Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou, Suid-Afrika.
Ons almal sing ons landslied met vyf van ons 11 amptelike tale. Op TV, by vieringbyeenkomste, sien ons ook die lied in gebaretaal in ’n hoekie. Ons sing party verse luidkeels, ander mompelend, en soms bewe ons lippe betekenisloos.
Maar terwyl ons reënboognasie na lewe en geborgenheid strewe, boelie, steel, roof, lieg, bedrieg, kaap, ontvoer, molesteer, verkrag en moor ons.
Ons verwaarloos en mishandel ons kinders, ons bejaardes en ons diere. Ons besoedel ons omgewing, plunder ons natuurlike hulpbronne en vernietig die natuur. Ons pleeg misdade teenoor ander se identiteit, se geloof en godsdiens, geslag en seksuele voorkeure. Ons spreek haat teenoor ons medemens en vreemdes, maak opruiende uitsprake wat die teelaarde vir geweld kan vorm, en verkondig rassisme en xenofobie op die internet en sosiale media.
Ons wis mekaar met kortsigtige domastrantheid en hebsug uit.
Dit maak mense siek: figuurlik én letterlik!
Kommerfeite
Verlede jaar is 18 673 moorde in Suid-Afrika gepleeg: 51 elke dag. Altesaam was daar ’n kommerwekkende 2,1 miljoen misdade, en dis net dié wat wel aangemeld is. Kontakmisdaad neem toe. Dit sluit moord, seksuele oortredings soos verkragting en aanranding in en is ook die misdade wat deur die meeste Suid-Afrikaners gevrees word.
“Daar is ’n duidelike verskil te bemerk in die wyse waarop die bekendmaking in vergelyking met vorige jare benader is. Die syfers is duidelik en deursigtig, wat die betroubaarheid van die data weerspieël,” meen Lorraine Claasen, misdaadanalis van AfriForum Navorsing Instituut (ANI).
“Die moordsyfer van 18 673, wat ’n toename van 4,9% teenoor die vorige finansiële jaar behels, noodsaak dat die SAPD in hulle Back to Basics-benadering op kontakmisdade teen individue moet fokus. Alhoewel die gebruik en misbruik van drank en dwelms volgens die SAPD baie van die skuld vir die toename moet dra, is daar ook na die verantwoordelikheid, betroubaarheid en professionele optrede van SAPD-lede verwys en is geëis dat hulle in die komende jaar vir ’n beduidende afname in alle misdade moet sorg,” sê sy.
Die teelaarde
Onderweg en tussendeur predik die land se magsbehepte president Jacob Zuma teenstrydige narratiewe, skommel sy kabinet in nagtelike ure, dank die finansminister Pravin Gordhan en sy adjunk Mcebisi Jonas af en daarmee saam daal die ekonomie tot rommelstatus. Zuma en sy hand-op-die-blaas-kader, die nuwe finansminister Malusi Gigaba, wek oral onsekerheid met retoriek en gemor oor radikale politieke, ekonomiese en sosiale transformasie, terwyl Julius Malema en sy ekonomiese vryheidsvegters revolusionêre uitsprake maak, onverdraagsaamheid aanmoedig en angs saai.
Boonop lyk dit of die amptelike oposisie en die DA-leier, Mmusi Maimane, bloot nie die nodige robuuste politiek bedryf wat die land van ondergang kan red nie. Inteendeel, die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, se twiettong kraak rigting. Meteens is die anti-apartheid-aktivis Barbara Hogan se stem ’n oase in die woestyn. As die adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, ook tog net magtiger kon luister, praat en doen!
Mosies van wantroue teen die President is egter futiel en drukgroepe se oproepe om mobilisering teen Zuma is tog maar net ’n proes in ’n orkaan.
Maar ons vier nog elke jaar Nelson Mandela se verjaardag en misbruik dié portretleier vir politieke gewin. Maar Madiba is dood; die struggleveteraan Ahmed Kathrada ook – en saam met hulle ook verdraagsaamheid en welwillendheid.
Ons is paranoïes en lewe waaksaam, agterdogtig en verbitter in vrees agter versperrings, tralies, heinings en mure. Ons beskerm ons geliefdes en besittings met sekerheidstoestelle, motoropspoortoerusting en eiendoms-, ongeluk- en lewensversekering.
Dit tap ons beursies, ons emosies, ons gesondheid en ons geduld.
Bekommernis roof energie!
Berusting
Die situasie word vererger deur ’n strafregstelsel wat op alle vlakke oorlaai is. Die howe is ongelooflik besig, die tronke is vol en sekere afdelings, soos forensiese dienste, het ’n agterstand wat ingehaal moet word.
Die tyd vanaf ’n arrestasie tot skuldigbevinding moet verkort word. Die feit is dat baie misdadigers wegkom sonder om gevang te word, wat natuurlik aan kriminele die selfvertroue gee om voort te gaan met hul dade sonder om te vrees dat hulle gevang sal word. Trouens, ons eie Staatspresident kom nou al hoeveel jaar met 783 vermeende kriminele aanklagte teen hom weg.
Daar kom bloot nie bevredigende afsluiting en berusting (closure) nie!
Waar ’n rokie trek ...
Tog, by sekere geleenthede smul álmal onbelemmer en sorgeloos aan boerewors en koesisters, krummelpap en chakalaka, bunny chows en samoesas. Ons dans die seties, vastrap, die wals en ons trap die riel. Ons swaai gat, hip-hop, kwaito en toi-toi. En kán ons ons erfenis vier en braai terwyl die vure knetter en die vryheidsvlamme ons drome ver(r)as ...
(Gelukkig mag dié wat wil, binnekort wettig dagga vir persoonlike verbruik, kweek en besit – én ’n zol in die privaatheid van hul huis rook! Maar wees gewaarsku: daar is ’n paar wette wat eers aangepas moet word voordat jy jou dampies in die lug laat walm ...)
Hier, soos die voggies vloei, kry nie net die vleis kruie nie – én in die moedertaal van jou keuse dreunkreun ons slagspreuke en noem ons mekaar allerhande name. Onopgevoede parlementariërs leer ons mos hoe!
Om ons braaivleisvure word wyd en uiteenlopend bespiegel en aannames gemaak. Osbraaiers by Vryheidspark in Soweto eer die vryheidsvegter/terroris Oliver Tambo en glo dalk dat Jan van Riebeeck, kolonialisasie, slawerny, Westerse gebruike, kapitalisme, patriotiese Christelike nasionalisme, die wit Afrikaner, rassisme en die gogel-ideologieë van afsonderlike ontwikkeling en apartheid vir álles te blameer is wat in Suid-Afrika gebeur het. Én nou nóg gebeur! Vir diegene is daar dalk hoop in die regering se snelveranderende Operasie Phakisa (wat “vinnig/gou” beteken).
Skaapkopbraaiers op Vredendal blameer dalk demokrasie, regstellende aksie, korrupsie, kommunisme, sosialisme, die Guptas se sleutel tot die tesourie, gerugte van ingrypende landbouhervorming en grondonteiening sonder vergoeding – én die ANC se Vryheidsmanifes. En dalk vind hulle ’n sprankel hoop in die handhawing van artikel 25 van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat slegs met ’n tweederdes-meerderheid verander kan word ... Én, veral, ingryping van Bo.
Ons plase, skole en universiteitkampusse brand. Gesinne moor mekaar uit. Ons boere word op hul plase aangerand en vermoor. Bloed vloei en ons mense sterf.
Maar veral wit mense moet swyg, want met ons hart op ons mou word ons as onverdraagsame rassiste uitgekryt.
Hoekom?
“Ek vind dit moeilik om Suid-Afrikaners te isoleer in die internasionale miasma van misdaad en geweld. Maar ons was nog altyd ’n koppige klomp, en hierdie koppigheid het, as artefak, soms tot geweld gelei – en steeds. Ek is oortuig daarvan dat ons mense inherent nié gewelddadig is nie, maar wanneer mense grond begeer en ander mense van die grond geamputeer word, mag dit lei tot onverklaarbare uitbarstings. Ons is, en bly, mense van die grond,” meen Dave Pepler, die omgewingskundige, sosiale kommentator en aanbieder van Groen op kykNET, óók ’n slagoffer van misdaad. Hy en drie van sy studente is onlangs op ’n Saterdagoggend op ’n gewilde staproete buite Stellenbosch aangeval – in die natuur, waar ons veronderstel is om vry en vrolik te voel!
En geld – té min of té veel – is ons geïndoktrineer, is die oorsaak van alle euwels. “Onwaar,” meen Dawie Roodt, die finansiële kommentator en ontleder en hoofekonoom by die Efficient-groep. “Armoede en werkloosheid word dikwels die skuld vir misdaad en geweld gegee, maar daar is talle voorbeelde van arm lande in die wêreld waar misdaad nie dieselfde soort krisis-afmetings aanneem as in Suid-Afrika nie. Dit is eerder waar dat Staatskaping, korrupsie, misdaad en geweld tot armoede en werkloosheid lei. Produktiewe mense, wat hul eiendomsreg teen hoë kostes moet beveilig en beskerm, verarm deur misdaad,” meen hy. “Dit gaan om jou privaat eiendomsreg. Dit is jou lewe, jou gedagtes, jou arbeid, jou besittings. Jy mag daarmee doen wat jy wil, aanbied aan wie jy wil en jy het die reg om dit te beskerm. Daar is bloot te veel wette wat die individu se regte wegvat. Hoe meer regulasies daar is, hoe minder is dit die individu se verantwoordelikheid en aanspreeklikheid om self ’n oordeel te vel.”
Roodt, wat self ’n slagoffer van gewapende roof en erg verniel was, meen dit is onmoontlik om objektief hieroor te praat. “Ons is álmal subjektief. Maar ons is soms ook té polities korrek. Wees jouself by jou naaste mense – jou familie, gesin en vriende – sónder om oor die gevolge te dink van wat jy sê. Ons is emosionele wesens en ons kry emosionele uitbarstings. Ons moet geliefdes hê wat daarna kan luister. Kry ’n uitlaatklep; dit is nodig vir genesing.”
Christiaan Bezuidenhout van die Universiteit van Pretoria se Departement Maatskaplike Werk en Kriminologie en redakteur van die boek A Southern African perspective on fundamental criminology, meen: “Misdaad en geweld is wangedrag en kom by alle mense, arm en ryk en ongeag van kleur, taal, geslag, geloof of kultuur voor.”
Die werklikheid
Die werklikheid is dat die meerderheid Suid-Afrikaners vredeliewende mense is wat nie misdaad pleeg nie. “Alhoewel ’n minderheid, is daar ongelukkig ’n groter as normale deel van die samelewing wat geen respek vir menselewens en ander se eiendom het nie,” meen Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, Solidariteit se burgerregte-organisasie. Hy sê die ANC se beleid om tydens die struggle die land onregeerbaar te probeer maak en ’n gewelddadige revolusie te bevorder, het ’n kultuur van geweld help vestig wat ongelukkig nie maklik ongedaan gemaak kon word met die oorgang na die nuwe bedeling nie.
Bezuidenhout eggo Kriel se waarneming: ٴ“Die toename in misdade en geweld is deels aan sosiale euwels en ’n gewelddadige samelewing, gebrekkige frustrasie-toleransie, swak ekonomiese omstandighede, beperkte geleenthede, voortdurende druk om te presteer en te verdien (die middelklasmeetsnoer van sukses), dwelm- en alkoholmisbruik en verslawing toe te skryf. Daaruit het ’n aanvaarbare subkultuur van geweld ontwikkel.”
Ons durf nie die nalatenskap van die Slag van Bloedrivier, die Sharpeville-slagting, die Soweto-opstande, die grensoorloë en die voortslepende geweld op die Kaapse Vlakte, in swart en bruin informele nedersettings en armblanke-agterplase landwyd ignoreer nie. Nie net een kultuur is en word daardeur beïnvloed nie; ’n ganse nasie is kreupel. Die wanbalanse van die verlede en die regstelling van die hede kweek woede, haat en ’n bitterheid wat nie in ’n demokrasie van 23 jaar genees kan word nie. Boonop is daar altyd die doemprofete wat meer vertwyfeling saai.
Die statistiek
Dan word dit vergrype wat in statistiek gogel. Statistiek het egter nie ’n hartklop nie en is so gewetenloos soos die misdadigers en so leweloos soos die slagoffers.
Boonop word ons deur sekere media met valshede – sogenaamde alternatiewe waarhede, subjektiewe feite en fopnuus – gebombardeer, ter wille van selfsugtige voordeel.
In die ou dae sou party koerantredakteurs berispe het: “Moenie dat die feite ’n goeie storie bederf nie!”
Die feite lyk soms anders. Daardie feite skuil in amptelike statistiek. Dit is egter dikwels net ’n halwe waarheid, want veral die SAPD het ’n vreemde manier om misdade te meet. Selfs onafhanklike navorsing is dikwels ontoereikend en weersprekend, omdat amptelike syfers soms geplooi word om eie agendas en ideologieë te stu.
Ten spyte van ’n gebrek aan omvangryke, betroubare statistiek wys die syfers wat wel beskikbaar is dat ons ’n misdaadkrisis beleef. Sulke gruweldade is vernederend, minagtend en skendend, en maak inbreuk op mense se privaatheid en reg op lewe. Feit is: een lewe geneem, is een lewe té veel.
Suid-Afrika se Grondwet en ons regstelsel word as van die beste ter wêreld beskou, maar helaas faal ons in die toepassing daarvan.
Party mense voel die SAPD se syfers verswyg soms die nare werklikhede wat mense op voetsoolvlak ervaar. Daarteenoor meen sommige mediamense burgerregte-minderhede se statistiek is emosioneel en voed ’n eie agenda en blaas onnodige vrees en onverdraagsaamheid tussen Suid-Afrikaners aan.
“Ek weet nie of die SAPD waarhede doelbewus verswyg nie. Dit gaan waarskynlik meer daaroor hoe hul die data in hul voorleggings verpak. Dus kan die ‘vinnige feite’ wat op sosiale media en in geskrewemediaplatforms uiteindelik uitkom, selektief wees en ’n meer ‘rooskleurige’ prentjie skep as wat werklik die geval is. ’n Groot probleem ontstaan wanneer die publiek vertroue in die regering, die polisie en hul medemens verloor as misdade wat hulle aanmeld nie opgelos word nie. Dan hou hulle eenvoudig op om dit aan te meld. ’n Wanindruk van die werklike omvang van die misdaadprobleem word dan gevorm,” meen Kallie Kriel.
Onteer en verneder
Ek kén daardie ervaring en was self al ses keer die slagoffer van poging tot én gewapende roof – drie daarvan op Riversdal, die skilderagtige dorpie aan die voet van die berg Sleeping Beauty in die Wes-Kaap. Die reaksietyd is lank; soms is daar geen reaksie nie. Om die voorval aangemeld te kry, is ’n nagmerrie. Jy word soos die misdadiger behandel, nie as die slagoffer nie! In een só ’n voorval is ek laatnag op die koue staalvloer agter in ’n vangwa by my huis afgelaai – sónder my besittings! Jy voel vuil, onteer, verneder!
Die trauma om deur aanvallers met messe omsingel te word, verdwyn nie uit jou geheue nie!
Dalk sal die nuwe minster van polisie, Fikile Mbalula, ’n voormalige minister van sport, ’n bietjie fiksheid, dissipline, ywer en medemenslikheid in die mag kan bewerkstellig …
En ons sing:
Sounds the call to come together,
And united we shall stand,
Let us live and strive for freedom,
In South Africa, our land.
Wanpersepsies
Helaas, ons is ’n verdeelde nasie waarin ’n subkultuur van ’n amper aanvaarbare misdadigheid en gewelddadigheid heers, want die wanopvatting is: met geweld kan jy konflik besleg en kry wat jy meen joune behoort te wees.
Ons moet waak teen wanpersepsies soos dat ras géén rol speel in aanvalle op wittes nie. Of dat ras áltyd ’n rol in geweld teen wittes speel. Albei is veralgemenings en onverantwoordelik. Elke saak moet op meriete beoordeel word. Daar is talle voorbeelde van uiterste wreedheid wat deur rassehaat aangevuur word, maar ook ander waar daar geen bewys is dat ras ’n rol gespeel het nie. Die belangrikste is dat politici versigtig moet wees om nie rassehaat aan te hits te midde van die geweldkrisis in die land nie.
Dit is ewe onwaar dat rykes meer deur misdaad geteiken word en dat meer wit mense onder misdaad deurloop, al is dit die algemene persepsie.
En ja, daar is natuurlik baie onbevoegde polisielede, of polisielede wat self by misdaad betrokke is. Maar daar is ook talle polisielede wat hul bes doen om misdaad te midde van moeilike omstandighede te beveg.
Die oplossing
Sielkundiges, sosioloë en kriminoloë is dit almal eens: samelewingsdruk maak mense emosioneel afgestomp, egosentries, arrogant en hardvogtig. In dié kultuur van minagting heers ’n gebrek aan dissipline en, veral, wedersydse respek. Christiaan Bezuidenhout sê prontuit: “Geweld het die gemene deler geword in ’n kultuur van prestasie, maar met ’n gebrek aan geleenthede om te kry wat jy wil hê. Dit lei tot frustrasie. Daar is ’n daadwerklike behoefte aan geestesgesondheid in ons land. ’n Groot groep van ons jong mense word groot sonder ’n morele kompas en leer nooit om te onderskei tussen reg en verkeerd of om meegevoel en empatie te beleef vir ’n ander se verlies of pyn nie.”
Suid-Afrikaners sal van ons gedeelde wrok verlos moet word. Ons sal naasteliefde, dissipline, selfrespek, wedersydse respek en inkerende morele waardes móét aankweek.
Verdraagsaamheid en welwillendheid is nié genoeg nie.
Vrees verblind, verwring en verarm.
Verwerp wrewel en blaam.
En wees paraat!
Here, seën Afrika
Verban oorloë en twis
Here, seën ons nasie
Van Suid-Afrika.
Nkosi sikelel' iAfrika.
Of is ons land reeds té faktap vir ingryping?!
The post Is Suid-Afrika faktap? appeared first on LitNet.