Die uitspraak in CC 48/17, Black Sash Trust v Min of Social Development, is vanoggend in ’n rekordtyd van ongeveer 25 minute gelewer.
Wat was die agtergrond tot die saak?
Op 3 Februarie 2012 het SASSA, as die grondwetlik gemagtigde staatsorgaan wat verantwoordelik is vir uitbetaling van staatstoelaes, ’n kontrak gesluit met Cash Paymaster Services (CPS) om namens hulle die betalings te doen. AllPay, wat op daardie stadium die diensverskaffer was, het die hof genader met ’n versoek dat die kontrak ongeldig verklaar moes word.
Die hof het AllPay gelyk gegee in ’n uitspraak gelewer op 29 September 2013. Om ’n situasie te verhoed waar staatstoelae onbetaald bly, het die hof die bevel van ongeldig opgeskort tot 31 Maart 2017. Daar was duidelike voorwaardes verbonde aan die opskorting. SASSA, en die Minister, moes gereeld aan die hof verslag doen oor wat hulle doen om die situasie te beredder. In November 2015 het SASSA terug hof toe gegaan en die hof verseker dat hulle self betalings sal kan oorneem op 1 April 2017. Omdat die hof aanvaar het dat SASSA in goeie trou optree, is die saak as afgehandeld beskou.
In 2017 bring Black Sash egter ’n nuwe aansoek na die Konstitusionele Hof, en versoek dat die hof sy oorsigtelike funksie hervat, omdat SASSA nie in staat is om die betalings te doen nie. Uit stukke voor die hof is dit duidelik dat SASSA so ver terug as April 2016 al geweet het hulle kan nie betalings oorneem nie. In plaas daarvan om terug te gaan hof toe en die hof in hulle vertroue te neem, het hulle net stilgebly en die situasie laat voortgaan. Bathabile Dlamini, die minister, beweer sy het eers in Oktober 2016 bewus geword dat SASSA nie hul verpligtinge sal kan nakom nie. Ook sy het egter net stilgebly en skynbaar gehoop beter dae sal vanself kom.
Dit het nie, wat Black Sash se aansoek genoop het.
Die hof se bevel, dat CPS vir ’n tydperk van 12 maande moet voortgaan met die betalings, was nie regtig ’n verrassing nie. Niemand anders sou twee weke voor die volgende uitbetaling kon oorneem en verseker dat alle ontvangers van staatstoelae hulle gelde ontvang nie.
Die hof het egter hulle ontevredenheid met Dlamini se optrede duidelik gemaak. Die hoofregter het tydens die verhoor telkens van SASSA se regsverteenwoordiger verduidelikings geëis vir wat hy “absolute inkompetentheid” aan SASSA en Dlamini se kant genoem het.
Die hof het spesifiek aangedui dat Dlamini voor 31 Maart stukke moet indien waarin sy verduidelik hoekom sy nie in persoonlike hoedanigheid as party tot die verrigtinge gevoeg moet word, en hoekom sy nie in persoonlike hoedanigheid vir die koste van die verrigtinge verantwoordelik gehou moet word nie.
Hierdie koste kan aansienlik wees. Black Sash se regspan se koste moet betaal word. Freedom Under Law, ’n nieregeringsorganisasie, het versoek dat hulle ook as party gevoeg word. Die hof het hulle versoek toegestaan, en hulle sou dus ook hulle kostes kon eis. Corruption Watch en die Poskantoor het voorleggings gedoen as amici curiae, en alhoewel hulle onder normale omstandighede nie hulle kostes sou kon verhaal nie, is dit baie moontlik dat die hof kan beveel dat ook hulle kostes vergoed moet word. Elke advokaat wat voor die hof verskyn het, sou waarskynlik bygestaan gewees het deur een of meer juniors. Elkeen sou ook deur ’n prokureursfirma opdrag gegee gewees het. Al daardie regsverteenwoordigers se kostes moet betaal word. Dit sou my nie verbaas indien die kostes miljoene rande beloop nie – geld wat die Konstitusionele Hof duidelik reken Bathabile Dlamini in persoonlike hoedanigheid behoort te betaal.
Die hof het ook beslis dat ’n paneel onafhanklike regsverteenwoordigers toesig moet hou oor gebeure by SASSA, en elke drie maande aan die hof verslag moet lewer. Dit is nou bo en behalwe die verslag wat SASSA self elke drie maande moet lewer. Duidelik is die hof nie meer bereid om net SASSA se woord te aanvaar vir vordering nie.
Die hof het dit voorts ook baie duidelik gemaak dat CPS en Grindrod Bank nie meer begunstigdes van die staatstoelae se inligting mag beskikbaar stel aan derde partye nie. Hulle mag ook nie begunstigdes nader vir toestemming om hulle inligting bekend te maak nie.
Hierdie bepalings is versoek deur Black Sash, en toegestaan deur die hof, juis omdat daar so ’n web van verweefde finansiële belange bestaan by die uitbetalings van staatstoelae. CPS is ’n dogtermaatskappy van Net1. Net1 besit ook ander dogtermaatskappye, wat veral selfoonlugtyd, elektrisiteit, ens verskaf. CPS verskaf blykbaar aan hulle sustermaatskappye die begunstigdes se inligting, en die begunstigdes word dan genader met aanbiedinge van gratis lugtyd en dies meer. Dis egter nooit gratis nie, en binne oomblikke vandat CPS die toelae uitbetaal, word daar outomatiese aftrekkings deur hul sustermaatskappye gedoen.
Kla die begunstigdes, trek SASSA net skouers op en sê “andihaas” – hulle doen nie die uitbetalings nie, en kan dus nie die aftrekkings keer nie. CPS het geen belang daarby om die aftrekkings te keer nie, want dis tot hulle voordeel. Op hierdie manier word die ontvangers van staatstoelae keer op keer van hul karige toelae ontneem.
Daar word ook bankrekeninge oopgemaak by Grindrod Bank. Begunstigdes het geen seggenskap nie. CPS het alreeds al hulle data, en kan die rekeninge dus namens hulle oopmaak – en die bankkostes eis.
Dit is nou bo en behalwe die R16,44 per uitbetaling wat hulle ontvang. Toe die kontrak in 2012 toegestaan is, was daar 10 miljoen begunstigdes. In 2017 is daar 17 miljoen mense wat elke maand ’n toelae ontvang. CPS se maandelikse fooi is dus R194 miljoen rand. Neem in ag die verdere aftrekkings wat soms in die honderde rande beloop, en hierdie maatskappy maak elke maand obsene bedrae geld uit die armste lede van die Suid-Afrikaanse samelewing. In terme van ’n kontrak wat ongeldig was om mee te begin.
Nou word hulle toegelaat om vir minstens nog ’n jaar begunstigdes gyselaar te hou.
Die situasie met die uitbetaling van staatstoelaes word met reg ’n grondwetlike krisis genoem. Daar is ’n grondwetlike verpligting op SASSA om te voorsien in die behoeftes van die armes. Daar is ’n grondwetlike, en ’n statutêre, plig op die Minister om seker te maak dit word gedoen, en op wettige wyse.
In stede van haar verpligtinge nakom, het Dlamini op die mees ongevoelige manier toegelaat dat die armste lede van ons samelewing uitgebuit word. Sy, en die ANC, het verder toegelaat dat ’n situasie geskep word waar die Konstitusionele Hof gyselaar gehou word. Hulle kon nie enige bevel maak anders as dat CPS voortgaan met die kontrak nie, anders sou 17 miljoen mense oor twee weke in desperate omstandighede sonder enige inkomste gesit het.
Die hof gaan dit nie gou vergeet nie.
Herstellende geregtigheid vereis dat Dlamini, en ander ministers, persoonlik verantwoordelik gehou behoort te word as hulle hierdie vlakke van inkompetentheid en gewetenloosheid aan die dag lê.
Zuma het dit duidelik gemaak dat hy nie van plan is om teen Dlamini op te tree nie. Soos met Marikana, soos met Ezidimeni, moet die weerloosste lede van ons samelewing gebuk gaan onder die juk van ’n regering wat nou net belang stel daarin om hulself te verryk.
Ons kan net hoop dat die kiesers dit nie vergeet wanneer hulle by die stembus kom nie.
The post SASSA – ’n krisis met 12 maande uitgestel? appeared first on LitNet.