Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal: ’n resensie

$
0
0

Alles het niet kom wôd
Nathan Trantraal

Uitgewer: Van Schaik
ISBN: 9780795707919

Nathan Trantraal se debuutbundel, Chokers en survivors (2013), het ’n oorrompelende effek op die Afrikaanse poësietoneel gehad. Kompromisloos van benadering en vernuftig in uitvoering het dit lesers laat regop sit. Hulle was onder andere geprikkel deur die feit dat die outobiografiese spreker in die bundel nie verleë was oor hulle aandag en ingestel op hulle goedkeuring nie. Indien die leser nie verstaan waarna die bundeltitel verwys nie en nie kan byhou met die storie nie, is dié bundel nie vir hulle nie, het die voorwoord gesê. Lesers was ook gefassineer deur die gebruik van Kaaps as gesofistikeerde poëtiese instrument en meegesleur deur die manier waarop die bundel ’n verhaal bou rondom drie fases in die spreker se lewe, geplaas in die ruimtes van Bishop Lavis en Mitchell’s Plain, elk geteken in kriptiese maar betekenisvolle besonderhede. Dit was ook ’n bundel waarin die spreker hom in geen onduidelike terme nie verset het teen die Afrikaanse digterlike tradisie (veral soos verteenwoordig deur Groot verseboek), byna asof hy geantisipeer het dat dié tradisie hom nie met ope arms sou verwelkom nie. Dit was ’n stem wat gesê het: ek is terdeë bewus van die fondamente waarop hierdie literêre wêreld gebou is en ek verkies om daarbuite-om my eie ding te doen. Dit was dus in alle opsigte ’n bundel wat hoë verwagtinge geskep het vir sy opvolger.

Trantraal se tweede bundel, Alles het niet kom wôd, voldoen aan hierdie verwagtinge in dié opsig dat dit voortbou op sy voorganger, maar ook verras deur die nuwe tematiese wending wat dit neem. Die leser word voorberei op die bundel se verskuiwing na ’n fokus op die religieuse lewe deur die buiteblad wat ontwerp is deur die Trantraal-broers en Mike Cruywagen. Die omslag is gebaseer op Bernini se standbeeld wat die heilige Teresa van Avila uitbeeld in ’n ekstatiese beswyming voor ’n engel met ’n spies in sy hand. Teresa het in haar dagboek geskryf oor die verruklike pyn en ekstase veroorsaak deur die spies van die engel wat haar met die teenwoordigheid en liefde van God gevul het.

Die motto’s voor in die bundel bou voort op die suggesties wat deur die buiteblad gelaat word, naamlik dié van religieuse verlange en die hoop op ’n spirituele gebeurtenis wat jou lewe sal transformeer. Die een motto is van Tove Jansson, die skrywer van die Moomin-verhale, en verwys daarna dat die tyd reg is vir ’n “new tune, one part expectation, two parts spring sadness”. Die tweede motto is van Von Kleist en verwys daarna dat die mens onvermoeid soek om die pad terug na die paradys te vind ten spyte van die feit dat die hekke daarvan gesluit is. Die motto’s opper dus ook die tema van die begeerte om terug te keer na die paradyslike saamwees met God, ook van die verwagting wat daarmee gepaard gaan en die vermoede dat ’n mens bedroë daarvan mag afkom.

Religieuse gedigte is volop in Afrikaans, maar selde het dit al so ’n skrynende teenstelling tussen verwagting en ontnugtering geteken. Die titel suggereer dit alreeds: die woord “niet” in die titel kan beide op die idee van nuut-word en niks-word slaan. Die impak van dié teenstelling word verhoog deur die feit dat die stem wat hier praat, nie dramatiseer, deklameer of uitwaarts projekteer soos wat dikwels in religieuse gedigte die geval is nie. Dit is ’n onversierde stem wat direk praat en sonder groot omhaal uiting gee aan die verlange na vervulling, die immer-teenwoordige moontlikheid van ontnugtering en die vrae rondom skuld, skaamte en vergifnis wat deel is van die religieuse lewe. Dit is ook opvallend dat talle van hierdie gedigte ’n verhaal vertel waarin die beelde en konkrete besonderhede bepaalde kontekste, emosionele inhoude en uitkringende betekenisse suggereer eerder as uitspel. ’n Mens sou ook kon beweer dat die bundel in sy geheel ’n verhalende lyn volg deurdat dit begin met gedigte wat handel oor die spreker as jong man en mettertyd vorder na gedigte wat sy ervarings as pa en kunstenaar uitbeeld.

Die bundel se titelgedig, “Alles het niet kom wôd”, lui die tema van hoop wat uitloop op ontnugtering in deurdat dit vertel van die dag waarop die spreker saam met ander in die see gedoop is. Hy kyk met ’n mengsel van ironiese afstand en simpatie terug na die groepie op die strand waarvan hy deel was. In hulle wit klere het hulle waarskynlik gelyk “soese boy band innie nineties” en die suster wat inmekaar gesak het op die sand “soese aneasthetized olifant/ inne wildlife documentary”, dink hy. Terugskouend is dit vir hom duidelik dat die sang van die gelowiges wat gesê het dat alles met die doop “nuut kom word” nie sy werklikheid weerspieël het nie:

[…] ek is sieke
ek het met minner dywels deerie wate gegan
as wat ek mee ytgekom et.

Dieselfde geld vir die gedig “Moenie vi hulle sê ôs gan ie, annes wil hulle saamkom”, waarin daar weer eens vanuit ’n wrang-ironiese agternaperspektief vertel word hoe die spreker deel was van ’n groepie mense wat gaan vas en bid het in die berge. Die eerste gedeelte van die gedig vertel die verhaal van ’n positiewe ervaring wat die deelnemers met ligte harte, skoon gedagtes en ’n gevoel van kameraderie gelaat het. Die tweede deel van gedig toon egter die ontnugtering wat volg op hulle terugkeer na die realiteit, soos wat die volgende reëls suggereer: “Die comedown was epic en brutal/ soese boek innie ou Testament”. Weer eens dink hy met ’n mate van deernis terug aan die teleurstelling wat gevolg het omdat hulle die “laaste mense [was] om yt te vinne/ Jesus het lankal gekom/ en hy is wee hie weg, sône ôs”.

Die spanning tussen hoop en ontnugtering kom ook ter sprake in “Weepers”, ’n gedig waarin die spreker eers vertel van ’n ouer man wat hom geïnspireer het tot die geloof en dan wens dat sy pa (oor wie hy elders baie krities skryf) daar was om hom met sy sinisme te waarsku teen die ontnugtering wat onvermydelik is.

Saam met die begeerte om religieus te leef, kom ook die verskynsels van skuld, skaamte en vergifnis wat in sommige gedigte ondersoek word. In “Silvia Saint” vertel die spreker van die pornografiese foto wat hy opgetel en diep weggesteek het in sy “subconscious/ soese bad childhood/ soes Calvinism”. Uiteindelik swig hy egter voor die verleiding van die foto en word hy beide gekonfronteer met die skaamte (“Wan assie shame kom/ dan kom it inne flood”) en die gevoel van verlies nadat hy uit skuldgevoel die foto van Silvia Saint in die toilet afgespoel het.

In “Swat embroidery” bely hy sy spyt omdat hy sy meisie Bethe ontneem het van die hoop dat sy eendag verenig sal word met haar ma wat dood is – hier gebruik Trantraal die metafoor van ou gordyne wat jy los in ’n huis waaruit jy wegtrek om sy skuldgevoel oor die einde van hulle verhouding uit te beeld en van swart borduurwerk op swart gordyne om die vervaging van herinneringe aan te dui. Die breuk met Bethe word reeds in ’n vroeër gedig, wat haar naam dra, voorspel: hierin blyk dit dat die spreker homself eintlik reeds afgesluit het van Bethe in ’n eie verbeeldingswêreld gevoed deur boeke:

[…] sy gan ’n reaction expect
Except oppie oomblik
het ek niks reactions
en het ek niks thoughts nie
wan ek issie daa nie
Ek het myself êrens toegevou
tussen Seven Nights en Being There.

In gedigte soos “s.o.b.”, “Fiction en estrangement” en “Die man wat ie kinnes vang” kom die idee van vergifnis veral op die politieke vlak ter sprake. Die gedig “s.o.b.” is ’n oënskynlik onskuldige verhaaltjie waarin dit wat slawe in Amerika met hulle vrystelling gekry het (“40 acres enne mule”) vergelyk word met dit wat die wit seuntjie Christopher Robin, uit AA Milne se kinderboek Winnie the Pooh, byna vanselfsprekend kry vanweë sy bevoorregting (“100 acres” en ’n kinderboek vol fantasiefigure deur sy pa geskryf). Die spreker gebruik dan op ironiese wyse die kinderlike stem van Christopher Robin om sy punt te maak teenoor die wit man of “boer” wat sy mense uitgebuit het: “En dan vestaan jy nie/ hoekom ôs jou haatie// Silly old boer” (’n verwysing na Christopher Robin wat gereeld in die verhale vir Winnie the Pooh ’n “silly old bear” noem).

Die gedig “Fiction en estrangement” verwys daarna dat die Christelike geloof van mense vra dat hulle mekaar vergewe, ook in Suid-Afrika met sy geskiedenis van onderdrukking. Die slot van die gedig suggereer egter dat dit nie ’n oplossing is vir onderdruktes en armes nie omdat bitterheid oor die verlede nie so maklik weggaan nie, soos aangedui deur die verwysing na die “gif” in “vergifnis”:

          Ammel het hystoe gegaan
          Hulle na hulle hyse langsie sea
          ôs na ôs shacks
          langs poeletjies stagnant water
          waa die gif in vergifnis
          ôs ammel
          siek gemaak het.

Ook op hierdie vlak is daar dus sprake van ontnugtering met die Christelike boodskap wat verligting beloof maar dit nie bring nie.

Die onverwerkte verlede lei ook tot ’n gedig soos “Die man wat ie kinnes vang” waarin die spreker – net soos wat sy ouma met hom gedoen het – sy dogtertjie waarsku teen die Iceman, die Snakeman of die Snowman wat haar gaan vang. Hierdie speelse waarskuwing maak egter aan die einde van die gedig plek vir ’n waarskuwing teen die man vir wie jy regtig moet bang wees, naamlik die “white man” wat jou siel sal steel en vir die duiwel sal offer “as nogge down payment/ vi sy hemel op aarde”.

Dié waarskuwing kan ook gelees word naas die teer gedig vir die kind wat beskerm moet word teen die duiwel en jaloerse geeste in “Jaloesiegieste”:

Ôs moenie te
veel praat
van jou nie
my lam
die dywel lyste
in en
hulle sê die
dywel’s jaloes
Dai is hoekom
as ôs
byte gan issit
altyd met
’n kombêsie oor
jou kop
om te keer
virrie wind
en om jou
onne sy oë
yt te hou […]

Die kwessie van geheue en lank-gekoesterde kwetsings kom ook aan bod in ’n gedig soos “Ornaments” waarin die spreker die beeld gebruik van “’n carrier bag memories/ meestal ou insults en injuries” wat hy een vir een uitpak “soes ornaments op wit doilies”. Die reikwydte van die beeld van ornamente vir pynlike herinneringe word betekenisvol uitgebrei wanneer die spreker sê dat die ornamente “oppe rak staan innie klein voorhys/ waa jy verskrie wôd/ as jy te veel beweeg/ of an ienagge iets raak”. Die besonderhede wat hier gegee word, teken in enkele kwashale die konteks van armoedige omstandighede, komplekse familieverhoudinge en ingeperkte moontlikhede.

’n Hele aantal gedigte in die bundel bou voort op dié in Chokers en survivors deurdat dit ’n omgewing teken waarin mense daagliks te doen het met die ontberinge wat armoede bring. In “Galaxy’s 21st birthday” word die bravade van ’n partytjie in ’n klub (“All the single ladies in the house tonight/ make some fuckin’ noise!”) geleidelik vervang met verwysings na die realiteite waarheen die partytjiegangers terugkeer nadat die jolyt verby is: ’n leë broodblik, ’n stukkende kooi, ’n hoodie met ’n brandmerk op die mou en ’n knorrige broer wat nagskof werk en kos soek wanneer hy wakker word. Die nagklubrefrein word dus mettertyd gelaai met hewige ironie, soos wat die slotreël bewys: “The next fuckin’ jam is for you tonight!”

’n Ander gedig in hierdie trant is die speelse, maar tog ook wrang “Ode to an electric unit” waarin daar oor ’n voorafbetaalde elektrisiteitsmeter geskryf word asof dit ’n begeerlike vrou is wat die spreker in die steek gelaat het:

Ek spend my laaste geld op haa
en as sy weg is dan sien ek haa gesig orals:
inie sombre visage vannie TV
innie koue, rône plate vannie stove.

’n Heel besonderse variant van hierdie soort gedig is “Cash for gold”, waarin die spreker sy literêre toekennings en die respek van kritici opweeg teen die feit dat hy sommige dae nie genoeg geld het om kos te koop nie. Hierdie gedig is ’n voortsetting van dié gedigte in Chokers en survivors waarin die literêre sisteem aan die kaak gestel word en daar getoon word hoedat dit ’n wêreld in stand hou wat weinig met realiteite soos armoede en die geveg om oorlewing te doen het.

Die bundel is ook bevolk met die soort karakters wat in Chokers en survivors voorgekom het: Boy, vir wie ’n mens nie kan ompraat met die Bybel nie (“Saggias”); die vyfjarige Ban, wat hom soos ’n guerrilla moet gedra omdat sy eie mense teen hom oorlog maak (“Taliban”); Ezra wat bang is om vir sy ma te sê dat hy die broodgeld verloor het (“Ezra”); broe Williams wat in die skool vir die kinders kerk hou (“Pentecostal Righteousness”); Rebekeh wat vat én gee met ’n toe hand (“Rebekah”); Jeb wat die kinders in die skool lei om soos Bob Marley te rebelleer teen die “Babylon System”, al het hy self ’n “crisp banknote/ look” eerder as dreads (“Babylon 1”); Liney, wat jou vriend is by die skool maar jou buite die skool sal steek met ’n mes (“Die anne Liney”); en Clichay wat elke jaar vir twee weke lank haar geloof “on hold sit” om die lewe te geniet (“Clichay”).

Die laaste gedig in die bundel, “Gebed zonder end”, voltooi op verrassende wyse die verhaal van hoop en verlange gevolg deur ontnugtering en ironiese afstand wat begin het met die buiteblad en eerste gedig. Die spreker sit naamlik saam met sy gesin en goeie vriende in ’n Amsterdamse restaurant en voel amper of hy in ’n beswyming van geluk is: “Ek het ’n slight fever/ wat my lat voel of ek ys swiet” en “Ek is adrift inne stil sea/ Ek sit my hand op my vrou s’n.” Dit is ’n intense ervaring van geluk waarin hy tydelik buite homself en die bekommernis oor sy familie in Kaapstad kan tree:

Venaand is ek myself
Die anne iteration van myself
Venaand worry ek oo niks
Ek dinkie an my ma-hulle byrie hys ie
Ek dinkie an my klein niefies
wie nog in Lavis bly nie.

Die gedigtitel verwys na die naam van die straat waarin die geselskap stap ná die restaurant-ete. Die gedig bou dan voort op dié beeld in die uitbeelding van die behoefte om – ten spyte van al die ontnugterings waarvan ’n mens in die bundel lees – tog aan te hou soek na geluk en vervulling, om by wyse van spreke “zonder end” aan te hou bid. Ten slotte vind die spreker dat die moment wat hy hier beskryf, een is wat hy nié kan ironiseer of verminder nie, al wil hy:

          Ek staan nog ’n bietjie en biewe
          innie warm wind
          en try ommie irony te vang
          soes butterflies wattie
          na my toe wil kommie.

Die bundel sluit dus af op ’n moment waarin die spreker sukkel om ironies of sinies te wees oor die geluk wat hom soms te beurt val. Paradoksaal genoeg is dit die verskynsel van ironie – en nie die gevoel van geluk nie – wat in hierdie omstandighede vergelyk word met iets broos en vlietends soos “butterflies”.

Alhoewel die bundel kleiner in omvang is as Trantraal se debuutbundel, het dit dieselfde kragtige effek. Dit is die produk van ’n digter volkome in beheer van sy vak. Veral is dit die werk van iemand wat met sy ingehoue, maar tog dringende stem die vermoë het om tot ’n wye spektrum van lesers te spreek.

Foto van Nathan Trantraal: Naomi Bruwer

The post Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>