Die gespreksdokument oor die toekomstige taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch het betrekking.
Die ATKV verstaan die problematiek oor die hantering van amptelike tale by skole en tersiêre instellings. Ons weet dis nie maklik nie.
Om egter maar heeltyd toe te gee aan druk van sekere groeperinge, dalk minderhede, en daardeur Suid-Afrika se moedertaalsprekers van hul grondwetlike regte te ontneem, om heeltyd maar af te breek ter wille van alles behalwe nasiebou, kan nie op die langer duur volhoubaar en aanvaarbaar wees nie.
Ons kan baie beter doen as dit. Wat het van ons kreatiwiteit en deursettingsvermoë geword om hierdie saak in belang van almal aan te spreek? Dit gaan geen doel dien om maar net aan te hou toegee nie.
Ons almal weet dat onderwys en opleiding in ʼn krisis verkeer. Minder as 10% van Suid-Afrika se bevolking se huistaal is Engels. Die 90%-sprekers van inheemse tale word heeltyd onder druk geplaas deur mense en instellings wat voorgee dat alles in Engels maar aanvaarbaar is.
Al die inheemse tale verdien meer as dit. Afrikaans se status as hoëfunksietaal is in gedrang. Die digter Diana Ferrus het by geleentheid gesê dat deur Afrikaanse kinders in Engelse skole te sit, leer jy hulle om slegte Engels én slegte Afrikaans te praat.
Ons sal meer moet praat. Die wonderlike diversiteit van Suid-Afrika vereis dit.
Japie Gouws
Besturende direkteur ATKV-groep
13 November 2015
The post Vrydag die 13de: Die ATKV reageer appeared first on LitNet.