My eerste kennismaking met Henning Snyman was vroeg in 2004 op die dag van registrasie vir die meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. In ’n lokaal met honderde studente het ’n tiental dosente van Geesteswetenskappe een na die ander op die verhoog gestap en hul vakke gepromoveer. Dit-en-dat is die intrinsieke waarde van sosiologie, filosofie, ensovoorts, ensovoorts as keusevak. Nog voordat prof Snyman aan die beurt kon kom, het hy reeds my aandag gehad. Sy geamuseerde klein glimlag het die indruk geskep dat hy ’n geheime insig koester waarin ’n mens deel kon hê deur net naby genoeg aan hom te staan, al het sy ruie wenkbroue ’n demper op dié skynbare toeganklikheid geplaas. Sy pleidooi aan die studente was kort en kragtig: asseblief, hy sal dit werklik waardeer indien so min as moontlik van ons teksanalise as vak kies, "want die meeste mense het ongelukkig nie die vermoë om dit te waardeer óf te slaag nie". Die studente het dit skynbaar eerder amusant as beledigend gevind. Maar dit was ’n stelling soos ’n grens.
Ons was inderdaad net ’n handvol studente in sy klas, en op die dag van kennismaking het hy ons gevra om te vertel na watter musiek ons die vorige aand geluister het – en waarom. Rachmaninoff, het ek bely. Omdat sy styl deur die simbolistiese digters beïnvloed is. Ek had g’n idee dat prof Snyman ’n aanhanger van Rachmaninoff was nie. Dit was die oomblik van herkenning. Die grens is oorgesteek.
Gou het dit vir my duidelik geword dat hierdie prof ’n stip manier van kyk het, soos ’n baasspeurder wat eers die moordenaar se safplek identifiseer voordat hy die potensiële inligting beginne tap. My safplek was nog altyd die mistiek en die metafoor, die mitologisering en ontmitologisering in veral die digkuns. Dis die teorie wat hy my gevoer het: Roland Barthes, Paul Ricœur. Hy het my die kernbeginsel van analise geleer: eers die teks, dan die teorie. Hy kon dit gewoon nie verdra wanneer iemand ’n teks verdraai om ’n teorie te staaf nie. Uiteindelik was teksanalise die vak waarin ek in al my studentejare – voorgraads en nagraads – die beste punt ooit behaal het. Dit onder die leiding van ’n perfeksionis wat mens laat voel dat jy nie te kort skiet nie.
Op die oog af sou mens Henning Snyman dalk as tradisioneel kon tipeer, maar vir my was hy ietwat eksentriek. Hy het graag dramaties vertel van sy besoeke aan huis van DJ Opperman en ook dikwels met liefdevolle deernis gesels oor sy oorlede vrou Annette. Ek het hom ’n man met ’n ontsaglik ruim gees gevind. Hy was ’n wysgeer in murg en been, ’n warmhartige mens met ’n verstommende verstand en begrip van die letterkunde. Jare nadat hy my dosent was, was hy steeds my mentor. Om eerlik te wees, ek het die laaste 13 jaar nie ’n enkele gedig op papier of selfs op die internet gepubliseer voordat ek dit eers vir sy mening gestuur het nie. Dikwels was hy die heel eerste leser van ’n nuutgebore vers – in my boekies ’n daad van grootse vertroue. Wanneer ’n gedig volgens hom slaag, was sy reaksies ’n enkele woord met ’n uitroepteken: "Allerpragtig!" Op die omslag van albei my bundels is sy indruk van my werk – en ek streef steeds daarna om dié woorde waardig te wees.
Die dag voor sy dood is my nuwe roman, Die Bergengel, drukkers toe en het ek juis vir iemand vertel dat ek die boek oor ’n paar weke vir Snyman gaan pos. Want hy, het ek geweet, sou die verhaal tot in die vesels verstaan. Hy sou dit lees soos ’n uitgebreide metafoor, ’n gedig. Nou is dit te laat. Nou het hy oorgestap na die Anderkant. Ek kry ’n boodskap van ’n medeskrywer, een van sy oudstudente: "Ai, Carina, ek onthou hy het ’n skilderytjie van jou in sy kantoor gehad." Wat ek dalk die helderste onthou, is die woord "allerpragtig". Om die een of ander rede het ek dit nooit gebruik voordat ek hom ontmoet het nie.
Hier is ’n foto van ons by my gradeplegtigheid in 2004 en ’n gedig wat ek vir hom geskryf het toe ons ’n naweek by hom in die Karoo gekuier het. Dis opgeneem in my digbundel woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009).
Klip-Karoo
jare later keer jy terug
na die riffelrugberg
van jou geheue
jou vrou se voete
ratse springbokhoewe
oor die rimpelpad
julle hoor die geknaag
van ondergrondse oerdiere
vanaf die plato kyk julle uit:
die trop vreet plante
met wortels vol lug
die wolfgroot dier
se onderkaak is ’n boot;
sy middel-oog meet
die siklus van seisoene
miljoene nagte later
vlug ’n tolkengel steeds
onder die moddervlokke uit
weer tel jy die penveer op:
dood
jy skryf dit stadig agteruit
maar die woord bly dood
op hierdie vloedvlakte het jy liefgehad
soos ’n heilige of nieteling
hier het jy die winterryp sien kom
en die groeiringe in bome
ná ’n watergebrek
jou vrou draai om en stap terug
oor die rimpelings van rots –
basaltlava bedek haar treë
eens op ’n tyd in die klip-Karoo
was daar spoortjies om haar oë
The post Herinneringe aan Henning Snyman, my professor appeared first on LitNet.