaard gesels met Naomi Meyer oor die boekprogram by Suidoosterfees 2017
Heindrich, jy organiseer die boekprogram by die Suidoosterfees, is ek reg? Vertel my asseblief van die boeke waaroor mense by hierdie fees gaan praat?
Ons begin met ’n boek wat (positief) opslae maak, naamlik Ons kom van vêr met byna 40 bydraes oor bruin mense se rol in die ontwikkeling van Afrikaans. Dit is, uiteindelik, nie net ’n boek oor taal nie, maar ook oor bruin geskiedenis en maatskaplike kwessies en legendariese figure uit dié gemeenskap. In dieselfde sessie, word Ena Jansen se boek Soos familie oor huiswerkers (of huishulpe of bediendes) bespreek, wat ook op ’n manier aansluit by die temas in Ons kom van vêr: "huiswerkers" of bediendes is immers geen onbekende verskynsel in of vir bruin (óf wit, uiteraard) huishoudings nie. In die Saterdag se boekegleuf kom Bill Nasson se History matters en Max du Preez se Of renegades, rebels and rabble-rousers aan die beurt – al twee boeke handel oor historiese, oftewel legendariese, figure in die Kaapse en Suid-Afrikaanse geskiedenis. En dan, op die Sondag, kom die werk van wyle Patrick (Pat) Petersen aan bod, sowel as dié van ons wat sedert ons met hom in aanraking gekom het, sélf boeke gepubliseer het: onder andere Valda Jansen, Kirby van der Merwe, Diana Ferrus, Elias P Nel, Willem en Edwina Fransman, en ek self. Die verbintenis tussen die groep is ’n monument aan die post-1995 Tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium op Paternoster en aan Pat, wat daarna die eerste voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging geword het.
Daar verskyn baie boeke elke jaar. Hoe het jy besluit watter boeke om op vanjaar se program te laat bespreek?
Die tema van die 2017-fees is "legendes", dus het ek besluit om die klem te plaas op legendes uit boeke wat onlangs verskyn het en wat aanklank behoort te vind by jou tipiese Kaaps-Afrikaanse gehoor. Oorhoofs is dit ook boeke wat ek reken die belangstelling sou geprik het van die fees se stigtersvoorsitter, Jakes Gerwel, wat self diep spore op die pad van swart – en hoofstroom – (Suid-) Afrikaanse letterkunde getrap het.
“Lees” rym met “fees”. Maar watter soort gesprekke kan mens verwag as jy na die boekprogram gaan luister? Gaan die mense baklei, gaan hulle lag? Gaan dit hulle lus maak om weg te gaan en die boeke te lees?
Indien die gesprekke tot ’n bakleiery lei, sal dit nou nie eintlik ’n lagsaak wees nie. Maar ’n mens hoop dat mense eerstens sal opdaag om na die gesprekke te luister – en dan saam te praat, saam te sorg vir lekker gesprekvoering, én, ongetwyfeld, aangesien dit ’n Kaapse byeenkoms is: lekker lag. Die ideaal is dat mense die boeke waaroor gepraat word, sal kóóp en aanhou bespreek – en ook belangrik, die skrywers sal nooi vir optredes om hul werk wyer bekend te stel. Dit is wat nodig is om te verseker dat die letterkunde sal bly lééf.
Heindrich Wyngaard is ’n aanbieder van Kommentaar en Monitor op RSG. Sy nuutste boek, wat handel oor die eerste bruin (of swart) Springbokrugbyspeler, Errol Tobias, sal ook by die fees beskikbaar wees. Dit heet Bursting through the half-gap. Hier is ’n onderhoud en lesersindrukke van Tobias se outobiografie.
The post Suidoosterfees 2017: Onderhoud oor boekprogram appeared first on LitNet.