Die universiteitbestuur van die Universiteit Stellenbosch se besluit om Engels van 2016 af as verstektaal te gebruik ten koste van Afrikaans plaas Afrikaans in ‘n vryvalposisie. Dit is ‘n groot terugslag vir Afrikaans as universiteit- en wetenskapstaal by wat eens ‘n boegbeeld vir Afrikaans was. Die Afrikaanse Taalraad doen ‘n beroep op die raad van die US om ‘n streep deur die planne te trek en die bestuur te versoek om met meer verbeeldingryke taalplanne vorendag te kom. Dit lyk asof die US swig onder druk van politieke groepe soos SASCO en Open Stellenbosch en dat die sogenaamde raadpleging van die groepe eerder bevraagteken kan word.
Hierdie stap is tegelykertyd ‘n aanmoediging vir ander instellings soos die UV en die Potch Kampus van die NWU om die US se voorbeeld te volg. As die “ouboet” van die Afrikaanse universiteite so ‘n taalstap neem, sal die druk op die genoemde instellings verder toeneem.
Daar is begrip daarvoor dat anglisering in die hoër onderwys ‘n internasionale tendens is, maar dit neem nie weg nie dat die Afrikaanse taalgemeenskap die voorreg ontneem word om in Afrikaans te studeer en intellektueel te groei by een van Suid-Afrika se gerekende universiteite, terwyl daar binne ‘n radius van enkele tientalle kilometers drie ander Engelstalige tersiêre instellings bestaan.
Hierdie besluit marginaliseer nie net Afrikaans nie, maar is tewens ‘n terugslag vir ander inheemse tale in Suid-Afrika wat ook die reg het om op die lang duur as wetenskapstaal erken te word. Die Afrikaanse Taalraad doen ‘n ernstige beroep op universiteite om nie die deur hard in die gesig van die Afrikaanse taalgemeenskap toe te klap nie.
Jacques van der Elst
Uitvoerende Hoof
Afrikaanse Taalraad
The post Afrikaans in 'n vryval by Stellenbosch appeared first on LitNet.