Toemaar, ons gaan huis toe
Ontvoer
Vir tyd en wyl
Ure verskans
Tussen vlaktes heen
Tel elke tree
Ons is op pad huis toe
Aan jou rug
Klou ’n rugsak vol leuens
Al asof ons vlug
Tevergeefs
Agter ons donker
Verbrand ek nog ’n brug
Jou hand in myne
Vir ewig verlig,
Tussen riet en klip
Het ek vrou geword
Jou grondpad-voetspore
Gekerf op my palms
Brand ons skadu’s se geveg
Hier in my bors
Jy jaag na wind
Het jy ouer geword?
Drink en drink
Jou dors nie geles
Tog sal ek stap
Met die geloof van ’n kind
Toemaar, ons gaan huis toe
Hier tot daar
Want hier ...
Verdwaal ons wense
In ’n ou geroeste sprokiesverhaal
Hier
Dop jou oë se verf af
Stuk-stuk
Breek ons
Vuishoue in die muur
Hier ...
Lag my geheime
Stilweg onder die mat
Daar ...
Sal ons tuis en
Veilig wees
Op skemeraande sal ons kinders
Baljaar in die maanlig
Daar ...
Lag ons vrolik
By ’n warm kaggelvuur
Kyk ons uit op ’n tuin vol vrugtebome
Rose ...
Met liefde
Verblind
Sal jy dan ook in my jou tuiste kan vind?
Bokse
Glase breek
In die bokse vol
Van jou
Ek trek vandag
Weg van
Waar jy spook
In my kaste
Onder my vel
Pak my gevlekte klere
My seer lyf
Dra swaar aan
Jou dooie gewig
Voel my vingerpunte tuis
In die reuk
Van jou ou trui
In vlees
Sal ek my nuwe huis bou
Met foto’s van jou
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Engela Oelofse se inskrywings appeared first on LitNet.