“As mens dié boek deurgewerk het, kan hulle aan jou ’n graad toeken,” merk ’n vriend teenoor my op toe ons die lywige feesprogram op die eerste dag van vanjaar se US Woordfees onder die plataanbome langs die ATKV-Boektent sit en deurblaai.
Mens het inderdaad Job se geduld, Salomo se wysheid en fyn beplanning nodig om te besluit watter produksies, diskoerse of ander vermaak mens by die Woordfees wil bywoon.
Met meer as 1 000 produksies (herhalings ingesluit) is dit feitlik ’n onbegonne taak om, ongeag jou begroting, te besluit watter items om in die 10 dae van die fees se duur in te pas.
Vir tien dae lank kon feesgangers deel word van ’n gemeenskap wat hom, in die woorde van die feesdirekteur Saartjie Botha, oopstel vir ’n ervaring en belewenis wat nie bang is om uitgedaag en ontstem te word nie, en wat goeie vermaak met oorgawe geniet.
Die lywige program met sy bykans 200 bladsye bied iets vir elke smaak.
Sonder die rye en rye stalletjies met allerhande kitschsnuisterye, biertente en halfdronk feesgangers oral op straat, is die Woordfees ánders as die meeste groot kunstefeeste wat in die land aangebied word.
Dit is by uitstek die plek waar mens intellektueel gestimuleer word sonder dat vermaak van goeie gehalte agterweë bly.
Behoed ons tog asseblief as die Woordfees ooit ontaard in maar net nóg ’n dronknes waar daar meer gedrink as gedink word.
Sonder om afbreuk te doen aan die talle uitstekende dramas, musiekkonserte, komedie en kabaret bly die Woordfees vir my uitsonderlik vanweë die fees se ongeëwenaarde skrywersprogram en diskoerse wat elke jaar daar aangebied word.
Waar anders kan mens so skouer skuur met soveel swaargewig skrywers, denkers en vrydenkende mense as by die Woordfees?
Elke dag was daar verskeie interessante programme, van musiek, toneelspel en diskoersgesprekke tot vollengte-rolprente en vele meer wat feesgangers aan die praat en dink gehad het.
Maar dit is daardie informele diskoerse om die ronde tafels onder die plataanbome tussen RSG se geel karavaan en die ATKV-Boektent waar die fees se gees regtig lewe kry. Die gesprekke om daardie ronde tafels is soos ’n adrenalieninspuiting direk in jou are in.
Waar anders sal mense soos die aweregse Ryk Hatting, wat spesiaal uit Nieu-Seeland gekom het vir die Woordfees, en iemand soos Kallie Kriel van AfriForum so hand om die blaas sit en bier drink en eerlik gedagtes uitruil met mekaar?
Op watter ander forum sal die godsdiensdebat so oop en eerlik gevoer word soos by die Woordfees, met sprekers wat wissel van ateïsties, agnosties en gereformeerd tot evangelisties? Mense soos Jurie van den Heever, Willie Esterhuyse, Frits Gaum en Isak Burger wat elkeen die kans gegun word om hulle standpunt oor geloofskwessies eerlik en reguit te verwoord.
En waar anders kry mens die geleentheid om persoonlik op so ’n groot skaal kennis te maak met al wat uitgewer van Suid-Afrikaanse boeke is en om soveel van hulle skrywers persoonlik te ontmoet?
In ’n land wat brand en waar mense moedeloos is, kon feesgangers vir tien dae lank weer nadink oor waar ons almal vandaan kom, waar ons nou is en waarheen ons op pad is.
Natuurlik was daar hier en daar ook weer die suurknolle wat gekla het die fees is te wit, te Afrikaans, te dit of te dat. As hulle die program mooi bekyk het, sou hulle dalk die Kayamandi Food, Wine and Art Experience raakgesien het, of gaan luister het na Lerato Tshabalala se gesprek “What it’s like to be a black girl in Mzansi”.
Of dalk het hulle die solo-uitstallings van mense soos Stenjwa Luthuli en Collen Maswanganyi misgekyk. Miskien dra hulle nie kennis van die Woordfees se bemagtigingsprojek WOW (Woorde Open Wêrelde) wat verlede jaar meer as 200 000 mense op wonderlike maniere geraak het nie.
As hulle dáár was, kon hulle dalk iets geleer het by mense soos Nathan Trantraal, Bettina Wyngaard, Gaireyah Fredericks, en vele ander deelnemers wat toevallig nie wit is nie.
Vir my was een van die groot pluspunte van vanjaar se fees die groter sigbaarheid van sogenaamde bruin Afrikaanses in die program. Iemand soos HemelBesem het mense wat waarskynlik nog nooit van hom gehoor het nie, of vir wie hip-hop soos ’n vloekwoord klink, aan sy voete gehad tydens die bespreking van sy boek God praat Afrikaans.
Die bespreking van Wannie Carstens en Michael le Cordeur se boek Ons kom van vêr, waar bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans bespreek is, en verskeie soortgelyke gesprekke, het die verwydering wat apartheid tussen mense veroorsaak het, opnuut na die oppervlak gebring. Maar dit het ook brûe gebou om mekaar beter te verstaan.
In die inleiding van vanjaar se Woordfeesprogram skryf Saartjie Botha: “Ons wil ’n uitnemende platform vir die kunste wees. Ons wil ons beywer vir die ontwikkeling van nuwe gehore en kunstenaars en die bevordering en uitbouing van Afrikaans binne ’n inklusiewe, meertalige, verwelkomende omgewing.”
Ek meen hulle slaag uitstekend daarin.
Natuurlik is geen fees van dié omvang volmaak nie. Mens kan maar net hoop dat die Woordfees sy missie om Afrikaans uit te bou en te bevorder in die jare wat kom steeds gestand sal doen.
Sonder sy inklusiewe Afrikaanse karakter sal die Woordfees nie meer die Woordfees wees nie.
Die 18de Woordfees met die tema “WYS!” het inderdaad uitgehaal en gewys: Afrikaans is nie dood nie. Lank lewe Afrikaans in al sy variante, kleure en dialekte.
Dit is immers waaroor die Woordfees behoort te gaan: nie wit Afrikaans nie en ook nie nét Afrikaans nie, maar inklusief Afrikaans. ’n Ruimte waar almal, ongeag ras of taal, omarm word – ’n plek waar trasformasie nie prysgawe van taal beteken nie, maar ’n plek van wedersydse verryking.
Hier is ’n paar fotoalbums wat WYS wat by die Woordfees gebeur het:
LitNet wys wat gebeur by die Woordfees. Naomi Bruwer deel haar eerste feesfoto's en -video's. |
|
Die fees woord voort. |
|
Soveel dae, soveel woorde, beelde en lirieke ... |
|
Die fees woord voort - Nog ’n paar kiekies ... |
|
Die US Woordfees oorrompel jou, smokkel met jou sinne en tart jou uithouvermoë. Agter die skerms is ’n enorme operasie. Op die verhoog is mense wat jou inspireer. Izak de Vries deel ’n aantal foto's. |
|
Naomi Bruwer ’n Keuse van Naomi Bruwer se feesfoto's en -video's. |
The post Die fees wat uithaal en WYS! appeared first on LitNet.