Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Dalk, Soms, Te Veel

$
0
0

Dit mag dalk wees dat die ingeligte en helder denkende mens nie sommer voor die voet en luidkeels stellings teen of in opstand met die meerderheid van die gemeenskap sal inneem nie. Dit mag ook waar wees, dat die appelkar bes omgestoot gelaat moet word en dat te veel pogings om dit te ontspoor of eindelik om te gooi, die uwe aan ’n staat van kwaadwillige aanmerkings mag blootstel.

Met dit gesê en uit die weg, laat my nou toe om ’n gemoedsbekakking te laat weerklink …

Dit wil vir my voel of ek dalk in die verlede al ’n ingelegde eier oor die onderwerp van te veel sport en sportmense ter perse gestort het en indien dit die geval is, en sekere mense daardeur gekwets gelaat is, dan verkondig ek sommer uit die staanspoor my gevoeligheid vir ’n ieder en elk wat deur my siening van die waarheid seergemaak word!

Die draadloos en elke sportliefhebber, nee, rugby-liefhebber, gons en gil oor die suidelike halfrond se bestuursbesluit om blykbaar ten minste twee van die Suid-Afrikaanse spanne aan die SuperRugby-toernooi te laat onttrek. Die arme Vrystaters en Oos-Kapenaars kan eersdaags, ongelukkig eers in 2018, slegs op redelike klubrugby getrakteer word wanneer die televisie-mense in die suide ons kweekhuis vir stutte en goeie senters se oorbodigheid in ’n toernooi sonder vermaakwaarde na die kantlyn toe gaan skop.

Oor die gelapte, geleende konings teen die kus, is daar nie veel te spreek nie.

Soos te verwagte, het elke liefhebber van die spel en self-aangestelde afrigter en spanbestuurder die sosiale blaaie met kommentare, raad en kritiek oor die voorgestelde verandering betrek.  Opvallend egter, was daar min of omtrent geen verwysings na die jongelinge van die spel nie.

Wat gaan van die talle outjies word wat by verskeie rugby-akademies hul toekoms gaan slyp het, in afwagting op die groot geleentheid om dalk eendag streeks- of internasionale rugby te speel?

(Dan praat ons nie eens van die sogenaamde “rugby-skole” wat kontrakte op laerskoolseuntjies se voorstoepe laat aflewer nie …)

Of, wat gaan van die honderde studente en ander voornemendes word wat juis Sportbestuur gaan studeer het sodat hulle ook eendag êrens ’n werkie by ’n rugby-unie kan losskrum?

En, wat gaan van DSTV se kykersgetalle en geprojekteerde winste word wanneer die verontregtes van Brandfort, Bloemfontein, Butterworth en Burgersdorp besluit om na ’n goedkoper kanaal oor te skakel of om selfs die skynbaar ondenkbare te doen:  slegs na SABC se kanale te kyk!

Vele vrae met enkele antwoorde…

Vergun my om die laaste stelling eerste aan te roer. DSTV is baie duidelik nie afhanklik van enige van die dorpies wat die uwe terloops gelys het nie, om meer korrek te wees, die manne met die kanale het soveel huishoudings in hul greep, wat die hele kontinent en nog ’n paar ander deurstrek, dat selfs die verlies van Bloemfontein hulle nie sal pla nie.

Hulle weet tog dat ons kultureelverarmde en plek-plek verlamde gemeenskappe net nie daartoe in staat is om die dekodeerder se kaart uit te trek en op te snipper nie!

Die “groot boetie” weet dat hul rugby-kykersgetalle mag daal, wat die rugby-unies jarelank al van bewus is, maar hulle weet ook dat die maandelikse debietorders klokslag hul koffers sal oorval, desnieteenstaande die feit dat sommige manne eerder in die tuin sal werk as om die Bulle Saterdag na Saterdag te sien verloor!

Tog, doen ons volk niks hieraan nie.

Vanoggend, terwyl ek na die weeklaag van die sport-ontsteldes in die verkeer sit en luister, herinner dit my aan ’n stomende gesprek wat ek al ’n keer of wat met eenders- en andersdenkendes gehad het: hoekom kan ons nie van die televisiestelle in ons huise ontslae raak nie?

Gooi die dekodeerders en goeters op die ashoop en wanneer jy werklik wil fliek kyk, gaan doen dit, of stroom-dit; ons trek tog elke ander denkbare ding ensovoorts van die internet af.

Het ons huishoudings regtig  Gau-TV, EVA-English of selfs M-Net nog nodig? Ek weet ek het nie!

Ja, ek besef terdeë dat my argumente so oud en moontlik in baie geselskappe so dood soos oorlede Dok Craven se hond is, maar terwyl die krete vir ’n summiere steniging opgaan en ander vervrommeldes “sleep hom uit die dorp uit en slaan hom met ‘n leiklip dood! of skroei sy hare met kookwater!” skreeu, slaan ek sommer self die doodskissie aanmekaar …

Elke tjek wat in die poel van die totstandkoming van beroepsport ingegooi is, het daartoe bygedra dat daar regoor ons land, regoor die wye vrye sogenaamd ontwikkelde wêreld, ’n generasie en selfs meer jongmense is wat nooit enige beroepsvaardigheid aangeleer het nie; wat op hul skoolbanke die balans van die lewe misgesit het en net geleer was om te speel.

Dit is inderdaad waar dat hierdie gebrek deur sommige van die sport-opleiers raakgesien en as geleentheid vir opleiding uitgebou is, maar helaas was dit egter net die skep van nog ’n swetterjoel sport-afhanklike beroepe; mense wat se toekoms- en beroepsverwagting streng gesproke in die hande van SANZAR en Rupert Murdoch geplaas gaan word.

Overgesetsynde kan al die bogenoemde aantygings ook teen beroepe in die mynbou en bankwese aangewend word, want selfs ’n eenogige soos ek, weet dat ons mynwerkers skelm moet myn omdat die werk opgedroog het nadat hul base die myne gestroop en dor gelaat het. Dié wat weet vermoed ook dat ons  afgegradeerde banke binnekort minder nuwe personeel-innames gaan doen ... en selfs daarvoor, het ek ook nie al die antwoorde nie!

Dit mag dus blyk dat my gemoedsbekakking steeds bestaan en moontlik selfs nou meer drukking opgebou het, alhoewel ek tog nie so dink nie, want deur aan te hou vrae vra en te soek, word ons al hoe meer bewus van in 'n veranderende wêreld waarin ons leef en word ons tog ook daaraan herinner dat die belangrike dinge nie hoef te verander nie …

Ek en jy hoef nie as gevolg van spreekwoordelike katarakte ’n vae uitkyk op die lewe te hê nie, nie solank as wat die orde van ons prioriteite nie onderhandelbaar word nie.

Soortgelyks, is die voortdurende uitbouing van ons kritiese denke, kommunikasie, volharding, en kreatiwiteit ewe ononderhandelbaar; selfs al sou mens  d s t v  en alles daarin, daarvoor moes prysgee!

 

The post Dalk, Soms, Te Veel appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!