Vlugtog
Ek is gebore op die vlaktes.
In die Vrystaatstof het ek leer loop.
Ek is iewers in ’n koue sementkrip
van ’n ou beeskraal gedoop.
Maar toe begin ek wonder
of hierdie plek my verstaan.
My gewete wou met alle mag bly,
maar my hart wou êrens anders heen gaan.
So sien my oë toe ’n klomp blink liggies
en my voete vind ’n betonpad
wat lei na ’n plek vol lewe en geleentheid,
vol mense en dinge – die stad.
Maar in die geraas het my siel swaargekry.
In die maalkolk het my wese versteen.
En toe ek weer myself kon kry,
vlug my hart iewers anders heen!
Die see het die keer na my geroep.
Die strand het my wonde versorg en genees.
Die golwe het vir my liedere gesing
en die seebries was my beste vriendin gewees.
Onder die volmaan, daar op die strand,
het ek egter gewonder of ek hier sal pas.
Ja, daardie maan het vir my gefrons.
Met springgety pak ek toe weer my tas.
Terug in die Vrystaat, langs daai sementkrip,
het die waarheid na my kom soek.
Jy gaan nie tuis voel op enige plek,
want solank as jy vlug, is jy in ’n hoek.
Maar wanneer jy vriende maak met jouself,
voel jy veilig op enige plek.
My huis is nie die See of die Vlaktes of die Stad.
My huis is my binneste. My huis is ek.
Op pad
Teen die grysblou van die laaste stukkie nag
met die eerste lig wat oor die horison terg,
weerkaats in die plasse op die die teerpad
die erewag-lamppale wat Zambezi verlig.
Dis stil – dit is nog vroeg in die dag,
maar my hart wou nie meer slaap nie.
Nee, ek’s opgewonde opgejaag;
my siel wil lankal wegkom hier.
Soos wat die rubber draai vir draai
die meters teer agter my sit,
begin my gedagtes deur ’n jaar blaai,
deur elke myl van hierdie rit.
Terwyl die horison verkleur
van oranje na liggeel en blou,
voel ek stukkies van die bly en seer
wat opvlam uit my onthou.
Gesigte kom; gesigte gaan,
en stemme eggo koud om my
terwyl die dowwe sekelmaan
al skamer en skamer kry.
Ja, dan vat my gedagtes pad
en hardloop die wye vlaktes in.
Hulle is te vol van hierdie stad,
die vryheid hierso is te min.
Maar vir nou is dit ek en die wind,
rooi sonsondergange, Vrystaatlug.
Ek gaan soek in my weer die kind
wat af en toe weer na die ooptes vlug.
In jou
Wanneer ek bang word,
as die wêreld my versmoor,
wanneer alles net te veel raak –
want ek is ook net mens,
is daar een plek waar ek rus vind.
Net voordat ek ontspoor,
is daar net een stem
wat my kan rustig maak.
Jou palms is die kompas
wat my weer in die regte rigting druk.
Jou woorde is die padkaart.
Jou stem is my stilte.
In jou oë is my herinneringe,
die goeie ou dae opgesluit.
Ook die toekoms skuil daar
met hoop en verwagting.
Jou lippe is my siel se verkwikking,
jou bors my snoesige lêplek.
Jou arms sluit my toe
teen die gevaar van die wêreld.
Jou lag is my tuin
wat kleurvol staan in blom.
Jou vertroosting is ’n gordyn
wat keer dat die brandende strale inkom.
Ek ken elke lekplek
in jou dak,
die krake in jou mure is vir my geen geheim nie.
En tog
sal ek nooit uittrek
uit jou hart nie.
Hoe kan ek?
Jy is my enigste huis.
Oggend
Met die eerste lig –
wat saggies deur die blinders klouter
en oor die vloer en lakens sluip,
op sy tone jou gesig bekruip,
tot die strale deur jou wimpers loer –
word jy stadig wakker.
Jou oë knip ’n paar keer lui,
skreef vir die son
wat glinsterende stroompies lig
deur jou iris laat kabbel,
voordat hulle hierheen draai.
En dan helder hulle op,
soos die goue gloed
van ’n wolkbedeelde dagbreek,
soos ’n blink komeet
wat in die donker hemel skitter.
Alles in my word warm –
elke stukkie emosie in my hart
kry lewe
as jy net na my kyk
en glimlag.
En ek weet
dit is my plek dié:
by jou.
Hierdie plek
Daar is iets aan die lug –
dis varser,
vriendeliker,
sagter om in te asem.
Die wind hier
waai nie weg of jaag aan nie –
sy troos
soos ’n moeder.
Die son skel nie
en vloek nie,
maar glimlag en los koel skadu’s
in my dimpels.
En die wolke
skilder prentjies
en maak wit bolbeelde
teen die hemel.
Daar is iets aan hierdie plek.
Dit skud dele van my binneste
waaraan die res van die wêreld
nie kan raak nie.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Molly Bester se inskrywings appeared first on LitNet.