Vir baie van die studente wat hul akademiese jaar met lof agter die rug wil kry, is die dinge wat homself by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) afspeel, ‘n hashtag-nagmerrie.
Kyk, aanvanklik het ek simpatie gehad met die studente se frustrasies oor die voorgestelde verhogings in studiegelde.
Ek kon verstaan dat dit uiters moeilik vir hulle is, veral diegene wie uit die armstes van families kom en basies die eerste een uit sulke families is wat kan lees en skryf.
Dit het my teruggevat na die dae wat dit ook maar broekskeur met my en my swotdrome gegaan het en my herinner aan die tye wat ek ook op ‘n honger maag moes studeer.
My laat onthou van die hordes in my klas wie met stukkende klere vir klasse opgedaag het, diegene wie nie taxi- of treinfare gehad het nie en klas toe moes stap. Hulle wat sonder elektrisiteit moes klaarkom en vir die eksamens by kerslig moes studeer …
Maar toe kom ‘n paar hasthtag (leë?) blikskottels so knap voor eindeksamentyd en verwoes als in hul pad.
Hulle bemors eksamenlokale, jaag studente uit koshuise en begin geboue afbrand.
Hulle begin teister diegene wat opvoeding as die sleutel uit hul armoedige omstandighede sien.
Hulle bedek hul gesigte, rand sekuriteitswagte aan en saai vrees onder diegene wat net ‘n gelerentheid agter hul naam wil kry.
Húlle is die educational terrorists. Sonder ‘n education.
En hierdie hashtag hulle, het nie meer my simpatie nie.
Hoe meer ‘n mens buitendien ‘n ding verniet kry, hoe groter is die neiging om dit deur klowe te trek wat nie eens bestaan nie.
Vir my en baie ander was armoede immers nie ‘n verskoning nie.
Dit was jou motivering, jou sleutel uit jou omstandighede.
Jy het sonder hashtags in silence ge-suffer, voortgebeur en deurgedruk want jy het ‘n droom gehad wat jy wou verwesenlik.
Jy het onwrikbaar geglo dat harde werk jou met sukses sou beloon. Dat die loon van arbeid ‘n vrugtevolle eindresultaat is wat al Newton se gravitasiewette in sy spore stuit.
Daar is ‘n hashtag-geen in sommige van hierdie nuwe generasie wat my nie aanstaan nie.
Daai geen wat sommige oortuig dat swak punte op skool jou sleutel is vir ‘n onverdiende spot by ‘n tersiêre instelling.
Daar waar jy weer met swak punte ‘n goeie werk kan losslaan.
Wat wie namens hulle sal moet doen?
Die skrif is teen die muur, maar al wat súlkes kan lees, is ‘n voorspelbare hashtag.
As dié gedrag van daai UWK-studente ‘n voorsmakie is van generasies wat nog moet volg, dan weet ek regtigwaar nie waar als gaan eindig nie.
Dan sidder ek om te dink aan die hashtag van leiers wat eendag in posisies van mag en besluitneming gaan opeindig.
Hierdie karakters se hashtag-wiele moet af, voor hulle al toi-toiend met die drome van ander oor die afgrond ploeter.
Voor niemand meer kans sien om hard te werk om hul drome te realiseer nie.
Só kan ons nie gyselaar gehou word deur die minste van groepe wat eenvoudig net nie eksamens wil aflê en die nodige moeite wil doen om op die harde, eerlike manier aan ‘n ding te kom nie.
Hoe lank gaan ons hulle nog entertain?
#studente#lewe#is#nie#’n#fees
The post Educational terrorists en die hashtag-nagmerrie by UWK appeared first on LitNet.